Home
  By Author [ A  B  C  D  E  F  G  H  I  J  K  L  M  N  O  P  Q  R  S  T  U  V  W  X  Y  Z |  Other Symbols ]
  By Title [ A  B  C  D  E  F  G  H  I  J  K  L  M  N  O  P  Q  R  S  T  U  V  W  X  Y  Z |  Other Symbols ]
  By Language
all Classics books content using ISYS

Download this book: [ ASCII | HTML | PDF ]

Look for this book on Amazon


We have new books nearly every day.
If you would like a news letter once a week or once a month
fill out this form and we will give you a summary of the books for that week or month by email.

Title: Digters uit Suid-Afrika - Bloemlesing uit die poësie van die Twede Afrikaanse-Taalbeweging
Author: Malherbe, D. F., Toit, J. D. du, Leipoldt, Christiaan Louis, 1880-1947, Celliers, Jan F. E.
Language: Afrikaans
As this book started as an ASCII text book there are no pictures available.
Copyright Status: Not copyrighted in the United States. If you live elsewhere check the laws of your country before downloading this ebook. See comments about copyright issues at end of book.

*** Start of this Doctrine Publishing Corporation Digital Book "Digters uit Suid-Afrika - Bloemlesing uit die poësie van die Twede Afrikaanse-Taalbeweging" ***

This book is indexed by ISYS Web Indexing system to allow the reader find any word or number within the document.



Digters uit Suid-Afrika.

BLOEMLESING
UIT DIE POËSIE VAN DIE
TWEDE AFRIKAANSE-TAALBEWEGING
DEUR
Dr. E. C. PIENAAR,
PROFESSOR AAN DIE UNIVERSITEIT VAN STELLENBOSCH.

Vierde, vermeerderde druk.

(Regte van herdruk voorbehou.)

J. H. DE BUSSY, Beperk,
PRETORIA.
HOLL.-AFRIK. UITGEVERS-MIJ. v/h. J. DUSSEAU & Co.,
KAAPSTAD
1922.



AAN DIE LESER.


Hierdie bloemlesing was aanvanklik bestem hoofsaaklik
vir Nederlandse lesers, en daarom van ’n inleiding in
Nederlands en ’n verklarende woordelys voorsien. As
sodanig is dit sedert sy eerste verskyning in 1917
tweemaal herdruk geword.

Aangesien die bundel egter van die aanvang af in
Suid-Afrika veel meer aftrek gevind het dan elders, en
ons letterkundige produksie sedert die tyd sodanig
toegeneem het dat die bundel in sy oorspronklike vorm
geen juiste beeld meer vertoon van die teenswoordige
stand van ons Afrikaanse verskuns nie, het ek dit
wenselik geag om die vierde druk nie alleen te hersien
en aan te vul nie, maar dit ook ’n suiwer Afrikaanse
stempel te verleen. Daarom val die oorspronklike
inleiding en woordverklaring hier weg, en word verder
al wat Nederlands was deur Afrikaans vervang.

Sedert die tyd het daar ook van my hand ’n breedvoerige
studie verskyn oor die „Taal en Poësie van die Twede
Afrikaanse-Taalbeweging”, waarom ek dit oorbodig beskou
om hier ’n nuwe inleiding by te voeg.

Hierdie vierde druk is dus meer dan ’n blote herdruk,
nie alleen omdat dit ’n uitgebreider en meer
oorsigtelike keuse bevat as die vorige drie nie, maar
ook omdat die oorspronklike keuse hier en daar gewysig
is volgens latere insigte.

Verder word bo aan iedere bladsy die naam van die
bundel vermeld, waaraan die gedigte ontleen is. Die
spelling is konsekwent gemoderniseer-met ’n apologie
aan die digters wat nog hulle eie spelling volg!

Ek vertrou dat die bundel in sy nuwe vorm nog beter aan
sy doel sal beantwoord as voorheen.

                                      _Die Saamsteller._

Stellenbosch,
  Okt. 1921.



INHOUD.


JAN F. E. CELLIERS.

Gebore 1865 op Wellington. In 1874 met die ossewa na
Pretoria, waar sy vader oprigter en eerste redakteur
geword het van „De Volkstem”. Studie op Pretoria,
Stellenbosch, Wellington en Delft (1887-1890).
Landmeter, later staatsbibliotekaris op Pretoria
(1894-99). Op kommande tot die end. Na die Engelse
oorlog met gesin na Europa-letterkundige studie. In
1907 terug na Suid-Afrika. Medeoprigter van „Die
Brandwag”-taalpropaganda. Werksaam aan die Dept. van
Binnel. Sake, Pretoria. Sedert 1918 buitengewone
Professor op Stellenbosch.

Die Vlakte
Die Ossewa
Trou
Die Laaste Aand
Die Brand
Die Kampsuster
Dis al
Afrikaner-troos
Klein Ondeug
’n Snaakse Vryery
Die Murasie
Aardgeeste
Dingaansdag
Stille werkers
Wag-hondjies
President Steyn
Komaan!
Ma en Pietjie


TOTIUS (Dr. J. D. DU TOIT).

Gebore 1877 in die Pêrel. Seun van Ds. S. J. du TOIT,
die vader van die „Eerste Afrikaanse-Taalbeweging”.
Studie in Daljosafat (Hugenote Gedenkskool),
Burgersdorp en Amsterdam. Na sy terugkeer predikant op
Potchefstroom (1903) en sedert 1911 Professor aan die
Teologiese Skool aldaar.

Die lied van die ossewa
Vergewe en Vergeet
Die Os
Moselekatse
Die drie Kindertjies
Vegkop
Repos Ailleurs
’n Sprokie
Dit is Nag
Daar ruis ’n Lied
Stof
Die Sterretjie
Die oue Put
Oggendstond op ’n Boereplaas
Perdekraal-laer
Die Vierkleur is weer in gevaar


Dr. C. LOUIS LEIPOLDT.

Gebore 1880 op Worcester. Sy vader predikant op
Clanwilliam, waar LEIPOLDT sy kinderjare deurgebring
het. Sedert 1897 medewerker aan „Het Dagblad”, later
aan „The South African News”. Oorlogskorrespondent van
verskillende buitelandse blaaie gedurende die Engelse
oorlog. Studie in die medisyne in Londen (1902-07). Na
groot reise deur Europa, Amerika, Wes- en Oos-Indië as
medikus gevestig in Londen. In 1914 terug na Suid-
Afrika en sedert die tyd mediese skool-inspekteur in
Transvaal.

Slampamperliedjie
Oktobermaand
In Amsterdam
In die Konsentrasiekamp
Aan ’n Seepkissie
Die ou Blikkie
Japie
Die Verkleurmannetjie
Die Voortrekker se vaarwel
Die Vlakte
By Bloukrans
Wolraad Woltemade
Op my ou Ramkietjie
Insulinde
Aan Multatuli
Die Beste


Dr. D. F. MALHERBE.

Gebore 1881 in Daljosafat (Pêrel). Skoolmaat van Totius
op die Hugenote Gedenkskool. Studie in die Lettere op
Stellenbosch, daarna in Freiburg (Duitsland). Na sy
terugkeer onderwyser op Carnarvon-taalpropaganda.
Sedert 1918 Professor in Afrikaans aan die Grey
Universiteitskollege op Bloemfontein.

Die Lied van die Nagwind
Awendblik
Na die Droogte
Die Roosknoppie
O Lande vol Graan
Die See is vol van Ewigheid
Slaap


H. H. JOUBERT.

Gebore 1874 op Murraysburg. Onderwyser. Sedert 1905
prokureur-notaris op Middelburg (Transvaal).

Die Trek Drakensberg af
Dingaan se Gesante doen rapport aan hom
Op die Laers aanswerwende Soeloe-hordes
Moeders Skat
Lente-oggend
Donderweer
Dageraad


Adv. C. J. LANGENHOVEN.

Advokaat-joernalis op Oudtshoorn. Later lid van die
Kaapse Provinsiale Raad, waar hy in 1914 die erkenning
van Afrikaans as voertaal by die laer en middelbaar
onderwys bewerkstellig het. Daarna lid van die
Volksraad en tans van die Senaat.

My onherroeplike Kinderdae
Besit en Gebruik
My eie-ek
Laster huldig, Roem beskuldig
Die Mot en die Kers
Aan die Renegaat
Die Openbaring van die Waarheid
Liefde’s onsin
Die Stem van Suid-Afrika


EUGÈNE MARAIS.

Advokaat-joernalis op Pretoria. Een van die voorlopers
van die nuwe Taalbeweging.

Klaas Vakie
Winternag


Dr. A. D. KEET.

Gebore 1888 op Alice. Studie in Kaapstad en Amsterdam.
In 1918 bevorder tot arts. Sedert 1920 as geneesheer
gevestig op Senekal.

Amsterdam
Kinderlied
As saans
Awendmymering
Bekoorlik Kind
Probleem
Sneeu
Muskiete-jag
Slagvaardig
Dingaansdag
Die twee Boodskappers
Maar één Suid-Afrika


Dr. TH. WASSENAAR.

Gebore 1892 op Middelburg (Transvaal). Sedert 1910
student in die medisyne in Amsterdam. In 1918 bevorder
tot arts. Daarna as geneesheer gevestig op Lydenburg.

See-sonnet
Bergtoppe
Op die Toring
Nag
Kennis en Gevoel
Diepte
Stille Vriende
Middaguur
Aandliedjie
Die Windjie
Aan Holland
Op die Dood van President STEYN
Die Slag by Bloedrivier


Adv. H. A. FAGAN.

Gebore 1889. Studie op Stellenbosch en in Londen. In
1913 bevorder tot advokaat. Daarna onder-redakteur van
„De Burger”. In 1920 Professor in Romeins-Hollandse
Reg aan die Stellenbosse Universiteit. Sedert 1921 as
advokaat gevestig in Kaapstad.

Ouboeta
Op Knysna-strand
Soos die Windjie wat suis


Adv. F. VAN DEN HEEVER.

Gebore 1894 op Heidelberg (Transvaal). Studie op Ermelo
en aan die T. U. K. (1914-16). Tans as advokaat
gevestig op Windhoek (Suidwes-Afrika).

Rit-rympie
Wie in Glaashuise woon
„’n Speeltoneel”
In die Hoveld
Sondag-môre
Die Verhuising van CUPIDO


J. R. L. VAN BRUGGEN.

Gebore 1895 op Johannesburg. Studie aldaar en aan die
T.U. K., waar hy in 1919 die M. A.-graad behaal het in
Ned. Lettere. Verdere studie in Amsterdam, waar hy in
1921 Doktoraal-eksamen in Filosofie afgelê het.

Die Koket
Lenteliedjie
’n Simpel Liedjie
Aan Generaal DE LA REY
Die Dood van die Ossewa
Heimwee



JAN F. E. CELLIERS.


DIE VLAKTE.

Ek slaap in die rus van die eeue gesus,
      ongesien, ongehoord,
en dof en loom in my sonnedroom,
      ongewek, ongestoord.
Tot die yl-bloue bande van die ver-verre rande
      skuif my breedte uit,
wyd-kringend aan die puur al-omwelwend asuur
      wat my swyend omsluit.

Jong aarde se stoot het my boesem ontbloot
      bo die diep van die meer;
en volswanger van lewe ’t oor waat’re geswewe
      die gees van die Heer.
Uit die woelende nag van haar jeugdige krag
      brag die aarde voort
Lewiátans-geslagte, geweldig van kragte--
      storm-ontruk aan haar skoot.
Diep in my gesteente berg ek hul gebeente--
      die geheim van hul lewe en lot;
maar gewek uit die sode herleef uit die dode,
      na die ewig hernuwingsgebod,
die stof van d’ verlede in vorme van d’ hede,
      in eindeloos kome en gaan;
wat die dood my vertrou ’t, ek bewaar dit as goud,
      en geen grein sal ’k verlore laat gaan.

As die son oor my vloer in die môre kom loer
      en die dou van my lippe kus,
dan kyk ek net stom met ’n glimlag om
      en lê maar weer stil in my rus.
Hoog bowe die kim op sy troon geklim,
      is hy heer van lewe en dood;
na wil en luim geef hy, skraal of ruim,
      verderf of lewensbrood.
Uit gloeiende sfeer brand hy wreed op my neer
      tot my naaktheid kraak en skroei,
en my koorsige asem in béwende wasem
      al hygend my bors ontvloei.
In sy skadetjie rond-om sy stam op die grond
      staat ’n eensame doringboom,
soos die Stilte op haar troon, met dorings gekroon,
      wat roerloos die eeue verdroom.
Geen drop vir die dors aan my stofdroë bors:
      my kinders[1] versmag en beswyk,
en die stowwe staan soos hul trek en gaan
      om my skrale dis te ontwyk.

Soos ’n vlokkie skuim uit die sfere se ruim
      kom ’n wolkie aangesweef,
maar hy groei in die blou tot ’n stapelbou
      van marmer wat krul en leef--
kolossaal monument op sy swart fondament,
      waar die bliksem in brul en beef.
En o, met my is die windjies bly:
      hul spring uit die stof orent,
en wals en draai in dwarrelswaai
      oor my vloer, van end tot end;
die gras skud hul wakker om same te jakker
      tot hy opspring uit sy kooi,
en soos mane en sterde van jaende perde
      sy stengels golf en gooi.
Met dof-sware plof, soos koeëls in die stof,
      kom die eerste druppels neer,
tot dit ruis alom so deur die gebrom
      en gekraak van die donderweer.
Met kloue vooruit om te gryp en buit
      jaag ’n haelwolk langs verby,
soos ’n perde-kommande wat dreun oor die lande
      vertrap en gésel hy--
en sy lyke-kleed sien ek ver en breed
      in die awendson gesprei.

Stil in die duister lê ’k so en luister
      hoe die spruite gesels en lag;
maar bowe die pak van my wolkedak
      het die maan al lank gewag:
nou breek en skeur hy ’n baan daardeur
      om te deel in my vreug benede;
hy sprei die waas van sy romig-blou gaas--
      en ek lag so stil-tevrede.
Plek op plek, soos die wolke trek,
      sweef die skaduwees onder mee,
soos eilande wyd oor die waat’re verspreid
      op die boesem van die grote see.
Met ’n afskeidskus gaat die maan ook ter rus
      en ek wag op die daeraad--
so skoon en so mooi soos ’n fris jong nooi
      wat lag in haar bruidsgewaad.

Oor die bulte se rug slaat die gloed in die lug
      van brande wat ver-weg kwyn,
en doringbome fluister in die rooi skemerduister
      van gevare wat kom of verdwyn.
Uit slote en plas, uit die geurende gras,
      styg ’n danklied op ten hemel;
en dis net of ek hoor hoe die kriekies se koor
      weergalm uit die sterre-gewemel,
waar wêrelde gaan op hul stille baan
      tot die ende van ruimte en tyd.
So, groots en klaar, staat Gods tempel daar,
      wyd--in sy majesteit.

[1] Die wilde bokke, wat in klompe wegtrek by groot droogte.


DIE OSSEWA.

Die osse stap aan deur die stowwe,
geduldig, gedienstig, gedwee;
die jukke, al drukkend hul skowwe--
hul dra dit getroos en tevree.

En stille, al stuiwend en stampend,
kom stadig die wa agterna--
die dowwe rooi stowwe, al dampend,
tersy op die windjie gedra.

Die middagson brand op die koppe,
gebuk in hul beurende krag;
hul swaai heen en weer in die stroppe--
en ver is die tog van die dag.

Dit kraak deur die brekende brokke:
die opdraans is ver en is swaar;
dit knars in die knakkende knokke,
maar hul beur, en die vrag bring hul daar.

So, stom tot die stond van hul sterwe,
blyf ieder ’n held van die daad--
Hul bene, na swoege en swerwe,
lê ver op die velde verlaat.....


TROU.

Ek hou van ’n man wat sy man kan staan;
ek hou van ’n arm wat ’n slag kan slaan,
          ’n oog wat nie wyk,
          wat ’n bars kan kyk;
en ’n wil wat so vas soos ’n klipsteen staan!

Vas soos ’n berg van grou graniet
op vaderlands-grond, sy hartsgebied,
          aan haar getrou
          soos aan kind en vrou,
en wat in haar ere ook syne siet.

Ek hou van ’n man wat sy moeder eer
in die taal uit haar vrome mond geleer,
          en die bastergeslag
          in sy siel verag
wat, haar verstotend, hulself kleineer.

Die oog wil ek sien wat ’n traan nog ween
vir ’n heldegeslag, in hul rus daarheen,
          maar ’n blits van trou
          in die traan van rou,
wat aan liefde weer gee, wat haar bron is ontleen.

Vir my d’ Afrikaner van durf en daad,
wat Mammon’s eer en loon versmaad,
          sy hoof en sy hand
          vir sy volk en sy land
en ’n trap van sy voet vir laag verraad!

O, ek hou van ’n man wat sy man kan staan;
ek hou van ’n daad wat soos donder slaan,
          ’n oog wat nie wyk
          wat ’n bars kan kyk;
en ’n wil wat so vas soos ’n klipsteen staan!


DIE LAASTE AAND.

          Nog nie na bed!
          Wat ’n pret, wat ’n pret,
          met jurkies aan
              en voetjies bloot
          so met Pappie te rol
          en stoei en stoot!

Ja, laat mag hul speel, het Mammie gesê,
voor Pa hul vanaand in hul bedjie sal lê.
Maar, verleë soek Breggie by Mammetjie skuil,
vra soetjies aan haar waarom Paatjie tog huil?
Nog nooit by hul speul’tjies het hy dit gedoen--
en so dikwels tot selfs die klein voetjies gesoen.

* * *

Wyd oor huis en velde
rus al lang die nag
as so by die bedjies
twee nog bid en wag,
wakend tot die môre--
wrede skeidings-dag.
„Vader in U hoede
lê ons hulle neer,
gee ons eendag, Vader,
aan mekander weer.
Wil, Vader, oor ons huisie waak,
dat leed nog honger dit genaak.”

Droom-verlore dotjies,
rustend naas mekaar,
hoor gebed nog klae,
weet van geen gevaar,
met één troos tevrede:
moeder is nog daar,
om die ogies moeg en vaak
met haar soentjies toe te maak.

En na ’n diepe suggie
gaan die borsies teer
so in stille sluimer
stadig op en neer;
handjies sag en roserooi
bo die hofies opgegooi--
reine handjies, sonde-leeg,
handjies waar geen las op weeg.


DIE BRAND.

Dit is die winterwind wat waai,
al wenend deur die lange nag,
al wenend om die verre dag;
die twye swenk, die takke swaai--
dit is die winterwind wat waai.

Hy sleep die sug van eeue mee
uit dieptes van die diepe see,
en waar vergane skepe rus
op menig maan-gebleekte kus;
hy sing van lang vergete wee,--
hy bring die sug van eeue mee.

Hy kom oor velde ver en wyd,
oor grafte in hul eensaamheid,
waar moeders van hul sorge rus,
waar kindersnikkies is gesus--
dit is die lied van d’eensaamheid,
hy kom oor velde ver en wyd.

* * *

„My ma, ek hoor van verre om
’n dreuning oor die velde kom!”
„Dit is die bome in die wind,
die wilgertakke kreun, my kind.”

