Home
  By Author [ A  B  C  D  E  F  G  H  I  J  K  L  M  N  O  P  Q  R  S  T  U  V  W  X  Y  Z |  Other Symbols ]
  By Title [ A  B  C  D  E  F  G  H  I  J  K  L  M  N  O  P  Q  R  S  T  U  V  W  X  Y  Z |  Other Symbols ]
  By Language
all Classics books content using ISYS

Download this book: [ ASCII ]

Look for this book on Amazon


We have new books nearly every day.
If you would like a news letter once a week or once a month
fill out this form and we will give you a summary of the books for that week or month by email.

Title: Boesman-Stories - Deel IV. Gemengde Vertellings, mees van 'n Awontuurlike Aard
Author: Von Wielligh, G. R. (Gideon Retief)
Language: Afrikaans
As this book started as an ASCII text book there are no pictures available.


*** Start of this LibraryBlog Digital Book "Boesman-Stories - Deel IV. Gemengde Vertellings, mees van 'n Awontuurlike Aard" ***


                            BOESMAN-STORIES.

                                Deel IV.

                         GEMENGDE VERTELLINGS,
                     MEES VAN 'N AWONTUURLIKE AARD.


                                  DEUR
                          G. R. VON WIELLIGH.
          Geillustreer deur H. ANT. ASCHENBORN, Stellenbosch.


                         ALLE REGTE VOORBEHOU.


      DE NATIONALE PERS. BEPERKT. Drukkers en Uitgewers. Kaapstad,
            Stellenbosch, Bloemfontein en Pietermaritzburg.
                                 1921.



INHOUD.


    No.                                                     Bladsy.

         'n Paar Woorde vooraf                              i-iii

     76. 'n Onverwagte ontmoeting                               1
     77. Onwetend sondig, en wat daarop volg                    9
     78. As 'n Boesman weer wild word                          15
     79. Op 'n Skiettog, en wat daar te sien was               23
     80. Nog meer oor die Skiettog                             31
     81. 'n Kommando teen Boesmans                             37
     82. Hoe daardie Veldtog geëindig het                      43
     83. Die Wraak van 'n Boesman                              51
     84. Boesmans by Chrissiesmeer                             61
     85. Kalmte in gevaar is die beste Raadsman                67
     86. Veg Boesmans ook onder mekaar?                        75
     87. Die verkeerde Volstruis                               81
     88. Staan tot die Dood toe                                93
     89. Vryheid--die grootste Ideaal                         101
     90. Liewers Sterwe as Oorgee                             111
     91. Die Wreedheid van Boesmans                           119
     92. Boesmans in die Breekwater                           127
     93. Uit die Breekwater huis-toe                          133
     94. 'n Boesman-Weeskind                                  139
     95. Die Krag van Bygeloof                                149
     96. Nog meer oor Bygeloof                                157
     97. 'n Boesman se Opvoeding                              163
     98. Hoe 'n Tier baas gespeel het                         171
     99. Twee verwante Stories                                181
    100. Uit die bek van 'n Krokodil ontsnap                  187



'N PAAR WOORDE VOORAF.


Met Boesman-Stories het ons eers die leser 'n kykie in die hart en
gemoed van die Boesman laat werp. Hierdeur het ons kennis gemaak
met sy manier van dink, wat sy begrip van lewe is, en ook in hoever
hy hom in afgetrokke denkbeelde kan verdiep. Toe het ons nader na sy
aandvuurtjie gestap, om na sy stories, die vrug van sy skeppingskrag,
te luister. Daarna het ons getrag om hom voor te stel soos hy deur
die bril van die beskawing gadegeslaan word. En nou in Deel IV bring
ons hom op die toneel om te toon watter rol hy in die hedendaagse
beskawing speel. Ons kry hier met die voorhistoriese mens te doen.

Sou vandag in Europa 'n klompie van die ou geslag uit die steentydperk
verskyn, let dan op watter ophef oor hulle sal gemaak word. Geleerdes
van alle kante sal toestroom om kennis met die voorgeslag te
maak. Hulle sal praatmasjiene meebring om die taal op plate te
bewaar. Hulle sal hard probeer om die taal te leer, en hulle sal dié
soort mense meer vrae stel as wat hul kan beantwoord.

Wel, hier in Suid-Afrika het ons onder ons vandag nog 'n menseras uit
die steenperiode, en min aandag word aan hulle deur die geleerde wêreld
bestee. Ja, eendag sal die nageslag ons, die teenswoordige geslag,
vir hierdie nalatigheid met reg grootliks blameer. Ons persoonlik
het daarna gestreef om materiaal byeen te bring om die Boesman in
elke opsig van sy maatskaplike bestaan voor te stel. Ons het getrag
aangrypende voorbeelde uit sy lewe te verskaf om kennis te maak met
sy manier van dink, redeneer, ook sy doen en late, en om 'n idee te
kry van watter nut of onnut hy in die hedendaagse maatskappy is. Met
ander woorde, ons het gepoog die teenswoordige en toekomstige leser
in aanraking te bring met die Boesman wat leef--al is hy reeds lankal
gestorwe. Deur sy geskiedenis, sy kuns en sy taal te bestudeer, kry
ons slegs 'n lewenslose portret van hom; maar om na sy vertellings
te luister, sit ons in sy geselskap, en ons ore drink ieder woord van
sy lippe op--al is daardie lippe reeds vir eeue tot stof vervorm. In
ons verbeelding sien ons 'n lewendige wese op wie se aangesig noodlot
sy stempel van plesier en onbesorgdheid diep afgedruk het.

Die geskiedenis is slegs 'n koue standbeeld wat ons kom vertel dat daar
êrens so 'n nasie gelewe het, dat Afrika uit die pad van Europa en Asië
gelê het; en weens sy woestyne was Afrika nooit die Nabothswyngaard van
hebsugtige nasies nie. Om hierdie rede was die Boesman vry om na eie
goeddunke te handel en te wandel. Hy is nooit oorwin geword nie, maar
wel stelselmatig verdrywe en uitgeroei. Die geskiedenis vind hierdeur
'n verklaring van hoe 'n ou geslag uit die steentydperk deur al die
eeue onveranderd, onbeskaaf, sonder 'n steek verder te ontwikkel as
wat hulle stamvaders vir duisende jare terug was, gebly het, terwyl
in die geval van ander volkere die monumente van die beskawing van die
gryse verlede verkrummel het en die son van die Verligte Eeue reeds vir
'n lang tydvak hoog aan ons hemel skitter. Hoe belangwekkend dit alles
is om te weet, ons het slegs 'n koue standbeeld van hierdie dwergras
voor ons, terwyl aan die ander kant hulle volksvertellings ons met
'n lewendige ras in aanraking bring.

Wel, wat Boesman-Stories vir die teenswoordige betref, word hul deur
die gros van ons lesers bejeën as bloot vermaak vir kinders. Dat
dit so mag wees! Dan is ons oor hierdie feit baie voldaan, omdat
dit ons die versekering gee dat ons meehelp om aan ons opgroeiende
geslag genotvolle uurtjies te verskaf. Daarom het ons eenvoudige taal
gekies. Maar daar sal gewis 'n tyd aanbreek dat nie alleen kinders
nie, maar meer as kinders hulle ore sal hou teen die blaaie van
Boesman-Stories om te luister na sprokies en vertellings asof die
woorde direk en duidelik afkomstig is van die oorspronklike lippe
wat hul vertel het.


    Die Skrywer.

    Kafferstad, Hendrina, Tvl.,
    24 Oktober 1919.



    Stories No. 1 tot No. 25 is in Deel I gepubliseer; No. 26 tot
    No. 50 in Deel II; No. 51 tot No. 75 in Deel III; en No. 76 tot
    No. 100 word in hierdie Deel gepubliseer.



NO. 76.

'N ONVERWAGTE ONTMOETING.


    OPMEKINGS:--Ons gee 'n kort beskrywing vooraf van die geaardheid
    van 'n leeu, waardeur die eintlike verhaal beter sal begryp word.


Die leeu is 'n roofdier wat jag en sy kos soek as dit donker is;
oordags verkies hy om te slaap en sal dan nie somar iets aanrand
nie--of soiets moet skielik op sy lyf afkom, en dan nog oorweeg hy
sy posiesie goed eer hy tot die aanval oorgaan.

'n Mens hoor hom selde gedurende die dag brul. Eenmaal het ons hom
met sononder in noordelike Swasieland hoor brul, en 'n ander maal om
tienuur voormiddag ná ons die vorige dag een van sy kleintjies gevang
het. Anders is sy gewone brultyd teen drie- of vieruur in die ná-nag.

Hy is 'n trots dier en sal nie somar vlug solank hy in gesig is nie. En
tog het ons hom tweemaal sien vlug dat die takke so raas. Die eerste
maal was ons neë witmense en omtrent honderd Kaffers bymekaar en klim
die Lebombo-berge uit; toe hy ons sien aankom, neem hy die loop en
verdwyn oor die lae randjie.

Die twede maal was dit glad iets anders. Die dag tevore het ons
twee van die langnek-kamele geskiet en een swaar gewond. Ons gee toe
order aan die Kaffers om op te let waar aasvoëls in die lug dwaal,
daar dit 'n aanduiding is van waar die kameel dood lê. Ons persoonlik
was dié dag die enigste witman en is deur tagtig gewapende Swasies
gevolg--Swasies wat met ons meegegaan het om die grenslyn tussen
Transvaal en Mosambiek af te baken. Wel, die Swasies sien aasvoëls in
die lug dwaal; hulle storm toe hul iets sien lê--daar in die verte nog,
want die gras was kort gebrand. By so 'n geleentheid wil elkeen die
eerste op die plek wees. Hulle skree, klop op hulle beesvel-skilde
en fluit hard. Ons ja te perd saam. Toe ons omtrent 150 tree van
die plek is, bemerk ons dat dit nie die kameel is wat daar lê nie,
maar wel 'n kwagga wat twee leeus gevang het; en die twee met hulle
kleintjies was besig daaraan te eet.

Dit was 'n uur voor sononder. Toe die leeus die rumoer hoor en sien
hoe die Kaffers en 'n ryperd op hulle aanstorm, word hul bang en vlug
dat die stof so trek. Een van die kleintjies het te oordadig gevreet
en kon nie vinnig hol nie; dus het ons dit gevang en later met ons na
Pretoria oorgebring, en nog later, ná dit uitgegroei is, verkoop aan
'n Duitser wat wilde diere vir die Duitse diertuine ingekoop het.

Maar in hierdie gevalle was die leeus in die minderheid; en ons ken
gevalle waar die leeus by twee geleenthede ons Kaffers in die bome
geja het, alwaar hul die hele nag moes sit tot die son hoog uit
was; want dan gaan die leeu na sy lêplek toe--nie in spelonke en
kuile soos ons gewoonlik in boeke lees nie, maar in riet, hoë gras
of digte bosse. Kom iemand dan oordags op hom af, dan val die leeu
die persoon nie somar uit die staanspoor aan nie; maar hy staan op,
en met vurige oë en stertgewaai staan hy die indringer aan te kyk en
berei hom voor vir die aanval deur nader te kom, en dan storm hy. Dog
voor hy sy spring maak, steek hy vlak voor sy prooi vas en gee daarop
die dodelike spring. As hy daar voor iemand vassteek, dan is dit die
laaste kans om te skiet--want die spring is raak en dodelik.

Wel, nou sal ons die posiesie van die Boesman beter verstaan in die
verhaal wat nou volg.

Mnr. E. de Roubaix stuur aan ons wat oom Jan Visser aan hom verhaal
en wat hy dadelik aangeteken het. Oom Jan vertel:--

"My oorlede vader het aan my nog verder omtrent Rondelyf meegedeel en
sê dat hy en Rondelyf, die ou Boesman, eendag besig was om weggelope
beeste op te soek. Dit was by Gare-se-berg langs Grootrivier. Hulle kom
onverwags op 'n leeu se lêplek af. Die leeu hoor hul praat en loop;
hy spring op en staan hulle verskrik aan te kyk. Hy maak somar plan
om 'n aanval te maak, en na ou gewoonte maak hy sy maanhaar staan
en swaai die kwas van sy stert heen en weer en kom gedurig entjies
nader. Ongelukkig het my vader sy roer nie by hom gehad nie; maar die
Boesman was met boog en gifpyle gewapen. Hy kies vir hom 'n pyl uit en
staan nou en wag tot die leeu op 'n gerieflike afstand kom. Rondelyf
gebied vader om doodstil skuins agter hom te staan. Hy vat toe fyn
korrel met sy pyl en boog.--'My liewe kind,' sê my vader aan my, 'glo
nou vir my, die Boesman trek toe aan die boogsnaar tot dit later lyk
of sy twee skouerblaaie oor mekaar skuif. Hy haak af, die snaar klink,
en die pyl vlie koeëlsnel en tref die leeu in die kuiltjie voor sy
bors. Die leeu spring met 'n brul regop in die lug en slaan toe neer
nes 'n os wat die koeël vlak voor die kop in die kroontjie kry. Hy het
nog 'n paar trekke en skoppe gegee, maar was so te sê op die plek dood.

"'Met die afslag en oopsny van die liggaam, kry ons die harpoen in
die hart van die dapper dierkoning. Dit was vir jou somar 'n pure
raakskot, nè?'

"Maar die inspanning om die pyl deur die vel en vleis te laat
deurdring, was vreeslik; want die styf-gespanne snaar het die vel
van die Boesman se regterduim en voorvinger skoon weggeskeur."

Tot so ver het oom Jan Visser vertel.

Uit hierdie voorval word dit vir ons duidelik aan watter gevare die
Boesmans in die woesteny gedurig blootgestel is. Hulle het niks anders
om op terug te val as hulle pyle en boog nie. En as hulle lafhartig
gewees het, dan was die hele geslag miskien nou deur wilde diere
uitgeroei. Maar so klein as hy is, is hy 'n held op wie, as maat,
'n mens kan vertrou. Hy sal nie somar gou vlug nie, maar kruip liewers
weg om van uit sy skuiling vir hom en sy maats tot die laaste pyl op
is, te verdedig. Met een pyl in sy hand bly hy net so gevaarlik as
wanneer die hele pylkoker gevul is.



NO. 77.

ONWETEND SONDIG, EN WAT DAAROP VOLG.


    OPMEKINGS:--Die besonderhede van hierdie verhaal is ook deur
    mnr. E. de Roubaix aan ons meegedeel.


Jare gelede het in Groot-Namakwaland, noord van Grootrivier, 'n
Engelsman gewoon met die naam van Donkin. Hy het daar vee ingekoop
en dit in die Boland gaan verkoop.

Hy kon die Hottentot- en Boesmantale baie goed praat, wat in daardie
streke van groot waarde is. Ook het hy twee Boesmantjies gevang en
groot gemaak. Hy gee hul toe die name van Karools en Bantjies. Hy het
altyd met hulle in die Boesmantaal gepraat, dog die twee het later
in gebroke Afrikaans ook 'n gesprek kon voer.

Eenslag kom hy weer met 'n klomp osse deur Grootrivier om dié in
die Boland te gaan verkoop. Sy twee Boesmantjies was toe al groot,
en hulle moes die osse aanja. Mnr. Donkin ry gewoonlik vooruit,
en die twee kom met die osse agterna.

Vroeg een oggend kom mnr. Donkin op Troe-Troe (nou Vanrhynsdorp)
en wag daar vir sy osse. Maar al wat uitkom, is die osse. Wat het
intussen gebeur?

Die twee Boesmans het die oggend met die osse by 'n koringland
verbygekom. Die osse, wat hongerig was, storm die land in en eet ewe
gulsig. Dit was vir Karools en Bantjies te mooi om te sien hoe graag
die osse daardie soort gras wat hulle nie ken nie, eet. Hulle laat
die osse maar hulle gang gaan en goed dik vreet.

Die gesaaide het aan oom Piet ---- behoor, en die ou oom was maar
'n bietjie kwaai. Hy was in die gewoonte om smôrens sy landerye om te
ry om te kyk of alles nog in orde is--en daar kom hy op die gedoente
af dat die osse sy gesaaide afmaai, onderwyl twee Boesmans dit alles
met die grootste kalmte aanskou.

Hy brul van woede en skree vir die Boesmans: "Julle satansgoed! Wat
maak jul hier? Ja op die daad die beeste uit, of ek sal julle wys!"

Die Boesmans maak of hul hom nie verstaan nie en praat die Boesmantaal
dat dit so klap. So vinnig as die oubaas die osse uitja, so vinnig
keer die Boesmans voor en dryf die osse land-in.

Dit is genoeg om die beste mens dinge te laat doen wat hy anders
nie sou gedoen het nie. Die Boesmans was te rats--hy kon hul met
die perd nie bykom nie; dus ja hy in woede terug na Troe-Troe toe
en kom daar uitasem en rooi in die gesig aan. Hy stap driftig sy
huis in, gryp sy rewolwer, spring weer in die saai en ja terug in
die rigting waarvandaan hy gekom het. Sy vrou merk onraad en snel na
die vrederegter toe en versoek hom agterna te gaan. Hy was 'n bietjie
versigtig en neem twee ander mans te perd met hom mee.

Met hierdie gedoente kom mnr. Donkin eers agter dat daar onraad is,
en hy ja ook te perd agterna. Toe hy daar aankom, was die osse al uit
die land; maar Karools en Bantjies was skoonveld weg en nêrens te
vinde nie. Die mans neem die osse na Troe-Troe toe, en mnr. Donkin
bly radeloos agter. Ná die mense weg was, kruip die twee Boesmans
digteby die land uit 'n slootjie; want hulle het vir die ander mans
bang geword. Hulle baas neem hul toe mee.

Die volgende dag het die saak voor die hof gedien. Niemand kon
die Boesmans verstaan nie; dus is hulle eie baas as tolk ingesweer
geword. Daar hy nie so 'n dom man was nie, is hy met 'n ligte boete
daarvan afgekom. Hy trakteer toe vir Karools en Bantjies met 'n
halfemmertjie lekkers en 'n halfbottel brandewyn--wat hul natuurlik
toe net lekker en vrolik maak.

Die volgende dag was die drinkplekkie ingebreek, en brandewyn het
makeer... en ook Karools en Bantjies het makeer. Mnr. Donkin en 'n
gekleurde konstabel het hul agternagesit; wyd oor die Knegsvlakte
het hul gesoek. Dit was verniet; want iemand te perd sou hul nie kon
gevang het nie.



NO. 78.

AS 'N BOESMAN WEER WILD WORD.


    OPMEKINGS:--Mnr. E. de Roubaix het hierdie verhaal ook aan ons
    gestuur. Dit handel oor twee awonture van oom Koos met Boesmans. Sy
    seun leef nog, en hy staan in vir die waarheid van die feite soos
    hier meegedeel.


Dit was in die jaar 1840. Boesmanland van Calvinia af tot na
Grootrivier was toe nog baie woes, vol wild, ongedierte en Boesmans. In
hierdie jaar onderneem oom Koos 'n rit te perd uit die Hantam van sy
plaas naby Calvinia na Nylersdrif aan Grootrivier, alwaar 'n veepos
van hom was. As 'n mens in daardie dae 'n reis met 'n wa vol kos en
met sy roers daarop onderneem het, sou die onderneming nie so gevaarlik
gewees het nie; maar begryp, oom Koos gaan te perd en ongewapen.

Die derde dag ná oom Koos van sy huis vertrek het, kom hy op die
teenswoordige Sout-Dwaggas. Dit is 'n onoorsienbare kaal vlakte,
bedek met langbeen-boesmangras. Hy en sy perd voel albei baie moeg
van die vermoeiende rit. Hy besluit om daar af te saal, te vernag,
en om maar daar goed uit te rus tot vroeg in die oggend; dan meen
hy weer voort te gaan. Ná hy afgesaal het, gee hy sy perd water in
'n kolkie en gaan toe sy getroue dier tussen die gras span. Hy het
nog biskuit en biltong by hom gehad en het die droë bete lekker
geniet. Daarna sny hy gras en maak vir hom 'n sagte bed, want die
skemering begin toe al toe te slaan. Dit het hom nie lank geneem om
op sy grasbed langs die kareedoringbos aan slaap te raak nie.

Ná hy omtrent twee uur geslaap het, word hy deur 'n geweldige geskreeu
wakker. Hy lê nugter wakker en luister, want dit het vir 'n rukkie
opgehou. Nie te lank nie, of daar kom dieselfde geluide van "hôgim,
hôgim"--kompleet nes bobbejane wat daar skree. En dit nogal kortby
oom Koos. Half verskrik en besluiteloos bly hy eers doodstil lê. Dog
die geskreeu word al harder en woester. Vererg en boos spring hy op,
om te sien dat hy deur 'n klomp Boesmans omsingel is. Hy word kwaad
in plaas van bang te voel. Iemand wat in 'n groot gevaar gewees het,
ken hierdie soort gevoel.

Hy roep ewe boos uit: "Maiskarries! waar is my perd?"

'n Terggelag van hulle maak oom Koos nog boser. Hy knyp sy oë toe,
byt op sy tande vas en wou net met geweld vorentoe om 'n pad met sy
vuis deur hulle te slaan--laat kom wat wil, dink hy.

Toe gryp een van die Boesmans hom aan die arm en roep uit: "Duusman,
pas op 'n bietjie! Ek is T'konnie, wat van Duusman uit die Hantam
weggeloop het. Toe Duusman die perd daar water gegee het, het ons
naby gelê; en ek het Duusman somar geken. Die perd ons wil eet,
maar Duusman ons wil nie doodmaak nie, as Duusman vuur gee en pad vat."

Oom Koos, wat hoegenaamd geen genade van die Boesmans verwag het nie,
is nou woedend oor sy perd, verwonderd om die afgedankste T'konnie hier
te sien, en bly dat daar kans is vir sy persoon om sonder liggaamsleed
los te kom. Hy ken die Boesmans te goed en weet dat dit nutteloos is
om vir die lewe van sy getroue perd te pleit. Hy gee toe sy tonteldoos
en vuurslag aan T'konnie, waarop hulle in die duisternis verdwyn.

Aan slaap is nou vir oom Koos nie meer te dink nie, want hy moet nou
verder voetslaan. Sal hy omdraai om hulp te gaan soek om die rowers
agterna te sit? "Nee," dink hy, "wat sal dit help; want as die son môre
opkom, dan het hulle reeds myle en myle ver die wêreld ingevlug en kan
dan Byesteek-se-berg bereik het, of nugter weet watter plek anders."

