Home
  By Author [ A  B  C  D  E  F  G  H  I  J  K  L  M  N  O  P  Q  R  S  T  U  V  W  X  Y  Z |  Other Symbols ]
  By Title [ A  B  C  D  E  F  G  H  I  J  K  L  M  N  O  P  Q  R  S  T  U  V  W  X  Y  Z |  Other Symbols ]
  By Language
all Classics books content using ISYS

Download this book: [ ASCII ]

Look for this book on Amazon


We have new books nearly every day.
If you would like a news letter once a week or once a month
fill out this form and we will give you a summary of the books for that week or month by email.

Title: Dingaansdag
Author: Leipoldt, C. Louis (Christiaan Louis)
Language: Afrikaans
As this book started as an ASCII text book there are no pictures available.


*** Start of this LibraryBlog Digital Book "Dingaansdag" ***


DINGAANSDAG



                               DINGAANSDAG

                                   DEUR
                            C. LOUIS LEIPOLDT

                              TWEDE UITGAAF

                              [Illustration]

               UITGEWERS: J. L. VAN SCHAIK, BEPK, PRETORIA
                                   1925



AAN MY VRINDE JOHANNES J. SMITH en W. M. R. MALHERBE.


    Neem wat ek hier bring, as ’n blyk
      Van vrindskap aan; want ek erken
    Met dankbaarheid dat wat ek wen
      Uit vrindedaad, my siel verryk.



VOORWOORD.


_Die bundeltjie maak geen aanspraak op geskiedkundige juistheid nie, en
net so min op dramatiese samehang. Dit is ’n aaneenskakeling van los
gedagtes wat in die oorpeinsing van ons volkstoestande by my ontstaan
het, en as sodanig bied ek dit die leser aan._

_Ek is opregte dank verskuldig aan dr. Malherbe, die redakteur van „Die
Brandwag,” vir sy hulp en bystand in die voltooiing van die bundeltjie
vir die pers._

                                                                _C. L. L._

_Pretoria, Desember 1919._



BY DIE TWEDE DRUK.


_Die twede druk verskil aanmerklik van die eerste. Nie alleen is die
taal en spelling op ingrypende wyse hersien en in ooreenstemming met
die gebruik van vandag gebring nie, maar ook is daar op verskeie plekke
toevoeginge en verduidelikinge ingelas. Hier en daar het ek ook versreëls
en strofes wat my minder goed voorgekom het, weggelaat. My hartlike dank
aan my vrind professor J. J. Smith, wat my baie nuttige wenke gegee het,
en wat hom ook belas het met die nasien van die drukproewe._

                                                                _C. L. L._

_Pretoria, Julie 1925._



DIE AANROEPING.


    O land, my Moederland, my Afrika,
    Diep smart-verwonde Moeder, steun my stem,
    En met jou liefde en guns besiel my lied,
    As ek die diepste diepte wens te peil!
    Bevoorreg deur die feit ek is jou kind,
    Vonk van jou vlam wat in jou vlam verskiet,
    Stof van jou stof wat weer jou stof sal wees,
    Leen my die mag om met gewyde hand
    ’n Bousteen by te sit by wat alreeds
    Gestapel is vir onse volkspaleis.
    Skenk my die sterkte wat uit liefde spruit—
    Aan my wat in my siel diep vir jou voel—
    Een van jou volk, verlore en alleen,
    Wat in die wêreld waar hy omdool, weet
    Hoe groot sy land, hoe klein sy kragte is.
    O maak my magtig om die tranevloed
    Deur snode onreg of versmoorde smart
    En bitter jammerly gewek, te stil
    Met taal wat aantoon waar die skuld betaal
    In toekomsjare groter wins sal win.
    Wys my die weg om tussen haat en nyd,
    Dwarsoor my die pronk van patriotsgevoel,
    Vooroordeel en onwaardig, onwaar spog,
    En louter liefde vir my eie land,
    Oorheen te stap en onverdwaal daardeur
    Die hoë heiligdomme te bereik
    Waar eie liefde tot in niks verkwyn.

    Verlig my, Moeder, deur jou liefdeglans
    Wat veld en bult en koppie en krans bestraal,
    Wat geil die saad laat opskiet tot die groen
    Wat in die eerste somer oor die land
    ’n Golwende see van teer smarag verwek,
    Wat met rooi prag die kafferboom belaai,
    En met ’n suiwer goud die aalwynblom.
    Verstrek my moed om agtertoe te sien
    En afgedane werk te vergelyk
    Met wat nog wag vir hande as liefdewerk—
    Die moed om sonder skroom en sonder skimp
    Waar skuld was, skuld te vind; te eer wat eer,
    Deur eerlik doen of late, waardig is—
    Dat ek die treurgekied’nis wat ek sing,
    Opreg, met al sy smart en al sy leed,
    Met al sy wonderglans van wondermoed,
    Uiteen kan sit. En laat jou liefde wek
    Gevoel van vaste hoop en vurige trou,
    Geloof in groeikrag wat die kiem besit
    Nog sluim’rend in ons harte en ons volk,
    En kennis van wat nog ontbreek om klaar
    En vol-kompleet te maak die werk wat wag.
    Gee bystand, Moeder, as die taak te hard
    En te ondankbaar skyn, en met jou lig
    Bestraal wat in my lied verligting eis.