„My ma, ek hoor my brakkie huil,
wat sou daar kruip, wat sou daar skuil?”
„My kind, die nag is koud en lang,
die diertjie is alleen en bang.”

„My ma, dit dreun al in die rond
soos perdehoewe op die grond;
my ma, wat lig daar soos ’n vuur
van buite op die kamer-muur?
My ma, daar brand die koring-miet!”--
„My kind, die Heer Se wil geskied!”

* * *

Is daar ’n beul so woes en wreed
wat manne-eer en plig vergeet,
met onskuld en met swakheid lag
en uitdryf in die winternag?

Is daar ’n hand wat nie ontsiet
die liefste wat Gods aarde bied,
die skoonste gawe uit Gods hand--
die vaderhuis in die vaderland?

Dis heilig grond, dis heilig grond,
die plekkie waar ’n wiegie stond
en waar ’n jonge moeder bly
haar kindjie se eerste skrede lei;

waar sy die lippies, jong en teer,
hul eerst’ gebedjie het geleer,
en waar sy lange nagte vaak
vol angs en kommer het gewaak.

’n Stille vrede dra die plek
waar, om die witte tafel-dek,
die etens-ure so om haar
die blonde koppies het vergaar.

En uit herinn’rings bly verlee,
vergange dae se soete wee,
berg elke hoekie so sy deel;
O wee, wie ’n hart die skat ontsteel!

* * *

Daar staat ’n moeder met haar kind
allenig in die winterwind--
en niemand wat haar trane siet,
en niemand wat haar trooste bied.

En wilde vlamme strooi dit wyd,
die vrug van lange lewensvlyt--
in vonke deur die lug gesaai,
in vonke wat die wind verwaai.

Haar kindjie aan haar bors gevou
beskut sy teen die winterkou--
die trane wat sy swyend ween,
so op haar wang tot ys versteen.

En winterwinde sing die lied
van eensaamheid en stil verdriet;
en sonder weerklank sterf die klag
op wye velde in die nag,
al sugtend deur die gras se saad--
en verre is die daeraad.

Die twyge swenk, die takke swaai,
dit is die winterwind wat waai....


DIE KAMPSUSTER.

Suster Anna, ek voel dis die dood wat kom:
slaat ope die tentdoek, na buitekant om,
dat my oë vry oor die bulte gaan--
Suster Anna, ek hoor ’n kerkklok slaan.

Ek hoor hoe die kindertjies roep vir my;
van ons klompie moes ek nog die laaste bly.
Kom neem tog my hand, soos jy dikwels doet--
ag, altyd was Suster vir ons so goed.

My man, hy lê ver langs Toegela-stroom af,
en niemand weet waar of hy rus in sy graf;
ag Suster, en neem nou die Heer nog vir my,
dan is Pieter allenig nog owergebly.

Ek weet hy bly staan met sy roer in sy hand--
ja, trou tot die dood, vir sy volk en sy land;
en mog dit so wees dat die Heer hom behoed,
so bring hom tog, Suster, sy moeder haar groet.

En sê vir hom, selfs op die donkere rand
het jy vrese nog bewing gevoel aan haar hand;
en dit was haar troos, dat haar Pieter sal hou
aan sy God en sy land, aan sy ere en trou.

Die kindertjies, Breggie en Japie en Faan,
het Suster die een ná die ander sien gaan;
en jy sê daar ’s ’n plekkie vir my nog gebly,
waar moeder kan rus aan klein Fanie se sy.

Die ou huis se murasie staat swart en ontbloot,
waar almal so saam was om moeder haar skoot;
maar ver van die huis en verstrooi deur die land,
rus almal tog saam in die Here se hand.

Oor die velde kruip saggies die awend se grou;
maar Suster, ek sien nog die hemel se blou.
Daar rol ’n gedreun oor die bulte aan--
Suster Anna,--ek hoor ’n kerkklok slaan!...


DIS AL.

Dis die blond,
dis die blou:
dis die veld,
dis die lug;
en ’n voël draai bowe
in éensame vlug--
  dis al.

Dis ’n balling, gekom
oor die oseaan,
dis ’n graf in die gras,
dis ’n vallende traan--
  dis al.


AFRIKANER-TROOS.
(Histories.)

So eenkeer elke sestien jaar
  kom daar ’n tyd--jul weet dit wel--
dat al die sterre, hot en haar,
  soos vuurwerk deur die hemel snel.

So was ek eenkeer op die pad--
  dis lange jare al verby;
ek kom die aand op Seekoegat--
  daar gee hul toe ’n bed vir my.

En kyk, daar kom toe in die nag
  so’n sterre-reën op ons neer;
geen mens had aan so wat gedag--
  en dat dit erg was, kan ek sweer.

Die hele huis raak in rumoer,
  die honde blaf, die hoenders kraai;
maar, moeg van heeldag ry en roer,
  slaap ek so deur die heel lawaai.

Daar voel ek iemand stoot my aan.
  Ek roep: „Wie’s daar?” en draai my kop,
Die goeie tante sien ek staan,
  en saggies sê sy: „Neef, staat op,”

Ek sien sy lyk so bleek en naar;
  dus vra ek gou: „Wat skort d’r aan?”
Sy sê: „Die laaste dag is daar,
  en netnou sal die wêr’ld vergaan.

Kom sit by ons daar binne nou--
  ag neef, hoe kan j’aan slaap nog dink?
Ons tyd is kort, kom laat ek jou
  tog eers ’n koppie koffie skink!”


KLEIN ONDEUG.

Klein ondeug, moeders sorg en skat,
  haar lus, haar las, haar vreug--
hy vroetel hier, hy snuffel daar,
hy pluk die hele huis deurmekaar--
  keer voor daar!--liewe deug!

Te laat! Daar gaat die koppie al,
  en stukkend op die vloer.
Knor jy hom, jy kry knor terug,
of nydig smyt hy ’m op sy rug
  en trappel fluks tamboer.

Hy ’s kort-kort by die waterbak,
  al jaag jy hom elke maal:
jou Sondagstewels kry hul bad;
dan is dit weer die arme kat
  wat jy daar uit moet haal.

Al trippe-trap die mure langs
  kan jy sy stappies hoor;
hy ’s weg en stil nou, soos ’n muis--
maar glo my nou’s dit glad nie pluis:
  kom, hier is al sy spoor.

Daar het jy ’t al, die muurpapier
  in repe afgetrek,
geskeur in stukkies, klein en kort,
die inkpot daarop uitgestort
  en hy--één swarte vlek!

Daar val meteens die solderleer,
  ja, soos ’n donderslag!
Ons loop te hulp met grootste haas--
daar sit die kleine vent daarnaas
  en skater soos hy lag!

Dis brabbel-praat, dis woel en val,
  van smôrens vroeg tot laat;
dis koppie stamp, en huil en lag
so twintig male elke dag,
  tot basie kooi-toe gaat.

Die laaste soentjie is van haar
  wat sorg nog las ooit heug.
Met mond en pootjies skoon gewas,
slaap nou klein ondeug--moeders las,
  haar skat, haar sorg, haar vreug.


’N SNAAKSE VRYERY.

As tweetjies met mekaar wil vry,
is ’t beter om jou ver te hou--
nie waar, wat raak dit jou of my
as tweetjies met mekaar wil vry?
Net van één snaakse vryery
wil ek die storie jul ontvou.
As tweetjies met mekaar wil vry,
is ’t beter om jou ver te hou!

’n Flukse nooi was Hannie Waal,
en Japie Brink het daar gedraai--
die ogies blou, die lokkies vaal--
’a flukse nooi was Hannie Waal.
Maar of nou Japie dit sou haal--
dit was maar moeilik om te raai.
’n Flukse nooi was Hannie Waal,
en Japie Brink het daar gedraai.

Eén Sondag by die kerk se deur--
moe’ nou nie dink dit was ’n plan nie--
het so ’n kleine iets gebeur--
één Sondag by die kerk se deur.
Die kerk was vol, hul druk en beur,
en so kom ek net agter Hannie--
één Sondag by die kerk se deur--
moe’ nou nie dink dit was ’n plan nie!

Haar boek het uit haar hand gegly,
toe sy so uitstap op die treetjie;
ek _moes_ dit optel, ’k was daarby--
haar boek het uit haar hand gegly.
„Baie dankie, neef,” sê sy vir my,
en ’k sien sy kleur so’n kleine beetjie.
Haar boek het uit haar hand gegly,
toe sy so uitstap op die treetjie.

En onder by die muur se draai--
dalk het ek my dit maar verbeel--
kyk sy nog om ’n slaggie, raai--
daar onder by die muur se draai.
Beskou jy dit as trou verraai?
Die kykie het ek tog nie gesteel!
Ja, onder by die muur se draai--
dalk het ek my dit maar verbeel!

Wel, ek het kennis toe gemaak--
die hoe of waar kom nie op aan nie;
toe loop ek daar vir Japie raak,
nadat ek kennis had gemaak.
Hul sit toe saam amandels kraak,
die eerste awend, hy en Hannie,
nadat ek kennis had gemaak--
die hoe of waar kom nie op aan nie.

Jaap kry ’n tweeling in die dop,
en één daarvan gee hy aan haar;
die ander eet hy selwe op--
Jaap kry ’n tweeling in die dop.
Was dit nou glips of wou sy fop?
Want uit haar handjie val dit daar.
Jaap kry ’n tweeling in die dop,
en één daarvan gee hy aan haar.

Sy ’s op haar knieë voor die stoel--
dat ek moes help, nie meer as plig nie!
Die amandelpitjie was ons doel--
sy ’s op haar knieë voor die stoel.
Dat ek haar handjies raak moes voel,
kan jul begryp: daar was geen lig nie!
Sy ’s op haar knieë voor die stoel--
dat ek moes help, nie meer as plig nie!

En Japie dink: „Wat sou gebeur het?”
nou sy die pitjie had gekry.
Ons merk dat sy so’n rooie kleur het,
en Japie dink: „Wat sou gebeur het?”
„Dis duis’ling wat ek altyddeur het
as ek gebuk het,” sê toe sy!
Ja, Japie dag: „Wat sou gebeur het?”
toe sy die pitjie had gekry.

Die helfte byt sy af vir haar,
en helfte lê sy op haar handjie:
„Dè, neef! Jy het help soek, nie waar?”--
Die helfte byt sy af vir haar,
en op my halfie sien ek daar
die kerfie van ’n witte tandjie!
Die helfte byt sy af vir haar,
en helfte lê sy op haar handjie.

Dat dit gesmaak het, moet ek sê,
al was my deeltjie maar ’n kwartjie:
’n _kleine_ loon moes ek tog hê--
dat dit gesmaak het, moet ek sê,
al sien ek Jaap so stil oorlê:
„Daar gaan ’n stukkie van haar hartjie.”
Dit het gesmaak, ek moet dit sê,
al was my deeltjie maar ’n kwartjie.

Of dit by ’n kwartjie het gebly?
Dit raak jul niks nie, wel beskou,
of ander mens se vryery
nou by ’n kwartjie het gebly;
want as daar tweetjies is wat vry,
is ’t beter om jou ver te hou.
Of dit by ’n kwartjie het gebly?
Dit raak jul niks nie, wel beskou!


DIE MURASIE.

By staande waat’re klaag my siele wee--
By stille waat’re in die skemer-uur,
In drywend vuil gedam, en lang ontdaan
van sorgers hand, so treur die stille stroom;
en dampend skuif ’n walm soos lyke-kleed
die soppig-gryse vlak van die water langs.
In swart gegrif op wester-koperkwyne
staan blad en twyg in roerelose rou.
Geen lag of voetstap op die tuinpad meer,
waarbowe kruin teen kruin in droefheid leun,
deur vreemde hand beroof van somerweelde
en wenend droë blaartjies, één vir één.

En naby lê die ou murasie daar,
met dode-oë starend in die wes--
geen ruit wat blink in vriend’lik awendglore,
geen hand wat sawends daar die luike sluit,
geen warme gloed deur vensterspleet of deur:
die koue nagwind dwaal deur holle sale
en roer die flenters van die muurpapier.
En waar die tafel was met awendspyse
of rusbed, sag gesprei, aan kamerwand,
daar loer die maan die naakte mure ower,
daar lê die naakte balk ’n skaad’wee-band.
Geen fyne hand wat frisse teue skink
aan hange-slepend loof langs stoep en raam.
In stof van verre stede sien ek sleep
die blomme hier in vredehof geteel....
Verby, vergaan! Of mag die hoop nog lewe,
of tref die laaste vonnis nou nog nie?


AARDGEESTE.

Daar kom hul aangetreed
      tot slagting wreed,
              bespied,
              bekruip,
              beloer,
              besluip
mekaar, tot moord gereed.
      Ei, daar blits
      ’n bliksemflits!
      Nog een! Nog een!
      Dit knal, dit bars,
      dit knor, dit knars,
knett’rend kraak die kleingeweer!
      Kranse herhaal
      die woeste kabaal--
      soos donderweer!
      Koeëls, kartetse
      fluit en gons,
      beuk en bons,
morsel die rotse tot spattend gruis!
      Dampe staan,
      waar die bomme slaan,
vore ploeënd met hels gedruis!

* * *

Vaarlands grond drink die bloed
nog vol vryheid se gloed
      lou uit die wonde.
Menig sterwende sug
dra ’n groet deur die lug
bo die wapengerug--
      ver in die ronde.

O, die lippe wat bleek
om ’n waterdronk smeek--
      wonde wat brande.
Ongehoord, ongeag
menig kermende klag,
waar die woelende slag
      dreun oor die rande.

En in eensame nag
staan die sterre se wag--
      stil en van verre,
oor die helde se skaar
tot hul ruste vergaar,
onbelas, onbeswaar--
      veilig gebêre....


DINGAANSDAG.

Ster-nag omsluit die laer--
onder die kleine skaar
by die lanternlig daar,
  stilte en vrede....
Sterk is die stem en skoon,
smekend om hulpbetoon,
wat tot die Vadertroon
  klim in gebede.

Môre-lig,
roepings-plig
  daag vir die helde,
Vader, die taak is swaar,
klein en verloor die laer
  in die groot velde.

Woes-singend,
aanstuiwend,
dans-springend,
pluimwuiwend,
  kom die barbare--
driemaal tien-duisendtal,
dond’rend hul voete-val,
  storm hulle skare!

Afrika,
Afrika,
  was ’t jou gegéwe,
vêr en vooruit te skou
wat in die stryd vir jou
hier was te breek of bou--
  jy had gebéwe!

Kalm-in-daad,
wêreld-verlaat,
  wêreld-vergete,
sterk in die Heer se krag
staan hul die storm te wag--
  oormag-oormete.

Reguit en raak-sekuur
blits uit die tentwa-muur
driemaal die Boere-vuur,
  kraak hulle roere,
maaiend die horde om--
drie-male, al wat kom--
kyk, tot die swarte drom
  wyk vir die Boere!

Dingaan-slag,
wonder-dag,
  jy het bevestig
al wat ’n nasie bou,
al wat ’n taal behou.
Ere die helde-skaar!
Klein was die klompie daar:
  vier-honderd-sestig!

Afrika,
Afrika,
  eer hul gedagtenis!
En as jou vryheids-dag
eens oor jou velde lag,
weet wie te danke is--
  eer hul gedagtenis!


STILLE WERKERS.

Oubaas sit oordwars op ou Geduld.
Met nek omlaag, en oë op die grond,
so dra hy oubaas huistoe, stap vir stap.

Oubaas pof ’n rokie uit sy pyp,
so nou en dan, teen rooi van awendlug,
en praat ’n woordjie met sy goeie ou maat.
Daar ’s goudlig in sy baard; en d’aandson gee
d’ou perd ’n laaste rapsie oor sy kruis.

En stil is hul oor dagtaak afgedaan,
en stil sal hulle môre weer begin--
tot eendag ook oor hul die velde swyg.


WAG-HONDJIES.

Ek is hier, en ma is hier,
ons twee lê op baas se baadjie.
    Wie is jy?
    Kom, loop verby!
Anders word ons knor ’n daadjie--
    kry jou bene dalk ’n hap,
kry jou broekspyp dalk ’n gaatjie!
    Mooipraat? Nee, ons ken jou nie.
    Weg jou hand, en raak ons nie!

„Oppas!” het die baas gesê,
„tot ek weer kom, hier bly lê!”
Op ons pootjies lê ons kop,
maar ons hou jou darem dop,
toe-oog slaap ons op die baadjie,
maar ons loer nog deur ’n gaatjie--
    één oor plat, en één oor op,
            pas-op!


PRESIDENT STEYN.[1]
(† 28 Nov. 1916).

Dis skoon vir ’n held om te val
aan die voete van wie hy gedien het,
  skoon vir sy skeidende gees
  dat moeders die laaste mog wees
wat sy sterwende oog gesien het.

Maak hom ’n graf op die grond
  wat sy liefde gewy en geseen het:
dis skoon vir ’n held om te rus
  aan die voete van wie hy beween het.

[1] Pres. STEYN is deur ’n beroerte getref, terwyl hy besig was om ’n kongres
van die „Oranje-Vrouevereniging” op Bloemfontein toe te spreek. Hy is begrawe aan
die voet van die Vrouemonument, wat deur hom tot stand gekom het.


KOMAAN!

  Wees sterk!
Daar ’s ’n nasie te lei,
daar ’s ’n stryd te stry,
  daar ’s werk!
Daar ’s nie na guns of eer te kyk,
daar ’s nie na links of regs te wyk,
daar ’s net te swyg en aan te stryk--
  Komaan!

  Wees trou!
Daar ’s ’n volk te leer
om homself te eer,
  te bou;
om God, om God alleen te vrees,
aan aard en taal getrou te wees,
gesond en waar van hart en gees--
  Komaan!

  Wees fier
op ’n voorgeslag waard
in wil en daad
  gespier!
Hul lewensweg het ons gewys
om trou te wees aan waarheids eis.
Wie laak mag laak, wie prys mag prys--
  Komaan!


MA EN PIETJIE.

Dis moeder Makou en haar kleine Piet.
As jy nader kom, dat sy dit siet,
dan lig sy haar kop en kyk vir jou
asof sy vra: „Wat is dit nou?
Wil jy Pietjie hê, wil jy Pietjie steel--
my liewe klein bolletjie goud-ferweel?”

En sy sê met haar omdraai en skuddend haar stert:
„Nee, die hele wêreld is Pietjie nie werd!
Kom, ons loop.” En hy volg haar in trippeldraf klein
op sy sagte voetjies van geel satyn.

As sy waak, sit hy slaap, onbewus van haar angs,
of hy trippel rond op ’n goggatjies-vangs,
pik mis en te laat na ’n motjie wat vlug,
en struikel onhandig en val op sy rug.

Die wêreld daarbuite mag staan of mag val,
ons erf is, vir Pietjie en Ma, die heelal,
want Ma het vir Pietjie en Piet het vir Ma,--
daar ’s niks wat hul meer van hul daggie vra
dan, totdat hul daggie word opgesê,
net lief te hê, net lief te hê.



TOTIUS
(Dr. J. D. DU TOIT).


DIE LIED VAN DIE OSSEWA.

                     Er is het geklap der zweep, en het
                   gehuil van het bulderen der raderen.
                                              Nah. 3:2.