So vinnig as hy planne maak, verwerp hy die een ná die ander. Hy
besluit toe ten laaste om maar voet te slaan in 'n noordoostelike
rigting na Sakrivier toe. Daar sal hy wel mense kry. Gelukkig dat
Boesmanland kort tevore reën gekry het; dus was daar orals in die veld
ope waters. Ook het hy by hom nog 'n paar stukke droë vleis gehad
wat die Boesmans, as 'n uitsondering op hulle gewone handelwyse,
aan hom gelaat het.

Oom Koos sit toe sy reis in die woesteny voort. Die son oordags was
baie warm; die hitte daarvan en die angs vir Boesmans in die nag,
sonder om van ander gevare eens te praat, het só op sy senuweegestel
gewerk dat hy afgemat en half buite sinne van die vermoeienis by
Sakrivier aankom, alwaar hy twee trekke vind. Hier het hy uitgerus
en het sy reis met 'n geleende perd na Nylersdrif voortgesit, waar
hy eindelik veilig aangeland het; en toe was hy by sy vee.

Oom Koos was nie te lank op Nylersdrif nie, of 'n klomp van sy
lammerbokke raak weg. Hy pak die ou geweer van sy kneg en stap die veld
in om die bokke te gaan opsoek. Sodoende klim hy op een klipkoppie ná
die ander om 'n ver blik oor die veld te kan werp; maar hy gewaar die
bokke nie. Eindelik was hy al baie ver van sy veewerf af. Weer klim hy
'n koppie uit en sien hierdie slag 'n paar bokke teen 'n skurwe rand
wei. Toe hy nader kom, raak die bokke opeens aan hardloop, en daar
sien hy 'n paar Boesmans tussen rotsblokke inspring en wegkruip. Die
roer was gelaai, en onverskrokke storm oom Koos die plek. Hy klim op
'n groot rots wat 'n diep skeur aan die onderkant het. Hy kon niks
bespeur nie; maar net toe hy wou afklim, gons 'n pyl vlak voor sy neus
verby. Dit verskrik oom Koos nog nie. Hy het gesien dat die pyl uit
die klipskeur onder hom uitgekom het; dus trek hy hom terug, maak sy
hoed voor aan die tromp van die roer vas en laat dit versigtig sak om
die indruk te verwek dat dit hy is wat in die skeur loer. Klaps! vlie
'n pyl deur die hoed. Maar op dieselfde oomblik was oom Koos klaar. Hy
druk die tromp van die geweer diep in die skeur, los die skot, en
hoor iets binnekant 'n geluid maak. Nou begin hy regtig te loer. Hy
oortuig hom dat hy raak geskiet het; hy klim toe af tot by die skeur
en sien dat hy een van die skurke doodgeskiet het. En dit was niemand
anders as T'konnie nie. Maar die ander diewe was nêrens te kry nie.

So gaan dit. T'konnie het eenmaal die lewe van sy vorige baas gespaar;
maar die twede maal wou hy dit nie doen nie--net soos 'n half mak
Boesman is wat weer na die wildes teruggegaan het.

Al wat oom Koos van sy bokke teruggekry het, was net 'n paar; die
ander was geslag en opgeëet.



NO. 79.

OP 'N SKIETTOG, EN WAT TE SIEN WAS.


    OPMERKINGS:--Hierdie verhaal is aan ons meegedeel deur
    ds. W. S. Rörich, Kroonstad, O.V.S. Ons gee dit net soos dit aan
    ons meegedeel is.


Oom Gert G---- het hierdie ware gebeurtenis vertel:--

Ek meen dit was in die jaar 1860, en ek was toe al veertien jaar
oud. My pa en oom Theuns het gaan jag noord van die Grootrivier, en
ek moes gelukkig meegaan--waaroor ek baie bly was. Daardie skiettog
het op my so 'n indruk gemaak dat ek dit nooit in die dag van my lewe
sal vergeet nie. Daarom vertel ek nou alles net soos ek dit gesien
en ondervind het.

Ons woon toe in daardie dae tussen Buffelsrivier en Port-Nolloth. Die
enigste plek waar ons die Grootrivier kan deur, is omtrent anderhalfuur
van die mond af: daar loop hy mooi gelyk, met lae walle en 1,800 tree
breed. Van Port-Nolloth af is daar vreeslik dik sand en duine. Dit neem
tien flukse skofte om die rivier te bereik. Ons was met twee waens, elk
met agtien knewels van osse bespan en voor ieder 'n Boesman as leier.

Dis gekheid om so 'n jag sonder Boesmans te onderneem. Ek wil amper
beweer dat jy eerder jou roer tuis kan laat as sonder 'n Boesman
daar oorkant te gaan skiet. Die Boesmans ken daardie wêreld op die
punte van hulle vingers; en dan het hulle meer planne en uitvindsels
as 'n mens hom ooit kan verbeel. Hulle kan baie ver en goed sien;
dan, hulle ruik is goed, en verder kan hul baie fyn hoor. Beter
as 'n patrys kan hul wegkruip en hulle versteek. Ook kan hul baie
vinnig en op die aanhou hardloop, en daarby kan hul lank sonder kos
en water bly. Ja, hulle weet vooraf waar daar êrens wild moet wees,
en kan dit keer net soos hulle dit wil hê. Een ding moet 'n mens voor
oppas, en dis dit: Voor jy jou Boesman uitstuur om wild te gaan soek,
moet hy nie te veel te eet en te drink kry nie; want dan word hy lui,
kry somar vaak en gaan vir 'n halfdag lê en slaap. Die beste plan is
om hul oordags min kos en water te gee, maar voer hul saans goed: dan
bly hul fluks en lewendig. Pas jy nie self dié maatreël toe nie, hulle
ken geen maat in enige ding nie. Hoe meer jy gee, hoe meer wil hul hê;
en verder mors hul alles op. Waarlik, 'n Boesman sal nie vir die dag
van môre sorg nie; in hierdie respek is hul nes diere of kinders.

Ons het op ons waens gehad: twee grawe, twee byle, twee emmers,
twee vate water; verder volop broodkos, sout, en 'n groot pot. Daar
oorkant is 'n woeste sandwêreld--net soos in die suidekant van
Grootrivier. Langs die rivier op is daar bome, laagtes, en ook hier
en daar klein bergies. Dit is eintlik die regte jagwêreld. Daar
is gensbokke, volstruise, springbokke, koedoes en duikers, en so
meer. Saans huil oom Wolf oor kos, en neef Jakkals probeer om lammers
ná te blêr; maar regkry is net verniet--al het sy nasie al vir honderde
jare geleer. Maar met dit alles het die twee baie planne om wild
vas te keer. Hulle het dit net volop; maar die mooiste is om hulle
kleinspan aan die kos te sien ruk en pluk. Dit geskied natuurlik nie
sonder rusiemaak en baklei nie. Dan lê die oom en neef ewe hoogmoedig
aan te kyk hoe hulle na-kroos hulle tande vir 'n ou dag oefen.

Ná 'n paar flukse skofte moes ons laer in 'n laagte trek; want daar
in die rondte was baie wild, en die wêreld daar was baie geskik om
te jag. Dit het die twee Boesman-leiers ons vooraf vertel.

In die jagveld is 'n mens heeltemal afhanklik van die Boesmans. As jy
hulle taal nie kan praat nie, is jy heeltemal verlore. Gelukkig ken
almal van ons wat op jag was, die Boesmantaal; want ons het dit as
kinders by die kindermeide geleer. Baiekeer was ons in die jagveld
alleen, onderwyl ons Boesmans weg was om wild te gaan opspoor; dan
kom die wilde Boesmans op ons af om water of iets anders te vra. Ons
kan dan goed met mekaar gesels, en ons vind dan baie dinge by hulle
uit. Die nasie het vertroue in jou as jy hulle taal kan praat; anders
is hul agterdogtig en sku vir dié wat hulle taal nie ken nie, en nog
daarby skelm en vol draadwerk. Glo my vry, 'n Boesman is baie skelm;
maar dat hul onnosel is, moenie glo nie! As jy maar sien en let op
die slim planne wat hulle maak om wild in die hande te kry, sal jou
verstand stil staan.

Soos ons algar weet, is alle diere baie oplettend. As jy net 'n
paar klippe op mekaar sit, of boomstompe oorkruis plaas, of bossies
op die kop regop laat staan, dan sal die wild dit dadelik merk--al
was hul nooit vroeër op die plek nie; en hulle gee altyd vir sulke
plekke pad. Dit en nog meer weet die Boesmans te goed en weet daarvan
gebruik te maak om hulle stukkie kos in hande te kry. Hulle beste
wegkruipplek met hulle pyle en boog is die ope vlakte. Hulle grawe
'n holte diep genoeg om in te lê en wag daarin die wild af. Orals pak
hul klippe of stawel bossies op mekaar om die wild in die rigting te
drywe soos hulle dit wil hê; daarom is daar gewoonlik twee rye van
hierdie soort verskrikkers wyd van mekaar om die wild tussendeur te
laat kom. Dié wat die wild aankeer, loop ver om en kom langsaam nader
om die wild nie te verskrik of te laat weghol nie. Dan kom die bokke
stadig wei-wei aan. Die bossies en klippe is dan die oorsaak dat hul
reg op die skutters afkom. Die skutters wag hulle kans mooi af om al
hulle maats 'n kans te gee. Meteens word geskiet; en dit gebeur dat
'n man op een plek tot vier bokke doodskiet.

Dis nie die enigste plan van jag nie. Hulle vermom hul deur die vel van
'n bok om hulle lyf te trek, en dan stap hul op hande en voete. Of soms
bind hul bosse om hulle lyf vas en kruip dan stadig nader. Soms is die
bosse om hulle liggaam in so 'n vorm gebind dat die Boesman self na
'n groot bos lyk. 'n Ander plan is om die vel of vere van 'n volstruis
te gebruik en om dié om hulle lyf te bind, sodat die Boesman taamlik na
'n volstruis lyk. Daar is nog baie meer fyn planne wat hulle beraam om
wild in hande te kry; maar dit sal te lank neem om algar te vertel. En
tog verseker die Boesman ons dat dit baie moeilik gaan, met al die
slim planne, om wild in die hande te kry; want die wild word minder,
daar hul deur die jagters--wit en swart--doodgeskiet of verjaag word.

(Hierdie verhaal word vervolg onder No. 80.)



NO. 80.

NOG MEER OOR DIE SKIETTOG.


    OPMERKINGS:--Hierdie verhaal is 'n voortsetting van die vorige
    (No. 79).


Die Boesmans glo vas dat die diere met mekaar kan praat en dat daar
mense is wat hul in diere kan verander, en diere wat hul in mense kan
verander--net na hulle lus kry. Hulle glo sterk in towery en is baie
bang vir spoke.

Maar laat ons weer tot die jagtog terugkom. Ons het binne 'n week
waarlik twee stywe knapsakke vol pluime van volstruise gehad;
verder het ons geskiet: vier groot gensbokke, drie koedoes, tien
springbokke, en 'n lot duikers; ook het ons 'n menigte volstruiseiers
versamel.... en 'n leeuvel.

Daar het ek gesien hoeveel 'n Boesman kan eet en drink. Dit het
soms gebeur dat ons 'n twintig wilde Boesmans by ons gehad het om te
help met die jag en afslag. Daarvoor, as vergoeding, kry hul al die
beenvleis en die binnegoed. Die groot pot moet vroegtydig met water
op die vuur staan. Solank hulle afslag, gaan daar stukke vleis in
die pot; dit is skaars 'n paar minute daarin, of een haal dit uit en
deel dit onder hulle in die rondte. Met net 'n paar koue sluk hul die
vleis so smaaklik in, en netnou is daar alweer ander vleis klaar om
te eet; en so hou dit aan tot ons biltong kan sny. Daarna begin hul
weer met die binnegoed, die los vleisies en murgbene; die sagte bene
word gebraai en opgekou. En as hul klaar is, lê net die skoon bene
daar in die rondte. Eendag het ons twee volstruise geskiet. Dit was
toe 'n aardigheid om die klomp Boesmans te sien te kere gaan. Hulle
het die halwe nag deur geëet; en die anderdagoggend hoog sonuit lê
die hele boel nog te slaap. Party se mae was so vol van die half rou
vleis dat hul skaars orent kon kom of bly staan.

As hul baie dors is en jy gee hul water, dan drink 'n groot Boesman
'n taamlike emmer vol water dol leeg. Ons het dit eendag probeer met
'n jong en sy meid met hulle kleintjie van omtrent 'n jaar oud. Die
kleintjie alleen het goed twee bottel water uitgedrink. Jy kan bepaald
sien hoe sy maag swel by elke sluk. Maar toe hy klaar gedrink het,
gaan hy lê--so dik as hy was. As hul so geëet en gedrink het, dan kan,
ja, moet hul vir dae so bly. Arme goed!

As hul 'n stuk of wat grootwild skiet en daar is nie baie eters nie,
dan eet die paar wat daar is, tot hul nie meer kan nie; dan gaan hul
slaap, om oor 'n ruk daarna die etery weer voort te sit. Die plesier
bestaan dan uit eet, slaap, en dans in die nag. In die somer word
die vleis gou sleg en kry spoedig 'n bedorwe ruik; en dan kom nog
daarby dat oom Wolf en neef Jakkals hulle snags goed aan die vleis
help. Dit alles beteken by 'n Boesman niks; en solank daar maar nog
'n ietsie is, hou hul aan. Om hulle dors intussen te les, suig hul
die maagsappe van die wildstuk deur 'n rietjie--wat natuurlik vir
ons witmense baie walglik lyk.

Hoor tog hoe ons aan die leeuvel gekom het!

Dit is 'n bekende feit dat as 'n leeu oud word, dan word sy tande
baie sleg; en dan kan hy nie meer so goed wild vang nie. Hy word dan
'n menseter. Menige Boesman of sy vrou of sy kind het die slagoffer
van so 'n leeu geword; want Boesmans, as hul slaap of so, is makliker
om in hande te kry as die wild wat gedurig onrustig en waaksaam is.

Een van die Boesmans het geweet waar sodanige leeu te vinde is. Hy
vra toe 'n ou broek en baadjie van my pa. Toe hy naby die plek was,
stop hy die klere vol gras en bossies, sodat dit lyk of dit 'n regtige
manspersoon is; hy plaas toe die opgestopte man onder 'n boom en laat
die jagters bo in die boom met hulle gewere klim. Hy self stap toe na
die plek om die leeu op te soek. Dit geluk hom om die leeu gou en daar
naby te vind. Nou sal jy jou verwonder hoe listig die Boesmans die
leeu na die boom toe lei waar die graspop staan en waar die jagters
vir hom afwag.

Dit het nie lank geneem nie, of die leeu sien die pop; hy bekruip
dit, en daarop word dit deur hom bestorm. En net toe hy besig was om
die pop te pak, gee my vader die leeu 'n doodskot; en hy was toe ons
syne. Dit was toe 'n groot vreugde; want ons was bly om die vel en
naels te kry, en die Boesmans was in hulle knoppies om te weet dat
hul een vyand minder het, en ook om die vleis te kry.

Ja, dit gaan gouer om die storie te vertel as om die gebeurtenisse
deur te maak.

Ek het 'n Boesman wel goed geken, maar daar in die vrye natuur het
ek baie meer van sy doen en late geleer. Dis wel 'n groot wonder dat
in ons tyd daar nog sulke mense op aarde is--wesens wat hul partykeer
kan gedra soos mense en plek-plek weer soos redelose diere.



NO. 81.

'N KOMMANDO TEEN BOESMANS.


    OPMEKINGS:--Hierdie verhaal is deur ds. W. S. Rörich aan
    ons gestuur en beskryf die aanleiding tot die veldtog en die
    voortsetting van die beleg van die vesting van die Boesmans.


Ou oom Andries B------ vertel hierdie verhaal:--

Ek was skaars sestien jaar oud, toe kom daar berig van die dorp
Piketberg dat ons maar self 'n kommando moet vorm om die Boesmans
te gaan vang of skiet; want die Goewerment kon ons daarmee nie help
nie. My oorlede vader was toe net veldkornet van ons wyk, distrik
Namakwaland. Ek moes toe orals rondry om die burgers op te kommandeer
om deel aan hierdie veldtog te neem. Die volgende week vertrek die
kommando na Boesmanland toe. Die trek het uit verskeie waens met kos,
kooigoed, gereedskap, en nog ander benodigdhede, soos ammuniesie en
roers, bestaan.

Die Boesmans het in die laaste tyd in daardie dae baie astrant
geword. Hulle kom met klein klompies en ja voor die neus van die
wagters klompies vee weg. Vandeesweek is dit hier, en ander week is
dit weer daar; so is een plaas ná die ander stilletjies en onverwags
verras en beroof, en wel op so 'n skelm manier dat 'n witmens hul
nooit sien nie. Dit het van kwaad tot erger gegaan, sodat die rowery
nie meer kon toegelaat word nie; en ons moes maar met toestemming
van die Goewerment trag om 'n einde aan die strooptogte te maak. En
ons het dit vir 'n tyd reggekry.

Ons het by ons 'n paar mak Boesmans gehad wat by ons groot geword
het; hulle was in my tyd al groot volk en het die name van Geswind en
Volmink gehad. Hulle was baie getrou in hulle diens en fluks daarby. Pa
stuur hul nakend en gewapen met pyle en boog vooruit om uit te snuffel
waar die trop wilde Boesmans hou. Om hierdie rede moes hul vir hulle
ook as wilde Boesmans voordoen, alles uitpluis, en weer kom vertel;
dan kry elkeen daarvoor 'n jong vers as beloning.

Toe ons by Namies al verby was--ek meen dit was die sesde dag ná ons
vertrek--, toe kom ons twee spioene die aand terug. Hulle was waarlik
vaal van die honger; want hulle kon nie met al die soorte kos van die
Boesmans klaarkom nie, en hul moes ook baie hardloop om weer veilig
te wees. Hulle bring die berig terug dat die wilde Boesmans skuil in
'n spelonk onder 'n krans in 'n klipkoppie. Ons ruk toe met alle
mag op daarheen. Die plek was nie alte ver van Grootrivier af nie;
dus kon ons genoeg water kry as die affêre lank mag duur.

My pa verdeel die 200 man in twee afdelings: Die een afdeling moet
ver omry en die kop van Grootrivier se kant af nader; die ander moes
van die suidekant opruk, waardeur die kop omsingel word. Onderwyl
kom sommige van ons jongkêreltjies en volk met die waens aan. Ons
trek toe omtrent 'n 500 tree van die kop af in laer. Daarop word 'n
soort van krygsraad gehou om 'n werkplan vas te stel, sodat elkeen
kon weet wat te doen en wat nie te doen nie.

Aan die westekant van die koppie was 'n krans met die klipgate
daarin; aan die oostekant om en suid was die koppie ru en met groot
ysterkliprotse bestrooi; laer op die voet was dit met doringbossies
begroei. In daardie hol krans was na skatting 'n sestig Boesmans
woonagtig.

Die krygsraad kom tot die besluit dat die enigste manier om die
Boesmans in hande te kry, is om die koppie nag en dag met wagte te
omsingel en sodoende hul met honger en dors tot oorgawe te dwing.

Dit is 'n bekende feit dat 'n Boesman in 'n geveg nooit te voorskyn
sal kom nie: sy wapens van verdediging is nie daarna nie; want hoe
ver kan sy boog en pyl skiet? Daarom moet hy sy vyand naby laat kom
om hom met 'n betreklik stomp harpoen die doodskot te gee. En dan
besit hy hiervoor so baie fyn planne. Ook as 'n Boesman nog maar net
een gifpyl in hande het, dan is hy nog gevaarliker as die giftigste
slang. En misskiet--! Dit doen en kan hy nie.

My oorlede vader sorg toe dat omtrent twintig wagte die kop gedurig
omsingel en bewaak. Hulle word natuurlik op gereëlde tye deur andere
afgelos; dus was dit haas onmoontlik vir die Boesmans om in die dag
of nag te ontvlug. Maar wat hul gedoen het, sal ons later hoor.

Daar was gelukkig baie vyeboshout om gedurende die nag die groot vure
aan gang te hou; en dit was die werk van ons jongspan om hout aan
te dra en water uit die Grootrivier aan te ry. Verder gaan ons jag;
want daar was 'n menigte duikers, steenbokke en patryse. Ek alleen
het in daardie tyd ag duikers geskiet, en praat nie van die menigte
wat my maats omgekap het nie. Dit het toe eintlik my werk geword
om duikerboudjies in te sout en droog te maak. Ek het later goed
'n vyftig drooggemaakte wildsboudjies om huis-toe te neem.

Dit was vir my 'n baie lekker tyd daar--ek kan amper sê die lekkerste
tyd wat ek op 'n vreemde plek deurgebring het.

Die omsingeling duur langer as ons verwag het; dus het die grootmense
ook met hulself opgeskeep geraak; want hulle kry niks anders te
doen as pyp-rook, pruim en koffie-drink nie. Later het dit op hoog-
en vèrspring uitgeloop; verder was dit resiesloop, jukskei-gooi,
tou-trek, en nog meer ander speletjies. Die tyd is ook nog kort gemaak
deur stories te vertel, en wel soms daar waar gerook en koffie gedrink
word, of saans om die veldvuurtjies. Toe kon 'n mens stories van die
ou dae hoor--stories wat al amper vergeet was. Ja, sulke tye maak
'n wonderlike indruk op 'n mens: jy hoor stories wat jou bybly tot
die laaste dag van jou volle verstand. 'n Baasspelerige man word jou
vyand, en daar maak jy by sulke geleenthede vrinde wat jy nooit weer
vergeet nie, en wat jy miskien nooit weer sien nie.

Maar wat die wonderlikste van die hele gedoente is, is die stilte
wat daar onder die hol krans heers. 'n Mens hoor geen kind huil of
skree nie. En as die twee spioene nie die versekering gebring het
dat hulle (die Boesmans) daar is nie, dan sou niemand geweet het
dat hul wel deeglik daar is nie, en wel ten getalle van ongeveer
'n sestig. En dis lig te begryp dat die vraag oor en oor gestel is:
"Maar waar is hulle? Hoekom sien ons niks nie?"

(Word vervolg onder No. 82.)



NO. 82.