Hoor hoe sing ek my lied as die osse so stap
langs die wyd-ope veld, waar die voorslag-punt klap,
waar ’n wonder van stilte my alkant omsweef
as ek rustloos-alleen langs my grootpad bly streef;
ja daar vér in die veld, dáár word ek gehoor,
waar g’n straatklank my klinkende stem kom verstoor;
en ek sing met geweldige kiem my geluid
oor die luistrende vlak van die graslaagtes uit.

Op my lied was die bruigom so wonderlik trots
as my wiele wegrammel oor kliprug en rots;
as die seekoeivel-sweep, wat die rooispan bestryk,
in sy hande verrys om na vore te kyk;
of straks skielik weer daal, op my welvaart bedag,
om die veld te deurdreun met ’n knallende slag,
waar die osse van beef en my wiele van raas,
wyl die bruigom meteen op die kettingtou blaas.
Ons drieklank, verenig in innige band,
was die skone gesang in die trekker se land,
toe ons saam het getrek, die land in gesig,
waar ek, troue gesél, hom sy taak sou verlig.

Voor ’n wiel het kon rol in die wêreld nog wild,
het my klank die gebrul van die leeue gestild;
en ek het al gejubel met vorstelike lied
toe g’n pad was gebaan in die woeste verskiet.
Toe g’n huis nog die trekker se kroos kon beskut,
was my tent vir die kleintjies ’n veilige hut,
wat by nagtelike tog met gewieg en gesus
hulle sag het laat sluimer in salige rus.

Ja ek het met die trekker my singend verbly,
of in rampe met klaagtoon sy psalm begely.
In die stryd met Dingaan, as sy siel werd geskeur,
het my troostende stem weer sy moed opgebeur,
en ek het uit die dieptes hom weer uitgevoer
na geweste van rus vir die swerwende boer.

Maar nou val weer my lot in ’n dag van veel kwaad,
want die trekker se seun het sy plaas moet verlaat,
en ek, arme, nog lewend, het agtergebly
om weer saam met sy vrou en sy kinders te ly.
Maar my stem is nou hees en my klank is verdof
na die jare van worstling met sonbrand en stof,
en my kranke geluid word weemoedig gesmoor
deur ’n nare geklaag uit my tentjie gehoor.

Want ek rol, ek en honderde waens met my,
na die plek waar die vrouens en kinders gaan ly.


VERGEWE EN VERGEET.

      Dat gij niet vergeet de dingen die
      uwe ogen gezien hebben.
                            Deut. 4:9.

Daar het ’n doringboompie
vlak by die pad gestaan,
waar lange ossespanne
met sware vragte gaan.

En eendag kom daarlanges
’n ossewa verby,
wat met sy sware wiele
dwars-oor die boompie ry.

„Jy het mos doringstruikie,
my ander dag gekrap;
en daarom het my wiele
jou kroontjie plat getrap.”

Die ossewa verdwyn weer
agter ’n heuweltop,
en langsaam buig die boompie
sy stammetjie weer op.

Sy skoonheid was geskonde;
sy bassies was geskeur;
op een plek was die stammetjie
so amper middeldeur.

Maar tog het daardie boompie
weer stadig reggekom,
want oor sy wonde druppel
die salf van eie gom.

Ook het die loop van jare
die wonde weggewis--
net een plek bly ’n teken,
wat onuitwisbaar is.

Die wonde word gesond weer
as jare kom en gaan,
maar daardie merk word groter
en groei maar aldeur aan.


DIE OS.

Hoe rustig stap hy aan
die edel jukgediert!
hoe waggel hy die kop
met horings swaar gesierd
en stewig ingestrop!

Hoe rustig stap hy aan
so sonder tuiggetooi,
met matte dowwe plof;
sy vel trek plooi op plooi
rondom die breë skof.

So stap hy rustig aan
vol kalme majesteit
en ongesmukte prag--
beeld van stilswyendheid
ên selfbewuste krag.

Steeds stap hy rustig aan
met rustelose drang,
by kou en sonnegloed;
maar snags versnel sy gang
om dagversuim te boet.

Nog stap hy rustig aan
as dae kommervol
laat bleek en krul sy gras;
hy skeer die hardste pol
en suip die modderplas.

Stap, stap dan rustig aan
en deel die trekkerslot;
die skaarste en owervloed,
daar in die land, waar God
ook is vir osse goed!


MOSELEKATSE.

Manestraal aan troeb’le trans;
rond die vure glimmerglans;
kaffers nes in dodedans
            om die vlamme;

windgewiegeld, tak en blaar
wenk met spokerig gebaar,
skaduwees nes skimme waar
            om die stamme.

Wild gebruis van bometop;
dansgedreun en skildgeklop;
vuurgeglim van onder-op--
            hel-tafrele!....

Vlammend rys sy speer oplaas!
Stiller word die krygsgeraas.
Nagwind waai met breed geblaas
            sy bevele:

„Hoor die seun van Matchobaan!
Ha! die witman kom weer aan!
Tweemaal het hy ons verslaan,
            maar nie weer nie.

„Lewend afgeslag is hul,
ha! die swarte en witte bul;
maar die witte, ha! hy brul
            nou nie meer nie.

„Dans dan by die nuwe maan!
Sing die seun van Matchobaan!
Slag nou van die voorpoot aan--
            vette beeste!

„Slag die offerbeeste hier;
gooi hul in die groot rivier
met die pronkkalbasse bier--
            vir die geeste!


„Laat die dokter uit jul drom
wys deur wie die onheil kom
oor die Matabeledom--
            laat hom braaie.

„Vang die slagos uit die trop,
lewend vlek sy skouertop,
sny dit, ha! in toutjies op;
            laat dit swaaie

„langsaam in die bitter rook,
byt ’n stuk af van die strook
drink die bitter asstof ook--
            en wees manne!

„Wag jul more vir die lis
wat die krag van witman is;
laat jul van jul erfenis
            nie verbanne.

„Ons was hier al van begin,
en die witman sal nie win;
eenmaal gaan sy tyd weer in
            van verdwyne;

„eenmaal dryf ons hul weer weg!
Ha! die land word skoon geveg,
en die kaffer sal sy reg
            sien verskyne.

„Eet en drink nou mond tot mond,
dans en spring nou in die rond,
tot die maan raak aan die grond
            met haar sterre!”

* * *

So verklink sy oorlogswoord;
danse, brulle word gehoord;
ja, ’n volle hel-akkoord
            dreun van verre.


DIE DRIE KINDERTJIES.[1]

Waar die spruitjie ’n lief geluidjie
murmel langs die groene soom,
en besye weggeleie,
watertjies in plassies droom--

Skep ses handjies van die kantjies
moddergrondjies, swart en vet;
en hul brei die, tot hul klei die
beeld van wa en ossies het.

’n Swarte sware kring barbare,
toegeskote vlieë snel,
kyk nou vrindlik by so’n minlik
en verteedrend kinderspel.

„Moenie breek nie!... Moenie steek nie!
Kyk hulle speel nes kaffertjies!”
En hy keer hulle, en hy weer hulle
met sy bloedbedrupte spies.

Hulpontvalle, roep hul alle;
dog.... die laer is uitgemoor!
En hul kerme om ontferme
word steeds verderweg gehoor.

„Hulle lewe.... maar verdrewe
noordwaarts!” klink dit agterna.
Perderuiters het die buiters
haastig agterna geja.

„Niks kon vinde!”... Net die winde
waai op plekkies droewig rond;
en klein beentjies, tussen steentjies
weggebleek, bedek die grond.

[1] By die Liebenbergs-moord is drie Boerekinders deur Moselekatse se kaffers
meegevoer.
Potgieter het later ’n vergeefse poging gedoen om hulle terug te vind.


VEGKOP.[1]

Bleek blink die seile vèr teen die hang,
swart kom die kaffers met driftige drang,
bewend omhoog rys gebed en gesang--
      o so bang!

Donkre gevaartes dondrend temet,
blitsende flitse van pyle gewet,
borend na bowe die skietgebed:
      Here red!

Hoor die gebruis teen die wawiel aan!
Hoor die geklots oor die seile slaan!
Sug van vertwyfling die boesem ontgaan:
      Heer, dis gedaan!

* * *

Vas lê die roer in die trekker se hand,
fluks hou sy vrou aan sy syde stand,
weg vlug Kalipi weer na sy land--
      vêr oor die rand!

Swart lê die kaffers: blom van die heir;
„Samel by hope die vyand se speer!
God het geseen man en geweer!
      Sink dan terneer!
      Hom sy die eer!”

[1] In Oktober 1836 het SAREL CILLIERS met 40 man ’n aanval van 5000 Matabeles
op die treklaer by Vegkop (Vrystaat) afgeslaan.


REPOS AILLEURS.
(Die rus is elders).

In die eensame veld
staan ’n tentjie klein,
en daarnaas in die skeemring
skuif die ligtende trein;
ek sien in die tentjie,
deur die ope gordyn,
’n tafel met bordjies
en glasies fyn,
wat sag in die lig
van ’n kersie skyn;
en ek dag: „was ek net
in die tentjie klein--
_ek sou tog, o so gelukkig, syn_”.

Naas die eensame tent
staan ’n meisie klein
in stomme bewondering
vir die ligtende trein;
sy sien my geniet
my glansende wyn
en kostlike maal
by elektriese skyn;
en ek raai die gedagte
van die meisie klein:
„og, was ek maar net
in die vrolike trein,
_ek sou tog, o so gelukkig_, syn”.


’N SPROKIE.

Ek ken ’n mooi klein sprokie
wat so na waarheid klink--
dis dat die tortel altyd
sy water troewel drink.

Kom hy by helder plassies,
dan sal hy drinkend neig
as eers, na sagte roering,
die modderwolkies styg.

Dáárom sing hy so droewig
van donker voëlleed;
dáárom tooi hy hom stemmig
met dowwe verekleed.

So is daar sombre siele
waar hy my aan laat dink,
wat, soos die tortel, troewel
die lewenswater drink:

Vir alle lewensliefheid,
vir vreugdesang bevrees,
drink hulle geen genoeëns--
of dit moet troewel wees!


DIT IS NAG.

Dit is nag, stille nag,
en ’n moeder hou wag,
waar ’n kindjie teer lê te sterf--
net ’n flou-floue sug
in die ruim-ruime lug,
en ’n sieltjie het weggeswerf.

En agter die huis
vlieg met woeste gedruis
die snorkende spoortrein verby;
en die nag die dreun
van sy wilde gesteun,
soos hy voort op die ysters gly.

O die tedere krag
van ’n kind, wat so sag
en so stil weer die wêreld ontstyg;
O die moeder alleen
in haar bitter geween,
as die nag op haar smeekstem swyg!

O die woeste geweld
van die trein oor die veld,
waar die moeder allenig treur;
die hemel en aard
weergalm van sy vaart,
wat die wêreld in tweë skeur.


DAAR RUIS ’N LIED.

Daar ruis ’n lied van lang verlee,
    en stemme singend kom van ver;
en immer ruis my siele mee
met stemmelied van lang verlee--
    uit d’ eeue her.

Daar ruis ’n lied van lang verlee
    wanneer die wind so sag verrys;
en immer, buigend na benee,
die bometop sing klaaglik mee
        eenselfde wys.

Daar ruis ’n lied van lang verlee
    in d’ oseaan se maatgesang;
en immer ruis die skulpies mee
met d’eeuelied van grote see--
        diep opgevang.

Og, kon ek sing van lang verlee
    gelyk die skulpies so getrou,
wat opgegaar, nog kleinlik gee
die weerklank van ’n wêreldsee--
        by d’ oor gehou.

Og, kon ek sing van lang verlee
    gelyk die dentak hoog in top,
wat daar sy naaldjies klein-verbree,
opdat die wind sy oue wee
        kan klaag daarop!

O, kom tot my uit lang verlee,
    sangstemme, kom uit droomgebied,
deurruis my siel soos awendbee
van westewind, soos verre see
        se golwelied!


STOF.

Die luie stof. Hul het geen voete, want
net waar ek kom, daar leg
hul al maar in my weg.
      Of kom my voet hul te naby
      dan skuif party
      net effentjies op sy.

’n Rusbed vind hul oweral
om lomerig op neer te val.
Grassprietjie is hul nie te smal,
wat langs die grootpad staan.
      Die grootpad weer is nie te breed;
      kerksolder nie te eensaam, of
      die toringdak te hoog gemeet.

Hul lê so rustig op die skoen
van werkman, hard en uit fatsoen
getrek al en verslyt--
      so rustig soos
      in perlemoer van dames-oor,
      of op haar blanke hals.

Net reëndruppels laat vir hul
haastig op luie rusbed krul,
nes wurms langs die grond.
      Maar as die son se gloed hul vat,
      lê hul weer reguit en
      gee vir geen wawiel pad.

Daar kom hul aan--dieselfde stof!
Die lug is vuil, die son is dof.
Dit lyk wel wonder-baie of
      die wêreld wil vergaan--
      so kom hul aan!

Soos ’n bende ruiters, stoer en straf;
Soos ’n kommande op stywe draf,
ry hul verward die grootpad af.
      Hul trek hom vol, sy lengte langs,
      versprei omheen wildheid en angs
      en al na vorentoe.

Die vrouens ruk die deur op slot;
die manne vlug op hoog gebod,
      reusbome wals soos skimme rond
      en wyk, met huise in verbond,
      na ongewisse newelgrond--
      en dit is of stof alleen bestaan!

Stof en sy agterryer, Wind,
wat op sy hakke jaag geswind,
hul twee die dryf, van woede blind,
      stormenderhand,
die lug en landskap uit verband!


DIE STERRETJIE.

Goei nawend my sterretjie
  met jou vrindelike groet;
jou weer te sien skitter
  doen my harte so goed!
Ek staan net maar op
  van my lampe-liggie,
en daar kyk ek verras
  in jou kindergesiggie.

My kleintjies lê binne
  in hul droompies al:
ek was bang dat die ryp
  in hul ogies sou val.
Met wangetjies rond
  lê die slapende bloedjies
glimlaggend te droom
  van hul spelegoedjies.

En jy speel maar hierbuite
  in die winternag!
En kom my nog teë
  met jou olike lag!
Jy weet van geen nag,
  geen koue of vrese,-
klein ligtende, laggende,
  klein hemelse wese!

Jy speel in die nag
  om die aard te verbly;
in my donkere berowing
  kom jy laggend tot my.
En is dit my netnou hierbuite te koud,
  dan vlug ek geswind weer na binne;
maar jy bly, ongesien, nog skitter daarbo
  aan die hoë, hemelse tinne!


DIE OUE PUT.

Ginds op ’n knoppie, wydgeleë,
ver van die woelige werf en weë,
  armoedig lê en skaars beskut,
  in middagslaap, die oue put.

Geen voël laat sy lied daar klinke,
geen doringboom sy skadu sinke
  op leiklip-brokkies, wat lê braai
  in middaggloed se ligte laai.

Verwaarlosing se ongenade
spreek uit die stukke pale en drade,
  waarbinne staan ’n slingerwiel:
die toegang tot ’n diepe siel;

tot swyggeheim wat waterwelle
straks aan die velde sal vertelle,
  as sag ’n windjie hul ontwek,
  voordat die kuddes bronwaarts trek.

Intusse daal van hemeltinne,
deur sombre skemering daarbinne,
  ’n langgespanne silwerdraad
wat afglans op haar stil gelaat.

’n Wyle, en ’t is al verlede--
’n klippie duikel na benede...
  Waar kom die wekkertjie vandaan?...
  Het d’awendkoeltjie dit gedaan?...

’n Wyle, en ’t is al ontroering,
en al te wrede rus-ontvoering;
  want ope slaan die deksel wat
  ontsluit geheel haar koele skat.

Sy hoor naby en nog van verre
haar skapies dorstig aan kom blerre;
  sy open mild haar waterfles
  om al wat bler die dors te les.

Dit put maar en sy gee maar immer,
dit put maar en sy weier nimmer;
  gelyk ’n moeder, so opreg,
  gee sy haar laaste druppel weg!

Straks gaan die skapies almal hene
en is die putters weer verdwene,
  en niemand dink dan langer om
  haar so vervalle heiligdom.

Haar lewe is soos die moederlewe:
by ondank immer bly te gewe;
  maar ’k hoor as hul is heengegaan,
  diep-onder tap... ’n watertraan!


OGGENDSTOND OP ’N BOEREPLAAS.

O, die oggendstond op ’n boereplaas!
Daar trek al op die eerste rook.
Hul het gistraand die vraag beslis,
wie of se beurt dit môre is
om ketel te kook.

Die môrester het opgegaan;
daarbinne roer al een;
daarbuite bly die rokie draai,
omdat daar nou geen windjie waai
deur vroeë môrewêreld heen.

Die haan het op sy beul geblaas;
hy spring al van sy tak;
’n mens sal sê dat hy die baas
(so stap hy) is van werf en plaas,
en die transport dra in sy sak.

Hom volg sy vrind, die kallekoen,
’n oue towenaar:
hy worstel met sy slange, wat
hy nukrig teken in die pad
se stof, met duister vlerkgebaar.

Die kraalvee is al moeg gelê;
hul rek die stramme lywe uit.
Daar kom die kaffer ook al aan,
wat koulik oor die douveld gaan
en eers die kalwerhok ontsluit.

Sy emmer ruis van pure musiek,
so vloei dit nou uit volle speen;
musiek ook vir die kalfie als
hy kort-kort om sy moeder wals
op nog onvaste horrelbeen.

Maar kyk hoe staan die osse met
groot oë na die hek te tuur,
totdat die sware hinderpaal
word uit die mikstok uitgehaal,
waaraan hul saans hul lywe skuur.

Die son gaan op, die vee verdwyn.
Net in die onverstoorbre vert’
’n osse-span stap voor die ploeg,
en agteraan die man wat swoeg
by ’n rukkerige stert.

Die môre smelt weer met die dou,
die vrede alleen bly soos dit was.
Net ’n hen spring van haar eiers af
met groot geraas, en die brakhond blaf
vir die enkele kuiergas.


PERDEKRAAL-LAER.

Die nag is heen, die môre is grys:
’n plaat van tente en waens wys,
waar Perdekraal se steenhoop rys
                  teen hoë hange.
Daar staan hul aan die grond gepènd,
die geweltjies so mooi orent--
die eie maaksels, tent aan tent,
                  in suiwre range.

O Trekkersvolk, my hart ontgloei!
Ek sien hoe jul die vreemde boei
verbreek het en het uitgebloei
                  tot eie nasie.
Nie net ’n eie vaderland,
nie net ’n eie vlag geplant,
maar alles maak van eie hand--
                  geen imitasie!

Hoe lê die tentseil baan aan baan.
Hoe wakker bly die nokke staan.
Die klappies netjies oopgeslaan--
                  mooi eenheid same.
Sy staan daar by die wa se as,
die huis van doek, so lossies-vas,
skoon nes in môredou gewas--
                  ’n blanke dame.

Twee witte kappe in die veld:
’n wa en tent daarnaas gesteld,
tweeheid tot eenheid saamgesmelt
                  in sware stonde.
Die wa--’n sterke man is hy;
die tent--’n taaie vrou is sy.
Jul het die nasie uitgelei,
                  sy boei ontbonde.

Lig op haar voet gelyk die ree,
en trekkend met die trekker mee,
bied sy hom tog ’n vaste stee
                  in angs-geweste:
as wolkbreuk beuk die witte wand,
die sonstrale op die nokke brand,
of nagdier sluip oor donker land,
                  ’n veil’ge veste.

En as sy wa nie verder dring,
hoor ek by wind haar fladdering
die lied van boerbeskawing sing,
                  stemmig-tevrede.
Dan word haar seile trou bewaar:
by feesdag net span sy ’n laer,
en straal haar seile dankbaar daar--
                  van groot verlede.


DIE VIERKLEUR IS WEER IN GEVAAR.

Kom burgers, trek die perde reg;
nou vrou en kind goeien-dag geseg.
Jongkêrels, los die nôi se hand;
en seuns, verlaat jul moeders, want
daar gaan ’n strydroep deur die land!
Gryp nou die teuels by mekaar--
die vierkleur is weer in gevaar!

Die regterhand gryp die visier,
die bors oorkruis ’n bandelier;
die spore in die sonskyn blink,
stiebeuels teen mekaar weerklink,
die ketel aan die saal rinkink.
Kom burgers, hou nou by mekaar--
die vierkleur is weer in gevaar!

Laat aan die trippelaar sy pas,
maar hou die vuurge hengste vas.
Die agterstes moet ingalop
tot midde in die ruitertrop--
die ponie en die bossiekop.
Kom burgers, ry so by mekaar--
die vierkleur is weer in gevaar!

Trek burgers, almal nou geteld,
al vort maar deur die wye veld;
en of jul al omlaag verdwyn,
of op die heuwels weer verskyn--
wys steeds die volle slingerlyn.
Kom burgers, trek so by mekaar--
die vierkleur is weer in gevaar!

Jaag burgers, jaag oor rant en rots,
wanneer jul teen die vyand bots.
Ruk in, spring af en pos gevat
aan die onverwrikb're ryperd-blad.
Mik fyn, kyk waar die stoffie spat!
Staan burgers, staan dan by mekaar--
die vierkleur is weer in gevaar!

En moet jul val, val dan met eer,
met d’oog die vyand toegekeer!
Val op die grense, man en perd,
die oue vierkleur is dit werd
en d’ eerkroon wink al uit die vert’.
Val burgers, val dan by mekaar--
die vierkleur is weer in gevaar!



C. LOUIS LEIPOLDT.

SLAMPAMPERLIEDJIE.

Ek sing van die wind wat tekeer gaan;
  Ek sing van die reën wat daar val;
Ek sing van ons vaal ou Karooland;
  Van blomme wat bloei by die wal;
Van water wat bruis oor die klippe;
  Van duikers wat draf oor die veld;
Van voëls wat daar sing in die bossies--
  Maar nooit nie, nee nooit nie, van geld!

Vir my sing maar liewers van blomme;
  Van al wat die vlei laat verkleur;
Van al wat die sonskyn laat spartel;
  Van voorjaar en najaar se geur;
Vir my sing maar liefs van die water;
  Van duikers wat draf oor die veld;
Van rotse en branders en wolke--
  Maar nooit nie, nee nooit nie, van geld!


OKTOBERMAAND.

      Viooltjies in die voorhuis,
      Viooltjies blou en rooi!
      Viooltjies orals op die veld,
      En orals, ai, so mooi!

Dit is die maand Oktober,
             die mooiste, mooiste maand:
Dan is die dag so helder,
                   so groen is elke aand,
So blou en sonder wolke
                   die hemel heerlik bo,
So blomtuin-vol van kleure
                    die asvaal ou Karoo.
Dit is die maand Oktober:
               die varkblom is in bloei;
Oor al die seekoeigate
                 is kafferskuil gegroei;
Die koppies, kort gelede
                 nog as ’n klip so kaal,
Het nou vir welkomsgroetnis
                 hul mooiste voorgehaal.
Dit is die maand Oktober:
                 die akkerboom is groen;
Die bloekoms langs die paaie
                    is almal nuutgeboen;
En orals in die tuin rond
                 ruik jy sering en roos,
Jasmyn en katjiepiering,
                    lemoen en appelkoos.

Al was die dag, soos yster,
               lang in die vuur gesteek,
Die varings in die klofies
               deur hitte geel verbleek,
Tog as die son daaronder
                   agter die berge gaan,
Dan word oor heel die wêreld
               die mooiste geur geslaan.
Dit is die maand Oktober:
                    die kokewiet is uit;
Boomsingertjies en kriekies
                die hoor jy orals fluit;
Fiskaal is op die oorlog:
                 daaronder by die sluis,
Daar is ’n dor ou doringboom
                 sy spens en sy kombuis.
Dit is die maand Oktober:
                 ek dink, die mense vier
Vir ewig in die hemel
                 Oktobermaand soos hier!
Wat wens jy meer as blomme,
                   as helder dag en nag?
Wat kan jy beter, mooier,
                    of heerliker verwag?

Ek is nog in Oktober:
                my tuin is nog so groen,
So wit met al wat mooi is,
               met bloeisels van lemoen,
So pragtig in die môre,
                 so heerlik in die aand!
Ek is nog in Oktober,
             die mooiste, mooiste maand!
Wat gee ek om die winter?
               Wat praat jy nou van Mei?
Wat skeel dit as ons later
                    weer donker dae kry?
Ek is nou in Oktober,
              die mooiste, mooiste maand
Met elke dag so helder,
                   so pragtig elke aand!

      Viooltjies in die voorhuis,
      Viooltjies blou en rooi!
      Viooltjies orals op die veld,
      En orals, ai, so mooi!


IN AMSTERDAM.

As ek vanaand so moedersiel
  Alleen hier by die vuurherd sit,
Dan borrel my geheue op,
  En maak my hart en siel uit lid;

Dan dink ek aan die veld, en aan
  Die doringbome by die krans,
Waar koggelmannetjies die son
  Hou vir ’n maat om mee te dans;

En aan die duine, waar die wind
  ’n Wierook na die see toe waai,
En aan die dam, waaroor die voëls
  So vrolik in die nessies swaai;

En aan die seekoeigate, waar
  Die kafferskuil en ruigte groei--
’n Donker groen die water oor,
  ’n Tuin, wat nooit nie word gesnoei;

En aan die koppies, waar die son
  Ons Afrikaanse klippe soen,
En aan ons ou Karoo, so mooi
  in al sy geil Oktober-groen!

In hier--hier waai die wind, en raas
  Die strate om my; karre dreun,
Die trein daarbuite fluit en rook:
  Dis orals galm, en gons, en steun!

Dis alles oud, so aaklig oud,
  Die wye wêreld om my heen!
Ag-honderd jare praat met my--
  En tog--ek gril en voel alleen!

Ons kom van hier; ons wieg was hier,
  Of verder, in die suiderland--
Hier, waar die Watergeuse was,
  Hier, waar die strate is half strand.

Ou Amsterdam, ou Amsterdam,
  Met al jou pronk, met al jou prag,
Met al jou smeerge strate ook,
  Jy het nog oor my siel gesag!

Ek voel, as ek hier moedersiel
  Alleen so by die vuurherd sit,
Wat jy nog vir ons nasie is--
  En kyk, my hart kom weer in lid!

Ons nasie? ag, die mense praat:
  Daar lê iets groots in woorde! Wat
Gee ons die reg om groot te wees,
  Om saam te loop op so ’n pad?

Vir tagtig jare het hul hier
  Gestruikel in die duister rond,
Die dyke oopgebreek, die see
  Gemaak tot bobaas van die grond;

Die land gedoop met vuur en bloed,
  Die klei vir elke huis deurwerk
Met trane: so ’n stad sal staan
  Vir ewig--want die klei is sterk.

En elke duim van hierdie land
  Is duur gekoop met suur en smart;
En elke morge is betaal
  Met stukkies van ’n mensehart:

Dit gee hul reg om trots te wees,
  Dit gee hul reg om nou te pronk,
Al is dit lang gelede al,
  Al is die see weer in sy tronk.

En ons? ons wil ’n nasie wees!
  Ook agter ons lê vuur en bloed;
Ook ons het vir ons land gestort
  ’n See van trane: ja, dis goed!

Maar verder--wat? ’n Nasie word
  Nie somaar soos die koring groot;
Dit moet deur werk, deur vlyt, deur smart,
  Deur lewe ook word voortgestoot.

En as ek by die vuurherd sit
  En in die vlamme kyk, dan voel
Ek in my siel, daar skort nog iets--
  Nog iets? nog iets?--’n hele boel!

Daarbuite spook die wind weer hard;
  Die vensters skudde: wat ’n nag!
Ou Amsterdam, ou Amsterdam,
  Jy het nog oor my siel gesag!


IN DIE KONSENTRASIEKAMP.
(ALIWAL NOORD, 1901)

            O, pazienza, pazienza che tanto sostieni!
                                                 DANTE.

Jou oë is nat met die trane van gister;
  jou siel is gemartel, deur smarte gepla;
Van vrede en pret was jy vroeër ’n verkwister;
  En nou, wat bly oor van jou rykdomme? Ja,
’n Spreekwoord tot steun--daar’s geen trooswoord beslister:
  „Geduld, o geduld, wat so baie kan dra!”

Hier sit jy te koes teen die wind, wat daar suie
  Yskoud deur die tentseil, geskeur deur die haal--
Jou enigste skuil in die nag teen die buie;
  Die Junielug stort oor die stroom van die Vaal--
Jy hoor net die hoes van jou kind en die luie
  Gedrup van die reëndruppeltjies oor die paal.

’n Kers, nog maar anderhalf duim, voor hy sterwe,
  Brand dof in ’n bottel hier vlak naas jou bed.
(’n Kafhuis gee makliker rus: op die gerwe
  Daar lê ’n mens sag, en sy slaap is gered!)
En hier in die nag laat jou drome jou swerwe
  ’n Aaklige rondte met trane besmet.

Hier struikel die kind, wat te vroeg was gebore;
  Hier sterwe die oumens, te swak vir die stryd;
Hier kom ’n gekerm en gekreun in jou ore;
  Hier tel jy met angs elke tik van die tyd;
Want elke sekond van die smart laat sy spore
  Gedruk op jou hart, deur ’n offer gewyd.

En deur elke skeur in die seil kan jy duister
  Die wolke bespeur oor die hemel verbrei;
Geen ster skyn as gids; na geen stem kan jy luister--
  (Eentonig die hoes van jou kind aan jou sy!)
Wat sag deur die wind in jou ore kom fluister:
  „Geduld, o geduld, wat so baie kan ly!”

Vergewe? Vergeet? Is dit maklik vergewe?
  Die smarte, die angs, het so baie gepla!
Die yster het gloeiend ’n merk vir die eeue
  Gebrand op ons volk, en die wond is te na,
Te ná aan ons hart en te diep in ons lewe--
  „Geduld, o geduld, wat so baie kan dra!”


AAN ’N SEEPKISSIE.

Hulle het jou in England gemaak, seepkissie,
  Om hier in ons land as ’n doodkis te dien;
Hulle het op jou letters geverwe, seepkissie,
  En ek het jouselwe as doodkis gesien.

Klein Jannie van ouboetie Saarl, seepkissie,
  Het hier in die kamp met sy sussie gekom--
En jy was bestem, soos jy weet, seepkissie,
  Daar oorkant in England as doodkis vir hom!

Klein Jannie van ouboetie Saarl, seepkissie,
  Was fluks en gesond, vir sy jare nog groot;
Maar hier in die kamp, soos jy weet, seepkissie,
  Was hy maar drie weke, en toe--was hy dood!

Onthou jy vir Jannie? Jy weet, seepkissie,
  Hy het in sy speletjies met jou gespeel;
Die son het sy krulkop geskilder, seepkissie,
  So blink as sy strale, as goud so geel.

Op die Vrydagmôre, onthou jy, kissie,
  Het Tannie gesê: „Ag, klein Jannie die hoes!”
En die Vrydagaand, soos jy weet, seepkissie,
  Was Jannie se lewe al half verwoes.

Hulle het jou op Saterdagmiddag, seepkissie,
  Gedra na sy tent as ’n doodkis daar!
Die wit gesiggie--jy weet, seepkissie,
  Die handjies gevou en gekruis oormekaar.

Hulle het jou in England gemaak, seepkissie,
  Om hier vir ons kinders as doodkis te dien:
Hulle het vir jou lykies gevinde, seepkissie,
  En ek het jouselwe as doodkis gesien.


DIE OU BLIKKIE.

Wat is die ding, wat jy daar hou?
Wat droom jy oor ’n blikkie, vrou?
  ’n Armsalige ou blikkie?
Wat is die ding tog nou vir jou?

„Ek wil hom skoonmaak, dat hy blink
Soos silwer in die sonskyn: dink,
  Die armsalige ou blikkie,
Daaruit het Gert en Griet gedrink.

„Ek wil hom met die grond hier vul,
Hier, waar die suring bloei so gul,
  Die armsalige ou blikkie:
Miskien kan ek my droefnis kul.

„Ek wil daarin ’n plantjie plant,
Wat groei aan Griet haar graf se kant:
  Die armsalige ou blikkie
Was vasgeklem in Griet haar hand.

„As ek so in die sonskyn sit,
So blou die hemel bo, so wit
  Die armsalige ou blikkie,
Dan droom ek weer oor dat en dit:

„Ons konsentrasiekamp is daar;
Die oorlog word ek weer gewaar--
  Ag, armsalige ou blikkie,
Waarom het God ons nie gespaar?

„Was Gert en Griet nie heel my hart?
Die plaas is afgebrand en ’swart--
  En jy, armsalige ou blikkie,
Herinner my nog aan my smart.

„Ons kan die plaas weer opbou: ja,
Jan het al geld op leen gevra;
  Maar, armsalige ou blikkie,
Kan Gert en Griet my ooit weer pla?

„Daar in die konsentrasiekamp,
Daar in ons aaklige oorlogsdamp,
  Ag, armsalige ou blikkie,
Daar is hul lewe uitgestamp!”

Vergeet wat jy gely het, vrou:
Ons is weer vredevrinde nou!
  Die armsalige ou blikkie,
Wat is die ding tog nou vir jou?

„Dit laat my dink aan Gert en Griet:
Al is dit ’n gebroke riet,
  die armsalige ou blikkie
Is anker teen my sielsverdriet.

„Die plantjie, wat hierin sal groei,
Sal elke jaar opnuut weer bloei,
  Ag, armsalige ou blikkie,
Al is my trane opgeskroei;

„Want ek het nog ’n traan gespaar,
Nog ’n paar sugte opgegaar,
  Om, armsalige ou blikkie,
Jou plantjie veilig te bewaar.

„As ek vanaand my kers uitblaas,
Dan werp die maan ’n silwerwaas
  Oor jou, armsalige ou blikkie,
En oor ons afgebrande plaas.

„Ek luister; en dit skyn vir my,
Klein Gert is weer hier aan my sy
  By jou, armsalige ou blikkie,
Om weer ’n slukkie melk te kry;

„En Grietjie staan daar by die deur--
Ja, kyk, haar voorskoot is verskeur!
  Ag, armsalige ou blikkie,
Hoe kan ek eensaam wees en treur?

„Die dood het albei weggehaal;
Ons plaas is afgebrand en vaal;
  Maar, armsalige ou blikkie,
My hart is nog nie net so kaal.

„Solang jy op die vensterbank
Hier by my staan, so skoon en blank,
  Kan ek, armsalige ou blikkie,
Nog stil wees en vir God nog dank,

„Dat Hy, toe daardie oorlogsdamp
My kinders altwee in die kamp,
  Ag, armsalige ou blikkie,
Die lewe so het uitgestamp--

„Nog in my hart het hoop gegee,
Dat ek bedaard was in my wee,
  Ag, armsalige ou blikkie,
Te dink, ek sien hul weer, altwee!

„Met jou het Griet en Gert gespeel,
En ek het nog in jou ’n deel;
  Ag, armsalige ou blikkie,
Laat ek my maar nog iets verbeel!

„Verbeelding--dit is alles nou,
Wat ek nog het: laat my dit hou!
  Ag, armsalige ou blikkie,
Jy is my anker teen die rou!”


JAPIE.

Vanmôre was Japie nog hier:
  Vanaand is hy dood!
Met ’n lag om sy mond het hy bruilof gevier
  Met ’n klein brokkie Engelse lood.

Vanmôre was Japie by my:
  Vanaand is hy--waar?
As ’n mens maar kan weet waar hy eindlik sal bly,
  Wie het dan vir die toekoms gevaar?

Vanmôre was Japie my maat:
  Vanaand is hy--wat?
Sal hy nog met my lag, sal hy nog met my praat,
  Of my hand in die syne weer vat?

Vanmôre was Japie ’n kind:
  Vanaand is hy volleerd!
Ons het baie gestry om die waarheid, ou vrind:
  Weet jy nou, wie van ons had verkeerd?

Vanmôre was Japie--nee God!
  Hy is nog vir my!
Want die dood kan nie skei nie, al is dit ons lot
  Om alleen op die wêreld te bly.


DIE VERKLEURMANNETJIE.

Daar op die vyeboom sit die vabond,
  So sedig as ’n predikant;
Maar glo tog nie dat hy so vroom is:
  Nee, regtig nie, hy is astrant!

As jy hom aanraak, dan verkleur hy:
  Geel, rooi, grys, bruin en blou en groen;
En sy hele vel blink soos die skulpies
  Se binnekant met perlemoen.

So teemrig sit hy op sy takkie
  Die muggies met sy tong te vang,
En met sy ronde oë maak hy
  Die spinnekoppe algar bang.

Hy draai sy nek soos ’n toktokkie,
  Of soos ’n papie uit die klei,
En kyk so sedig na die vliegies
  As hy die goed nie beet kan kry.

Arrie, ek hou van jou, kleurklasie!
  Jy gaan jou lewe deur so mooi,
Jy steur jou nie aan wat die mense
  So praat of skinder en flikflooi.

Jy steun op niemand nie, kleurklasie,
  Net op jou takkie en jou tong:
Verkleur maar môre net soos gister,
  En as jy oud word, bly nog jong!


DIE VOORTREKKER SE VAARWEL.

O vaderland, verlate vaderland;
  O akkerboom en ranke wit poplier
  Wat my ou plaas versier,
Daar deur die voorgeslag geplant,
  Nou lomm’ryk oor my vaderhuis;
  Koel skadu-takke oor die sluis
  Waar na die oes die meulstroom bruis--
Vaarwel, o akkerboom en wit poplier,
    Vaarwel, verlate vaderland!

O blomtuin vol met tiemie en blou violet,
  O vrugboom-oord en stinkhoutpaal-prieel,
  Waarom die bye speel
En heuning haal en brom uit blote pret;
  Waar druiwerank geklouter stryk,
  Tot boontoe teen die gewel reik
  En tussen klimop-rose pryk--
Vaarwel, o vrugboom-oord en ou prieel,
    Vaarwel, o tiemie en blou violet.

O ouerhuis met kafhok en met kraal,
  O platklipstoep en grasbegroeide brug,
  Waar saands die paddas sug,
As in die skemerlig vuurvliegies dwaal,
  En die aandblomme oopgaan en die nag
  Sy sluier werp oor hierdie plaas se prag,
  En oor die wêreld bo die sterre wag--
Vaarwel, o platklipstoep en biesiebrug,
    Vaarwel, o huis en kraal!