HOE DAARDIE VELDTOG GEËINDIG HET.


    OPMEKINGS:--Hierdie verhaal is die vervolg van die vorige (No. 81).


Die vierde dag is die stilte gebreek. Drie skote val tegelyk. Almal
gryp na hulle roers en roep uit: "Wat is dit? Het julle Boesmans
gesien?"

Die wagte wat geskiet het, vertel dat hul Boesmans onder die krans
sien uitloer het, dat hul gelyk korrel gevat en gelyk geskiet het;
en hulle meen dit moet raak wees, daar hul te goed korrel gevat het.

Van toe af word alles eens so stil--geen geluid of stem word daar in
die koppie gehoor nie. Ons mense word toe al meer en meer onverskillig
en stap toe al 'n honderd tree voor die krans perdgerus verby; want
hulle word aan daardie rustigheid onder die Boesmans gewend. Ja,
sommige begin toe selfs al te praat om maar terug huis-toe te gaan,
daar dit bitter vervelig word om aldag net na die dooie kranse te
kyk sonder om iets te gewaar.

Die volgende dag kom daar weer 'n afwisseling. Hierdie slag het
twee Boesmans onder die krans uitgespring, tussen die groot kliprotse
ingevlug, en daar nes dassies verdwyn. Toe dreun dit soos geskiet word;
maar geeneen weet of dit raak is of nie.

Die sesde dag maak ons mense plan om die kop te storm. Maar hoe in die
naam van moontlikheid gaan ons dit doen? Want die groot rotsblokke
lê so deurmekaar teen die koppie dat ons plek-plek gebuk moet loop,
dan weer op hande en knieë gaan, en enkele plekke gladenal op ons
maag moet seil. En hoe sal die Boesmans dan nie met ons werk nie?

Toe gee my pa order om groot dragte bossies in bondels van ses voet
lank en so hoog as 'n tafel vas te knoop. Drie man moet dan agter so
'n bondel gaan lê en dit na die krans voortrol. Durf iemand waag om net
effe bo-oor die bondel te loer, dan gons die pyle op daardie drag hout,
en hy moet net rats wees om sy kop gou weer terug te trek en te koes;
want geen enkele pyl gaan oorheen nie. Mensig, so 'n Boesman kan net
skiet! As jy die boogsnaar hoor klink, dan klap die pyl hier by jou
in die bondel hout. Lig jy jou hoed met 'n stok hoër as die bondel,
dan klap die pyle daarteen.

Hierdie plan met die dragte bossies was om die Boesmans te noodsaak
om hulle voorraad van pyle op te skiet, en was 'n pure krygslis.

En dit het amper 'n hele dag so aangehou. Ons mense begin toe al
afgemat van honger en dors te voel; want hul was later so ná aan
die krans dat niemand dit sou waag om vir hulle daar kos en water
te gaan bring nie. Sommige begin uit te roep dat kramp in hulle bene
hul beetpak.

Ons vind toe uit dat ons mense toe in 'n moeilike posiesie gewikkel
is; want om met, of sonder, die bondels bossies te retireer, val nie
aan te dink nie. Ek sien toe dat ons mense werklik ten einde raad is.

Ek sê toe somar uit 'n grap: "Kan pa dan nie die koppie aan brand
steek nie?"

"My kleinjong, jy het nog die beste raad," antwoord hy.

Dadelik kom die orders dat ons dik wortels van droë vyebossies agter
die kop moet omdra en dat die wagte gedurig in die krans moet skiet. Op
dié manier kry ons kans om die stompe tot bo-op die krans reg bokant
die gate te dra. 'n Paar begin 'n groot vuur aan te steek; en toe
daar genoeg kole en brandende stompe was, stoot hul die brandende
massa die krans af, en dit val vlak voor die gate. Verder stort hul
nog meer brandstof af om onder 'n groot vuur te laat ontvlam. Daarop
staan 'n 200 man 'n 150 tree van die gate af gereed om òm te kap wat
nie wil oorgee nie.

Dit duur toe ook nie lank nie, of 'n klomp Boesmans bars deur die
vuur, berg-af. Toe dreun dit soos die skote val. Een het die moed
gehad om tussen die rotse deur te vleg en kom vry deur die wagte;
want geen koeël kon hom raak nie, daar hy te gou en te rats was. Die
vuur-maak het amper 'n halwe dag aangehou; die hitte en rookdamp moes
straf gewees het.

Die volgende dag vra pa vrywilligers om die gat te storm. Dadelik
was 'n hele klomp mans gereed en kom vorentoe. Maar pa kies toe net
vier uit. Tien ander staan toe klaar om op die gate te skiet sodra
'n Boesman hom maar effentjies vertoon. Naderhand was die vier man
vlak voor die gat. Dit het tyd geneem om daar te kom, want die opklim
en deurkruip het swaar gegaan.

Daar spring toe weer vier Boesmans by hulle verby, ook berg-af. Die
tien man haal toe twee Boesmans neer; een glip verby en raak nes
'n groot speld tussen die rotse weg; en die ander het hul lewendig
gevang. In die gat vind hul vier dood, wat gewond en ook deur die
vuur gebrand was. Ons het dus van omtrent 'n sestig Boesmans net
skaars tien dooies en een lewendige gevind.

Ons gaan toe verder die koppie deursnuffel en vind toe op sandplekke
baie spore en handdrukke soos die Boesmans deur die wagte deurgekruip
het--maar hoe en wanneer kan niemand verklaar nie.

Baie mense noem soiets Boesman-oorlog; maar ek noem dit Boesman-jag. En
dit kan ek hier byvoeg: Ek ken leeu- en tierjag baie goed; maar ek
verkies liewers tienmaal leeus en tiere te gaan skiet as om eenmaal
Boesmans te jag. Want hulle is ook mos mense met verstand--hoe min
dit ook al mag wees--, daar hulle die wonderlikste planne kan maak,
waarvan 'n dier niks afweet nie. Op vyftig tree afstand is 'n Boesman
'n gevaarlike mannetjie; en wat hom nog gevaarliker maak, is dat hy
geen genade verleen nie, en ook geen genade verwag nie. Ek moet erken
dat ek vir 'n gewapende Boesman wat wegkruip, net baie bang is.

Dit was 'n naarheid om die dooies, en selfs die een wat ons gevang het,
te sien. Hulle het 'n indrukwekkende vertoning met hulle vaal velle,
gerimpelde gelaat en ingekrimpte maagvel gemaak. Ek sal die gesig
nooit vergeet nie. En as hul vir hulle weer ooreet het, dan kan die
maagvel weer so verbasend uitrek en styfspan. Wat iemand dadelik
tref, is hulle muisoortjies, klein handjies, strykystervoetjies,
peperkorrelhare, en die neusgaatjies sonder 'n behoorlike neus--ja,
hulle hele liggaamsbou is wonderlik.

Ons het die Boesman wat ons gevang het, kos en water gegee. Die meeste
van ons het die Boesmantaal geken en kon dus met hom praat. Later
was hy tevrede om by ons te kom woon en het ingestem om met ons mee
te gaan.

Omdat ek die raad van die vuurmaak gegee het, sê oorlede pa dat ek
hom moet erf. Ek het hom toe by my geneem en het hom die naam van
Vuurmaak gegee. Hy word toe baie aan my geheg, en hy het later een
van my getrouste en beste volk geword. Ek kon altyd op hom reken. Hy
is by my dood; en daar ons weens sy getrouheid aan hom so geheg was,
het ons hom in die kerkhof begrawe.

By dié geleentheid het ons daar by die koppie baie boë en pyle opgetel
en dit meegebring. Ons het die mooistes en bestes daarvan uitgesoek
en Kaapstad-toe gestuur.

Ná ons die veldtog teen die Boesmans uitgevoer het, het die
veediefstalle daar in die buurte vir 'n baie lang tyd opgehou; want
soos ons later verneem het, het die Boesmans wat met hulle gesinne
ontvlug en vrygekom het, oor Grootrivier die Kalaharie ingevlug en
het hulle stof nie weer gou suid van Grootrivier laat waai nie.



NO. 83.

DIE WRAAK VAN 'N BOESMAN.


    OPMEKINGS:--Hierdie verhaal het oom Tys B---- ons in 1884 vertel.


Dit was in die ou dae toe die mense reeds op hulle plase woon. In
Transvaal was nog baie Boesmans--vernaamlik op die Hoëveld en in
streke waar nie Kaffers gewoon het nie. Verskeie gesinne het by die
boere kom woon, en so was op my oorlede vader se plaas ook 'n paar
huisgesinne. Die mansvolk het met die vee gehelp, en van die jong
meide het ons in die huis gebruik.

Die witmense het maar nog dun die land bewoon; dus was ons bure omtrent
'n uur te perd van ons af. Een van ons bure het 'n uitgegroeide seun
gehad, wat die hele boerdery van sy ou vader op hom geneem het. Sy
naam was Koos. Hy het 'n groot aanleg gehad vir tuinmaak en om iets
aan te plant. So was daar 'n fontein teen 'n lae skurwe randjie, en
daar het hy 'n klipmuur gepak om daarin tuin te maak, soos b.v. die
aanplant van groente, waatlemoene, en vroeë mielies om groen te eet.

Hy het al lankal gemerk dat sy tuin stilletjies besoekers kry; en
dan word sy goed soms baie verniel, soos deur die stukkendsny van
waatlemoene en wegdra van groen mielies. Maar wie dit is, kon hy maar
nie uitvind nie, daar hy daar geen spore vind nie.

Eendag het hy weer in die tuin, omtrent 800 of 1,000 tree van die
woonhuis af, gewerk; die son was warm, en hy wou eers 'n bietjie
uitrus voor hy na huis vir sy middagete stap. Hy gaan onder 'n boompie
in die koelte lê. Hy het daar nie te lank gelê nie, of hier klim 'n
Boesman oor die tuinmuur. Koos wag sy kans af; dog die Boesman het
hom te gou gewaar, en Koos storm hom. Die Boesman gooi met 'n klip
na Koos, en met die wegkeer tref hy die baas op die linkerhand. Koos
gryp toe ook 'n klip en tref die Boesman teen die kop net toe hy oor
die muur klouter. Hy val anderkant, en die bloed stroom uit die wond;
dog dit het hom nie 'n gedugte pak slae met 'n kierie gespaar nie.

Die Boesman het 'n rukkie gelê, maar staan toe op en stap die lae
randjie uit; en toe hy bo-op staan, roep hy in gebroke Afrikaans uit:
"Pas op vir jou waar ons mekaar kry."

Koos het pyn in die hand en stap huis-toe.

Dieselfde agtermiddag kom oom Tys daar, en toe hoor hy wat plaasgevind
het. Hulle almal het suspiesie op een van sy woon-Boesmans, en hulle
besluit om die saak verder te ondersoek; want dis vir Koos nie veilig
om in die veld rond te gaan solank daardie Boesman vry rondloop nie.

Die anderdagoggend vroeg was Koos volgens afspraak by oom Tys op die
werf; hulle gaan na die Boesmanstatjie, roep algar, en vind toe uit
dat dit nie een van hulle is nie, maar wel Boesmans wat nog wild
in die veld rondloop. Dit maak die saak vir Koos niks beter nie:
sy lewe bly maar in gevaar.

'n Week en nog 'n week het gekom en gegaan, en daar was nie die minste
teken van onrus nie. Maar een namiddag het Koos se span trekosse
onopgemerk opsy gegaan, en teensteaand--voor sononder--kom een van
Koos se volk en sê dat 'n klompie Boesmans met die osse voortgegaan is.

Soos 'n geluk by 'n ongeluk soms opdaag, het dieselfde dag 'n stuk of
tien burgers bymekaargekom om ook Boesmans op te spoor wat skape van
'n ander buurman weggevoer het. Koos saal sy perd op en ry na die
plek toe en kom laat die aand by die plaas aan waar die gewapende
burgers is; hulle was gereed om die volgende oggend te vertrek, daar
die diefstal van osse makliker is om uit te vind as van kleinvee. Die
oogmerk van die onderneming was die vang van die diewe.

Hulle neem toe van die mak Boesmans mee om spoor te hou. Ná die hele
voormiddag te gery het, kom hul op 'n plek waar daar baie randjies,
klowe en kranse is. Hulle sien van die osse in die verte wei. Dog
voor hul op die plek was, het die Boesmans al die osse met gifpyle
doodgeskiet. Van die Boesmans het hul net een 'n houtbossie sien
inhardloop.

Wel, geen verstandige mens sal daaraan dink om Boesmans in sulke
gramadoelas te gaan opsoek nie. Daar lê die osse almal dood, en met
gifpyle geskiet; geen witmens sal nou daarvan eet nie. Die kommandotjie
draai om om raad te gaan hou en planne te maak. Hulle het tot die
besluit gekom om van hulle Boesmans te stuur om die woonplek van die
Boesmans te gaan opsoek. As hul daar kom, moet hul ook maak of hulle
aan vlug is, en dan moet hul die praatjie versprei dat die Boere en
Kaffers met honde en wat nie al nie 'n groot kommando opmaak om hul
te omsingel en uit te moor.

Die mak Boesmans het hulle werk goed gedoen; want die ganse pakasie
is in aller haas gevlug, en, na vertel word, het hul in die rigting
van die Lydenburgse berge getrek; dog niemand het met sekerheid kon
sê waarheen hulle gegaan was nie; maar daar het stilte en rus in die
ou buurte gekom.

'n Paar jaar het so verbygegaan sonder enige las van Boesmans. En
in een van die winters het Koos met sy vee die Bosveld ingetrek om
daar onder êrens langs Olifantsrivier te gaan staan. Oom Tys het toe
ook saam Bosveld-toe getrek en het nie ver van Koos se staanplek sy
veewerf gemaak nie.

Eendag was Koos in die veld om 'n bokkie te gaan skiet. 'n Heuningvoël
kom hom teë, en Koos volg die voëltjie om te gaan kyk waar die bynes
sit. Die voëltjie lei hom na 'n randjie, wat maar laag, dog steil
aan die agterkant is. Hy haak die ryperd aan 'n boom aan die voet
van die randjie vas en volg die voëltjie, wat toe al begin te kloek,
'n teken dat die bynes hier naby is.

Op die randjie kon Koos die bye agter groot rotse hoor gons. Toe hy
om die rotse kom, staan hy so te sê bors aan bors met die Boesman
wat hom die dood voor die oë geskilder het. Daar hy moes rondklouter,
het hy sy geweer by sy perd agtergelaat.

"A, nou het ek jou! Het ek nie vir jou gesê om uit my pad te bly
nie?" roep die Boesman in triomf uit.

Hy het nog 'n maat by hom gehad; maar met die oopbreek van die bynes
het 'n stuk rots losgebreek en op die maat se voet geval, en hy sit
daaraan in smarte te dokter. Hulle pyle en boë lê daar op die grond,
en die bekende Boesman staan met 'n Kaffer se steekasgaai klaar.

"Kom, trek jou uit, nakend, dat ek vir jou met tyd kan moor," sê die
een in gebroke taal toe hy die asgaai reg vat in sy hand.

Die gewonde Boesman sit sy pyle en boog klaar, net om te vat en
te skiet.

Koos was lam geskrik; maar hy vererg hom oor die brutaliteit, en hy
herwin daardeur sy teenwoordigheid van gees en maak of hy sy klere los
knoop; maar dit is net om plan te maak, want daar is twee gevaarlike
vyande wat gereed staan. Die een met die seer voet bly sit, want hy
kan sittende net so goed as staande skiet.

"Toe, toe, moenie nog so lank maak nie!" roep die wraaksugtige Boesman
weer in gebroke taal uit, en hy steek met die skerp punt van die
asgaai in die dik vleis van Koos om hom haastig te maak.

Koos draai hom dat hy die twee in 'n lyn met hom het, en meteens roep
hy uit en wys oor hulle koppe heen: "Hier is hulle; toe skiet!"

Die twee kyk waar Koos wys. Met die uitroep van die woorde pak hy
die asgaai uit die hand van die Boesman en druk hom oor dat hy op
die gewonde val, want albei het toe ander pad as na hom gekyk. Gou
steek hy albei dood eer hul hom iets kon doen.

Ná hul twee dood was, het Koos vir oom Tys gaan roep en gevra wat
te doen. Ná oom Tys alles deurgekyk het, het die twee belowe om nie
'n woord daarvan te praat nie. En noudat Koos dood is, vertel oom
Tys die ware gebeurtenis; en niemand blameer Koos vir moord nie.



NO. 84.

BOESMANS BY CHRISSIESMEER.


    OPMEKINGS:--Die verhaal omtrent die opspoor van die Boesmans is
    aan ons deur oom Louw P---- en sy vrou vertel.


Chrissiesmeer is geleë in die Ermelo-distrik, Transvaal, en is die
grootste pan of meer in Suid-Afrika. Daar het in die vroeër dae baie
Boesmans in die nabyheid gewoon, en vandag nog word daar Boesmans
op die boerplase aangetref. Hulle is nou natuurlik mak en is in die
diens van die mense daar.

In 1883, toe ons vir die eerste maal met Transvaal kennis maak, het
nog oor die hele Hoëveld op baie plase Boesman-huisgesinne gewoon. En
vandag tref ons hul haas nie meer aan nie. Dood of uitgemoor is hul
nie; maar baie, of die meeste meide is met Kaffers getroud, terwyl
Kaffermeide so nooit 'n Boesman vir 'n man wil hê nie. Maar tog is
daar nog hier en daar Boesmans wat Boesman-meide vir vrouens het.

Die Transvaalse Boesman, net soos al die ander van hulle nasie,
het baie skade onder die vee van die Kaffers en later weer van die
Boere aangerig. Oor hierdie slegte gewoonte van hulle is hul hier,
net soos maar op ander plekke, aanmerklik uitgedun.

Oom Louw vertel dat in die ou dae daar by hulle by Chrissiesmeer
baie Boesmans gewoon het; almal het op die boerplase gewoon, behalwe
wildes, wat in die klowe in die rigting van Swasieland gevestig
was. Die Boesmans het toe nie meer met gifpyle geskiet nie. Dis
miskien daaraan toe te skrywe dat hul die gif nie hier kon kry nie,
of dat hulle base hul dit ten strengste verbied het om met gifpyle
te jag. Daarom het hul wild met wippe, strikke, maar meestal met
vanggate in hande gekry. Hulle het die gewoonte gehad om skerp penne
onder in die vanggate só te plaas dat as die wildding daarin val,
die pen dan in die ingewande van die gevange dier steek. Die vanggate,
en ook die wippe en strikke vir wild, het later 'n gevaar vir die vee
van die boere geword; dus moes die Boesmans dié soort liefhebbery
ook opgee. Hulle is toe met dwangmaatreëls gebinde om meer beskaaf
te wees--tenminste, om net soos die Kaffers op die boerplase te
lewe. Hieraan het die Boesmans gou gewend geraak; en hulle het so
handig geword om met vee, met ploeë en wa-drywe om te gaan as enige
Kaffer sou dink om te kan doen; net swaar liggaamswerk kon hy nie
verrig nie.

By 'n sekere geleentheid in daardie dae was daar Nagmaal, en al die
bure het kerk-toe gegaan. Ná hulle teruggekom het, vermis een van
die bure sewentien van sy skape. Hy het orals in die veld rondgesoek,
maar vind hulle nie; en die mense kry suspiese op die wilde Boesmans
wat aan die bopunt van die Soetoerivier woon. Ná noukeurige ondersoek
ingestel te hê, word hul in hulle vermoeding gesterk.

Die veldkornet roep toe van die burgers op om die diewe te gaan vang
en om die Boesmans se vesting langs die Seotoerivier te gaan vernietig.

Toe hul op die plek kom, sien hul klein mielietuintjies en bemerk somar
dat dié nie van Kaffers was nie; want die landjies was baie klein,
en bowendien woon daar toe ook geen Kaffers in die hele nabyheid
nie. Hulle omsingel die tuine en vind daar twee jong Boesmans in
wat daar weggekruip het. Van hierdie twee het die veldkornet alle
informasie gekry wat hy nodig gehad het; en die twee erken dat hulle
skape gesteel en algar saamgeëet het, maar vertel dat die twee diewe
verderaf langs die rivier woon. Die veldkornet gebied hul om die plek
te gaan wys. Ook hierdie plek word omsingel, en sonder baie moeite
of enige geveg gee al die Boesmans hul aan die veldkornet oor. Hulle
kry die versekering dat daar nie meer Boesmans is nie.

Die veldkornet het die twee diewe aan die poliesie oorhandig; maar
die ander wat algar medepligtig was aan die eet van die vleis, het hy
nie tronk-toe gestuur nie, maar hul die kans gegee om by die boere op
die plase te gaan woon. Hulle het toe hulle base gekies, of die base
het vir hulle gekies; en so is hulle verdeel en die diewenes opgebreek.

Die boere het hul toe in diens geneem en goed kos gegee, nes aan
hulle ander werkvolk. Maar dit was te wonderlik watter soort veldkos
hul nog gaan by soek het. Die meide neem stokke, druk dié in horings
met skerp punte, steek die stok dan deur 'n ronde klip met 'n hol gat
daarin, en grawe daarmee euntjies en ander wortels. Of hul neem 'n
krom horinkie, druk dit aan die voorpunt van 'n stok, en ert daarmee
wurms op wat deur hul as 'n lekkerny beskou word.

Daar was in daardie dae volop wild, en die mense het gereeld vir hulle
eie gebruik en vir hulle volk geskiet; dog die Boesman, so klein as
hy is, eet meer as die groot volk en is nie versadig voor en aleer
sy maag vel soos 'n tamboer staan nie.

Daardie Boesmans het net 'n kort tyd by die mense gebly, en op een
en dieselfde dag is hulle spoorloos verdwyn--en nugter alleen weet
waarheen.



NO. 85.

KALMTE IN GEVAAR IS DIE BESTE RAADSMAN.


    OPMEKINGS:--Hierdie verhaal is aan ons meegedeel deur die man wat
    die betrokke seun in die gebeurtenis was. Sy ouers het in later
    jare in Transvaal gewoon.


Kort ná die burgers van die Vrystaat op hulle plase gaan woon het,
het die volgende gebeurtenis plaasgevind.

'n Man en sy vrou--albei nog maar sowat sewen-en-twintig jaar oud--het
uit die Oostelike Provinsie van die ou Kolonie na die Vrystaat toe
getrek. Hulle het 'n seuntjie van drie jaar en 'n dogtertjie van
'n jaar oud gehad en gaan toe êrens in die Vrystaat woon.