      Ons gaan die wêreld in
      ’n Nuwe oord te win,
        ’n Nuwe land te kry
        Waar ons kan lewe vry.
Vaarwel, vaarwel, al is geen weersien meer;
    Vaarwel, en nog ’n keer:
    Vaarwel! vaarwel! vaarwel!


DIE VLAKTE.

Waar die koorsboom sy geel aan die wêreld vertoon,
  O wyd is die vlakte, die vlakte!
En geil is die groei van sy katdoring-kroon,
  Wat groei op die vlakte, die vlakte.
Dis wilde boslommer, berank en beboei,
Met geilste klimop in geen jare gesnoei,
Waaronder die blou apies klouter en knoei,
  Die volk van die vlakte, die vlakte!

Die rooi-geel suurknolle pryk somermaand daar,
  O mooi is die vlakte, die vlakte!
Die trotsige alwyne, deftig geblaar,
  Wat waak oor die vlakte, die vlakte!
Die heuningsoet peuldoring, die varings so slank,
Die bontblom wat orals die bosse oorrank,
Die moepel waarin die boomsingertjies tjank,
  Hul waak oor die vlakte, die vlakte!

O plat is die pad wat hier slinger en sluip,
  Dwars deur hierdie vlakte, die vlakte;
En sag is die mos wat met reënwater druip
  Hier neer op die vlakte, die vlakte!
O pragtig die kleur wat die skemeraand sprei
Oor bosveld en grasveld, oor bulte en vlei,
En pragtig die groen wat die wêreld hier kry
  By nag op die vlakte, die vlakte!

Die klowe is steil en die berge is hoog,
  O gee my die vlakte, die vlakte!
Al is dit ook winter en alles is droog,
  En geel op die vlakte, die vlakte.
O hier is dit vry en die wêreld is stil,
Met nêrens ’n weerklank, met nêrens ’n gril;
En weelde van kleure so veel as jy wil,
  Hier op my ou vlakte, die vlakte!


BY BLOUKRANS.

Die koperkapel kom uit sy gat
  En sluip die randjie rond:
„Dit het gereën; die veld is nat
  En nat is die rooi-geel grond”
Die meerkat kom en sy ogies blink,
  En hy staan orent en wag,
En die stokou ystervark sê: „Ek dink
  Die reën kom weer vannag”
Maar die geitjie piep: „Dis glad nie reën,
  Dis klewerig, swart en rooi;
Kom jy sulke reën in jou lewe teen
  So glad, so styf, so mooi?”
En die wys ou steenuil waag sy woord:
  „Dis bloed, dis mensebloed.
Dis lewensbloed wat ongestoord
  Ons bossiewêreld voed.”


WOLRAAD WOLTEMADE.
(Fragment).

Vorentoe, vorentoe, strand toe, strand toe,
  Bolemakiesie die branders oor!
Vorentoe, vorentoe, land toe, land toe!
  Amper verdrink, en half versmoor!
Die water suis, en gis en bruis,
  Die weerlig vlam die see,
Die lang seebamboes buie en breek,
Die wilde branders slaat en steek,
  Die woeste wind speel mee.
Groen, donkergroen soos skemergroen
  Nog voor die sterre blink,
Of soos die varkblomloof geboen
  Deur dou wat dagbreek skink;
Blou, donkerblou soos wolke-blou
  Waarin die donder stoom,
Of soos diep water in ’n kloof
  Waar nag nog altyd droom--
So is die see tot aan die lyn
  Waar see en lug kom trou,
Hieronder donkerblou en groen,
  Daarbowe groen en blou.
En as die wolke swig, dan breek
  Die slinger-bliksem los,
En see en hemel word ineens
  In goud en glans gedos.
En oor die kraak van branders knal
  Die donder oor die see
Tot Tafelberg se kranse dreun
  En Duiwelskop dreun mee.
Die laaste af! Die mense roep
  „Daar is nog ander daar!”
Die water dreig, die skimmel hyg,
  Wie trots die doodsgevaar?
Nie jy wat praat, nie jy wat bid,
  Nie jy wat staan en bewe!
Dis Wolraad weer wat nog ’n keer
Die Dood se woeste mag trotseer
  Met wat hy het -sy lewe.
Kom op, ou skimmelhings, kom op
  Nog eenmaal deur die see,
Nog een gered, dan kan jy rus--
  Nog eenmaal deur die see!
Die buikgord vaster vasgegesp,
  Dan weer die branders in,
Die skuim en seegras deurgeswem
  Om vorentoe te win.
Die hoë branders deur, ou maat,
  Swem skip toe, skimmel, swem!
Daar in die verte lê die skip
  Waar die lantern glim.
Dis pikswart donker oor die see;
  Die wind die gaan te keer.
’n Bliksemstraal maak silwer-blink
  Die bokant--daar ’s hy weer!
En dan weer in die donker weg.
  Ons hou ons asem; ag
Van hings en ruiter niks te sien,
  En orals net die nag!
Maar weer ’n bliksemstraal se lig
  Wys Wolraad by die skip,
Ons hoor sy stem: „Net één maar, één!”
  Nog voor die lig verglip.
’n Sarsie uit die wolke bars
  En dreun die wêreld deur,
Die weerlig verf die hele baai
  Met goud en silwer kleur.
’n Tikkie tyd wat ure skyn,
  Genoeg om te gewaar,
Hoe om die held die mense woel,
Hoe oor die skip die branders spoel,
  Hoe nà die doodsgevaar.
Maar ag, die dof lanternskyn
  Word deur die see geblus,
En skip en skimmelhings verdwyn
  In duister nag gesus.
’n Aaklige tyd voor weer die blits
  Die oog ’n kans kan gee,
En ag, dan wys dit net die skip
  En net die woeste see.
Daar is geen spoor van held of hings,
  Die Dood het weer gewin,
En gierig, gulsig oor die strand
  Bruis weer die branders in.


OP MY OU RAMKIETJIE.

Op my ou ramkietjie,
  Met nog net een snaar,
Speel ek in die maanskyn,
  Deurmekaar.

Ek sing van Adam
  En Eva se val,
Van die ou Paradys--
  „Halfpad mal!”

So sê die mense
  Wat my hoor speel.
As die skemer my wang soen
  Soos ferweel;

As die maan my aanhoor,
  En die sterre knik,
Dan speel ek kordaat voort,
  In my skik.

Wat gee ek om mense
  Wat sê ek ’s mal,
As die varings my aanhoor
  By die wal?

Wat om my vriende--
  Wat nooit nie verstaan--
As die sterre my toeknik
  En die maan?

Op my ou ramkietjie,
  Met nog net een snaar,
Speel ek in die maanskyn,
  Deurmekaar.


INSULINDE.

Mirakelland van oerwoud en vulkaan,
Ek groet jou in jou glorie! Elke teug
Van die koel suidewind hernu my jeug,
En maak my amper kind weer, en verslaan
’n Dampwolk van gedagtes en die waan,
Dat net maar in die Wes die lewensvreug
’n Weerklank vinde, en dat trou en deug
Alleen kan bloei in lande, waar die maan
Oor louter ys en wit kapok sy glans
Op wintermôres werp. Ag, ek gewaar
My liefde groei tot byna bo verstand!
Ken ek nie meer my eie koppie en krans,
My boland-vlak van Beaufort tot die Aar?
Leen dan vir my ’n nuwe Vaderland!


AAN MULTATULI.

Kind van die noorde-wêreld, waar die kou
Van winter weerga vinde in ’n volk
Wat kalm bly as jy kokend is, en flou
En nie jou taal verstaan nie sonder tolk!
Die warmer Ooste, waar die son ontstaan,
Het jou tot man gemaak, en van jou hart
Die ysgekorste kettings afgeslaan,
En jou geleer daar lê ook vreug in smart,
En in ellende grootsheid! Ek, as een
Met wie die Ooste ook gepraat het, gee
Hier waar Adinda’s spook by maanlig ween
Oor Saidjah’s graf in eensaam stille wee,
My huldegroet aan jou as blyk daarvan--
Apostel, hoëpriester, lyder, Man!


DIE BESTE.

Geil lusern in die laagste landjie,
  Geil groen blare en blomme blou,
Alwyn rooi op die voorste randjie,
  Rooi soos bloed teen die rotse grou;
Somer en son en safier daarbowe,
  Ruik van die keurbos rondgesprei,
Kort klein skaad’wees oor die klowe;
  Somer en son en safier vir my!
Wonder van kleure uitgesprei--
Wat is daar meer wat die dood berowe?
Somer en son en safier vir my!

Hoog oor die water skommel die vinkies,
  Vol van die vreug van die somerdag;
Bly die gekwetter van klein tinktinkies,
  Blyer die son wat goudgeel lag.
Algar wat lewe, algar tevrede,
  Hoog op die heuwel en laag op die vlei;
So was dit gister en so is dit hede,
  Somer en son en safier vir my!
Heer, wat die hemel oor my sprei,
Dit is my eerste en laaste bede:
Somer en son en safier vir my!

Het jy ’n vrind wat jou hand kan vashou?
  Vrinde vergaan en faal in nood!
Het jy ’n vyand, jou grootste las nou?
  Vyande, vrinde gaan algar dood!
Wat ’s dit vir my as die gras vergrys word?
  Somer aal kom met sy groen daarby.
Wat as in winter die water ys word?
  Somer en son en safier sal bly!
Boetie, ek vra jou: wat sê jy?
Wat ’s dit vir ons as die gras vergrys word?
Somer en son en safier sal bly!

Roem van mense, rykdomme, pragte--
  Alles vergaan soos die mis op die vlei;
Sterre wat skiet in pikdonker nagte,
  Het langer lewe dan roem kan kry.
Boetie, as ons nou ’n keus moet wae
  Hier op die wêreld, wat vra jy?
Roemryke lewe en lengte van dae?
  Somer en son en safier vir my!
Boetie, as jy nou jou keus kan kry,
Wat is die wens wat jou hart sal wae?
Somer en son en safier vir my!



D. F. MALHERBE.


DIE LIED VAN DIE NAGWIND.

Ek lê op my bed, so onrustig--
  dis middernag lank al verby;
en ek hoor hoe die nagtlike koelte
  deur eike en denne sig sprei.

Dit ruis nes die siltige waters,
  wat daar skuif oor die sandige strand,
gehoor deur die wandelaar van verre,
  wat seewaarts hom haas oor die land.

O nagwind, o nagwind, kom sê my,
  wat spreek tog jou ruisende lied?
Vertel jy ’n tyding van liefde?
  Bring jy vrede of wee en verdriet?

Dit is my of duisende stemme
  van mense reeds lang weggekwyn,
vermeng met jou ruisende sugte
  hul eggo van droefheid en pyn.

Die voorsang van duisende wesens,
  nie-gebore, vertolk my jou sug,
die lied van hul komende weedom
  die dra jy so sag deur die lug.

O nagwind, ek hoor maar deurgrond nie
  jou klaende, suisende sang--
my harte klop sneller en sneller,
  my kinderlik harte word bang!


AWENDBLIK.

Oor ver, verre lande;
oor blou, bloue rande
  sien ek vliesige wolkies verspreid--
oor hoog, hoë gronde
sag gewieg, ongebonde--
  die lug welf so blou en so wyd.

Oor ver, verre lande,
oor blou, bloue rande;
  deur die aandson se strale beskyn,
sien ek vry, ongemete
ongemerk en vergete,
  die wolkies so stil-stil verdwyn.

Nes die vlugtige beelde
van die sterwend vergeelde
  wolke, in die lugte verspreid,
so sink daar geslagte
soos ’n vlieënde gedagte
  in die eindlose ruim van die tyd.


NA DIE DROOGTE.

Gestil is ons klae,
die droewige dae
  van wanhoop en wee is verby;
die blinkende komme
en geurende blomme
  bedek nou die vlakte en vlei.

Langs eensame hutte
en stofdroë putte
  woel nou weer mense en vee;
aan damme en kolke
het die loodsware wolke
  hul stromende gawe gegee.

Weer beur uit die gronde
die grassies ontbonde,
  van hul sluimerende broeislaap bevryd,
en sprei oor die sande,
om kaal-nare rande
  ’n groenende, sagte tapyt.

Die kaal afgesnoeide
en deur sonbrand verskroeide
  bossies die spruit alweer mooi,
en die saadjies die vul weer,
die blaartjies die krul weer,
  deur die sonlig se strale genooi.

Die westewind streel weer,
die westewind heel weer
  die wond, wat hy ru het geslaan;
en sy luggie die swewe,
bring lus en bring lewe
  o ver soos die hooglande gaan.

In die veekraal se kaalte,
langs die voetpad se vaalte
  woel die kalwers op huppelende gang;
en daar ver uit die vleie,
waar die skaaptroppe weie,
  kom die stygende lammergesang.

In hul soekende vrae,
in hul angstige klae
  meng sig dof die moeder-gekreun;
en dit swel tot akkoorde
in die eensame oorde,
  wat swaar en stadigies dreun.

Hoor die lied van die velde,
wat die skape vermelde,
  as die môreson hulle beskyn!
Hoër geswewe,
bo rande verhewe,
  versterwe die sware refrein.

My harte juig mede
en my dankbare bede
  word éen met die skape se lied;
en saam klim na bowe
om die Skepper te lowe,
  ons lofsang na swaar en verdriet.

As die vrolik en blye
gansies in rye
  so glad oor die watertjies gly,
en gesèls so plesierig
en snap weer so gierig
  na kossies, orals gesprei;

as die doodsheid verby is,
kos volop te kry is
  en die voëltjies weer lewendig sing;
as die vlak in sy weelde
sy ryker bedeelde
  gawe aan wat lewe, kom bring:

dan herleef ook my harte
deur geen kwelling, geen smarte,
  geen donkere beelde gedruk;
en vry soos die winde,
deur geen bande te binde,
  styg my siele en droom van geluk.

Verby is ons klae,
die droewige dae
  van wanhoop en wee is verdwyn;
en ’n luggie die swewe,
bring lus en bring lewe
  so ver soos die hoogvelde dein!


DIE ROOSKNOPPIE.

Daar onder in my tuintjie,
  daar staat ’n boompie teer;
daaraan sit net één knoppie--
  één roseknop, nie meer.

Elke aand en elke môre
  gaan ek die knoppie kyk;
die hoop straal uit sy ogies--
  hy sal as rosie pryk!

Die stormwind is gekome,
  die takkie afgeskeur,
die blaartjies is verlep al--
  die knoppie geel gekleur!

Ek sien so menige knoppie
  in die wêreldgaarde groei;
die hoop straal uit die ogies--
  maar ag,--geen rosie bloei!


O LANDE VOL GRAAN.

Vlakte aan vlakte, oor heuwels heen,
lande vol groen, vol golwende graan!
Breed sprei die sonlig sy stralende seën
oor swellende saad met beloftes belaan.

Aan miljoene, miljoene van buiende blaar
hang die windjie se asem in ruisend gesweef...
hoor die sug van verlange uit die swellende aar,
die stem van die lente wat sê: _ek wil leef!_

Verlange wat groei met die stygende son,
verlange om te ryp tot goudgeel prag--
so sterk soos die drang van ’n borrelende bron,
om te beur uit die aarde na die lig van die dag.

Die stem van die wind oor die halmgekoes,
halms nog groen van jong geluk--
is die siddering van hoop op die somer se oes
as die waens sal kraak van die gerwe se druk.

So ver as my oog oor die buiende blaar
kan wei, staan die grond met groenheid oorlaan;
en my siele wieg mee met jul spelend gebaar--
o belowende, lewende lande vol graan!


DIE SEE IS VOL VAN EWIGHEID.

Die see is vol van ewigheid,
van golwedeining op en neer--
tot wiegelwêrelde uitgespreid,
op maat van eindloos kom en keer.

Uit watergraftes diep gedolf,
rys langvergete mensewee;
die winde dra van golf tot golf,
van golf tot kus die treursang mee.

Die see is vol van klaaggeluid,
van stemme wat geen rus kan kry,
van siele wat eeu-in eeu-uit
in smart-herhaling hooploos ly.

Oor waterwydtes om en om
tot marmerrand van verre kus--
ruis daar van oos tot wes, alom,
’n eeuesang van nimmer-rus.

Die golwe kom, die golwe keer,
in vrolike spel van sonne-lus,
in pikswart nag van stormeweer--
en sing hul lied van nimmer-rus.

Daar ’s ewigheid in seegeluid,
in ver gedreun van kus tot kus--
waar golwe wieg eeu-in eeu-uit
op maat van nimmer-nimmer-rus.


SLAAP.

Wat is die slaap ’n wondersoete ding!
Sag op haar bloue oë daal die vaak,
soos maneskyn diep waterkuile raak
om daar te droom in silwer skemering.
Vir laas beef oor haar lippe ’n fluistering:
„Nag, Pappie.” Ek merk, hoe langsaam hy genaak,
wat drome soet tot werklikhede maak....
in vaderarme rus my lieweling!
Sluit so my oë, God, wanneer vir my
U Engel wink ter laaste, lange rus
en ek van wilde woeling hier moet skei;
dat my dan soete drome huistoe sus
en sterke Hand deur duisternisse lei....
Sluit so my oë, God, as ek gaan rus!



H. H. JOUBERT.


DIE TREK DRAKENSBERG AF.

Die reuse-top rys hoog uit bo die wolke
  en tronend siet op wasige oorde neer.
Daaronder gaap die grondelose kolke,
  ombruisd met golwe van een lowermeer.

Daar skram en skuur die duisend wae-wiele
  en sukkel knarsend oor die klippe heen,
dog liewend wieg ’n duisendtal van siele--
  hul troue troos by rouklag en geween.

En steen op steen skuif klotsend langs die wande
  en spring die duiselende steiltes af,
om diep en stil in donk’re oewersande
  hul rus te vinde in ’n eeue-graf.

Die eggo’s rommel deur die diepe klowe;
  die sku’ bewoners van geheime woud
verstom en tuur in bewing heen na bowe,
  besorgd om hulle skoon kasteels behoud.


DINGAAN SE GESANTE DOEN RAPPORT AAN HOM.

Koning, O! koning, die witmense stroom
  in duisende, duisende, duisende aan.
Die swierige bos en die tronende boom
  word gemartel, vermorsel, vermink op hul baan.

Hul withuise skommel en rommelend rol
  en vergruisel die gras tot verstuiwende stof.
Die buiende velde van lewe is vol,
  maar geen stroompie murmel ’n liedjie van lof.

Koning, O! koning, Silkaats is verslaan;
  op sy magtlose ryk rus die doem van die dood.
Selfs die olifant buk voor die taaie tiraan.
  O! koning, ontwaak, daar’s gevaar, daar is nood.

Die witmense steier op perde geswind,
  deur die duikende dal tot die berge hul kam.
Geen mag kan weerstaan hulle wrede bewind,
  geen assegaai staan teen hul kwaaie mabam.[1]

Koning, O! koning, die berge die beef
  en die klowe weerklink met ’n vreemde gesang;
die dale die wemel, die velde die leef,
  en alomme verbrei sig een vreemde gedrang.

Ruk aan met die Skilde, die Wildebees-skilde;
  ruk aan met die fleur van u vegtende mag;
ruk aan en stort met ’n woeste, ’n wilde,
  ’n vernielende sprong op die tiraangeslag!

[1] Geweer.


OP DIE LAERS AANSWERWENDE SOELOE-HORDES.

Lang
soos een slang
op sy kronk’lende gang
lê Toegela en wag
op die koms van die dag.
Teen sy oewers slaat
hy op onrustige maat,
met ’n voorgevoel van onweerstaanbare kwaad.

Want wyd
en vèr in die duister verspreid,
dool sluipende hordes om en om--
’n hygend-voortduwende dreiende drom
van ontsenuwende lis en onrus,
van onmenselike graagte en lus.

Fel,
as in knaende boeie geknel,
brul Toegela, in woedende worstelende stryd
met duisende wreedaards, tot slagting bereid,
wat waag hul te werp in sy waters verbolge,
(en menige beul word na verdienste verswolge)
om heen te dring na sy owerkant
en rouklag te kweek oor die rustige land.

Breed,
in onbreekbare eenheid gesmeed,
dy die draers van droefheid en leed
(’n arglistig-voortstuiwende stroom)
oor die velde, in dooierige droom.


MOEDERS SKAT.

Trippel-trappel op en af
  oor die kamervloer!
Mammies skatlam skaterlag--
  wat ’n wild rumoer!

Heidaar! Opsy daar!
  Babsie storremjaag
na die arrems wyd van mammie--
  dis ’n grote waag!

Handjies-klappies op die stappies
  van die voetjies kaal!
O, die vonkies van die lonkies,
  wat van ogies daal!

O, die brabbelbrou-gebabbel
  klink soos melodie
allerskoonste, allerboënste
  engele-oord ontvlie!

Tere snare roer sy bare,
  bolle handjies aan.
Plompe pootjies, lompe lootjies
  lief en lokkend staan.


LENTE-OGGEND.
(Op die Boereplaas).

Maagde-mooie dag
kus die heuwels, groen.
Lowervelde lag,
son- en dou-gesoen.
Diepe dale staan bly in lente-drag.

Op die berge vloei
in die oggend vroeg
goud. Die osse stoei
vóór die boer se ploeg.
In die boer se krale koeie en kalwers loei.

Heen die bokketrop
kronkel, wit soos melk,
teen die hange op.
Lente-mal is elk,
Lente-lote pluk hul op ’n klein galop.

Wye watervoor
op die ertjie-land
raak in groen verloor.
Water staat aan brand
tussen ertjie-blomme in die sonnegloor.

Koringvelde vol,
swaar en ryk van aar,
soos die seë rol,
soos die see vergaar
sonne-goud en tinte op hul boesem, bol.

Vrolike mossie-skaar
(Skoon die oggenddou
lê op steel en blaar)
klim die hemelblou,
skou die vlam-juwele tussen groen, van daar.

In die vroeë bos
wilg en populier
staan in lente-dos,
sonnegoud versier.
In ’n sang van vreugde bars die vinke los.

Die plante-wêreld stoei
uit sy winter-droom.
Nuwe lewe broei
op die sonne-stroom.
In die boer se are nuwe lewe vloei.


DONDERWEER.

Verlate staan ek, stil en heel alleen,
en diep versonke in ’n vèr gedagte.
Die nag se duister is soos die swart vereen,
van tienmaal duisend maan-verlate nagte.

Toe breek die onweer met sy donderkragte
en vure los en slaat die nag wat ween,
wyl hewig stoei in styf verset, as wagte
van haar, die denne aldeur haar trane-reën.

Ek skrik--beklem, ontroer deur al die stryd,--
maar weldra wentel daar deur wolke-rete
’n sterre-heir en strooi ’n vrede-gloor

oor eensame woning en oor velde wyd.
Stil lê die Heelal, groot en ongemete,
geheime-swanger, in sy eeue-droom verloor.


DAGERAAD.

Die daagraad kruip die dieptes uit,
uit stille nag gebore,
en vleg ’n krans van pêrelglans
om slape van die môre.

Hy sweef op goue vleuels aan
en ry op wolke-some:
Daar ’s glimlag op die bergery,
daar ’s blydskap in die strome.

Hy skuif die wolle deken weg
van bergekruin en hange
en wek, so doend, ’n weelde-blos
op bolle rotse-wange.

Hy lig die woud-paleise op,
en vul hul lommersale
met vreugde-sange, wyd verbrei
deur klowe en oor dale.

Die velde bloos ’n maagdeskoon,
ontwaak uit lente-drome--
daar ’s glimlag op die bergery,
daar ’s blydskap in die strome.



C. J. LANGENHOVEN.


MY ONHERROEPLIKE KINDERDAE.

Ek sou nie graag my lewensweg
’n Twede maal vervolg, want reg
Sou ek hom tog nie kry; en wat
Daar skoon en lief was op my pad
Kan die herhaling my laat mis.
Maar as ek iets terugwens is
Dit, dat ek by my ouderdom
My kinderhart weer mog bekom--
Met fleur van lus en geur van smaak,
En groot belang. in kleine saak,
En goue traan en gou weer af,
En grote vrees vir kleine straf,
Maar steeds herhaalde stoutigheid!
Og, had ek weer die sondigheid
Van sondaartjies, onskuldig rein:
Og, was ek weer as sondaar klein!


BESIT EN GEBRUIK.

Jou krag beteken niks: ’n perd het meer as jy,
Maar jy kan dit gebruik om hom te tem en ry.
En jou geduld is niks: ’n donkie ’t meer as jy,
Maar jy kan dit gebruik wanneer jy met hom ry,
Jou kennis is ook niks: ’n boek het meer as jy,
Maar jy kan dit gebruik om meer nog by te kry,
Ervaring dan? ’n Swerweling het daarvan meer as jy,
Maar jy kan dit gebruik om swerflingskap te my.
Bekwaamheid? Daar is mense meer bekwaam as jy,
Wat graag vir hul bekwaamheid ’n lewenstog sou kry.
Besit van gawe nie, maar die gebruik daarvan
Gee aanspraak op die naam van ’n begaafde man.


MY EIE-EK.

My vyand haat ek nie omdat
    Dit _hy_   is wat ek haat:
Ek haat, verafsku hom omdat
    Dit _ek_ is wat hom haat.
Ek het my vriend nie lief omdat
    Dit _hy_ is wat ek min:
Ek het hom lief ter wille van
    Die grille van my sin.
Ek seën, vloek; ek dien, verdien,
    Verderf, verdruk, verbly
My medereisigers hier op
    Die paadjie langers my,
Waar elk van almal vir homself
    Alleen geniet of ly:
Maar al die ander reis die pad,
    Beskou ek, net vir my!


LASTER HULDIG, ROEM BESKULDIG.

Soek jy om roem te werf uit enk’le goeie dade?
Dan wys jyself die omvang van jou kwade:
    Wie roem op enk’le druppels uit die see?
Maak jy ’n ophef van jou buurmans één mistrap?
Dan wys jy maar hoe reg hy anders stap:
    Wie wys één gaatjie in ’n sif en spot daarmee?


DIE MOT EN DIE KERS.

Die ander motte was dom en dwaas,
  Maar _ek_ sal vèr van die kers af bly;
Hier vèr uit die skemerte sal ek kyk,
  Hier vèr is dit veilig en kyk is vry.

Maar ek hoef nie van éenkant net te kyk--
  Ek vlieg op dieselfde afstand om,
Dan weet ek van àl-kant hoe hy lyk--
  Om beter te sorg om nie nader te kom.

My sirkel was skeef en ingebuig,
  Maar dáar ook nog, waar ek naaste was,
Het daar niks gebeur--ek maak verniet
  My velling so groot en so vèr van die as.

Die wieletjie draai àl vinniger om,
  En die lig en die gloed word àl groter genot:
En die vellings word nouer àl rondom die as--
  En die end van die wiel is die as van die mot!


AAN DIE RENEGAAT.

Jou volk nie goed genoeg nie? Maar die renegaat
Is altyd slegter tog as die wat hy verlaat!
Sal dan die beter volk ’n gulle welkoms gee
Aan d’ allerslegste uit die slegter? Wees tevree
Om in jou eie kring ’n hoër rang te haal--
Jy ’s laag genoeg vandag om nie nog af te daal!
En as jy bly en rys, dit sal jou éendag tref:
Daar ’s hoogheid, wat jou laagheid eers nie kon besef!


DIE OPENBARING VAN DIE WAARHEID.

Die hond wat by jou tafel staan
  En smekend in jou oë kyk,
Die praat die waarheid met sy blik
  Waardeur hy jou sy nood laat blyk.

Die voëltjies van hul kroos beroof
  En skreeuend om hul nes met smart,
Die uiter waarheid hemelrein
  Uit swaar beproefde ouerhart.

Die plantjie in jou vensterbank,
  Wat jy versuim om te benat,
Praat waarheid met verwelkte blom,
  Met druipende stengeltjie en blad.

Die bokkie wat geen kwaad vermoed
  En water soek in skadu-kuil,
Raak dood deur swyend leuentaal
  Van tier wat in die riete skuil.

Dis nie jou woord alleen wat lieg,
  Of wat die waarheid kan verklaar:
Deur daad en skyn, deur swye selfs,
  Word waar- of valsheid openbaar.


UIT „LIEFDE’S ONSIN”.
(’N Wiegeliedjie).

Lamtietie, diamtietie, doedoe my liefstetjie,
Moederhartrowertjie, dierbaarste diefstetjie!
Luister hoe fluister die wind deur die boompietjie,
Heen en weer wieg hy hom al oor die stroompietjie.
          „Doedoedoe bladertjies,
          Slapenstyd nadertjies;
          Doedoedoe blommetjies,
          Nag is aan ’t kommetjies”--
So sing die windjie vir blaartjies en blommetjies.

Bo uit die boompie kom nog ’n gesangetjie,
Soet soos ’n soentjie op kindjie se wangetjie,
Soet soos die stem uit die snaar van vioëltjie
Sus daar ’n wieglied uit bekkie van voëltjie:
          „Tietewiet, koeroeroet--
          Pierewiet, toetoetoet!
          Doedoe my kindertjies,
          Wat sal dan hindertjies?”--
So noem die voëltjie haar kuikentjies kindertjies.

Onder die boom uit kom nog ’n gesangetjie,
Rein soos ’n traantjie oor kindjie se wangetjie;
Hoor dan die orreltjie onder die boompietjie,
Luister die wieglied van ruisende stroompietjie:
          „Trippetrip, koeloeloem,
          Oor die klip doemeloem!”
          Stroompie die rus nimmer
          Stroompie die sus immer,
Sus immer, suis immer, ruis immer, rus nimmer.

Bo in die bloue lug flikker die sterretjies--
Hemelse brandwaggies, lampies van verretjies,
Wakend oor windjies en wolkies en stroompietjies,
Wakend oor mensies en diertjies en boompietjies:
          „Wees maar gerustetjies,
          Slaap maar met lustetjies!”
          So sing die sterretjies--
          stilletjies, verretjies:
Vuurvliegies, lugliggies, ewige sterretjies!

* * *

Onskuldig ogies en voetjies en handetjies!
Wie weet hoe ver moet my kleintie nog ganetjies,
Ver deur die wereld se kronkels en gangetjies.
Bly tog maar kleinties en bly dit maar langetjies;
          Bly maar by moedertjie,
          kindlief se hoedertjie--
          Saap in haar arrempies,
          Saggies en warmpies--
Doekies dan, doekies in moeder se arrempies!


DIE STEM VAN SUID-AFRIKA.

Uit die blou van onse hemel,
    uit die diepte van ons see;
Oor ons éwige gebergtes,
    waar die kranse antwoord gee;
Deur ons vér verlate vlaktes
    met die kreun van ossewa--
Ruis die stem van ons geliefde,
    van ons land Suid-Afrika.

Ons sal antwoord op jou roepstem,
    ons sal offer wat jy vra:
Ons sal lewe, ons sal sterwe--
    ons vir jou, Suid-Afrika!

In die murg van ons gebeente,
    in ons hart en siel en gees;
In ons roem op ons verlede,
    in ons hoop op wat sal wees;
In ons wil en werk en wandel,
    van ons wieg tot aan ons graf--
Deel geen ander land ons liefde,
    trek geen ander trou ons af.

Vaderland! ons sal die adel
    van ons naam met ere dra--
Waar en trou as Afrikaners,
    kinders van Suid-Afrika!

In die songloed van ons somer,
    in ons winternag se kou;
In die lente van ons liefde,
    in die lanfer van ons rou;
By die klink van huw’liksklokkies,
    by die kluitklap op die kis--
Streel jou stem ons nooit verniet nie,
    weet jy waar jou kinders is.

Op jou roep seg ons nooit nee nie,
    seg ons altyd, altyd ja:
Om te lewe, om te sterwe--
    ja ons kom, Suid-Afrika!

Op U almag vas vertrouend
    het ons vadere gebou;
Skenk ook ons die krag, o Here,
    om te handhaaf en te hou--
Dat die erwe van ons vaad’re
    vir ons kinders erwe bly:
Knegte van die Allerhoogste,
    teen die hele wêreld vry!

Soos ons vadere vertrou het,
    leer ook ons vertrou, o Heer:
Met ons land en met ons nasie
    sal dit wél wees!--God regeer!



EUGÈNE MARAIS.


KLAAS VAKIE.

Hy stoot die voordeur stadig oop,
en in die skadu sien ek hom--
sy swart manel is oop-geknoop,
sy snaakse lyfie hoepel-krom;
sy lang gesig is uitgedroog,
hy staat by my skaars skouer-hoog!

Sy ogies knip, sy lippe lag,
sy lang-bol hoed is in sy hand;
hy kom van buite uit die nag,
en bly net in die skadu-rand.

Eén kers brand stadig in die tuit,
die ander flikker heen en weer;
en langs my, deur die onder-ruit,
daar loer die nag so swart soos kruit!
Die skadu’s--kort en dik en bont--
spring op die vloer soos lammers rond!

Tant Sannie sit nog kouse stop;
haar naald blink nes ’n weerligstraal,
haar lyf is alles dof en vaal,
die kerslig skyn net op haar kop.

Vlak voor my oë dans die dons,
en as tant Sannie met my praat
dan gaat dit nes ’n brommer gons:
haar woorde is so nors en kwaad.

Die donker kruip uit elke skeur,
dis alles deurmekaar gevleg;
ek sien hom nou--dan is hy weg,
die snaakse Outjie by die deur!

Die donker wikkel om hom heen,
dit gryp sy voet en dan sy been;
en as my oë wyer rek--
dan staat ’a skadu in sy plek.

Dáár is hy weer, so skelm-slim,
en voet vir voet bekruip hy my;
ek sien sy skadu hoër klim,
en tel sy knopies op ’n ry.

Dit is tant Sannie weer wat praat:
„Kyk, Jannie, dit is baie laat
en tyd vir kleintjies om te slaap;
wat sit jy nog te snork en gaap,
met reeds ’n krakie in jou nek?
Nou, snuiter, kooi-toe op die plek!”

Ek ken die stem, nou moet ek hoor!
En as ek opstaan om te gaan,
dan kom hy weer van dáár-van-daan
en trap so soetjies in my spoor!


WINTERNAG.

O, koud is die windjie
    en skraal!
En blink in die dof-lig
    en kaal--
so wyd as die Heer se genade--
lê die velde in ster-lig en skade.
    En hoog in die rande,
    versprei in die brande,
is die grassaad aan ’t roere
    soos wenkende hande.

O, treurig die wysie
    op d’ooswind se maat,
soos die lied van ’n meisie
    in haar liefde verlaat!
In elk grashalm se vou
blink ’n druppel van dou,
en vinnig verbleek dit
    tot ryp in die kou.



A. D. KEET.


AMSTERDAM.

            Aan my vriend EDUARD KARSEN.

Ou Amsterdam is tog so mooi
Met al sy liggies uitgetooi
    In donker, donker nagte.
Dis liggies hier en liggies daar
In lange rye aanmekaar,
    Wat flikker in die gragte.

En honderd-duisend ogies loer
Op spieëlgladde watervloer
    Daar bowe uit die hemel.
Dis liggies hier en liggies daar
En bootjies, wat so saggies vaar,
    Dat ligte golfies wemel.

Die liggies soek mekaar weer op
In water, wat teen walle klop
    Op stormagtige nagte.
So toweragtig, lief en skoon
Is liggies, wat op walle woon
    En flonker in die gragte.


KINDERLIED.

Kom, kom kindertjies,
Buite vlieg die vlindertjies--
Hier, daar, oweral.
Al die kleine stakkertjies
Soek hul bonte makkertjies:
Kyk, kyk, ag, hoe mal!

In die kleine kommetjies
Van die bloedrooi blommetjies
Duik, duik, duik hul in.
Reguit na die suikertjies
Vlieg die bonte duikertjies:
Suig, suig, suig daarin.

Kom, kom kindertjies,
Speel net soos die vlindertjies--
Hup, hup, spring en val!
Blossies op jul wangetjies,
Sing hier soete sangetjies
Op die vlakte, oweral.


AS SAANS.

As saans die son stilswygend sterf
    Daar oor die wester-rand,
Dan straal hy wondertekens uit
    Aan elke wolk en land.

As saans die skemersluier sak
    In stille segetog,
Dan veg die dag sy doodstryd vóór
    Sy laaste ademtog.

As saans die donker duister daal--
    Die doodskleed van die dag--
Dan hou die kinders van die son
    Hul ligtend sterrewag.


AWENDMYMERING.
(Op die stoep van ’n boereplaas).

                  Dis stil.....
              Geen blaartjie roer,
              En die hele werf
Rus sag in die skoot van diepe vergetelheid.
              Die dag is dood
              En lê begrawe--
                  Stil.

Soas op Sabbat-môrens ’n tortelduif
Die stilte in die lug nog stiller maak,
Deur af en toe te koer en dan te swyg--
              So kan jy hoor
              Daar onder by die voor,
Waar nou net modder van vroeëre strome vertel,
Hoe die paddetjies die ontsaglike stilte verstoor.
Hulle kwik en kwek en kwaak,
                  Dat dit kraak!

              Om dan weer almal op te hou--
                  Ineens!
              Maar nie vir lang nie;
                  Ontevrede bid
              En soebat hul vir reën--
                      Hulle ween,
En gaan dan slaap vermoeid en uitgeput.

                  Ver
              In die veld
Gaan ’n skreeuende kiewiet te keer.
              Hy vlieg op en neer,
              Heen en weer,
                  Verskrik
Deur ’n jakhals wat tjank in sy buurt....
              Dis roerloos stil.

              En die sterre,
              O God, die sterre!
                  Hoe mooi
Is die firmament versier
              En uitgetooi,
Asof daar altyd feeste word gevier
              Daar bo in die hemel,
                  Ver--
              Ver van hier!


BEKOORLIK KIND.

  Bekoorlik kind! ek weet nie wat dit is
    Of hoe dit kom nie; ’k weet alléén maar dit:
    Dat ek nog altyd deur jou beeld aanbid
  En steeds die tintel van jou oge mis.

  Is dit die glans, waarvan ek nimmer wis
    Dat dit ’n man so aangryp, altemit?
    Of is dit net bekoring? Nee, daar sit
  Oneindig veel meer agter dan jy gis.

Dit is die krag, wat digters stil laat staan
    Voor al wat lief en skoon is op dees’ aard;
Dit is die Siel, wat so sy wege baan
    Van hart tot hart, tot twee aanéén-gepaard
  Hul hele lewe sáme verder gaan.....
    Lief kind, o maak my lewe lewenswaard!