Hulle het 'n Boesman gehad wat met hulle saam opgegroei het. Hy was
so vertroubaar as een van die famielie. Hy was dan ook, so te sê,
die regterhand van sy jong baas en het vir sy perde, melkkoeie en
ander goed op die werf gesorg.

Eendag moes sy baas onverwags op besigheid na Bloemfontein toe en
sou twee dae en twee nagte moet uitbly. Daar was niemand anders op
die plaas nie as Oortjies (dit was die naam van die Boesman) en sy
twee Basoetoe-veewagters, wat snags by hulle strooihuise, 'n goeie
ent van die werf af, slaap. Daar het wel 'n publieke pad by die werf
verbygegaan, maar tog was daarlangs nie so 'n groot gery nie.

So het die man met sy vertrek aan Oortjies al die werkies opgedra en
hom mooi vertel dat die nôi hom verder sal sê wat hy moet doen as daar
iets noodsaakliks mag voorval. Daarop vertrek die man Bloemfontein-toe.

Volgens afspraak tussen man en vrou, moes Oortjies gou oor hardloop
om die oudste broer van die vrou te gaan vra om vir die paar dae self
oor te kom of om sy seun te stuur, daar die vrou anders onbeskermd
en alleen op die plaas sou agterbly.

Oortjies het gegaan en kom ná sononder terug met 'n boodskap waaruit
sy nôi kop nog stert kon maak. Die ware toedrag van die saak is:
Oortjies was nooit op die plaas van die broer nie, daar hy ander planne
gehad het, nl. om die geld van sy baas te roof en daarmee te vlug. Hy
het al in die laaste maande nie meer so fluks gewees as sy baas en
nôi van hom gewoond was nie. Daardie aand het hy ook die diere op
'n manier versorg en het sy ander werkies halfhartig en half verrig.

Dit neem nie lank vir 'n vrou om 'n ding raak te sien nie; maar om
kalm onder sulke omstandighede te bly, is glad 'n ander ding. Maar sy
was van dié soort wat kalm kan bly, en daarby was sy fris gebou. Sy
slaan ieder beweging van die Boesman gade, maar laat egter niks merk
dat sy baie onrustig voel nie.

Sy sê toe aan hom: "Oortjies, jy moet buite alles mooi reg hou,
want nou is jy op die werf baas; moenie dat daar iets verkeerd wees
as die baas tuiskom nie!"

Dadelik werp hy teë: "Ek is nou nie alleen baas op die werf nie,
maar ook in die huis. Nôi en die kinders kan vannag in die vry kamer
gaan slaap, en ek wil in my baas se veerbed gaan inkruip."

Hierdie woorde rol soos stukkies ys agter haar rug af; dog sy laat
nie die minste teken van ontsteltenis op haar gesig toe nie: sy gaan
maar haar gewone gang en maak net plan. Sy gee haar kinders vroeg kos,
sodat sy haar ook vroeg met hulle in die kamer kan opsluit om vry van
die Boesman te wees. Sy neem die geld ongemerk uit die slaapkamer en
steek dit by haar in die vry kamer weg; ook het sy die handbyl met
haar in die kamer geneem.

Hy het die baas se pyp en tabak gevra en 'n lang vetkers en is
daarmee na die slaapkamer gegaan, en hy trek die deur agter hom
toe. Die vrou het op die daad in haar kamer gegaan; sy sien hoe lief
haar twee kinders slaap, en gee ieder 'n paar hartlike soentjies. Sy
trek haar nie uit nie, en laat haar kers brand; onderwyl bly sy in 'n
leuningstoel sit. Haar hart klop in haar keel, en verwarde gedagtes
rol oormekaar deur haar kop; maar sy neem haar vas voor om kalm te
bly, om nie 'n verkeerde stap te doen nie. Sy hoor hoe Oortjies in
haar slaapkamer te kere gaan om kiste en katels heen en weer te trek
en te stoot. Sy het daar niks toegesluit nie, anders sou Oortjies
alles flenters gebreek het. Tot die wa se voorkis, waarin die geld
en ander waarde gesluit was, is oop; al die waarde is nou by haar in
die kamer waar sy en haar twee kindertjies is. Die kinders word van
die rumoer nie wakker nie, maar slaap lief en lekker.

Die rumoer word stil, en sy kan hoor dat die Boesman hom op die katel
neergooi--om te rus, om planne te maak, of om te rook. Sy kry meteens
'n gril! Sy het al die voorsorg geneem en tog het sy die geweer in
die eetkamer vergeet! Maar 'n mens kan in so 'n benoude tyd tog nie
oor alles dink nie. Sy stap na haar deur toe en kyk nogmaals of dit
goed gesluit is; daarna ondersoek sy die venster en druk die skuifie
so vas as maar kan.

Die Boesman staan toe van die bed op en kom na haar deur toe en roep
op 'n soebattoon uit: "Nôi, moenie bang wees dat ek vir jou en die
kinders sal vermoor nie; ek wil net die geld hê--verder sal ek jou
nie pla nie."

"Toe, Oortjies, loop slaap! Moenie by my kamerdeur kom lol nie;
ek is moeg en wil ook slaap. Netnou maak jy die kinders wakker,
en dan sit ek met hulle opgeskeep." Dit sê sy om haar grote angs te
verberg. Dog sy begin al hoofpyn te kry van al die ontsteltenis.

Dit lyk toe of hierdie kalm antwoord vir Oortjies laat dink het,
want hy stap weer terug en gaan op die bed lê en prakseer. Maar sy
wilde natuur por hom aan, en hy spring op om die vrou hierdie keer
met dreigemente die skrik op die lyf te ja, en hy stamp aan haar
kamerdeur en roep uit: "As nôi nie nou die deur oopmaak en die geld
vir my gee nie, dan gaan ek die byl haal en kap die deur oop en vat
al die geld. Ag nôi, toe gee my 'n handvol geld; die ander kan jy
maar vir julle hou."

Daar kom geen antwoord nie, en Oortjies stap na die kombuis toe om
die byl te gaan haal; maar toe hy dit daar nie vind nie, kry hy die
roer in die eetkamer en wou met die kolf daarvan die deur oopstamp.

Toe roep die vrou uit: "Ek het die handbyl hier; en as jy durf jou
kop in my kamer insteek, dan splyt ek dit middeldeur."

Oortjies ken sy nôi en weet dat sy doen wat sy sê; dus het hy sy
planne opgegee, het die roer, kruit en koeëls gevat en het daarmee
die vlug geneem en is tot vandag nog weg.

Maar dit het die vrou in die toegesluite kamer nog nie geweet nie.

Dit raak toe doodstil in die huis. Dit was 'n platdak-huis met 'n laag
brakgrond op die dak om die water uit te hou; dus is daar geen kans
om van een kamer na die ander oor te klim nie. Die gevaar is dat hy
deur die venster en deur met die geweer op hulle kan skiet. Sy maak
'n bed in die hoek van die kamer, tel haar slapende kindertjies op
en lê hul daarop neer, en sy gaan naas hul op die kermisbed lê en
luister en wag op wat gaan gebeur.

Die stilte duur voort. Eers kon sy nie slaap nie, maar sluimer later
tog in, want die Boesman moet tog eers 'n rumoer maak eer hy kan inkom.

Die oggend toe die son uitkom en die twee Basoetoe-wagters die vee
kom haal, het sy maar stilgebly, om verder gevaar af te weer. Toe hul
in die veld was, het sy die huis toegesluit en met haar twee kinders
na die plaas van haar oudste broer gevlug.

Maar hoe 'n vlug was dit? Sy moes 'n uur te voet die jongste kind
van 'n jaar oud dra, en plek-plek die kind van drie jaar ook. Die
twee onskuldige kinders het toe glad nie geweet of verstaan dat dit
'n vlugtery was nie, want hul het die hele nag soet deurgeslaap;
die jongste een het wel tweemaal in die nag wakker geword om melk te
drink, maar het dadelik weer aan slaap geval sonder eens te weet in
watter angs hulle arme moeder verkeer het.



NO. 86.

VEG BOESMANS OOK ONDER MEKAAR?


    OPMEKINGS:--Ons maak hier kennis met 'n heel interessante ou
    skepsel, outa Bles, wat tussen tagtig en neentig jaar oud was.


Dit was in die jaar 1882, toe sit ons een aand ná sononder op ons
stoep op Calvinia. Onderwyl stap daar 'n ou Boesman voor die deur
verby. Sy sonderlinge postuur en houding tref ons, en ons slaan
noukeurig ag op hom. Hy merk dit, groet, en hy stap nader en vra 'n
pruimpie tabak. By dié geleentheid vind ons uit dat hy ons baie van
die Boesmans kan vertel. Hy was daar op kuier by vrinde. Ons het hom
nie alleen tabak, maar ook 'n stuk kos gegee en hom versoek om ons
te vertel van die ou dae. Hy vra toe 'n slaapplek in die agterplaas;
dus het ons genoeg geleentheid gehad om met outa Bles te gesels.

Op vrae wat ons af en aan gestel het, vertel hy ongeveer sy storie
as volg:--

"Toe die Engelse in hierdie land gekom het, was ek só groot (hy wys
met sy hand, sodat hy toe omtrent tien jaar moes gewees het). Boesmans
wat uit Kaapstad weggeloop het, het die tyding van die Engelse skepe
gebring. Ons het toe van sulke dinge maar min verstaan. Ek is in die
Roggeveldberge gebore; maar toe die weggelope Boesmans by ons gekom
het, was ons in die Cederberge en dan weer in Ceres se wêreld. Daar
was toe nog baie wild in daardie berge, wat ons in staat gestel het om
die bokke van naby te bekruip. Met die ronddwaal daar het ek al begin
groterig word en weet nou nog goed wat in daardie dae plaasgevind
het. As ek daaroor dink, dan is dit vir my as die dag van gister.

"In daardie dae het dit in ons berge mooi gereën; maar in die Karoo
was dit nog baie droog. Al die wild trek toe na ons bergveld-toe, en
toe kom die Boesmans van die Moordenaars-Karoo en van die Groot-Karoo
na ons berge toe. En hoe dit gekom het, het ek nooit verstaan nie;
maar tog, daar het skoor ontstaan tussen ons Berg-Boesmans en die
Karoo-Boesmans. En hulle praat somar van mekaar te skiet.

"Maar, my basie, ons Boesmans kan mos nie met mekaar oorlog maak soos
ek nou verstaan hoe die mense en Kaffers oorlog maak en met mekaar
veg nie. Kyk, as 'n Boesman daar agter 'n klip of in 'n gat lê,
watter ander Boesman sal dit waag om hom daar te gaan bekruip? Nee,
ons sal mekaar gaan betrek daar waar vleis gebraai en gedans word,
of waar in die donker om die vuur gesit word. Maar dan weer, wie sal
so dom wees om in sulke gevaarlike tye in die ope lug te gaan vuur
maak of te gaan dans, sodat hul die tamboer en musiek van ver kan
hoor? Nee, my basie, al ons Boesmans weet goed dat ons onder mekaar
nie kan veg nie. Het iemand vir jou kwaad gemaak, dan is dit alleen
die saak tussen jou en tussen hom; en die ander het daar glad niks
mee te doen nie. Julle twee moet maar self julle eie sake regmaak. Wat
help dit as ander vir hulle daaroor sal laat doodskiet?

"Maar die ding word glad anders as baie kom om ons Boesmans in 'n hoop
aan te pak; dan staan ons gelyk, en nou veg ons teen 'n gemeenskaplike
vyand wat nie ons eie nasie is nie. Ons veg dan òf teen die witman òf
teen die Hottentot òf teen die Kaffer. Met hulle kan ons beter veg,
want hulle kom na ons toe; al wat ons moet doen, is om vir baie pyle
te sôre en doodstil in ons wegkruipplek te lê. Daar sal hulle gewere
en asgaaie ons nie uitkry nie; maar net honger en dors sal vir ons
daar uit die wegkruipplek uitdrywe. Want ons Boesmans dra mos nie so
baie kos en water met ons saam nie. Nee, my basie, die witmense en
die Hottentots en die Kaffers sê dat hulle vir ons uitgeroei het. Nee,
nou jok hul mos; want dis die honger en die dors as hul ons vaskeer,
wat vir ons gedaan gemaak het. Nou, sê vir my, my basie, is honger en
dors dan mense? En wie kan met hulle baklei of speel? Hulle is man
en vrou; hulle is ons algar se baas en nôi; hulle slaan seer houe
as hul slaan. Hulle order aldag vir ons rond. En al die mense werk
verniet vir daardie baas en nôi. Hulle vra nie vir jou of jy siek
of gesond is nie. Honger en dors ja vir jou gou uit die siekbed;
hulle ja vir jou uit as dit reën, hulle ja vir jou uit as dit koud
of warm is. Ja, my basie, hulle ja vir jou uit dwarsdeur jou vyande
wanneer hul met koeëls op jou skiet en wanneer hul met asgaaie vir
jou steek. Verstaan my basie nou dat dit net honger en dors is wat
ons Boesmans so uitroei? Die honger en dors is die honde wat vir
geweer en asgaai die Boesman uit sy skuiling moet uitja.

"Maar die saak met Boesman teen Boesman is glad anders: As die een
'n stuk wild geskiet het, dan deel hy dit mee aan dié wat niks geskiet
het nie. Môre skiet daardie een weer iets, dan deel hy weer aan dié wat
vir hom kos gegee het; en so help ons mekaar. Ons is nie afgunstig nie;
net my pyle en boog, my vrou en kinders, my velle en potte is myne;
maar die ding waaroor hul oorlog maak, soos grond, water, vee, en
sulke goed, is ons algar s'n same: waaroor moet ons Boesmans daaroor
baklei? En vat hy aan my goed, dan, het ek mos vir baas gesê, is dit
'n saak tussen my en hom, waarmee die ander niks te doen het nie.

"Kyk, my baas, nou sal ek vir jou die poedelnakende waarheid
vertel. Ons het nie kapteins om vir ons te roep om oorlog te kom
maak nie; en as niemand ons roep nie, wie sal dan gaan? Basie, die
kapteins, dis hulle dié wat al die kwaad stook; en ander wat die
rusie nie gemaak het nie, dié moet oorlog maak."



NO. 87.

DIE VERKEERDE VOLSTRUIS.


    OPMERKINGS:--Hierdie verhaal is 'n voortsetting van die vorige
    (No. 86).


Op vrae en kruisvrae vertel ou Bles nog verder:--"My basie, glo vir
my, ons Boesmans kom swaar aan ons stukkie kos. As dit reën, dan kan
ons nie jag nie, want dan word die boogsnaar nat en dryf dan die pyl
nie te vinnig voort nie. Dan kom nog daarby, die snaar is van senings
saamgedraai; en as dit nat word, dan draai dit alte graag los. Verder,
as die wind sterk waai, dan moet ons die wild baie naby bykom, anders
raak ons nie, daar die wind die gang van die pyl belemmer.

"Nou, so baie witmense het al vir my gevra waarom ons nie ook saai en
plant nie; toe het ek geantwoord dat as hulle in ons plek sou gewees
het, sou hul maar net dieselfde gedoen het. Die grootste hinderpaal by
ons is dat ons nie yster het nie. Jy kan mos nie grond met stokke of
horings omgrawe nie! Ons het maar hier en daar stukkies yster by ander
nasies opgetel. Van die Kaffers wat ons nasie so vervolg en vermoor
het, het ons asgaaie afgeneem, en daardie asgaaie het ons skerp geslyp,
sodat ons dié ook vir messe om vleis mee te sny, kan gebruik. Verder
het ons vir ons met klipmesse moes behelp. Dis mos 'n gesukkel om 'n
bok met 'n stomp klipmes af te slag en stukkend te sny--nie waar nie?

"Ek het al daarby gesit dat die mense praat oor hoe fyn ons wild
bekruip en hoe net ons skiet. My hart voel dan somar groots; maar
stilweg sê ek: Julle weet nie watter moeite en gevare dit alles kos
nie. Glo vir my, my basie, dit gebeur baiemaal dat ons wild bekruip
onderwyl 'n leeu vir ons bekruip. Of dit gebeur dat ons en 'n leeu
saam, sonder van mekaar te weet, een en dieselfde wildding beoog en
bekruip. Ons skiet, en dan spring die leeu uit en pak die buit voor ons
neus weg. Nou, dis gemaklik genoeg vir mense wat roers het, om vir ons,
wat maar stomp pyle het, te sê dat ons dan maar die leeu daar by die
bok moet doodskiet. Ons skiet nie altyd 'n doodskot nie. En hoe dan
as die leeu lig gewond is--hoe dan met jou? Ons het darem baie planne
om reg te kom. As ons sien dat 'n leeu saam met ons die bok bekruip,
dan lê ons maar stil of soek onderkant sy wind te kom. As daar 'n boom
daar naby is, dan probeer ons om in die boom te klim en lok dan die
leeu na ons toe en skiet hom as hy onder die boom is. Maar die ongeluk
is, as ons wild bekruip, dan is ons meestal net een man. Kan jy op jou
pyl en jou korrelhou staat maak, dan kan jy maar probeer om hom die
pyl voor die bors, of as hy dwars lê, agter sy blaaie in te drywe,
om sodoende 'n doodskot te gee. Maar dan moet jy baie seker van jou
saak wees voordat jy probeer om dit uit te voer. Dit hang daar ook
baie van af watter soort gif jy gebruik: alle soorte gif is nie ewe
sterk nie. Daar is 'n soort gif wat dadelik soos die ding geskiet word,
op sy senuwee werk, sodat hy nie kan wegkom nie; dan weer is daar gif
wat stadiger werk en die wildding 'n kans gee om 'n entjie te hardloop
eer hy neerslaan. Ons moet ook soms die regte gif ver gaan haal, dit
daar op die plek klaar maak, dit in volstruiseierdoppe gooi, toeplak,
en dan na ons veraf-geleë plek oorbring om dit daar in voorraad te hou.

"By ons Boesmans bestaan ook 'n soort ruilery. By voorbeeld, op een
plek is mooi klei om potte mee te maak, by die ander plek is weer
goeie gif, en by 'n ander plek is weer rooiklip (oker) om die lyf mee
te smeer of om mee te skilder. Dan gebeur dit in sulke gevalle dat
'n ruilery plaasvind. Ons gee ook presente oor en weer.

"Die ongedierte was in vroeër dae 'n baie groot gevaar vir ons. Dit
was glad nie gewaag om ná of kort voor sonsondergang alleen in die
veld rond te loop nie; want dan is dit die tyd dat leeus, tiere en
wolwe uit hulle skuilplek te voorskyn kom; hulle is dan hongerig en
begin rond te jag. By daardie tyd moet ons sôre dat ons tuis is en
dat ons vure brand, om, as hul ons wil aanpak, klaar te wees om hul
met stompe vuur van ons af te weer. Hulle is alte lief om ons spoor
te vat, vernaamlik as ons wild geskiet het, of vleis na ons werf dra
en van die bloeddruppels het op die grond geval sover as ons geloop
het. Of hulle kan ook die vleis en bloed op ons werwe van veraf
ruik. Dan kom hul snuffel.

"In die oggend of gedurende die dag sal 'n leeu 'n mens nie somar
pla nie, vernaamlik as die son die dag baie warm is. Maar tog, dit
gebeur dat jy skielik op sy lyf afkom, dan voel hy onrustig en dink
jy kom hom opsoek. In sulke gevalle sal hy sy lyf klaarmaak om jou te
bevlie. Hy neem ook soms in die dag sy kans waar as hy die vorige nag
'n slegte jag gemaak het.

"Eenmaal het ek met 'n jong leeumannetjie noustrop getrek. Ek bekruip
'n hartbees wat in die koelte van 'n boom staan en vlieë wegja. Die
jong leeumannetjie was op dieselfde besigheid uit as ek. Toe ons mekaar
gewaar, was ons nog geen twintig tree van mekaar nie. Hy verander
sy plan en kies my uit in plaas van die bok. Nou, die ou Boesmans
het my vertel--want ek was toe maar nog 'n jong Boesman--dat as jy
jou bekruipmus van jou kop afhaal, dit in jou mond vasbyt, sodat die
hol kant na vorentoe staan en nes 'n groot oopgespalkte bek van iets
lyk, dat 'n leeu jou dan nie somar sal bespring nie. Wel, daar was
vir my geen ander raad nie--want vandag is ek dood se kind. Ek pluk
gou die bekruipmus van my kop af en byt dit tussen my tande vas,
knor hard, en staan op hande en voete klaar vir die leeu om hom te
bevlie. Hierdie gesig moes vir hom tog te aaklig gelyk het; hy skrik,
steier agtertoe, en stap omkyk-omkyk weg. Toe hy op veilige afstand
was, skeur hy die wêreld vorentoe sonder om òm te kyk, en hy verdwyn
spoedig oor die kliprandjie. Maar ek kan darem my basie verseker:
dit vorder moed en koerasie om so voor 'n leeu reg te staan.

"Ja. Nou, my basie, jy het my gevra hoe ek hierdie bles op my kop
bekom het. Dit het ook deur die jag gekom, en ek sal die baas die
ding mooi haarfyn vertel.

"Ek was toe nog 'n jong Boesman (soos hy beduie omtrent twintig
jaar). Dit was ná ek die ontmoeting met die jong leeu gehad het. Ek
gaan die dag ook jag. Ek het vir my 'n pak klere van 'n afgeslagte
volstruisvel gemaak. Ek het die affêre mooi reggekry, want dit was
vir die ou volk te mooi om aan te kyk hoe natuurlik ek 'n volstruis
kon namaak; en ek het net trots daarop gevoel. Wel, ek het met daardie
pak klere gaan jag. In die volstruis se nekvel het ek 'n stok gesteek
en stap nou net so parmantig in die veld as 'n volstruis self. Ek
het ver in die veld geloop en stap toe om die punt van 'n randjie
.... en toe ek my kom kry, ry twee base my op 'n kar!