PROBLEEM.

’n Mot vlieg vol van lewensblyheid
Vas teen ’n soeklig-toring aan,
So spog’rig, asof Lot nog Vryheid
        Vir hom bestaan--
        En hy vergaan!

Die soeklig gooi sy glinster-strale
Wyd oor ’n see van woesteny--
Verkondig skippers telkenmale:
        Bly vèr van my,
        Bly vèr van my!

Geliefde! So ’t jou oog-geflonker
My vaak al voor die vraag laat staan,
Of ek moet uitbly in die donker,
        Of nader gaan--
        Jy trek my aan!


SNEEU.

Sneeu, sneeu, lieflike sneeu
  Daal op die aarde neer;
      Dit val en dit swewe,
      Dit sterf en dit lewe--
O kyk tog, hoe kòm dit al weer!

Sneeu, sneeu, heerlike sneeu,--
  Moeder, kom kyk tog hoe fraai!
      Miljoene klein vlokkies
      In stukkies en brokkies
Word wyd oor die wêreld gesaai!

Lieflik en rein en wit is die sneeu,
  Moeder, dit val en dit sweef
      In brokkies en stukkies
      Met stote en rukkies--
Presies of die hele lug leef!


MUSKIETE-JAG.

Jou vabond, wag, ek sal jou kry,
Van jou sal net ’n bloedkol bly
    Hier op my kamermure.
Deur jou vervloekste gonsery,
Deur jou gebyt en plaery
    Kon ek nie slaap vir ure.

Mag ek my voorstel, eer ons skei,
Eer jy die doodslag van my kry--
    My naam is VAN DER MERWE.
Muskiet, wees maar nie treurig nie,
Wees ook nie so kieskeurig nie--
    Jy moet tog ééndag sterwe.

Verwekker van malaria,
Sing maar jou laaste aria--
    Nog één minuut vir grasie.
Al soebat jy nou nóg so lang,
Al sê jy ook: ek is nie bang--
    Nooit sien jy weer jou nasie!

Hoe sedig sit hy, o, die kring!
Sy kinders kan maar kranse bring,
    Nóu gaan die vabond sterwe....
Pardoef! Dis mis! Daar gaan hy weer!
Maar dóód sal hy, sowaar, ek sweer--
    My naam is VAN DER MERWE!


SLAGVAARDIG.

Jy moet nie bang wees vir die bliksem,
  jy moet nie bibber as dit reën;
Moet ook nie skrik nie vir ’n bom nie,
  Al was hy ook vir jou gemeen.

Wees dapper as wat swak is wankel,
  Wees manlik as jou kinders huil;
En toon die wêreld, Afrikaander,
  Wat daar vir skoons in Kaapland skuil.

O volk van my, daar is nog arbeid,
  Daar is nog roem, daar wag nog stryd;
Jy moet nie bang wees vir wat kom nie--
  Wees slagvaardig, wees bereid!


DINGAANSDAG (1914).

Soas ’n drenkeling, bedreig deur Dood,
Spartel en spat en sy ganse mag verset
Teen woedende waters; en dan ternouernood
Deur magtige hande uit groot gevaar word gered--
So worstel ons Verlede rond vandag
Voor my verstand se oog. Ons hef hom bo
Die See van Lang-Vergeet-Al met die krag,
Wat ons Geheue noem..... En ons sit so
En peins oor wat gely is in die hoop,
Dat volle vryheid nog ons lot sal wees.
Maar ag, ons land het ons met bloed gekoop--
Op menig grafsteen kan ’n mens dit lees--
En tog moet ons, die brekers van die baan,
Die Pioniers, ons pad nog oral slaan!


DIE TWEE BOODSKAPPERS

                                   Aan Dr. W. J. Leyds.

          („Ik wil U nog vertellen, dat in mijn verzameling een foto
          voorkomt, waarop onze vierkleur een groote en tevens eigen-
          aardige rol speelt, die altijd gedachten bij mij opwekt. Het stelt
          voor een groep jonge meisjes (waaronder Generaal DE LA REY’s
          dochter), die, allen gehuld in een vierkleur, een dans uitvoeren
          op het veld. Het pathetische van het geval bestaat daarin, dat
          de foto genomen is na het tractaat van Vereeniging, toen de
          boodschapper van Generaal DE LA REY het bericht van het
          sluiten van den vrede aan zijn commando had overgebracht,
          doch verkeerd, zoodat het commando in het denkbeeld werd
          gebracht, dat vrede was gesloten met behoud der onafhankelijk-
          heid. Bij mij wekt deze foto niet droefheid alleen: ook hoop.”)

                      Uit ’n brief van Dr. W. J. LEYDS.

EERSTE BOODSKAPPER.

    Ek kom om julle die nuus te bring:
      Mense juig, wees bly en sing!
      Transvaal het nie verniet gely--
            Transvaal is vry!
            Transvaal is vry!

Hoera vir die Vrystaat, hoera vir Transvaal!
Hoera vir ons groot Kommandant-Generaal!
Hoera vir ou Kaapland, hoera vir Natal!
Hoera vir die burgers van oweral!

’N VERKENNER.

    Wat is dit hier, wat is dit hier,
    Word hier ’n bruilofsfees gevier?

MEISIES.

    Nee, ons het net die nuus gehoor:
    Transvaal het sy vryheid nie verloor!

* * *

En die noointjies dans, dat die stof so staan,
Met die vierkleurvlag om hul lyf geslaan.
          Dis polka-swaai
          En Kaapse-draai;
          Dis siembamba
          En siembamba--
          Uit blydskap vir
              Suid-Afrika!

        Die noointjies dans,
      En die seuns en mans
    Die lag en skerts en gaan te keer,
            En sing dan weer:

  „De Wet was hier, De Wet was daar,
      De Wet was vasgekeer;
  Maar dit was glad nie, glad nie waar--
      Hy flous hul telkens weer!

  De Wet was hier, De Wet was daar,
      De Wet was oweral;
  Ou French, wat hom ’n strik wou span,
      Het self daarin geval!

  En De la Rey het opgetree
      Daar bo in die Transvaal;
  Methuen het hy ’n pak gegee--
      En so sy roem behaal!”

  * * *

  Toe die boodskapper oor die rand verdwyn,
  Toe hoor hy nog steeds die bekende refrein:
    „Hoera vir die Vrystaat, hoera vir Transvaal!
    Hoera vir ons groot Kommandant-Generaal!
    Hoera vir ou Kaapland, hoera vir Natal!
    Hoera vir die burgers van oweral.”

TWEDE BOODSKAPPER.

  Wat is dit hier, wat is dit hier ?
  Skaam julle, om nou fees te vier!
  Skaam julle, as ons vryheids-vaan
  Diep in ’n doodkis word toegeslaan;
  Dáár in die dorp Vereniging
  Word nie gedans nie, word nie gesing,
  Dáár is net weemoed, dáár is net rou,
  Dáár is geen hoop nie vir my en jou.

* * *

    En elke oog skiet vol met trane,
      Elke keel die slik.
    Herdenkend al die deurgestane,
      Het meer dan een gesnik....

Maar op ’n tentwa, luid en klaar,
Bid toe die leier van die laer:
„O Gy, wat oor ons lot regeer,
Maak ons weer ééndag vry, o Heer!”

En die noointjies dink by die awendskyn:
Ons hoop is nie weg nie,--sal nooit verdwyn;
      En een die sê,
      Terwyl hul lê
En staar na die Suiderkruis:

„Vryheid! Vryheid! dierbaar ding,
Waar elke mens na smag,
Van jou sal ek gedurig sing--
jy is ’n volk se krag!”


MAAR ÉÉN SUID-AFRIKA.

Gee my ’n roer in my regterhand,
Gee my ’n bok, wat vlug oor ’n rand--
En ’n flukse perd om hom weg te dra:
    Gee my Suid-Afrika.

Gee my ’n kamp waar bossies groei,
Gee my ’n fraai volstruis wat broei--
En ’n Boereseun wat baie wa:
    Gee my Suid-Afrika.

Gee my ’n koppie om op te staan,
Gee my die Swartland met al sy graan
En nooit of te nimmer hoor jy my kla
    Gee my Suid-Afrika.

Gee my ’n vlakte ruim en wyd,
Gee my die veld se oneindigheid--
En die lekker geur, wat die lug daar dra:
    Gee my Suid-Afrika.



TH. WASSENAAR.


SEE-SONNET.

O magtige oseaan, jy wydgestrekte,
Omsirkeld deur die ongemetenheid,
Diep in jou boesem rus die onontdekte;
Alleen jou swaar gehyg verneem die tyd.

O nooitvermoeide see wat immer-woelend,
Getye reël na gange van die maan
En op die storm se stem ontstuimig spoelend,
Jou branders op die rotse stukkend slaan!

O ewige deining van die Grote en Magtige!
So dein die breed sterk stroom van volle lewe
In my klein hart. Ek nietigste kristal,
Ek mag ook speel met glans van die ewig-pragtige.
Die skepping het ook my sy doel gegewe:
Een polsslag in die ritme van die Heelal!


BERGTOPPE.

Nog raak die son die hoogste bergetoppe,
Die dale rus alreeds in skadewee,
As vredig langs die hange nog in troppe
Wit bokke wei en bontverspreide vee.

Die dag verdwyn en teen die aand se klaarte
Rys honderdkoppig, puntig-skerp omlyn,
Die bergereeks se magtige gevaarte,
In deinsig-blou, ’n waas deurskynend-fyn.

Beminde aarde, berge vrede-draënd,
My hart is stil en ope soos die lug:
’n Ewige verlange, swygend-vraënd,
Uit eeue-nagte van bestaan se vlug,
Sweef oor die bergetoppe in die aënd:
Dis eind’loos stil... Nag... Eensaamheld... ’n Sug.


OP DIE TORING.

Vlammende wolke aan die hemel,
Roerlose bome teen awendlug,
Landskap in vrede, ’n stille ontroering:
Dalende dag-lig, ’n salige sug!

Donkere stad daarginds in rookdamp,
Rasende wereld, om goud en om eer;
Vredige aandgloed hier op die water,
Swarte voëls vlieg heen en weer.

Magtige see in vrede-stemming;
Ver lê die berge in violet;
Twee staan gearmd hierbo op die toring:
Biddende harte, ’n dankgebed.


NAG.

Die klein blink ogies van die groot swart nag
Staar my so stil aandagtig aan vanaand;
Hul glimlag net so effentjies en sag,
Asof hul reeds my diepste wens verstaan ’t,

Ek voel dat daar ’n band onsegbaar teer,
Die groot heelal tot een geheel verbind,
Dat daar ’n gees wat ewig is regeer,
Voor wie die skepping klein voel as ’n kind.

’n Onbegrepe wêreld sonder sin
Sou hierdie lewe wees vir hom wat in
Homself alleen ’n siel en wese vind:
Hy dwaal, ’n vreemde tussen wesens doof en blind.
In hom alleen word waar geluk gewek,
Wat hom in alles, die Al in hom ontdek.


KENNIS EN GEVOEL.

O bleke suster-tweeling van die aarde,
Jy bloedloos kind met kille lykgesig,
Wat met die skyn van bange sonnestrale,
Die nagte stil spookagtig wit verlig!

Ons kennis leer jy is ’n dorre wêreld,
Waar nooit die lag van blye lewe was.
Dat jy geen lug kan bied aan vuurge longe;
En nêrens in jou dale groei daar gras.

Jou klowe is die kraters van vulkane,
Wat eenmaal vuur was, koud en bleek soos lood
Nou gaap met angstig-oopgesperde monde,
Maar asemloos soos die verstyfde dood.

Dit leer hul my, o heerlik blanke klaarte,
Wat half die wêreld met jou lag bekoor,
En ’k neem dit aan, gehoorsaam kind van wysheid,
Maar glo nog meer wat my my hart laat hoor.

Ek hoor die lied van ewige bekoring;
Die maan gly voort op silwermelodie
Van honderdduisend tintelende sterre;
Ek hoor die woord van alle poësie!


DIEPTE.

Wie na die oppervlakte
Van stil diep water kyk,
Gewaar alleen die blare
En slyk wat bo-op dryf;

Maar wie sy oog veel dieper,
As na die oneind’ge rig,
Hy sien die donker aarde
Vol diepte en vol lig;

Hy sien geen vuilswart water
Of modderbodem meer,
Maar in die hart van die aarde
Die hemel omgekeer.

Daar dryf die los wit wolkies
Soos skepe op die see,
Soos op ’n somerlandskap
Verspreide troppe vee.

Hy sien die hoë hemel
So diep daaronder welf,
So rein en ongemete
Soos lig en diepte self.

So is in alle dinge
’n Diepte te ontdek,
Waar suiwre siel van skoonheid
Sig aan die stof onttrek.


STILLE VRIENDE.

Ek hou van stille vriendlikheid,
Van vriendskap sonder woordepraal,
’n Stil vertrek vol innigheid,
Waar sagte gloed van haardvuur straal.

My kamer is maar arm en klein,
Die mure is so skraal versier;
Maar as die son naar binne skyn,
O dan voel ek gelukkig hier.

En meen’ge vriend het ek ontdek,
Wat dienend sonder dank te vra,
Die onsigbre arrems uitgestrek,
My wiegend op die hande dra.

Ek hou van die gemeensaamheid,
Waarmee die dinge my omring,
Wanneer ek saans in eensaamheid
Die lang-lang ure deur moet bring.

Gelukkig hy wat stilte tot
’n Vriend in eensaamheid kan maak;
Hy hoor ’n fluistering van God,
Die teerste wat sy siel kan raak.


MIDDAGUUR.

Dis middaguur, dit is die uur van rus;
Die werf is stil, die hele vlakte swyg.
Geen ploeg gaan langs die akker op en af,
Die hoenders in die koelte gaap en hyg.

’n Spreeu sit op die kraal se muur en skreeu,
En op die laagste takke aan die soom,
Sit tortelduiwe in die blekkoetbos,
Die stilte van die middag te verdroom.

Vaal bulte oor, tot bewende horison,
Lê al die veld te stowe en te skroei
In gloeiwit-blakerende sonneglans:
Die lug self skyn tot sonlig te vergloei.

’n Boereplaas ver langs oorwaasde kim,
Skyn los en dansend op die lug te dryf,
’n Skip wat skommel op ’n see van lig,
Wat sawends weer tot vlakte sal verstyf.

Die vee lê langs die pan. Geen wese roer;
Slegs kriekies sing hul hooggestemde sang:
Dit is die uur van gans ontspande rus,
Nie soos die aand vol ingehoue drang.

Dit is die uur van al-tevredenheid,
As mymerend op sy rusbank uitgestrek,
Die werker wagtend in ’n sluimring sag,
Uit droomverbeelding soet verwagting wek.


AANDLIEDJIE.

Kom op, liewe maantjie, kom op!
O maantjie kom kuier vir ons.
Doér agter ’n kleuregordyn,
Is die sonnetjie lankal verdwyn,
Kom gou-gou nou maantjie en skyn
Deur die lelike nag wat so frons.

Goeinaand, liewe maantjie, goeinaand!
Muskietjies is uit om te buit,
Om die slapende vee te verras.
Kyk hoe swier hul in swerme op die plas,
Hoor hoe gons hul oor geurende gras
Langs vreedsame vleie en spruit.

Goeinaand, liewe maantjie, goeinaand!
Kyk hoe bleek word die sluimerende nag;
Deur die mis van sy duisternis heen
Het jou klein silwer ogies ’n reen
Van betowerde trane geween,
Wat diep in die water weer lag.

Goeinaand, liewe maantjie, goeinaand!
Dis alles so stil om my rond:
Die hoendertjies sit in die boom
By vooltjies op takke en droom,
Waar silwer langs blare heen stroom
En liggies laat dans op die grond.

Goeinag, liewe maantjie, goeinag!
Nag sterretjies, almal goeinag!
As ek strakkies my ogies sal sluit
En my flikkerende kersvlam is uit,
O loer dan vir my deur die ruit,
En ek sal van jul droom, goeienag!


DIE WINDJIE.

Windjie, windjie, waarheen jakker
    Jy so haastig nou al weer?
Al die stowwe skud jy wakker,
    Blare, blomme heen en weer.

Oor die grassaad ruis jou voetjies,
    As jy huppel oor die wei;
Golfies bokspring, as jy soetjies
    Oor die koele water gly.

Soos ’n katjie speels ’n muisie
    In sy kloutjies rond laat vlieg,
Skommel jy jou blare-huisie,
    Tot die takkies almal wieg.

Orals vroetel jy en snuffel
    Eike graspol deur en deur,
En terwyl jy hul kernuffel,
    Jomp jy nog die blompies’ geur.

Windjie, jy ’s net soos die vlinder,
    Wat op elke blompie rus;
En van d’ een by d’ ander skinder,
    Skoon hy almal vriendlik kus.

Windjie, ’k hoor so graag jou liedjies
    By my raam en dak se rand,
in die boomtop, tussen rietjies
    Ruisend langs die waterkant.

O, so graag staan ek en luister
    In ’n hoë mielie-land,
Hoe die ranke blare fluister
    Almal in dieselfde trant.

Waai maar, windjie, hardloop, huppel
    Oor die koppies, veld en rand--
Drink uit vleie en kom druppel
    Mild die reën op dorstend land.


AAN HOLLAND.

  O, Holland, ek hou van jou,
  Ek hou van jou jonge gesig,
  As Lente in Meimaand met sonneskyn trou
  Op velde, met kleure verlig.
Ek hou van jou oeroue stoere gelaat
By winter, as newels jou wimpers beslaat,
En mistige sluiers, deur wolke gespan,
Die son uit jou oë vir maande verban.
Ek hou van jou edele trekke, wat Tyd
Gemerk het met tekens van vrugbare stryd:
Kon dyke, kanale en duine praat,
- Dié rimpels, getuiend van wil en daad,--
’n Ewige lag sou jou mond versier,
Vir altyd sou jy oorwinning vier!

  O, Holland, ek hou van jou,
  Ek hou van jou dyke-gees,
  Wat eie vryheid en aard wil behou
  En weier om slaaf te wees.
Die see is jou vyand, die see is jou vrind,
Jy weet om sy mag aan jou wil te verbind,
Jy spook met die water en bou ’n dyk
En rustig daaragter bewoon jy die slyk;
Maar roep een: te wapen, die vyande kom!
Dan draai jy jou swaard na die anderkant om,
En saam met jou rol, oor die weilande heen,
Jou magtige vyand, die vyand teen!
Met dyke keer jy die see uit jou land,
En vér van jou grens bly die oorlogsbrand.


OP DIE DOOD VAN PRESIDENT STEYN.
(† 28 Nov. 1916).

Nog rooi van die weemoed van gister,
Daar ween onse oë alweer!
O, het dan die laggende toekoms
Sy rug na oos toegekeer?

Onder honderde, honderde bome
Word die mooistes en grootstes gekap,
En die struikgewas tier om hul stamme
En swelg in die aarde se sap.

Daar lui weer die onheil ’n doodsklok,
Die aarde ontsluit weer haar skoot:
’n Soon, ’n broer, ’n vader,
’n Vriend van sy volk is dood!

Toe, lui maar, o noodlot, die doodsklok,
Toe, graaf maar ’n diepe graf,
Jy ontroof ons tog nimmer ons hoop nie,
Sy gees neem jy nooit van ons af!


DIE SLAG BY BLOEDRIVIER.
(16 Desember, 1838).

Die Ooste gloei. Dit is die dag,
Wat vóór die Ooster-poorte wag
En aarsel om die donker waas,
Wat voor sy oog hang, weg te blaas:
Want o, wat sal sy oog aanskou--
Dan bloed, dan bloed, dan moord en rou?
Maar nee, hy skeur die sluier oop....
Dáár word Suid-Afrika gedoop!

Wat is dit, wat ek ginds gewaar,
Daar langs die donker berge, dáár?
Dit is Dingaan se swarte drom,
Dit is Dingaan! Die Soeloes kom!
Gryp, Trekker, gryp jou kruit en roer
En staan jou man, jou naam is Boer!
Beskawing moet hier segevier,
Of Afrika is vir die dier’!

Hul kom! hul kom met woede aan,
Soos vuur, in hoë gras geslaan,
Wat, op die wind se vlug gedraag,
Al knett’rend oor die grassaad jaag,
En vir geen pad of vóórbrand stuit;
Die vlamme-arrems gryp vooruit,
Verteer al wat hul beet kan kry,
Tot as alleen nog orig bly.

Hul kom! hul kom soos aasvoëls aan,
Die wye vlerke oopgeslaan,
En bek en pote rooi gekleur
Van prooi, nog pas uiteengeskeur.
O hoor hoe dreun dit, soos hul kom!
Dit woel en wemel rond en om,
Van skildvel, assegaai, barbaar!
Van Soeloes, Soeloes aan mekaar!

Hul storm! hul storm! die swarte drom,
En skreeu en bokspring soos hul kom.
Maar in die Treklaër is dit stil,
Want elke Boer weet, wat hy wil:
Sy oog hou wag; sy hart herhaal
Die vroom gelofte elke-maal,
En naas hom staan sy Sanna klaar,
Die kruit en koeëls lê by mekaar.

Hul kom! hul kom!.... maar ry aan ry
Stort neer om daar vir goed te bly.
Die Sanna’s bulder, die osse brul
En hardloop rond, met angs vervul;
Dit kletter hier, dit knetter daar,
Dit reën as’gaaie op die laër.

Hul kom! hul kom!.... maar deins weer trug,
Hul kom!.... maar kom met weifelsug
Hul kom!.... maar weifel, weifel weer,
Hul kom!.... dit was die laaste keer.

Dis _moed_, wat volhou na begin,
_Vertroue_ is dit, wat oorwin.

Sou vier maal honderd Trekkers dan
Vir twaalf maal duisend Kaffers kan
Verslaan? Aanskou die water maar,
Aanskou die sloot, die vlakte dáár:
Drieduisend lyke lê daar rond!....
Pretorius alleen is lig gewond.--

O hart, wat blydskap het gesmaak,
Wie kan die trotse dag genaak,
Van Afrika’s beskawingsdoop,
En koud bloed deur sy hart laat loop?

Ja, Stem van donker Afrika,
_Ons_, wat jou naam met eer moes dra,
Ons woon hier op ’n werelddeel,
Ons moes regeer, en is verdeel!



H. A. FAGAN.


OUBOETA.

Windjie, jy kom oor die groot blou see--
bring jy groete van Ouboeta mee?
Ouboeta sit aan die ander kant,
vèr, alleen in ’n vreemde land.
Weelde en kuns kan hy daar aanskou,
die grootste prag wat die wêreld hou;
maar dit weet ons goed, dat sy hart nog sug
na ons vrye veld en ons helder lug.
Tog moet hy daar onder vreemde bly
om kennis te win en ervaring te kry,
tot die jare verby is, die leertyd om--
wat sal ons groots wees as Boeta weer kom!
Windjie wat waai oor die groot blou see,
bring jy ook groete van Ouboeta mee?

Windjie, waai nou maar weer weg oor die see,
en dra ons groete aan Ouboeta mee;
voer in jou vlug na die ander sy
die geur van die blomme wat bloei in die vlei,
van varings wat bo teen die bergrand staan,
van vrugte, van druiwe, van goudgeel graan.
Hy sal jou boodskap verstaan, want hy weet
dat alles verlang om hom welkom te heet.
Sy ryperd staan in die stal te treur,
sy hondjie hou wag by sy kamerdeur.
Maar die jare vervlie en sy leertyd gaat om--
ag, wat ’n vreugde as Boeta weer kom!
Windjie, waai vèr oor die groot blou see,
en dra ons groete aan Ouboeta mee.


OP KNYSNA-STRAND.

          Daar is ’n kuil,
’n holte in ’n rotsbemuurde strand,
waarin die branders ewig spoel en dreun;
en in die mond van dié spelonk, daar skuim
en kook die water wild en woes, asof
die ganse oseaan wil binnedring.
Met stormgeweld en blinde woede stuif
die golwe op hul kerkermure toe,
en teen die rotsgewelwe druis en kraak
die felle branding--waar dit breek, en dan,
gestuit, verpletterd, tot die afgrond keer,
en daar verlore gaan.

          Ek ken ’n siel,
nog ruimer dan die oseaan, waarin
oneindige gedagtes bruis en woel,
en met die felheid van ’n stormgety
’n uitkoms soek in enge digtertaal;
maar ag, te groot vir mensewoorde, sink
dit in die stille diepte weer terug,
waar dit gebore is.


SOOS DIE WINDJIE WAT SUIS.

Soos die windjie wat suis oor die velde,
    met geure van lente bevrag--
is die hoop wat kom fluister van arbeid en stryd
    en die sege wat wag.
Soos die dorre geruis in die najaar
    van blare wat val en vergaan--
die verwytende stem van geleentheid verspeel,
    en van dade wat sterf--ongedaan!



F. VAN DEN HEEVER.


RIT-RYMPIE.

Die koeëls die blits, dat die klippe so brand--
      Hoera vir die reuk van ’n roer!--
Maar die tien en Jan Pieterse hou daardie nek,
      Help bewaar ou Transvaal vir die Boer!

„’n Uur nog, net ene”--’n uur van die hel!--
      „As ons maar die nek kan hou,
Dan is ons kommando die drif veilig deur!”--
      En hy bid sonder handegevou!

Wild en wyd, wild en wyd,
      Gee die perde maar teuel en spoor;
Jy hoor net daaronder die hoewegedonder,
      En hierbo fluit die koeëls langs jou oor.

Daar hinnik ’n liddiet, ryperd van die Dood
      Blits hemel en aarde deureen;
Die stof wyk--die mense ’s die drif veilig deur--
      By Jan Pieterse leef nog net een.

„Ons trap!” kommandeer hy. Wild en wyd
      Gee hul perde maar teuel en spoor;
Hy hoor net daaronder die hoewegedonder
      En ’n skreeu--hy ’s allenig nou oor.

Trug nou, trug deur die vlaag van lood,
      Sy maat kan hy daar nie laat bly!
Al om hom daar gons dit die lied van die dood,
      Waar sy sekel al snerpende sny.

Met die gewonde man dwars oor sy saalboom geleg
      Gaat hy stadig en stappende heen;
Geen teken van haas, hy ry peinsende voort
      Op ’n stap deur die koeël-gereën.

„Laat staan, hy’s ’n held -, Three cheers’ vir die Boer!”
      Sê die Engelsman, hees in die keel.
Die bulte weerklink met vier harde hoera’s,
      En die lug word met helmette geel!

Jan Pieterse draai hom sy vyande toe
      En wuif hulle dank met sy hoed;
Al stappend verdwyn hy op die horison daar
      In ’n raam van die westergloed.

So hoera vir die klank van stiebeuel en spoor,
      En hoera vir die reuk van ’n roer!
God behoede ons veld van die vreemde geweld
      En bewaar ons ou land vir die Boer.


WIE IN GLAASHUISE WOON.

Bommelby, bommelby met jou wit bandelier,
  Met jou vlerke wat blits in die sonlig en gons,
  En jou swartpak, verguld met die blomme se dons--
Wat beteken jou sing en wat maak jy hier?

Maar die bommelby werk, of ek vra en of nie;
  Natuurlik, ek weet hy hoor nie na my
  En laat my gevra en gepeuter opsy--
Maar dis mos wat deurgaan vir poësie!

My siel is so wyd soos die oseaan,
  En grootse gedagtes die woel daarin om,
  Te groot vir woorde, my Muse is stom,
Want waar haal sy sulke woorde vandaan?

Ja, modder kan jy met jou vingers nie vat,
  Diamante is klein en gereëld van bou
  As jou oë maar reg is--Ek vra vir jou,
Hoe moet ek die ruim van ’n siel dan skat?

Dis newels, net newels wat warrel en vlie,
  En ek is miskien nog agter die vlug
  Van ou Tyd, en ken die boom by sy vrug--
Maar dis wat nou deurgaan vir poësie!


„’N SPEELTONEEL”.

Ag, moet hul nie stoor nie, laat jou voetstap nie hoor nie,
  Kom ons hulle oor die laning beloer.
Kan jy mooiers verlang dan die kindergesang
  En die geestige, malle rumoer?

Met ’n blaar in sy hand staat die predikant,
  Lees daaruit die formulier voor
Waarmee hy hul trou; daar word huise gebou,
  Die gelag onder werke gesmoor.

Nou word daar gedoop, dan weer suiker verkoop
  Vir blikkies en skerfies en blare;
’n Floue gelawe, ’n kuiken begrawe
  Met luide en droewe gebare.

Kon ons maar soos hulle die wêreld verag
  En spot met sy wel en sy wee;
Of die wêreld al frons--daar klink hul gelag,
  En die wêreld lag hoofskuddend mee!


IN DIE HOVELD.

In die Hoveld, waar dit oop is en die hemel wyd daarbo,
    Waar kuddes waaigras huppel oor die veld,
Waar ’n mens nog vry kan asemhaal en aan ’n God kan glo,
    Staat my huisie, wat ek moes verlaat vir geld.
En as ek in die gange van die myn hier sit en droom
    Van die winde op die Hoveld, ruim en vry,
Dan hoor ek die geklinkel van my spore, saal en toom,
    Sawends as ek bees of skaap toe ry.

Op die Hoveld, waar dit wyd is, waar jy baie ver kan sien,
    (Die ylblou bring ’n knop dan in jou keel)
Staat my huisie nog en wag vir my, wag al ’n jaar of tien,
    Waar die bokkies op die lei grafstene speel.
Maar as die tering kwaai word en ek hoor die laaste fluit,
    Dan sweef ek na die Hoveld op die wind
En soek dan in die maanlig al die mooiste plekkies uit,
    Waar ’k kleiosse gemaak het as ’n kind.


SONDAG-MÔRE.

Dit is stil in die voorhuis
En stilte rus swaar op die bulte daarbuite,
En stoffies hang blink in die lug, waar die venster
’n Gulde balk van louter luister inlaat.
        Daar word boeke gevat:
    Die psalm gaat statig opruis,
Ruis weg oor die druipende wilgers,
    Waar die tortels selfs luister;
’n Hiemne aan God, aan wie dit gerig is,
’n Statige hiemne van rus en van vrede,
    ’n Wierook-kolom.
        Dis weer stil.
    Luid kraai die haan in sy beurtsang--
En nou word gepraat, eers saggies dan luider,
Nou word selfs gelag... die stemming verbroke--
    Die diens is verby.


DIE VERHUISING VAN CUPIDO.

Cupido het eers vry rondgedwaal
  Met sy boog en sy skigtebos,
Behoudens ’n lintjie wat krul, maar skraal
  In ’n Adamspak gedos.

Maar die Cherubyne mis hom nou;
  Ag, die sede vervel met die tyd!
In die kas lê sy vleueltjies opgevou,
  En nywer regeer nou en nyd.

Sy guitige streke het hy laat staan,
  Laat met rus nou die pare in die park;
’n Hardedop keil en manel het hy aan--
  Hy ’t verhuis na die aandeelmark!



J. R. L. VAN BRUGGEN.


DIE KOKET.

Die reënt het my tuintjie skoon gewas,
  En ’n windjie dwaal daarin;
Hy sleep sy soetste geure saam
  Om ’n roseknop te win.
„Kom saam my liefie,” fluister hy;
„’k Gee alles wat ek het--
  My vrye siel, die hemelblou,
Dit alles, alles skenk ek jou,
  En ’k vra jou hartjie net!”
Om roserooie lippies plooi
  ’n Glimlaggie, o ai so mooi;
Sy skud haar koppie heen en weer,
„Kom môre weer, kom more weer!”--
  Die rosie was koket!

’n Sonnestraaltjie het plesier
  En lag die windjie uit.
Hy hang ’n pêrel om haar hals,
  En soen die rose-lippies mals--
Die rosie word sy bruid!


LENTELIEDJIE.

  ’n Manestraaltjie het kom kuier,
  Kuier vir plesier,
By die blanke hemel-bloesems,
  in my tuintjie hier.
    Heel die lente-awend luister
    Hoe die bloesems saggies fluister:
„Vlei jou reinheid manestraaltjie
  Aan my boesem hier.”
Toe het skalks die stoei-graag windjie,
  Loerend om ’n kier,
  Van die bloesem-wierook dronke,
  Bruilof in my tuin gevier.


’N SIMPEL LIEDJIE.

Ek ken ’n melodietjie
Só menslik en só rein,
Dat heel my siele saamween,
Saam met die liedjie klein.

Die liedjie is so simpel
Dat elkeen dit verstaan:
’n Kindjie het vanawend
Sag na die Heer gegaan.

Ek ken ’n melodietjie
Van onse sterflikheid;
Maar o, die moederharte
Moet glo aan d’ ewigheid!


AAN GENERAAL DE LA REY.

Eerwaarde vryheidsheld, dit was God’s hand!--
Ons sal maar weer die lendene omgord,
En trane-balsem oor ons wonde stort,
Want swaarkry is die stempel van ons land.

Vry soos die winde was jou fiere gees,
En sober soos ons velde jou gemoed.
Seun van ons Vaderland in murg en bloed
jou vryheids-stem was nie verniet gewees!

Ons het geween gen’raal, ons het geween.
O, ’k sien weer voor my gees die dodewa;
Maar ’k weet dat in my siele was alleen
Die stralend’ pyn van Jong Suid-Afrika!

Daar was ’n stem van lewe in die dood.
My hart was somber--maar my hart was groot!


DIE DOOD VAN DIE OSSEWA.

’n Stem ruis deur die eeue, dof en vaag,
Wat droewig as ’n doodsklok donker klink--
Die oue word weer nuut!--So gallem dit
Die eeue deur--die oue word weer nuut!
My jeug is ook verby, hoe sterk ook nog
My krag.--Die doodsklok lui my uit, en ’k voel
’n Kille weemoed om my hart.--
En as in lome kreun my liggaam kraak
Die opdraans op, die afdraans af, dan snor
Daar knipoogsnel gevaartes my verby,
En in die tuite stof sien vaag my oog
’n Visioen van geeste, wat hels spot
Met my onmagtigheid. Dan luider klink
Die doodsklok droef--ek lui, ek lui jou uit!

Maar snags as winter-stilte het gedaal
En swak die kampvuur skitter, stergelyk,
Dan leef my oue liggaam weer, en sag
Al op die awendkoelte kom gesweef
Die trotse stemme van my jeug.

Ha! ek is weer op Quatlamba!--
Daar golf Natal, ’n panorama, wat
Wegdein in vroeë somerson tot blou.
Skreeu nou jul helse geeste van vernuf!
Ek lag my vryheids-lag!--Ek lei ’n volk
Die donker in! My wabak is hul wieg!

Dis net die trekker met sy Boek, sy wa,
Ons is alleen in die oneindigheid!
Spot maar in wirrel-glans verby en lag
Om my onmagtigheid.--Quatlarnba’s muur
Weerkaats jul spotlag duisendwerf terug!
Hier in die velde, ewe vry as is
Die vryheidsgees wat my besiel, voel ek
My tuis, en waar die winde stoei langs berge
Daar wortel my bestaan. Hier het die bloed
Van pioniers my watent rooi geverf,
In kleine nasies wrede wordingsuur!--
Dis net die trekker met sy Boek, sy wa,
Alléén is ons in die oneindigheid.

Die smeulvuur by my wiel word flou, en in
Die twyfelgloedjie staar my stille baas.
Sag gooi die amber-skynsel van die vlam
’n Droewe glimlag op sy trekkers-baard,--
En saam peins ons oor langverlore vryheid.


HEIMWEE.

My hart verlang na die stilte
Van die wye wuiwende veld,
Vér van die stadsgeluide
En die klinkende klank van geld.

Ek is moeg vir die ruslose lewe
Van mense wat kom en gaan,
’k Wil terug na die vrye ruimte
Waar ’n siel in woon--wat verstaan.

O, ek sien weer die son op die velde
En die ewige blou lug bo,
En my hart skiet vol van heimwee,
En my drome swem in my oë.

O, ek sien weer die ylbloue berge
Dáár vér aan die westerkim,
En ek wonder nie meer waarom weemoed
So sag uit my liedere klim;

Klim na die grys lug bowe,
Waar die son in die miste kwyn;
Want o, ek verlang na die velde,
Na die ewige sonneskyn.



Transcriber’s notes:

§ Archaic spelling has been retained. If in doubt, no correction has
been made. This is especially true for accents.

§ Spellings, of which it is assumed that they were not intended by
the authors or editors, have been put right.

  page : original                      : correction
  --------------------------------------------------------------------
   51  : onverwrikbre                  : onverwrikb're
   73  : Saidjahs                      : Saidjah’s





*** End of this Doctrine Publishing Corporation Digital Book "Digters uit Suid-Afrika - Bloemlesing uit die poësie van die Twede Afrikaanse-Taalbeweging" ***

Doctrine Publishing Corporation provides digitized public domain materials.
Public domain books belong to the public and we are merely their custodians.
This effort is time consuming and expensive, so in order to keep providing
this resource, we have taken steps to prevent abuse by commercial parties,
including placing technical restrictions on automated querying.

We also ask that you:

+ Make non-commercial use of the files We designed Doctrine Publishing
Corporation's ISYS search for use by individuals, and we request that you
use these files for personal, non-commercial purposes.

+ Refrain from automated querying Do not send automated queries of any sort
to Doctrine Publishing's system: If you are conducting research on machine
translation, optical character recognition or other areas where access to a
large amount of text is helpful, please contact us. We encourage the use of
public domain materials for these purposes and may be able to help.

+ Keep it legal -  Whatever your use, remember that you are responsible for
ensuring that what you are doing is legal. Do not assume that just because
we believe a book is in the public domain for users in the United States,
that the work is also in the public domain for users in other countries.
Whether a book is still in copyright varies from country to country, and we
can't offer guidance on whether any specific use of any specific book is
allowed. Please do not assume that a book's appearance in Doctrine Publishing
ISYS search  means it can be used in any manner anywhere in the world.
Copyright infringement liability can be quite severe.

About ISYS® Search Software
Established in 1988, ISYS Search Software is a global supplier of enterprise
search solutions for business and government.  The company's award-winning
software suite offers a broad range of search, navigation and discovery
solutions for desktop search, intranet search, SharePoint search and embedded
search applications.  ISYS has been deployed by thousands of organizations
operating in a variety of industries, including government, legal, law
enforcement, financial services, healthcare and recruitment.



Home