"Wat eintlik gebeur het, is dit: Een van daardie base het my uit
die verte vir 'n regte volstruis aangesien; hy het my gaan voorlê;
en toe ek onder skot was, haak hy af en ploeë my met die koeël oor
die kop. Ek val bewusteloos neer; die base tel my op en bring my
na hulle kar toe en ry nou vinnig om by die water te kom om my te
lawe. Onder die ry het ek reggekom, en die baas het my na sy plaas
toe gebring. Dit was toe nog slawetyd; maar die baas en nôi was vir
my baie goed, en vernaamlik ook hulle kinders. Ek het toe somar by
daardie baas en nôi gebly. Hulle het eers na Grahamstad se wêreld
getrek. Daar het ek nog altyd by hulle gewoon; maar toe hul na die
Vrystaat met die Groot Trek saamgegaan het, het ek gesê dat ek nooit
van hulle sou weggaan nie, maar ek is tog te bang vir daardie wilde
Kaffers van daardie wêreld. Ek het baie spyt gehad, en hulle ook,
dat ek moes weggaan. Ek het toe my lewe in die Karoo geslyt; en nou
kom ek, voor ek sterf, weer my ou wêreld beskou, en dan gaan ek weer
terug na my kinders toe."



NO. 88.

STAAN TOT DIE DOOD TOE.


    OPMERKINGS:--Hierdie gebeurtenis is in 1870 in Boesmanland,
    naby Krommaag, afgespeel. Ons was net daar toe dit voorgeval het.


Dit is ons deur verskeie Boesmans wat eers wild was en later mak geword
het, verseker dat dit 'n moeilike ding vir 'n wilde Boesman is om te
verstaan waarom die witmense en basters mag vee aanhou en sê dat dit
hulle eie is, terwyl hul aan die ander kant hulle eie reg gebruik om
die Boesman se vee (die wild) te kom doodskiet of verjaag, waardeur
die Boesmans moet honger ly. Later, as hul mak word, verstaan hul die
saak beter; en dit word hul duidelik gemaak dat die witmense en basters
met vee boer, dit oppas en versorg, terwyl die wild vir hulleself moet
sorg. Maar tog, uit die oogpunt van 'n wilde Boesman gesien, lyk dit
glad nie reg nie. Hulle meen dat die witman maar in sy eie land moes
gebly het om daar met sy vee te boer, en nie hiernatoe moes gekom
het om die Boesmans se vee, gronde en waters af te neem nie. Dus, uit
weerwraak vat hul soveel van die vee van die blanke en basters as hulle
in hande kan kry; wat hul nie vir onmiddellike gebruik nodig het nie,
verniel hul op 'n gruwelike wyse, om môre maar weer ander te vat en
dié op dieselfde wyse te behandel. En tog aan die ander kant verseker
Boesmans ons dat in hulle wilde staat diefstal swaar gestraf word. As
uitgevind word dat iemand gesteel het, en die bestole persoon kom kla,
dan, as dit die man se vrou of kind is, oorhandig hy hulle aan die
klaer om hulle te straf--al was dit soms met die dood. Die man wat
gesteel het, word net so behandel; maar natuurlik moet die kwaad eers
deeglik bewys word. Bewyse en getuie moet daarvoor beskikbaar wees.

Nou, wat reg of verkeerd is, is maar 'n opienie. Skurkery waarvoor
geen wet bestaan nie, is geen misdaad nie. Die pous van Rome mag nie
trou nie, maar hy mag wyn drink; die sultan van Turkye mag wel trou,
maar mag nie wyn drink nie. In Rusland onder die saar se wet mag geen
moordenaar opgehang word nie; maar 'n skurk word voor die voorkop
gebrandmerk, of sy neus word afgesny, of sy oor verwyder. Dit is ons
menslike begrip van reg. En hoe omtrent die Boesman se opvatting? En
daarby kom nog: Hy is so kort van verstand. Hy verdedig sy grondgebied
deur middels waaroor hy beskik. Maar dis darem baie onplesierige en
wrede middels! Straf word alleen toegepas op die dommes wat so sleg
is om uitgevinde te word: die slim skelms kom altyd vry.

Die Boesman, aan die ander kant, as die instellings van die blanke
vir hom duidelik geword het, is gewillig by die witman en baster te
werk. Daar is oor en oor genoeg bewyse dat as hy weet dat sy baas
hom regtig vertrou, hy sy baas ook getrou dien. Daar is ewe soveel
bewyse dat hy vir bewese weldade dankbaar en erkentlik is. Hy doen
dit nie juis in dieselfde sin as 'n getroue hond nie, maar sal selfs
uit sy pad vir sy baas gaan om hom 'n vrindskap te bewys of voordeel
te laat bekom. Hy moet daartoe op 'n boerplaas opgevoed word. Die
dorp is sy sedelike verderf: daar kry hy drank, en hy ken geen maat
nie; daar kom hy in aanraking met lae karakters, en hy self is nie
standvastig nie. Op sendingstasies was hy 'n mislukking, omdat hy vir
hoër begrippe onvatbaar is. Dit het vir die beskaafde nasies van die
wêreld eeue geneem om beskaaf te word; hoe kan 'n skepsel so laag as
'n Boesman in 'n paar jaar beskaaf word?

Nou gaan ons weer 'n verhaal meedeel om die roekelose handelwyse van
wilde Boesmans bloot te stel--dade waartoe hy hom volkome geregtig
vind.

In 1870 het 'n klompie basters met hulle talryke vee saam op 'n plek
in die nabyheid van Hartbeesrivier in Boesmanland gaan staan. Die
veld was pragtig, en water was volop; dus was die vee vet, en die
mense was vrolik. Op 'n sekere dag kom die veewagters vertel dat drie
wilde Boesmans met 'n klompie osse voort is. Dadelik word die perde
gehaal, opgesaal, en 'n klein gewapende mag volg die spore. Hulle
druk op so vinnig as hul kan; want die Boesmans was ver voor. In
sulke gevalle jaag die Boesmans die gestole vee so hard as hul kan
gaan, sodat hulle tyd wen om te slag en te braai. Want hulle weet
dat die eienaar tesame met andere hulle tog sal agtervolg. 'n Paar
beeste het op pad flou geword. In plaas van hul agter te laat staan,
skiet hul hulle met gifpyle dood om te dien as voedsel vir aasvoëls,
leeus, wolwe en jakkalse; maar die baas wat die beeste opgepas en
versorg het, aan dié gun hul dit nie. Hulle slaan en gooi die beeste
wat nog kan loop, om hul op 'n stywe draf te hou.

Kort ná die middag het die basters die Boesmans met die geroofde
beeste ingeja. Die vee staan toe op die oop vlakte. Maar waar is die
Boesmans? En is hul nog drie? Pas op nou om 'n bees te gaan keer:
jy of die dier kry die gifpyl. Op die gelyk vlakte kan 'n Boesman
hom net so gevaarlik wegsteek as in die skurfste randjie. Hulle is
fyn en geslepe om nie die geringste aanduiding te gee van waar hulle
skuilplek is nie. Maar die basters, net soos die blanke van daardie
streek, weet hoe om Boesmans te jag en uit te snuffel. Dit het ook
nie te lank geduur nie, of die basters weet presies waar die drie
gate in die grond gegrawe is. Uit die middelste gat sien hul af en
toe die loop van 'n geweer uitsteek.

By dié geleenthede roep die twee symaats uit: "Wag, moenie skiet nie;
laat hul maar eers nader kom, dan kan ons hul ook met die gifpyle
werk!"

Vir die gifpyle was die basters toe nie so bang as vir daardie roer
nie; want die roer kan verder tref as wat 'n pyl kan skiet.

Hierdie krygslis van die Boesmans het die basters vir 'n lang ruk
van aanval teruggehou. Dog toe die Boesmans so lank versuim, weet
die basters dat dit met die roer somar blinde alarm is. Hulle keer
toe versigtig die beeste tussen hulle en die Boesmans in en het
hulle kans geneem om tussen die klomp beeste deur op die drie gate
te skiet. Hulle het uitgeroep om oor te gee; maar die Boesman wou
tot die dood toe veg. En so het al drie in hulle stryd geval.

Die lewendige vee het die basters teruggekeer ná hul die drie Boesmans
in erdvarkgate begrawe het. Dog, oor wat hul gedoen het, het hul
glad nie gerus gevoel nie. Hulle het toe vir 'n ruk oor Grootrivier
gevlug; maar toe hulle vroue vir hulle laat weet dat alles veilig is,
het hulle teruggekom: die Boesmans het tog die eerste op hulle geskiet.



NO. 89.

VRYHEID--DIE GROOTSTE IDEAAL.


    OPMERKINGS:--Hierdie verhaal is ons deur mnr. J. A. R. meegedeel.


In die ou dae was dit 'n vaste gebruik by die veeboere om in die
winter met hulle vee van die Hoëveld na die Lae- of Bosveld van
Transvaal te trek. By dié geleentheid is in die ou dae tegelykertyd
'n jag op grootwild gemaak.

Die Hoëveld word in die winter baie koud; want dit lê tussen 5,000
en 6,000 voet bokant die see. Selfs van die wild en ook van die
Boesmans wat die wild agtervolg, trek na die warmer streke gedurende
die koue jaargety. April en Mei is gewoonlik die maande wanneer die
trek begin. Met Nagmaal kom die trekboere eers kerk-toe, koop by
die winkels met daardie geleentheid wat nodig vir die winterveld is,
en ná afloop daarvan gaan hul hulle vee haal; en oor veertien dae is
daar maar min boere op hulle somersplase te vinde.

'n Geselskap het Elandsberg-af getrek en het verstrooid langs
Elandspruit in daardie groot vallei met hoë berge omring, gaan
staan. In daardie streke was elande, buffels, renosters, kamele en
olifante, sonder om van blou-wildebeeste, koedoes, kwaggas, bos-
en vlakvarke, rooibokke en seekoeie eens te praat.

In daardie tyd kom daar 'n buitengewoon groot reën, want die winter
is in Transvaal nie die reëntyd nie. Gewoonlik gaan so 'n reën met
koue weer gepaard, en die Hoëveld kry dan gewoonlik kapok.

Ná die weer opgeklaar het, word twee koeie en 'n kalf van een van die
trekboere vermis. Die witmense het met die jag opgelet en gesoek;
maar die saak is meestal aan die Kaffers opgedra om tussen die
berge en klowe te voet te gaan soek; want die Drakensberge is maar
'n ruie gebergte. Die Kaffers vind niks nie; ook het die jagters niks
gewaar nie. Dit het by vorige jare ook gebeur dat vee by klompies-wyse
stilletjies wegraak. Die mense maak toe hulle planne op om die oorsaak
uit te vind. Maar in hierdie geval was dit onmoontlik, want die spore
was doodgereën; dus wag hul op die eerste die beste geleentheid.

Omtrent drie dae ná die twee koeie en die kalf weggeraak het, kom die
Kaffers vertel dat hul 'n klompie buffels in die onder-ent van 'n kloof
sien wei het. Die jagters stuur toe die volgende oggend vroeg 'n klomp
jag-Kaffers om die buffels die smal en diep kloof op te jaag. In die
kloof was wildvoetpaaie; langs die rande kon hul nie bra uit nie, want
dit het steil kranse; maar bo is 'n nek waar die voetpaaie uitgaan,
en daar gaan die jagters die buffels voorlê. Hulle skiet toe 'n stuk
of wat daarvan dood; een buffel word swaar gewond, hy spring kortom en
vlug in die kloof af. Die jagters stuur 'n Kaffer agterna om die buffel
op te pas onderwyl hul nog met die ander vlugtende wild besig is.

Die gewonde buffel val in die kloof aan die voet van die nek dood. En
toe die Kaffer by die buffel kom, vlie 'n Boesman se pyl kort teen sy
kop verby. Hy hou dadelik sy skildvel voor (want hy was 'n Swasie),
en onder pyl-geskiet stap hy skuil-skuil agteruit en vlug agter 'n
groot rots in en roep uit: "Baas, pas op! Hier is Boesmans, en hulle
skiet met pyle."

Een van die jagters kon 'n Boesman voor 'n groot skeur in 'n klipkrans
sien staan. Die jagter vuur op die skeur, en die Boesman verdwyn
daarin.

Die vlugtende wild was toe al algar verby. Die Swasies wat die wild
aangekeer het, is nog ver onder in die kloof en kom aan. Die jagters
daal van die nekkie te voet af na die kloof waar hul die Boesman
in die skeur gesien het, en skiet af en toe 'n koeël in die skeur,
en die Boesmans skiet ook in die rigting van die mense, wat skuil.

Oom Pieter--een van die jagters--het reeds baie ondervinding in
gevegte met Boesmans opgedoen, en algar was gewillig om sy orders
op te volg. Hy roep toe een van die Boesman-agterryers en sê aan hom
om aan die Boesmans in die skeur uit te roep om oor te gee. Eers kom
daar geen antwoord nie; later antwoord hy terug dat hy veilig daar is
en vra waarom hy moet oorgee. Hy weet as hy oorgee, dan maak hul hom
dood. Die mak Boesman antwoord terug dat die een in die skeur gerus
kan uitkom: sy lewe is gewaarborg; want hoekom maak die mense vir hom,
wat agterryer is, nie dood nie.

Die Boesman in die skeur antwoord terug: "Nou, ek wil nie agterryer
wees nie; ek is my eie baas en wil my eie baas sterwe."

Oom Pieter vra toe aan die Kaffers, wat by hierdie tyd algar daar
was, of hul die plek goed ken. Een gee antwoord dat hy vir 'n maand
terug daar 'n jakkals gesien inhardloop het. Hy het toe die plek gaan
beskou, en hy vertel dat die skeur voor maar nou is; maar agtertoe in
is dit wyd en het nog ander sykamers. Daarop het hul die plek in die
nabyheid van die grot verder goed verken om uit te vind of daar nie
nog ander skeure is waaruit die Boesmans kon skiet nie. Dit het nie so
gelyk nie, want die rotse aan weersye van die ingang was vaste rotse;
dus het oom Pieter besluit om 'n groot rook voor die skeur te maak
en om die Boesman op hierdie manier tot oorgawe te dwing. Met lang
gaffels het hul droë gras en groen takke voor die ingang opgehoop;
en voor dit aan brand gesteek word, word die Boesman nogmaals gevra
om oor te gee; maar toe daar glad nie antwoord kom nie, gaan die vuur
in die hoop voor die bek van die grot.

Ná 'n hele ruk te gewag het, tot die brandstof uitgesmoor het, word
weer uitgeroep om uit te kom, daar die jagters toe kinders binne-in
kon hoor huil. Toe word alle middels aangewend om al was dit maar die
meide met hulle kinders te red; maar een van die meide roep terug:
"Ons maak net soos ons mans maak."

Die jagters kom toe tot die gevolgtrekking dat nie genoeg rook die
gat binnedring nie; toe word meer brandstof aangevoer en met die
gaffels brandend dieper die gat ingestoot. Die stilte duur binne-in
voort--algar die Boesmans weier stilswyend om uit te kom.

Intussen het die Kaffers begin met die afslag van die wild. Daar het
baie Swasies 'n dag ver van Komatierivier se kant gekom om met die jag
te help; dus het dit nie lank geduur nie, of hulle het die vleis na 'n
plek gedra vanwaar dit met sleë gehaal is om daar biltong van te maak.

Met rondsoek daar om die gat, vind hul die geraamtes van die twee koeie
en die kalf; wat die Boesmans nie opgeëet het nie, is deur die wilde
gedierte verslind. Die lyke van die Boesmans met vroue en kinders is
later in die gate ontdek, saam met vleis van die drie beeste.



NO. 90.

LIEWERS STERWE AS OORGEE.


    OPMERKINGS:--Hierdie verhaal is aan ons deur mnr. Heink Vissagie,
    Zooverbij, Calvinia, en ander in 1882 vertel.


Die Boesman, as kind van die natuur, wil volkome vry wees. God het hom
vryheid gegee, en vry wil hy sterwe. In die strewe om vry te wees,
moet hy vir self bestaan hard veg. Van gerief en gemak weet hy min
af. Slaan maar ag op hoe hy gehuisves is; en dan moet ons erken dat
die meeste voëls 'n beter begrip van gerieflike huisvesting besit as
'n Boesman--wat tog 'n baie hoër wese is as 'n voël. Die voëltjies
bou mooi nessies en veer dit sag uit om warmte aan hulle kroos te
besorg. Maar dan weer, nes die voëls, slaap die Boesmans net waar hul
'n skuiling kan vind; en die voëls ook het gedurende die winter geen
nessies nie.

Maar wag, die Boesman maak tog 'n soort van skuiling--dog baie
ongerieflik, aangesien hy 'n mens is. In warm en mooi weer, as die
Boesman op jag is, slaap hy agter 'n bos of klip en het die sterrehemel
vir 'n kombers. Maar as hy woon, dan verkies hy 'n spelonk of grot
bo alles. Hy is dan tevrede om voor die wye opening bosse en takke te
plaas, in plaas van om 'n stewige muur van grond of klip te bou. Van
boukuns weet hy absoluut niks af nie. Sy geliefkoosde huis, egter, is
'n skuiling van matjies gemaak. Die matjies maak hy van matjiesgoed en
vervoer dié orals met hom mee as hy op trek is. Teen sononder breek hy
takke, plant dié in die grond, sprei die matjies daaroor, en maak dit
op 'n manier vas. So 'n hut is glad nie bestand teen swaar reëns nie;
dit lek dan soos 'n gieter.

Kan hy geen takke kry om in die grond te plant nie, dan grawe hy
'n gat in die grond net so groot dat hy daarin opgerol kan lê. Hy
neem los klippe of klein bossies en maak om die gat 'n skermpie. Op
'n manier span hy die matjies oor die skermpie en kruip daaronder in
as herberg vir die nag. So maak elk afsonderlik. Dog as hul spelonke
kies om in te woon, dan slaap almal daarin saam.

'n Boesman mag 'n klein klipgat vir tydelike verblyf kies, maar nooit
vir 'n vaste woning nie. Van dié soort vind ons baie in die veld. In
sommige tref ons ook van hulle skilderinge aan. Die grootste nut,
egter, van sulke klein gate is om in tyd van gevaar in te vlug,
waaruit hul dan met die gifpyle kan skiet. So het baie van sulke
soort klipgate 'n wonderlike geskiedenis aan hulle verbonde.

Ons persoonlik was gevra om die plaas Zooverbij aan die Hantamrivier
op te meet. Met die steek van 'n pylvlag op 'n seker koppie, deel
die eienaar ons mee dat die naam van die koppie Bamboeskop is; en
voor hy ons die besonderhede gee waarom die naam so gekies is, wys hy
'n klein klipgrot aan aan die sy van die koppie en vervolg:--

"In vroeër tyd het hier in hierdie buurte 'n ou Boesman met die naam
van Bamboes rondgedwaal; hy was 'n beroemde veedief en 'n nog beroemder
boogskut. Hy was een van die soort wat so moeilik was om in hande te
kry as 'n dassie in 'n skurwe klipkrans. Die poliesie het al jagte op
hom gemaak, maar kon hom maar nooit in die hande kry nie. Die base van
die gestole vee het alle middels aangewend om sy verblyf uit te vind,
maar alles verniet: hy weet sy spore te vernietig; en dan, vandag is
hy hier en môre is hy daar."

Hier onderbreek 'n ander man wat daarby staan, die gesprek, en hy sê:--

"Wag, neef Heink, behou jou rede; laat ek eers vertel wat ou Bamboes
êrens in ons buurte gewaag het, en dan kan jy maar klaar end uit
vertel.

"My ou oom het eendag net van 'n ver rit met sy flukse bont ryperd
tuisgekom. Hy het die perd gelos om veld-toe te gaan. Hy het toe 'n
ander ryperd geneem om sy vee in die buiteveld te gaan beskou. Daar
ver in die veld, toe hy om die punt van 'n randjie kom, sien hy
'n Boesman met sy bont ryperd ja of die dood agter hom is. Hy merk
onraad en gee sy perd die teuels en agtervolg die Boesman. Gelukkig,
die bont perd was nog baie moeg; anders sou die Boesman daarmee skoon
van my oom weggeja het. My oom wen, maar nie so vinnig as hy verlang
het nie. Dit sou nog langer geduur het om die Boesman in te haal,
maar gelukkig trap die perd in 'n erdvarkgat, slaan neer, en die
Boesman val dat die stof so trek. Die eerste wat die Boesman doen
toe hy van die grond opspring, was om na sy pyle en boog te gryp,
en hy gaan agter die perd reg staan en loer skrams voor die perd se
bors verby wat my ou oom nou wil maak.

"My ou oom kon op sy skot reken; maar nie noudat hy so bewe van
boosheid en ontsteltenis nie; hy het dus nie gewaag om 'n skrams skot
op die Boesman te vuur nie. So na wou hy ook nie ry om onder pylskot
te kom nie. Dus staan hy op veilige afstand die Boesman aan te kyk,
en die Boesman loer voor die bors van die perd verby om te kyk wat die
oubaas wil maak. My ou oom se omry sal niks help nie, want die Boesman
draai die perd altyd voor hom. Dié plan het die Boesman gekry om die
agtermiddag mee om te maak. Geen hulp daag op nie. My ou oom begin toe
voor en agter die perd stofskote in die grond te skiet om te kyk of
die perd nie wil skrik en weghardloop nie; maar die vergalgste Boesman
klou nes 'n bloedsuier aan die perd vas. Wat eindelik daar by die perd
gebeur het, weet my oom nie. Of die perd die Boesman gekap of getrap
het, kan hy nie sê nie; want die perd was 'n bietjie wys. Die perd kom
los en spring weg. My ou oom was klaar om die Boesman met die koeël
te pleister; dog die skelm het soos rook verdwyn--vermoedelik in die
erdvarkgat gekruip waarin die perd getrap het. Toe die bont perd buite
pylskot draf, het my ou oom hom gevang en met hom staanplek-toe geja.

"Maar watter soort jaery was dit tent-toe? Want my ou oom moes
gedurig omkyk of die Boesman hom nie agtervolg nie. Maar gelukkig
het hy die staanplek veilig bereik. By ondersoek na die skelm blyk
dit dat dit niemand anders was nie as ou Bamboes wat weer na daardie
buurte getrek het om daar kwaad te doen. Hy sou seker die bont perd,
toe hy weghol, doodgeskiet het, was dit nie dat die perd te ver was
toe Bamboes veilig in die gat was nie."

Hierop vervolg oom Heink weer sy verhaal omtrent Bamboeskop en
vertel:--

"Daar kom 'n dag wanneer die fynste skelm betrap word. Bamboes was
weer met sy skaapstelery besig, en daar word hy betrap. Die mense
spoor hom op en vind uit dat hy posiesie in 'n klipgat in 'n koppie
gevat het. Hulle kon sien uit watter gat die pyle geskiet word;
want teen die sonlig kan 'n mens 'n pyl sien blink en trek.

"Hy is oor en oor gesoebat geword om maar oor te gee; maar alles
tevergeefs. Hy reken op sy krygsmanskap: hoeveel maal was hy nie
in net so 'n gevaar nie, en toe kon hul aan hom niks doen nie;
en sou hul nou iets aan hom kan doen? Nee, hy sal sy man tot die
bitterste end toe staan. As geoefende krygsman verstaan hy die kuns
om sy geskut nie in die wind weg te skiet nie. As hy afhaak, is dit
'n baie skrams skot; want die burgers wat hom in die gat vaskeer,
het baie fyn krygslis gebruik om hom daartoe te kry om sy pyle weg
te skiet. En dan, hulle roers skiet verder as 'n pyl kan raak.

"Wel, 'n heftige bombardement word op die klipgat gerig. Onder dit
alles kry Bamboes nog kanse om te skiet. Hy het hom soos 'n leeu
verdedig. Maar naderhand raak dit stil, en die burgers vermoed
dat Bamboes nou 'n doodskot gekry het. Versigtig stap hul nader,
agter beskerming van seker toestelle. Hulle vermoeding was maar te
gegrond--Bamboes is 'n lyk.

"En toe hul sy lyk ondersoek, blyk dit dat hy 'n koeël voor die kop
gekry het. Die velle van sy voorvinger en duim was deur die boogsnaar
glad weggeskeur. En toe het hy die boog met sy voete vasgeskop en
die pyl met sy tande afgetrek. En dit het ook sy voortande uitgepluk.

"Hy lê so dood sonder 'n pyl om verder mee te skiet!"



NO. 91.

DIE WREEDHEID VAN BOESMANS.


    OPMERKINGS:--Nes alle barbare is die Boesman ook soms baie
    wreed. Baie van die besonderhede het ons van meneer Willem G----,
    wat vroeër naby Grootrivier gewoon het.


Die Boesman kan baie wreed wees en 'n plesier daarin neem om iemand te
martel--vernaamlik as hy meen dat iemand 'n teenstander van hom is,
en dus hom verhinder om sy doel te bereik. Kry hy so een in hande,
en tyd om te vlug is kort, dan skiet hy hom met 'n gifpyl dood. Maar
bly daar oorgenoeg tyd oor om te vlug, dan neem hy sy kans om sy
teenstander te martel en met tyd dood te maak.

Baie getroue veewagters het die spit moes afbyt as hul nie gewillig
was om van die vee goedwillig af te gee nie. Baie veewagters is
oulik: hul maak of hul die vee goedwillig afgee; en wanneer die
diewe onder pylskot uit is, dan vuur hulle met hul roer op die skelm;
want baie veeboere was verplig om hulle wagters teen die Boesmans te
wapen. Maar die Boesmans bekruip die wagter op so 'n fyn manier dat eer
hy hulle gewaar, dan is hy onder pylskot en kan dan nie meer vlug of
homself verdedig nie. In sulke gevalle gee die wagter vee goedwillig
af. Die Boesman loop dan; en wanneer daar 'n geleentheid kom, hol
die wagter na sy baas om die gebeurtenis te gaan vertel. Dadelik word
die Boesmans opgespoor en gevang, en by verset met pyl en boog word
hulle doodgeskiet.

Dit weet die Boesmans, en daarom maak hul 'n ander plan met die
wagter. Hulle bind hom soms aan 'n boom en slaan hom met doringtakke,
of martel hom op 'n ander manier, by voorbeeld deur hom hande en
voete vas te maak en dan kole en warm as op hom te krap.

Mnr. Willem G---- vertel ons dat hul vroeër baie las op hierdie manier
van Boesmans gekry het. Dit het baiekeer moeilik gegaan om vertroubare
wagters te kry; want hulle was deeglik bewus dat hulle lewe in gevaar
is. Dis nie alleen dat hul so wreed deur die Boesmans behandel word
nie, maar die Boesmans bekruip die wagters nes hul wild bekruip en
skiet hul op die plek dood. Dié lot het nie alleen aan gekleurde
skepsels ten deel geval nie, maar baie witmense het hulle lewe op
hierdie manier moes inskiet, en etlike wrede moorde op blankes en
hulle famielies het plaasgevind.

So vertel mnr. Willem G---- die volgende gebeurtenis:--

"Ek was 'n jongeling van omtrent twintig jaar, en my vader het in
die ou Kolonie suid van Grootrivier met sy vee op die ope gronde
rondgetrek. By een geleentheid gee die waters op, en ons was verplig
om ons staning nader na Grootrivier te verplaas. Juis te wyte aan die
Boesmans was ons skaars aan wagters om met die vee te help. Die pad
wat ons moes trek, was sanderig en swaar vir die osse om die wa deur
die woeste veld te trek. Oorlede pa was toe net siekerig; dus moes
ek en my broer van agtien jaar oud eers met die trek help om dit op
die nuwe staning te kry. Dan moes ons dadelik te voet omdraai om die
wagter met die skape deur 'n ruie plaat bosse te help. Die orders was,
as hy eerder by die ruie plek as ons kom, dan moet hy wag, sodat ons
hom daar deur kan help. Wonderlik, ek was jare daarna weer op dieselfde
plek en het dit amper nie meer geken nie: die groot digte bosse was
uitgedun. Of dit opsetlik deur die veeboere uitgebrand is, weet ek nie.

"Wel, ons sien toe die skape voor hul deur die bosse was. Ons stap
daarheen. Die wind waai na ons kant toe, dus kon ons op 'n afstand
iemand hoor benoud skree; maar dan volg daarop 'n uitbundige geskater
en harde gelag. My broer en ek kon die ding nie begryp nie; ons stap
in die rigting en klim agter 'n sandduin uit om tog te kyk wat al
daardie pret mag wees.

"Bo-oor die duine tussen die fyn bossies deur loer ons. Ons sien die
veewagter lê 'n tree of wat van 'n vuur, hande en voete gebinde. Drie
Boesmans sit om die vuur vleis te braai. Af en toe vat een 'n stomp
vuur en brand daarmee die wagter onder sy voete of ander dele van
sy liggaam--en dis vir sy pynlike geskree wat hul so danig lag! Die
wrede moordenaars sit met hulle pylkokers agter hulle rug, dog hulle
boë lê op 'n bossie. Ek en my broer maak toe plan wat om te doen.

"Die digte bosse was te ná; ons sou die drie moordenaars nie in hande
gekry het nie. Ons roers was met lopers gelaai, want daar was baie
duikers in die veld. Ons besluit toe om om die duin nader te kruip en
dan uit te roep om oor te gee; wil hul nie, dan pleister ons hul met
die lopers. Toe ons hul mooi onder skot het--ek het twee oormekaar,
en my broer korrel op die ander--, toe roep ons in Boesmantaal uit:
'Gee oor, of ons skiet!' Hulle skrik en vlug. Ons roep: 'Staan!' en
vuur toe. Twee val. Ek was weer klaar met die ander skot, en so was
my broer (want ons het dubbelloopgewere gehad); ons vuur, en daar
lê die derde morsdood. Twee was dadelik dood; dog een het nog 'n vyf
minute gelewe, maar is toe ook dood.

"Maar dit was 'n jammerte om die brandwonde aan die wagter te sien;
sy klere was ook plek-plek aan brand sonder om te vlam. My broer het
teruggehardloop om hulp. Ons het die Boesman na die staanplek vervoer
en hom daar verpleeg en gedoen wat 'n mens se hand kon doen; maar
die volgende dag is ons getroue Boesman-veewagter aan 'n smartlike
einde gekom."



NO. 92.

BOESMANS IN DIE BREEKWATER.


    OPMERKINGS:--Aangesien ons van ons eie nie genoeg gegewens omtrent
    hierdie onderwerp besit nie, so neem ons die vryheid om oor te
    neem wat mej. Lucy C. Lloyd in dr. W. H. I. Bleek se "Specimens
    of Bushman Folklore" meedeel.


Soos blyk uit die vorige storie (No. 91) en uit andere, het die
Boesmans hulle baie aan die wette vergryp. Vir moorde is hul opgehang;
maar vir veediefstalle is hul na die breekwater aan Kaapstad gestuur.

Dr. W. H. I. Bleek was 'n Duitse taalgeleerde, wat aan Mowbray,
by Kaapstad, gewoon het. Toe die geleentheid daarvoor gunstig was,
het hy verlof van die Kaapse Goewerment gekry om van die Boesmans
wat in die breekwater was en wie se tyd amper verstryk was, by hom
aan huis te neem en om alles aangaande die taal te leer wat daar te
leer is. Hy kry toe 'n ou Boesman met die Boesman-naam van 'Kabbo,
wat ook onder die naam van Jantjie bekend was. Hierdie Boesman word
toe die leermeester van dr. Bleek en sy niggie, mej. Lucy Lloyd. So
het die ou skepsel aan die een kant met sy kwaaddoen en aan die ander
kant met sy goeddoen veel tot nut gewees om kennis aangaande die
Boesmantaal vrywillig mee te deel. Sy eie storie hoe hul gevang is,
is ongeveer soos volg:--

"Die Kaffer-poliesie het vir my, my seun en my dogter haar man
vasgeknoop toe ons besig was om aan 'n springbok te eet. Ons was drie
wat gebinde was, en so gebinde is ons na die magistraat geneem. Hy
het toe met ons, en ons het met hom gepraat.

"Ons was in die tronk, en hulle het ons bene in die blok gesit. Ons
het só met ons bene in die blok moes slaap; want ons was in die huis
van vullis. Daar het ook Korannas gekom. In die tronk het ons van die
magistraat se skaapvleis gekry om te eet. Toe stuur hul ons voort;
ons vrouens het meegegaan. Op pad het hul ons skaapvleis gegee. Ons
kom toe by Victoria-Wes. Ons moes toe daar aan die pad werk en moes
groot klippe rol. Ons het toe ook met grond gewerk; ons moes dit met
kruiwaens wegstoot. Ook het ons grond op waens gelaai en moes dié
trek, onderwyl ander mense langs ons loop. Ons gooi die grond op
'n plek uit en stoot die wa terug om weer grond te gaan haal. Die
Korannas werk met ons saam.

"Van daar is ons voortgestuur. Ons arms was aan 'n ketting gebind;
ons moes met die wa meestap. Ons kom toe by Beaufort-Wes aan. Ons is
toe weer losgemaak. Ons kry toe tabak van die magistraat, en ons stap
rook-rook uit skaapbene padlangs. Dit het gereën toe ons in Beaufort
se tronk geslaap het.

"Die volgende dag is ons weer gebinde. Ons moes toe deur die rivier
deur die water stap. Die wa het voor gery, en ons moes agternastap. So
het ons aangehou tot ons by die breekwater gekom het, en werk toe daar.

"'n Witman het ons geneem en in die nag in die trein geplaas. Ons
was vroeg in die trein. Die trein hardloop toe en bring ons tot in
Kaapstad. Hulle plaas ons toe in die Kaapse tronk, en ons was baie
moeg. Ons en die Korannas het toe somar in die dag gelê en slaap."



Uit die twede vertelling sê Jantjie ('Kabbo):--

"Ek en my vrou was daar; my seun en sy vrou met 'n kind op haar rug
was daar; my dogter met 'n kind op haar rug en haar man was daar. Die
Kaffer-poliesie het ons so gekry en so weggevoer. Ons moes toe in die
wa sit; die Kaffers neem ons in die wa weg. Ons vroue het ook in die
wa gesit. Ons span toe uit en klim af. Ons het 'n vuur gemaak en vleis
gebraai en lê toe langs die vuur. My seun se vrou braai 'n springbok
wat ek met my pyl en boog geskiet het. Ons rook en lê. Die dag breek;
ons maak toe weer vuur; ons het vroeg in die oggend gerook.

"Ons ry toe weer voort en kom toe by die magistraat. Ons het toe
van ons vroue weggegaan. Ons het toe met die magistraat gaan praat,
en hy het met ons gepraat. Daarop neem hul ons toe weg en plaas ons
voete in die blok. 'n Ander witman het gekom en het die bo-stuk van
die blok oor ons voete geplaas, sodat ons nie ons voete kan uittrek
nie. Ons moes met ons voete so in die blok slaap. Die ander dag kom die
magistraat en haal ons voete uit die blok: hy wil ons 'n bietjie laat
lekker voel, want dis mos sy skaapvleis wat ons toe eet. Ander mense
het die vleis vir ons gekook. Ons rook--al is ons voete in die blok."

Tot so ver die verhaal van 'Kabbo (Jantjie).



Dis wonderlik watter indruk so 'n verandering in die lewe van 'n
Boesman maak. Hy kom uit die wildernis, alwaar beskawing nog op sy
beurt wag. Hy kom in Kaapstad en sien treine, skepe, hoë huise, en
hoe baie mense daar besig is. Die groot winkels met alle soorte goed
wat hy nie ken nie, is vir hom 'n wonder bo wonder.

Hoe streng hul Boesmans ook al in die gevangenis bewaak, hul dros
tog soms uit die breekwater weg. So is nog een droster op Hexrivier,
Clanwilliam, gevang. Snags het hy hom daar aan druiwe in die wingerd
ooreet, en oordags lê hy in die veld en slaap. Hy is opgespoor en
terug na die breekwater gestuur.



NO. 93.

UIT DIE BREEKWATER HUIS-TOE.


    OPMERKINGS:--Die geskiedenis van 'Kabbo (Jantjie) is so
    belangwekkend dat ons uit "Specimens of Bushman Folklore" ook
    die volgende verhaal van sy terugkeer huis-toe aanhaal. Let op
    die redeneervermoë.


"Jy weet dat ek hier sit en wag op die terugkeer van die maan vir my
om huis-toe te gaan, sodat ek dan mag luister na al die mense hulle
stories as ek hul 'n besoek tuis bring, dat ek mag luister na hulle
stories wat hul vertel, en dat hulle tuis mag luister na die stories
van die Plat-Boesmans aan die ander kant van die plek. Hulle kom
hulle stories vertel as die son nog maar 'n bietjie warm is, sodat ek,
sittende in die son, na hulle stories kan luister--stories wat van ver
kom. Dan sal ek in besit kom van 'n storie wat van ver aangewaai kom.

"Ek voel ek moet gaan om met my medemense daar te sit en praat; want
ek werk nou hier aan 'n vrou se huiswerk, terwyl my maats na stories
van ver af hoor. Nou hoor ek geen stories nie, omdat ek nie rondkuier
nie. Ek voel dat ek nou met mense van 'n ander soort verkeer--hulle
is nie in besit van my stories nie. Hulle praat nie in my taal nie,
want hulle gaan hulle gelyke opsoek en doen huiswerk--want hulle maak
huise aankant. Hulle werk vir kos om kos te kry. Hulle werk vir goeie
en nuwe kos.

"Die Plat-Boesman stap oor na mekaar se hutte toe, sodat hul rokende
daarvoor sit. Daarom hoor hul daar stories; want hul is gewoond om
oor en weer te kuier, daar hul rokende mense is. Wat my betref, ek
sit op die maan en wag om vir my terug te kom dat ek my voete in die
pad huis-toe kan plaas. Ek dink dat ek regtig vir die maan moet wag,
dat ek dan aan my baas kan sê dat ek nou loop om by my mense te wees,
om my gelyke op te soek. Want hier werk ek met meide saam; ek praat
nie met hulle nie, want hulle gebruik my net vir huiswerk.

"Ek moet eers 'n bietjie rus om my arms te koel, sodat die moegheid
daaruit kan gaan; want ek sit hier tevergeefs op 'n storie te wag. Ek
sit met al my ore te luister en sit stil om te wag op 'n storie. My
naam gaan vooruit; my drie name [1] vlie voort padlangs na my huis toe;
ek voel ek gaan daar sit, en draai eers my gesig na die plek waar my
hakskene was: ek gaan mos terug. Net soos die wind sweef 'n storie na
'n ander plek toe; dan gaan ons name dwarsdeur die ander mense--hulle
dink aan ons, al sien hul ons nie. Want ons name, swewende, bereik
'n ander plek. Al lê berge tussen die twee plekke, nogtans, ons
naam gaan oor al die berge heen. Die naam waarmee hy terugkeer,
dié gaan vooruit. Hy ken die pad reguit huis-toe. Die mense wat op
'n ander plek woon, hulle ore gaan luisterend die naam van die man
tegemoet. Die teruggekeerde man ondersoek sy ou plek. Die bome van
die plek lyk so mooi; want hul het intussentyd baie gegroei en is
groot. Al die tyd het die man van die plek, toe hy weg was, hul nie
gesien om onder hulle in hulle skaduwee te stap nie. Al die tyd was hy
op 'n ander plek, het daar gewoon--dit was tog nie sy plek nie. Hulle
het hom na die ander plek geneem om daar te gaan werk. En hy is die
een wat huis-toe verlang.

"Ek wag slegs op die terugkoms van die maan, dat die maan kan omgaan,
sodat die tyd vir huistoe-gaan daar is, dat ek dan die waterputte
kan beskou--naamlik dié waaruit ek gedrink het. Ek begin te werk om
die vervalle hut te herstel. Ek roep my kinders weer tesame, sodat
hul kan saam help om die water vir my in orde te maak. Ek was weg,
en vreemde het die plek betree; hulle plek is dit nie, want dit was
'Kabbo se vader se vader se plek. Toe word dit weer 'Kabbo se vader se
plek; en toe 'Kabbo se pa sterf, toe kry 'Kabbo se oudste broer die
plek. Toe dié sterwe, toe kry 'Kabbo die plek. (Die plek is bekend
by die basters as Blouputs.) 'Kabbo, toe hy uitgegroei was, trou toe
en bring sy vrou na daardie plek. Daar het die twee saam oud geword,
en hulle kinders het daar getrou. Hulle kinds-kinders het al vir
hulself kon sorg.

"'Kabbo se kinders het by hom bly woon; sy hut het in die middel
gestaan, terwyl hul naasaan in goeie hutte gewoon het. 'Kabbo se
aangenome broerskind (Betjie) trou eerste, toe daarna sy eie. Betjie
het met troue die plek verlaat, maar sy kom nog altyd haar pleegvader
besoek; want hy het haar groot gemaak."

'Kabbo vertel verder: "Haar vader was nie die een wat haar kos gegee
het nie; want hy is gestorwe en het haar nagelaat. Ek is die een wat
haar gaan haal het net toe haar moeder gesterwe het. Ek bring haar
toe na my huis toe. Ek het haar vader (my broer) nie sien sterwe nie;
ek het ook nie haar moeder sien sterwe nie. Haar moeder is gestorwe
en laat haar hulpeloos na."

Tot so ver vereers. Ons vervolg die belangwekkendste, dog treurigste
gedeelte van hierdie verhaal in die volgende storie, No. 94.



[Uit hierdie deel van die verhaal blyk dit dat indiwiduele persone
(Boesmans) vir hul seker waterregte toegeëien het.]



NO. 94.

'N BOESMAN-WEESKIND.


    OPMERKINGS:--Hierdie verhaal is 'n voortsetting van die vorige
    (No. 93).


Betjie, die Boesman-weeskind, het haar vader (die broer van 'Kabbo)
op die volgende manier verloor:--Die vader is deur iemand gedood
wat kwaad vir hom was, terwyl die vader nie vir die ander man kwaad
was nie. Hy het na 'n ander plek gaan kuier en het vyf nagte van sy
famielie weggebly. 'n Man wat by die plek was waar sy vrou woon, het
die kind intussen kos gegee; maar die kind huil gedurig oor haar eie
vader. Die man word toe kwaad vir die vader, omdat hy van sy vrou en
kind wegbly en omdat die kind gedurig oor hom huil. En toe die vader
terugkom en die nag by sy vrou in die hut gaan slaap het, kom daardie
man vroeg in die oggend en steek die vader dwarsdeur die hut met 'n
Kaffer-asgaai dood--'n asgaai wat hy op Witberg gekoop het. Toe hy
in die hut dood lê, het almal hom so verlaat--tot sy vrou--op raad
van die moordenaar; dus het die ongedierte sy lyk verslind.

Betjie se moeder sterf toe kort daarna aan 'n inwendige siekte. Sy
was nie begrawe nie, want tydens haar siekte het sy net by haar
'n jonger suster gehad wat ook aan dieselfde siekte gely het.

Die suster was swak en het met baie groot moeite die kind na die plek
van 'n famielielid oorgebring, wat ver weg geleë was. Van daardie
plek af kan 'n mens die vuur van 'Kabbo se plek in die aand sien
brand. Sy het met die kind daarheen aangesukkel, en sy ontmoet vir
'Kabbo halfpad. Hy is egter eers na die dooie moeder haar hut gegaan
om hul daar te soek, en het toe by daardie geleentheid die bene van
die dooie moeder daar sien rondlê--want haar lyk was net deur die
jakkalse verslind. Hy het in haas sy huis verlaat toe hy die tyding van
die moeder se siekte en dood van die moeder haar suster ontvang het;
want hy was bevrees dat die suster ook langs die pad sal sterwe en die
kind daar hulpeloos, lewendig en spelende by haar lyk laat, sodat die
jakkalse die kind lewendig sou verslind. Hy het sy huis vroeg in die
oggend verlaat en het die plek waar die moeder dood lê eers die aand
bereik. Hy maak toe 'n hut 'n entjie daarvandaan om in die nag daarin
te slaap. Die volgende oggend het hy die kind daar by die famielie
gaan soek. En dis toe dat hy die siek suster op pad ontmoet het. Hy
gaan toe weer met die kind na die hut wat hy laas gemaak het, slaap
die nag weer daar, en bereik sy eie huis eers die aand van daardie dag.

'Kabbo gaan voort om sy storie te vertel:--

"Ek het haar (Betjie) toe by my gebring; ek was toe nog 'n flukse
jong man en kon vinnig hardloop om te jag. En ek dink sy kan by my
oorvloed van kos kry, wat ek aan haar kan verskaf. Sy sou dit dan
eet. Sy sou dit saam met my eie kind eet, wat toe nog die enigste
was. Hulle sou saam opgroei en voor my uitgaan om te speel, daar
naby die hut; want albei eet my wild. Ek was vlug om te hardloop;
ek voel dat ek met hardloop nog baie goed kan inloop.

"Dan hardloop ek om 'n haas te vang; ek bring dit dan huis-toe in
my knapsak onderwyl die son warm is. Ek het geen springbokke gesien
nie, maar net 'n haas. Ek sien 'n pou en skiet dit. Ek steek dit in
my knapsak en bring dit huis-toe. My vrou pluk die vere tuis af. Sy
kook dit in die kleipot, dat ons sop kan eet.

"Die volgende dag gaan ek hase jag; ek loer orals in die skaduwee van
die bossies, ek skiet, die haas spring op en hardloop weg om verderaan
te vrek; ek tel dit op, sodat die kinders kan eet, want die springbokke
het weggetrek. Daarom moes ek hase vang deur agter hulle te hardloop,
dat hul deur die son se hitte kan dood val. Hulle word dan deur die
son doodgebrand; want ek weet dat die haas iets is wat nie water drink
nie. Dit eet net droë bossies en lek die dou wat daarop is. Daarom
bly die haas dorstig. Dit bly in die warm somer ook sonder water, daar
dit glad geen verstand van waterputte of damme het nie; so gaan hy nie
drink nie. Hy bly so en lê in die warm son in die koelte van bossies.

"Daarom hardloop ek agter hulle as die son warm is; sodat die son,
brandende, hulle vir my doodmaak; dat ek hul, dood deur die son,
kan eet; want dis mos ek wat hul rondgeja het, en hulle het in vrees
vir my gevlug. Uit dors en vrees gaan die haas lê om dood te gaan;
want hy het droog geword. Al die tyd het ek nie opgehou of gestap nie,
anders sou hy omgekyk het en dan van my weggehol het. Hy gaan lê om
te sterwe, want dis afmatting wat die haas uitgeput het. Die grond
was warm en het ook sy voete gebrand.

"Ek stap nader en tel die haas op en steek dit in die pylsak. Nou
gaan ek weer om 'n ander te soek. Dié een spring ook op en hol in die
son. Hy is bang en hol in die warmte rond. Ek agtervolg dié een ook en
hol tot hy ook deur die sonhitte dood val. Ek gaan ook dié haas optel,
breek sy vier bene en steek hom ook in die sak. Ek gaan dan rondom in
die bossies sy maat soek; want dit lyk vir my of hierdie haas getroud
kan wees. Ek soek nou na die wyfie. Ek haal die sak van my skouers
af dat ek vinnig kan hardloop, en lê die sak neer en vang hierdie
hasie ook. Ek bring die buit huis-toe, sodat ek, my vrou en die twee
kinders daarvan kan eet. Want ek is bang dat kambro die kinders sal
doodmaak; want in tyd van droogte gee dit skerp pyne in die kop en
'n gesuis in die ore.

"Die reën moet eers val, dan gaan ek volstruise jag. Hulle soek dan
water langs die bedding van die Harrivier en gaan dan drink. Ek gaan
voor die tyd en wag die volstruise daar af en bekruip hul in die
rivierbedding. Ek moet dan plat op my buik lê om hul te skiet. Die
volstruise wat na die weste gegaan het, kom terug om die nuwe water
te drink."

Ná dit spreek 'Kabbo sy verlange uit om van Kaapstad na sy woonplek
terug te keer. Hy wag nog vir die beloofde paar stewels, wat sterk
moet wees, want die son is warm en maak die pad ook warm. Sy woonplek
lê ver. Hy wag net op die terugkeer van die maan om te vertrek. Hy
sal sy huis bereik as die bome droog is en die blomme op die weg
daarheen verdor het. Hy sal nie eers na ander plekke toe gaan nie,
maar reguit huis-toe. Daar sal hy op die beloofde geweer wag; want
'n roer is iets wat vir 'n ou man sorg en hom nie honger laat ly
nie. Dit was net deur pure honger dat hy gedrewe was om skape te
steel en te slag, en so in die tronk gekom het. Maar met 'n roer kan
'n mens in winderige en bitter koue weer skiet, en dan het hy altyd
kos in sy huis en hoef dan nie ander se kos te eet nie.



NO. 95.

DIE KRAG VAN BYGELOOF.


    OPMERKINGS:--Hierdie ware gebeurtenis is aan ons deur oom Karel
    en sy broer Piet M---- vertel.


Net soos alle inboorlinge is die Boesman baie bygelowig. By hulle
bestaan daar altyd 'n vrees dat 'n bose gees of die gees van 'n
afgestorwene hulle gedurig gadeslaan om hul te straf as hul iets
verkeerds doen, of om hul te seën as hul hulle plig verrig. Gevolglik
is daar baie voorskrifte waaraan hul vir hulle moet hou. Bygeloof is
sterker by een persoon as by 'n ander wat hom minder aan kleinighede
steur, vernaamlik as dit hul ongerief en moeite besorg.

So vertel oom Karel en sy broer Piet toe ons oor bygeloof oor die
algemeen sit en praat:--

Hulle vader, oom Willem, het met droë vrugte en rolle tabak 'n
handelstog gaan maak en het met daardie geleentheid 'n jong Boesman
op die lyf geloop. Hy was 'n besonder geslepe ventjie en was spoedig
die gunsteling van hulle (die kinders van oom Willem). Hulle het hom
die naam van Krappies gegee. Hy was baie bygelowig, en dit was vir die
kinders te mooi; daarom kon hul so baie meer grappies met hom uitvoer.

Dit was nog in die slawetyd; maar Krappies was altyd 'n strepie
voor. Sy werk was dié van staljong en koesier, en verder moes hy vir
die varkens sorg en oplet waar die kalkoene en ganse nes maak. Voorwaar
geen swaar werk nie! Hy was op sy manier dood eerlik, maar nie by
tabak en sterk drank nie--hier steel hy waar 'n kans hom aanbied. In
die dag kry hy min kans om sy planne uit te voer, dus neem hy sy
kans waar in die aand of nag. Maar as daar op die plek sonder die
wete van Krappies 'n wit laken oor 'n regop stok gehang word, is dit
'n waarborg dat daardie drank of tabak vir Krappies ontoeganklik is.

Oom Willem se vrou sterf op haar ou dag en is in die famielie-kerkhof
daar naby op die werf begrawe. Krappies was toe ook al 'n ouerige
Boesman. Die kinders het by die graf 'n paar wit blomboompies geplant,
en toe roep oom Willem vir Krappies, stap met hom na die kerkhof en sê
aan hom dat die ounôi altyd vir hom so goed was, en om nou aan haar 'n
diens te bewys, moet hy sorg dat die blomboompies altyd water kry. En
as oom Willem eendag dood is, dan moet hy altyd die plantjies by sy
oubaas en ounôi se grafte kom nat gooi. Hy sal sien as hy dit doen
en die kerkhof verder van onkruid skoon hou, dat hy 'n gelukkige ou
dag sal hê; want die kinders sal vir hom sorg en oppas as hy siek is.

Dis te wonderlik watter effek hierdie versoek op ou Krappies gemaak
het. Van daardie dag af het hy al begin te sorg vir die kerkhof en
het nie toegelaat dat daar 'n grassie in groei nie. Hy was selfs nie
bang om saans daar by die kerkhof verby te loop nie. En die kinders
van oom Willem het dit so prysenswaardig van Krappies gevind dat
hul hom altyd vir sy attensie goed beloon het, en hulle het hom maar
daartoe aangemoedig.

Oom Willem sterf kort daarna en is naas sy vrou begrawe, en Krappies
word nog meer aan die kerkhof geheg; want hy vind, na sy mening,
dat die geeste van sy oubaas en ounôi hom seën. Almal het ou Krappies
in sy werk van plig geprys. Hy kom maar eenkeer in die maand by die
kerkhof as dit reën; maar in droë tyd dra hy water.

Maar in die laaste jare gebeur dit dat ou Krappies af en toe baie
spraaksaam en soms hoog deur die takke is, en dan sorg hy nie meer
so mooi vir die grafte nie. Hulle het al op alle maniere probeer om
uit te vind waar Krappies aan die drank kom, maar dit geluk nooit
nie. Hy kry dit by iemand anders; maar by wie?

Dit raak na Nuwejaar se kant; die kerkhof was verwaarloos. Krappies
kom sy kos haal om vir 'n hele dag daarin te werk, en niemand steur
hom verder aan Krappies nie. Hy bly die hele dag daar alleen--net
middag het hy sy kos kom haal en toe 'n dop wyn gekry.

Nou, laat ons eers die geheim vertel waar Krappies die drank vandaan
kry. Die slawe was toe lankal vry. Daar was een van die vrygeworde
slawe wat nooit gewerk het nie, en tog is hy nooit sonder geld nie. Hy
het met vertroubare volk ooreengekom dat as hul op sekere bepaalde
plekke geld plaas, hy dan in die nag daar brandewyn sal plaas en
die geld vir die brandewyn vat. Hy het te ordentlik gelyk en het
'n goeie getuigskrif van sy vorige baas gehad, sodat niemand die
minste slegte gedagte van hom gehad het nie; want hy het nog by dit
'n soort van handel gedrywe. Wel, Krappies se drank het hy altyd onder
die sipresboom in die kerkhof begrawe. Eers het Krappies saans matig
gedrink, en toe het hul nie uitgevind nie; maar later het hy in die
dag begin en word dan spraaksaam.

Ons kom weer terug na die dag toe Krappies so fluks die kerkhof
aangepak het. Nuwejaar is naby; alles moet mooi lyk. Hierdie slag was
daar nie brandewyn nie--die ander jong het met vergissing spieritus
van brandewyn in plaas van brandewyn onder die sipresboom die vorige
aand geplaas. Krappies het die sterkheid geproe, maar dag toe:
"Arrie, dis nou vir jou die regte stof!" Hy begin ná die middagete
op die dop wyn skerp aan die spieritus te drink en gaan dan weer
aan gras skoffel. Die slotsom was, toe die son haas ondergaan, het
Krappies half die horries gehad; want by al die drinkery kom nog dat
die daggapyp ook nu en dan aangespreek geword is.

Hy val vas aan die slaap, en dit word donker.

Ná hy 'n goeie ruk geslaap het, skrik hy wakker, glad deurmekaar,
sodat hy op die oomblik nie weet waar hy was nie. Hy proe nog die
smaak van spieritus in sy mond, en toe val hom iets by, nl. dat hy
in die kerkhof is. Hy kyk na sy ounôi haar grafsteen, en daar sit
'n uil (natuurlik denkbeeldig). Hy kyk na die sipresboom waaronder
die bottel begrawe lê--daar sien hy die oubaas met die bottel in die
hand staan en vra: "Krappies, Krappies, wat is dit?"

Maar Krappies kies die pad na die hekkie toe, en daar keer 'n bok
hom voor. Dog hy bars deur en hol tot in sy kamer waar hy slaap. Die
oubaas se gees het dié nag in die kamer gebly. Die ander dag was hy
siek en voel sleg. Daar het hy gelê tot hy beter was.

Maar in sy siekte kon hul sien dat iets hom kwel, en toe kom hy
met die geskiedenis uit soos hierbo vertel. Daarop het oom Karel en
oom Piet hom wysgemaak dat dit die gees van die oubaas was wat hom
kom regstel. Hy het dit so vas geglo dat hy nooit weer sy mond aan
drank wou sit nie; selfs het hy hard gestry om sy daggapyp te laat
staan. Maar tabak het hy bly rook.

Oom Karel het na die kerkhof gestap en het daar 'n halfbottel
spieritus gekry.

Hieruit kan ons sien dat 'n Boesman vir 'n ingrypende indruk ook
vatbaar is en dat die indruk by hom bly--vernaamlik as bygeloof daar
iets mee te doen het.



NO. 96.

NOG MEER OOR BYGELOOF.


    OPMERKINGS:--Hierdie verhaal is deur ou Bles in 1882 aan ons
    meegedeel. Ons het net van die Agter-Hantam van 'n opmeting na
    ons huis in Calvinia teruggekeer. Ons was pas terug, of ou Bles,
    die Boesman, kom ook van sy kuier terug en het weer die nag in die
    agterplaas geslaap. Hy het in die aand die volgende verhale vertel.


"Van ek van basie weggegaan het, het ek my ou maats gaan opsoek. Wat
nie weggetrek het nie, is dood; en dié wat ek ontmoet het, is die
jonger Boesmans, wat meestal onder die mense groot geword het; en
hulle weet van die ou dae maar min af. So kan basie ook sien ons ou
opregte nasie van Boesmans raak stadigaan gedaan, en dié wat oorbly,
sal naderhand nie meer ons taal kan praat nie. Al wat ek vir basie
van die ou dae kon uitvind, is die volgende verhale:--

"Daar ver aan die hang van 'n berg is 'n graafplek vir rooiklip. Die
Boesmans van ons tyd het altyd daar rooiklip gaan haal om hulle lyf mee
rooi te maak, om gebreide velle mee te kleur, en ook om mee mense en
diere teen die rotse af te skilder. Die man wat rooiklip het, was net
'n ryk man; want hy het daarmee onder verafwonende Boesmans handel
gedrywe. Hy het daarmee gehandel net wat sy hart begeer het; daarom
het sulke Boesmans groot gewaag om rooiklip by daardie graafplek te
gaan haal.

"Hulle het kom vertel dat in daardie berg baie kwaai towenaars woon en
dat hul soms hard met daardie towenaars oor die rooiklip moes baklei.

"Daar was in vanmelewe se dae--baie, baie lankal--'n ou geslag van
Boesmans. Hulle kon hulle in diere verander en kon ook ander goed
gemaak het. So het hul 'n gat aan die hang van die berg gegrawe;
toe maak hul rooiklip en bêre dit in daardie gat aan die hang van
die berg. Hulle het ook baie ander goed gemaak en dit daar in gate
weggesteek, want hulle woon in daardie berg, en dus kon hul mooi
oppas dat ander nie die goed opmors nie.

"Nou moet basie weet, dis nie somar almal se werk om daar rooiklip
te gaan haal nie. Hy moet man honderd wees. Maar iemand wat verstand
het en wat weet, kan daarnatoe gaan. Want so slim as die ou geslag
plek-plek was, so dom was hul plek-plek weer. Ons Boesmans wat nou
lewe, is baie slimmer om iets uit te dink en te begryp as wat hulle
was. Daardie ou geslag, weer, het baie snaakse dinge kon doen; hulle
het maklik in bome geklim, hulle het vir hulle kan verander, en kon
gevaarlik tower.

"Maar ons geslag, naamlik dié wat verstand het, kan daardie ou
towenaars uitoorlê. Ons het ook towenaars, wat slimmer as die oues
is. Dus, as ons na die graafplek van die rooiklip wil gaan, dan gaan
ons eers na een van ons towenaars toe en vra vir hom kouhoutjies om op
te byt, sodat ons die ou towenaars kan sien, maar hulle kan ons dan
nie sien nie. Dis mos 'n goeie plan hierdie, my basie--nie waar nie,
my basie?

"Ek het nou by 'n ou meid gekuier. Sy vertel haar man het altyd daar
by die berg van die rooiklip gaan haal. Hy het altyd sy eie towergoed
gemaak; dan het hy twee maats met hom na die berg toe meegeneem. Sy
vertel verder:--

"'Eendag stap die drie weer na die berg toe. Toe hul naby kom, begin
hul aan hulle kouhoutjies te kou. Toe was hul veilig. Hul stap nader
en begin toe te klim tot by die graafplek. Hul gooi al die tyd met
klippe orals in die rondte om die towenaars bang te maak. Die towenaars
kan wel die klippe sien val, maar weet nie van waar die klippe kom
nie. Die towenaars word dan bang en vlug in gate. 'n Gaatjie kan nie
te klein wees nie, of hul kan daarin kruip--ek meen die towenaars
kan daarin wegkruip. Hulle kan in 'n muisgat, in 'n skerpioengat, in
'n miergat--ja, in die kleinste gaatjie kan hulle wegkruip. Solank
die een grawe, moet die ander twee nie ophou om met klippe te gooi
nie. As hy klaar met grawe het, dan kom hy weer gooi om 'n ander een
'n kans te gee om vir hom ook rooiklip te grawe; as hy genoeg het,
dan kom hy weer met klippe gooi om die ander wat nog nie gegrawe het
nie, 'n kans te gee om vir hom ook rooiklip te grawe. As hul wegstap
met die sakke rooiklip agter hulle rug, dan slaan hul met stokke en
kieries sover as hul loop, tot hul weer op die vlakte is.

"'Nou, daardie dag toe die drie gestap het om rooiklip te gaan haal
en so met klippe gegooi het, en toe hul daar by die graafplek kom,
toe vlie uit 'n gat bo in die afgegrawe wal 'n witstert-spreeu uit,
en hy gaan op 'n bos daar naby sit en skree. My man sê toe aan sy
twee maats: "Pas op, dis een van die towenaars wat hom in 'n spreeu
verander het. Wie kan die beste skot met die pyl skiet? Dè, hier is
'n kouhoutjie." Die een kou aan die houtjie, kruip nader, skiet op
die spreeu, en tref hom. Hy stap nader, gaan sy pyl haal, maar vat
nie aan die voël nie.

"'Pas was hy terug, of daar kom bo-oor die randjie daar naby 'n groot
mannetjiesbobbejaan; hy wys sy tande, gryns en rek sy oë. Meteens
stap twee knewels van bobbejane agter die voorste aan. Hulle wys ook
tande, gryns en rek oë. My man (sê die ou meid aan Bles) gee vir sy
maats weer kouhoutjies, en al drie span hulle boë--en ieder Boesman
het sy bobbejaan teen die grond. Hulle wag 'n bietjie, en toe stap
hul nader om hulle pyle te gaan haal, wat die bobbejane self uit
hulle lywe getrek, maar weggesmyt het. Die bobbejane sit nes mense
en huil en trek self hulle eie ingewandes uit; en toe sterf hul. Want
die spreeu het hom nou in 'n bobbejaan verander en het toe twee ander
maats geroep. Die drie Boesmans het toe maar gou die rooiklip gegrawe
en haastig gemaak om terug te gaan.

"'Daar onder in die vlakte kry hul 'n slang, en toe weer 'n slang,
en toe weer 'n slang, en ieder maal kry hul 'n slang. En elkeen het
hul doodgemaak om te wys dat hul sterker is as die ou towenaars
en te toon dat hul deur die ou towenaars nie gepla wil wees nie;
want merk die ou towenaars dat iemand nie teen hulle kan opkom nie,
dan pla hul eers regtig.'

"Ja," sê ou Bles hierop, "nou kan my basie sien dat al wat 'n Boesman
wil hê, kom hy maar swaar aan; maar tog, ons is en bly 'n plesierige
nasie."



NO. 97.

'N BOESMAN SE OPVOEDING.


    OPMERKINGS:--Die besonderhede omtrent hierdie onderwerp het ons
    van ou Bles ontvang.


Die vernaamste opleiding wat 'n Boesman-jongetjie ontvang, is om goed
te kan jag; en die meidjie leer, deur haar ma te help, om met hulpelose
kinders om te gaan en om veldkos te grawe, daar dit meestal aan die
meid oorgelaat word om euntjies en wortels te grawe, om veldvrugte
te versamel, en om sulke goed te vang soos paddas, krappe, akkedisse,
en selfs wurms.

Daar bestaan haas geen sedelike opvoeding nie. Daar is hoegenaamd
geen geheime van samelewing wat nie vryuit voor kinders gepraat word
nie. En barbare is glad nie kieskeurig omtrent die onderwerpe van
hulle gesprekke nie. As gevra word waarom hul soms nakend, sonder
'n stuk klere loop, dan vra hul eenvoudig: "Hoekom loop die diere
sonder klere, en waarom moet 'n mens onnodig skaam wees as hy sonder
klere loop?" Maar tog, die Boesman besit 'n seker mate van skaamte
en loop nie heeltemal kaal nie--nes die inboorlinge van Midden-Afrika.

Die kinders leer wat te doen, meer deur aanluister en afkyk--met ander
woorde, hul leer meer deur na-aap as deur direkte onderrig. En wie is
'n groter na-aper as 'n kind? Al wat hulle ouers en ander volwassene
doen, wil en moet hul ook doen. Hulle kry seer en sukkel, maar later
kry hul dit tog op 'n manier reg; en nog later kan hul dit ook net
so goed, en soms beter, as die oues doen.

Daar bestaan by die Boesman haas geen ouderlike tug nie. Dis selde
dat hul 'n kind teen iets onbehoorliks waarsku, en nog minder word die
kinders oor kwaad gestraf. Maar wee die arme kind as sy pa of ma hom
eendag pak om hom 'n ranseling te gee--dan draai dit by die dood om;
dan slaan hul onbarmhartig. Dit gebeur ook dat as die jong of meid
net so groot en sterk as hulle ouers is, dat hulle hul dan deeglik
teen hulle ouers verset en terug slaan.

Die Boesman is eintlik nie 'n twisterige nasie nie, maar hy is
koppig. Hy gee nie in nie, of hy moet amper doodgeslaan wees; dan eers
hou hy op. Daarenteen is hy mededeelsaam; hy sal die laaste stukkie
met 'n ander deel en verwag dat daardie een dieselfde aan hom moet
doen--anders kom daar stry, of hy vat dit eenvoudig uit eie reg. Dit
alles aanskou die kinders, en hulle aap hulle ouers na.

Die wilde diere maak daar niks van om Boesmans op hulle slaapplek te
kom bekruip en op te eet nie. Daarom moet snags vuur gemaak word om
die diere mee te verdrywe. 'n Veldvuur is gesellig solank die slaaptyd
nog nie daar is nie. Ook die gesels en stories raak uitgeput, en dan
is daar niks beters om die tyd mee te verdrywe nie as om te dans.

Pretmaak hou kinders uit die slaap. Hulle let op die fyn passies wat
die dansers uitvoer, en begin, tot vermaak van hulle ouers en ander,
die passies na-aap. Van jongs af begin hul, word daardeur uitstekende
dansers en neem in knapheid toe namate hul opgroei. So word die
voornag en 'n deel van die na-nag met dans deurgebring.

Watter kind is daar in die wêreld wat nie by een of ander geleentheid
probeer het om 'n eie musiekinstrument te maak nie? Boesman-kinders
vorm hierop ook geen uitsondering nie: Hulle maak ook ghoeras en
ramkies, net soos hulle pa en ander dit doen; en spoedig boots hul
die riele na wat die ander speel. Deurdat dans 'n groot tydverdryf by
Boesmans uitmaak, en deurdat dans meer as helfte van sy bekoorlikheid
sonder musiek verloor, so word baie geoefen om musiek te kan speel
om daarmee danspartye te lei. Ook die ghoera ('n boog met een snaar
en 'n stuk vlerkveer, waarop geblaas word) dien om die eensame of
gesellige uurtjies aangenaam verby te laat vlie. Die kinders sien
dit alles en aap dit ook na.

Velle-brei is ook 'n kuns; die kinders slaan ag op die manier waarop
hulle ouers dit doen, en spoedig het elke kind 'n velletjie waaraan
hy besig is, en al doende leer hy om goeie werk te maak.

Op jeugdige ouderdom maak hul reeds kleiosse, of maak wild na met
potklei. Hulle word met die geaardheid van potklei bekend: hulle weet
watter soort bars as dit droog word, en watter soort nie bars nie. Of
spoedig vind hul uit dat potklei bars as dit in die sonskyn droog;
dus plaas hul hulle nat kleigoed in die skaduwee om te droog. Spoedig
aap hul--vernaamlik die meidjies--hulle moeders na om kleipotjies te
maak en kook kamtag hulle kos daarin. Maar die ma help hiermee haar
dogters reg.

Vroeg in sy jeug begin die jongetjie sy pyl en boog te maak en skiet
daarmee paddas en voëls, akkedisse en muise. In hierdie geval mag
die pa, die oupa, of 'n oom hul reg help om 'n goeie boog en pyl te
maak. Dog meestal is dit nie nodig nie. Hulle hoor genoeg oor boë
praat, en hoe al die goeie en slegte puntjies daarvan bespreek word.

Dus, 'n bepaalde skool om iets in te leer, weet die Boesman-kind
niks van af nie. Hy begin uit sy eie te oefen en volg maar die wenke
wat hy uit die gesprekke opvang. Maar tog, hier en daar word hy reg
gehelp. By voorbeeld, hulle wys die kinders watter giftige vrugte,
wortels of bossies te vermy. Ook word hul vertel wanneer sekere soorte
eetbare vrugte of wortels as voedsel skadelik word. Jong kinders word
voor oë gehou dat hul die ou Boesmans en meide moet respekteer. Dog
verder moet die kind maar self sien deur na-aping reg te kom. Ons
kan sê dit is nie veel beter as wat 'n aap sy kind opvoed nie.

Dit is die werk van die kinders om water in doppe van volstruiseiers of
in die maag van 'n springbok aan te dra; ook dra hul vuurmaakhout aan.

Maar bo alles is die vader daarop gesteld om van sy seun 'n goeie
jagter te maak. Hy neem die kind, as dié al goed muise en voëls
kan skiet, met hom saam veld-toe. Hy leer die kind hoe om wild te
bespied. As wild in gesig is, onderrig hy die seun waarlangs te kruip
en hoe om te kruip en dan hoe om die wild te skiet. Het die seun reeds
'n goeie begrip van die jag, dan word hom haarfyn die geaardheid van
ieder stuk wild uitgelê. Vernaamlik word hom planne aan die hand gegee
hoe om leeus, tiere en wolwe te beveg. Deur die geaardheid van ieder
wildding en verskeurende dier te ken, weet hy presies wat te doen
as hy die aanval moet maak; of as die woedende dier op hom aanval,
hoe om hom te gedra en te verdedig.

Ja, dierkundiges kan nog baie by 'n Boesman gaan leer wat die
geaardheid van ieder Afrikaanse dier is; want een skrywer volg die
ander, en so slaan almal die bal soms ver mis as die eerste skrywer
dit gedoen het.



NO. 98.

HOE 'N TIER BAAS GESPEEL HET.


    OPMERKINGS:--Hierdie verhaal is ook afkomstig van ou Bles, die
    Boesman. Hy gaan met sy verhaal aan soos volg:--


"Toe ek 'n kind was, het verskeie jong Boesmans by die mense
gewerk. Hulle was nie bepaald slawe nie. Sommige het van hulle base
weggeloop en vir ons vertel hoe dit op die plase toegaan. So het my
oudste broer ook lus gekry om 'n tydjie op 'n plaas te gaan werk. Die
plaas het oorkant teen die ander berge (die Tulbaghse berge) gelê. Hy
het toe geleer om die taal van die witmense te praat, en sy oubaas
en ounôi was baie goed vir hom.

"Hy vra toe eendag verlof van sy baas om sy pa en ma te kom opsoek
en by hul 'n rukkie te kuier. Die oubaas het geweet as hy nie ja sê
nie, sal my broer tog wegloop; dus het hy maar ingestem dat my broer
kan loop. Toe hy by ons kom, het hy baie mooi goed saamgebring, soos
sakmesse, ysterhoepels om harpoene vir pyle te maak, en 'n koubeitel om
die yster mee in vorm te kap. Maar waaroor ons die meeste bly was, was
oor die twee honde wat hy meegebring het; want dié honde was deel van
sy betaling vir die werk by sy oubaas. Ons het lank vir honde gewerk.

"Hy vertel toe aan ons dat daar naby die plaas van sy oubaas 'n man
woon wat met negosiegoed rondry en handel; dié baas het gesê hy moet
tier- en jakkalsvelle bring, dan sal hy dit ruil--want geld het in
daardie dae vir ons Boesmans geen waarde gehad nie.

"Ons jong Boesmans was net bly om dit te hoor, want ons het reeds
verskeie tiervelle en ook jakkalsvelle gehad om te verhandel. Maar
nou kan die twee honde mos help om nog meer jakkalse te vang. En
daarin was hul net fluks.

"Ná 'n rukkie het ons net baie velle gehad, wat ons vir messe,
tonteldose en vuurslae, krale en 'n paar byltjies kan verhandel. Die
goed wat my broer gebring het, het vir ons net baie beteken; want
nou werk ons soveel makliker. Die strewe is nou om meer tier- en
jakkalsvelle in hande te kry. Ons ou volk het help vang; maar met
die wegbring wou hul net niks te doen hê nie. Hulle was vir die
witmense baie bang; dus het my oudste broer, wat die plek ken, en
'n ander Boesman die velle gaan verhandel.

"Daar was baie tiere in die Roggeveld- en Bokveld-berge in daardie
dae. Ons het geweet hoe om hul te verstrik of in vanggate te vang. Kyk,
my basie, dis nie algar se werk om 'n tier in 'n vanggat te vang
nie. Die dier se ruik is te fyn; en dan, hy is baie, baie versigtig om
uit gevaarlike plekke weg te bly. Maar ons het verstaan watter soort
gat om te maak. Onder in die gat plant ons lang spits houtpenne,
met punte so hard en skerp as 'n els. Aan die punte smeer ons van
dieselfde gif as wat ons aan ons pyle smeer. Dus, al kry hy maar
'n ligte wond, die gif maak hom dood. En dan, bo-op die vanggat moet
jy verstaan hoe om die grond en gras daaroor te reël en met bloed te
besprinkel, en agter plaas ons die stuk beenvleis.

"Op 'n sekere dag het ons 'n kwagga geskiet--een van die vaal
kwaggas. Ons het van die kwagga se bloed meegebring en het sy bladbeen
met 'n stuk vleis daaraan vir stel-aas gebruik. Net in daardie tyd het
'n tier snags gebrul. Tiere, nes katte, het sekere tye om snags te
brul, terwyl mak katte 'n lawaai opskop om 'n mens uit die slaap te
hou. Ons het gou die looppaadjie van die tier agtergekom en daarin
die vanggat gemaak; verder, ná alles in orde te gemaak het, het ons
na ons woning teruggegaan.

"Die volgende oggend sien ons wild daar oorkant teen 'n rand wei. Die
ou volk gaan toe daarheen; maar een van hulle met twee van ons jong
Boesmans, waarvan ek een was, moet gaan om te kyk of daar 'n tier
in die vanggat dood lê. Want kom hy uit die vanggat, die gif maak
hom tog dood. En los kom hy nie--dis te sê as hy in die gat geval
het. Die val was meer bedoel om hom met gif te wond.

"Ons kom by die vanggat, en daar sit die tier in een van die spits
penne vas--so dood as 'n klip. Die tier het vooroor getuimel, en die
skerp pen het die dier voor die bors tussen blad en ribbe ingesteek;
met die kop half na onder was hy volkome magteloos.

"Ons haal ons karosse af, ook plaas ons ons boë en pylsakke op die
grond, pak die tier aan die stert en agterpote en sleep hom uit. Dit
was te veel vir die mannetjie wat daar kortby lê. Hy spring op;
en eer ons kon padgee, was hy op ons. Hy pak een van ons deur hom
'n slag met sy skerp naels op die kop te gee en trek sy kopvel so te
sê heeltemal af. Hy byt die een dood. Sonder om ons pyle en boë te
gryp, vlug ons ander twee ieder in 'n boom. En daar sit ons veilig,
dog heeltemal weerloos. Dat hy ons nie dadelik agtervolg het nie, was
daaraan te danke dat ná hy ons maat doodgebyt het, hy ons velkarosse
gepak en aan flenters geskeur het. Hy bly by ons dooie maat en die
dooie wyfie lê. Hy was honger en begin somar die lyk te eet. Ons het
hom eers deur te raas en skree teruggehou; maar later kon ons dit
nie meer reg kry nie, want hy was te honger en het hom versadig aan
die lyk geëet. Knippel-dik geëet, gaan hy onder 'n groot bos in die
skaduwee lê om die lyk en die dooie wyfie op te pas.

"En ons! Wat kon ons anders doen as net om om hulp te roep. Maar wat
sal roep help? Ons mense jag daar ver teen die rand en in die kloof.

"Toe hul middag tuiskom en ons is nog nie daar nie, merk hul onraad en
maak plan om na ons te kom soek. Hulle kom nie reguit na ons toe nie,
maar klim eers teen 'n koppie daar naby ons uit en roep na ons. Ons
gee antwoord.

"Ons kon hul toe die toestand mooi vertel en sê waar die tier lê en
in watter bome hulle met hulle pyl en boog kon klim; dan sal ons die
tier terg om hom uit te lok, en dan kan hul hom skiet.

"Die Boesmans raak daar weg en gaan om 'n ander koppie om die tier van
'n ander rigting te bekruip as dié vanwaar hul met ons gepraat het;
want die tier het daardie koppie gedurig in die oog gehou en voel
nou onrustiger as tevore.

"Twee van die beste skutters het nader gekruip en het die plan
fyn oorlê; want toe die tier nog gedurig na die plek kyk vanwaar
hy die stemme gehoor het, toe vlug die twee ieder in 'n boom naby
ons. Die tier swaai stert, dog lê maar stil. Ons lok hom toe uit,
en hy kom. Die skutters lok hom toe weer uit, en hy gaan daarheen,
om daar sy doodskot te ontvang.

"So was die tier 'n hele dag oor ons baas."



NO. 99.

TWEE VERWANTE STORIES.


    OPMERKINGS:--Die eerste storie is ook afkomstig van ou Bles,
    die Boesman. Ná sy laaste besoek aan ons op Calvinia moes ons
    die volgende dag na Roggeveld vertrek om daar te meet; dus het
    ons hom nooit weer ontmoet nie, waaroor ons baie spyt het, daar
    sy verstand op sy hoë ouderdom nog heeltemal helder was en hy so
    baie kon vertel.


Eendag sê 'n ou Boesman van die ou geslag aan sy seun om fluitjiesriet
te gaan haal om pyle van te maak. Tegelykertyd waarsku hy die seun
teen 'n ou towenaar wat daardie riet oppas, sodat die ou volk nie
sulke goeie pyle kan maak nie; hul moet dan maar vir hul met slegte
fluitjiesriet behelp. Hy gee die seun 'n sekere pyl om die towenaar
mee te skiet; die pyl sal hom so brand dat hy niks sal kan doen nie.

Maar die seun was eiewys; hy stap na sy hut waar hy slaap, en neem sy
eie pyle met hom mee en neem die vurige pyl van sy vader nie mee nie.

Toe die seun by die plek kom waar daardie goeie fluitjiesriet groei,
begin hy somar op die daad te sny. Die ou towenaar verander hom en
sy famielie in leeus, en hy vra aan die seun om te vertel wat hy daar
maak. Die seun antwoord dat sy vader hom gestuur het om riet vir pyle
te kom haal.

"Hoekom vra jy nie eers vir my nie?" vra die leeu.

"Ek het jou nie gesien nie," werp die seun teë.

Toe byt die leeu die seun dood. Die leeu se drie kinders spring toe
heen en weer oor die lyk en sing:--


                Hy steel ons fluitjiesriet,
                Hy steel ons fluitjiesriet
                Om pyl te maak.

                Ons pa het hom verslaan,
                Ons pa het hom verslaan;
                Sy pa weet niks!


Toe die seun oor sy tyd wegbly, sê die vader aan sy vrou: "Ons seun
is dood; ek kan dit aan my dolosse sien, en ek moet gaan kyk."

Hy kyk in sy seun se hut en kry die brandpyl daarin, en hy stap na
die plek waar sy seun dood lê. Toe hy daar kom, kom die leeu nader
en vra wat die ander man daar kom soek.

"Ek kom fluitjiesriet haal," antwoord die man.

"Nou ja, dan sal ek vir jou ook doodbyt," sê die leeu.

Onderwyl spring die leeu se kinders nog altyd oor die lyk en sing een
streep deur; dog hul verander die woorde nou en dan. Die leeu storm
die man (wat ook kan tower); die man skiet hom met die brandpyl;
toe brand die lywe van die hele gesin ook, en algar vlug.



Die volgende storie, wat groot verwantskap met die juis neergeskrewe
storie besit, is deur mnr. Joseph M. Orpen, Britse Resident
in Grikwaland-Oos, aan die Cape Monthly Magazine van Julie
1874 meegedeel. Dit is 'n vertelling deur 'n Boesman uit die
Maloetie-gebergtes. Dit lui soos volg:--



Storie van Cagn. [2]

Cagn stuur Cogaz (sy oudste seun) om latte te sny om boë van te
maak. Toe Cogaz by die bos kom, vang die bobbejane hom. Hulle roep
toe al die ander bobbejane om hom te kom hoor, en hulle vra hom wie
hom daarheen gestuur het. Hy antwoord dat sy vader hom gestuur het
om latte te sny om boë van te maak.

Dus sê hulle: "Jou vader beskou hom baie slimmer as ons; hy wil die
boë hê net om ons mee dood te maak, dus sal ons jou maar doodmaak."

En hulle maak Cogaz toe dood en hang hom bo aan die top van 'n
boom op; hulle dans toe om die boom, en hulle sing 'n onbeskryflike
bobbejaanlied met 'n koor wat sê: "Cagn dink hy is slim."

Cagn lê en slaap toe Cogaz doodgemaak word; en toe hy wakker word,
sê hy aan Coti (sy vrou) om vir hom sy dolosse aan te gee, en hy hang
dié oor sy neus, en hy sê: "Die bobbejane het vir Cogaz opgehang."

Dus stap hy na die plek waar die bobbejane is. En toe hul hom daar
naby sien aankom, toe verander hul die woorde van die lied, waardeur
hul die naam Cagn uitlaat.

Maar 'n bobbejaan-meisiekind sê: "Moenie só sing nie; kom, sing soos
julle tevore gesing het."

Cagn sê toe: "Sing soos die klein meisie verlang."

En hulle sing en dans soos tevore.

En Cagn sê: "Dis die lied wat ek netnou gehoor het; dit is wat ek
wil hê. Toe, gaan maar voort om te dans tot ek terugkom."

Hy stap toe weg om 'n mandjie vol skerp penne te haal. En toe hy
terugkom, stap hy om en gaan agter een vir een staan en dryf 'n pen in
elkeen se rug en gee dit boonop 'n buig--want hulle het so gedans dat
dit donker van die stof was. Hy ja hul toe weg na die berge toe om daar
te gaan lewe op wortels, goggas, en skerpioene as 'n straf vir hulle.

Voor dit was bobbejane mense; maar van daardie tyd af het hul sterte,
en hulle sterte hang afgebuig.

Cagn haal toe vir Cogaz af, gee hom kanna en maak hom weer lewendig.



NO. 100.

UIT DIE BEK VAN 'N KROKODIL ONTSNAP.


    OPMERKINGS:--Dit was in die jaar 1883, ná ons Pietretief as dorp
    uitgelê het en op terugreis na Pretoria was, dat die besonderhede
    van hierdie verhaal aan ons op die Hoëveld een aand deur 'n
    Boesman meegedeel is.


'n Boesman besit 'n sekere mate van trots in hom en voel glad nie
lekker as iemand gedurig van sy kleinheid van persoon gewag maak
nie. Hy voel erg trots as hy iemand iets kan wys waarmee die persoon
onbekend is. Dit het ons een aand in besonder opgemerk.

Ons het skemeraand op die ope Hoëveld uitgespan. Dit was op 'n publieke
uitspanning naby 'n spruit water. Ofskoon dit in die somermaande was,
was dit daardie aand koud, soos dit soms op die Hoëveld kan koud
word. Solank die osse nog wei, was my Kafferdrywer besig misbolle
op te tel om vuur te maak. Onderwyl maak 'n Boesman sy verskyning;
en toe die Kaffer hom op korswelwyse vra waar hy vandaan kom, en of
hy daar somar uit die grond gekruip het, was hy enigsins beledigd en
wou nie verder met die Kaffer praat nie; maar toe dié aan die Boesman
'n pruimpie tabak gee, verander die Boesman dadelik van houding--want
nou neem my Kaffer mos notiesie van hom. Ons het geen wa-leier gehad
nie; dus beloof ons hom 'n vergoeding as hy wil help om vuurmaakgoed
te versamel en een en ander te doen.

Ná die osse aan die juk vasgemaak was, begin die Kaffer vuur te maak;
want daar was nou 'n oorvloed van brandstof. Ons persoonlik klim uit
die wa om langs die vuur te gaan sit.

Die Boesman het die vuur so gestaan en bekyk en het eers niks daaroor
gesê nie. Maar later merk hy op: "Baas, ek kan somar sien julle
witmense, en hier my maat, verstaan nog nie om met misbolle vuur te
maak nie; laat ek vir julle wys."

Hy pak toe die misbolle om die vuur nes 'n skoorsteen van agtien duim
hoog. Spoedig slaan in daardie skoorsteen 'n vlam op asof dit 'n vuur
is wat met hout gemaak is. Dit was natuurlik 'n lekker warm vuur. Ons
vergeet nooit hoe trots hy gevoel het dat hy dit só reggekry het nie,
want hy voeg nog daarby: "Baas verstaan net om droster-vuurtjies
te maak."

Ons het die les vir altyd onthou. Ons bemerk dat hy aan een been,
onderkant die knie, 'n gebrek het, en vra hom wat die oorsaak daarvan
was. Hy wys die plek aan ons en vertel sy verhaal soos volg:--

"Ek was eenmaal saam met my oubaas na die skietveld toe. My werk
was om na die osse te kyk. Daar in die spruit waar ons staanplek
was, was groot seekoegate: maar ons het nie eintlik krokodille daar
gewaar nie. Dus was ons min of meer gerus--in ieder geval, ek was
perdgerus. Maar ek dink dat die bloed van die wild wat my oubaas-hulle
geskiet het, en die bloed-besmeerde goed wat gedurig in die spruit
gewas is, die krokodil aangelok het.

"Ek en my kleinbaas stap eendag deur vlak water (bokant 'n seekoegat)
deur die spruit. Net soos ons halfpad was, het 'n krokodil my aan my
been; hy vang my onderkant my knie en sleep my die seekoegat in. Met
die sleep kom my hand teen die horings van 'n wilde bok waaraan die
krokodil net besig was om te eet. Hy trek my toe in 'n gat onder die
water in. Die gat gaan skuins in die wal op. Die krokodil los my toe
daar en gaan weer aan sy bok vreet. Ek hou my of ek morsdood is.

"Nou, baas sal sien, as 'n witman en 'n Boesman deur water stap, dan
sal die krokodil nooit die witman pak nie, maar wel die Boesman. Net so
met 'n leeu: As 'n Boesman tussen witmense slaap, sal hy die witmense
verbygaan en die Boesman pak en wegdra.

"Wel, in hierdie geval was my kleinbasie nader aan die krokodil,
en tog kom hy my aan die ander kant van die kleinbaas vang. Kan baas
vir my sê waarom ons arme Boesmans sulke ongelukkige skepsels is?"

Ons versoek hom om voort te gaan en te vertel hoe hy van die krokodil
verlos geraak het.

Hy vervolg: "Die krokodil het gedink ek was dood; want ek het my
morsdood aangestel toe hy my in die gat onder die wal insleep. Elke
maal kom hy loer of ek nog stil lê. Ek voel toe so benoud. Ek verwag
dat hy enige tyd sal kom om aan my te vreet, want ek weet mos nie
hoeveel kos hy daar het nie, en ook hoeveel hulle is nie.

"Toe my oë aan die donker gewend raak en ek reg kom (want ek was half
versmoor onder die water), toe kyk ek orals rond en sien 'n ligstraal
bo deur 'n skeur skyn. Ek kruip saggies hoër en sien dis net 'n groot
skeur. My wonde waar die krokodil my gebyt het, bloei--want ek kan
die warm bloed voel tap.

"Net toe ek klaarmaak om bo-uit te vlug, kom die krokodil weer loer
en gee my net 'n seer byt aan die been--glo om te kyk of ek regtig
dood is. Ek lê so stil en haal saggies asem, Hy draai terug en gaan
weer vreet.

"Toe neem ek my kans waar. Ek beur deur die nou skeur. Ek hou my
smal en dun. En bo-uit is ek! en hol vinnig weg. Maar hier borrel
die krokodil ook uit en hol 'n ent agterna; dog ek hardloop met my
seer been skoon van sy lyf weg."



NOTAS


[1] 'Kabbo, Jantjie, Uhi-ddoro.

[2] [Cagn in hierdie storie moet lees 'Kaggen--die Boesman-naam
vir 'n Hottentotsgod.--Die Skrywer.]



*** End of this LibraryBlog Digital Book "Boesman-Stories - Deel IV. Gemengde Vertellings, mees van 'n Awontuurlike Aard" ***

Copyright 2023 LibraryBlog. All rights reserved.



Home