    Hy, digter, wat in duister vir sy volk
    Besing ’t die helde-heer van Ilion,
    Die toornende Achilles en die dood
    Van Hektor, en die doolweg van Ulisses—
    Hy het vertrou sy volk sal groter wins
    Uit ongebore jare ryklik haal,
    Om met vereende kragte voort te gaan
    Op paaie deur die helde vroeër betree.
    En ek, wat t’rugdink aan dié worsteltyd,
    Gun, as ek dink, myself die hoop ons wen
    Deur broederlik-vergaarde nasievlyt
    Die reg om volk te wees, as volk te staan,
    In dae wat nog verder voor ons lê.
    Gedwarsboom deur die daagliks-drukkende las,
    Wat moeg maak en wat afmat, kan dit wees
    Dat verder peil vir ons onmoontlik is,
    En laer lot as skamel deel genoeg?
    So mag dit wees, miskien, dat Afrika,
    Soos eenmaal ou Italië, slaaf moet staan—
    ’n Smartekroeg, ’n stuurmanlose skip,
    Ontmeester van sy eie, ’n bordeel.
    So mag dit wees as ons hiernamaals kom
    Diep in die dodeland waar geeste woon
    Wat eenmaal vleis en been op aarde was,
    Dat één ons aantref—één wat bloed van ons
    Op aarde was en vir sy lewensland
    Nog liefde oorhou: „Wat gebeur daarbo?
    Hoe staat dit met my land?” En ons moet sê:
    „Só staat dit met ons land: Verdeel, verspil
    Die kragte wat, verenig, seë bring;
    Vermink die mannemoed, verbreek die mag
    Wat eens die wilde woestheid kon bedwing.”
    En hy wat hoor, sal, soos Sordello, roep:
    „O wee my land, wat tot ’n slaaf versink!”
    So mag dit wees as kind se kinders vra
    Vertelsels uit die jare lank verby
    En luisterend roep: „Hoekom het ons vandag
    Nie wat ons vroeër had nie?”
                              Tyd vergeet
    Nie en vergewe nie. Wat Nou vereis,
    Moet Nou geskied; en wie op Later wag,
    Wag op ’n skim wat skaduloos versmelt.

    O, Moeder, ryk aan smarte, ryk aan moed,
    En ryk beloon deur wat Natuur verspil,
    Skenk elke seun vir wie jou weelde gee
    Om rykelik die lewe te geniet,
    Die krag om wat geniet word, te betaal
    Met loon wat deur betaling liefde wek.
    Skenk hom die krag wanneer verdeeldheid skei
    Wat vroeër een was, om sy steun te gee
    Om wat verdeel is, weer tot een te maak.
    Tas met jou hand sy onsiende oë aan,
    Dat hy, soos Saul van Tarsus, weer kan sien
    Die doel wat dieper as die skynsel lê.
    Jy, Moeder, jy besit die mag! Jy hou
    Hier in jou skoot ’n weelde wat oortref
    Die glorie eens aan Salomo se hof
    Getoon aan verre Skeba se vorstin—
    Wat groter is as al die skatte-prag
    Weleer gehaal deur fabel-genius
    Vanuit die diep smarag-gekleurde see
    En voor die meester neergelê wat hy,
    Gebonde deur sy eed, as slaaf moes dien.

    Wie het die reg, as hier die lente leer
    Hoe kort die winter-slaaptyd eintlik is—
    Wie het die reg, as hier die daeraad breek
    In pêrelgrys bevlek met rooi robyn,
    Om t’rug te dink aan winter en aan nag,
    Aan gisteraand se sterre en skemergroen?
    O glorie-songloed, wat jou goud verspil
    Die ooste oor, en van die bergrand maak
    ’n Kroon wat skitter met besielde prag,
    Wie durf die donker aanroep en verbeel
    Dat duister en dood oorwinning sal behaal?

    Die dag breek aan. In doringbosstruik en riet,
    En slanke wilger wat oor water treur,
    Ontwaak die koor van vinke in môrevreug.
    Die blom voel op die veld sy lewenssap
    En werp sy geur uit om die dag te groet.
    Hier is ’n tuin van weelde, wierook-vol—
    Wilde skildpadbossies in bloei, en geel slangwortel.
    En rooi rabas, en goudgeel stekeltee,
    En rankende bitterappels in die sand,
    En droedaskruid wat op die droogte teer,
    Met sieketroos en wilde kamomille,
    Graweelkruid, roosmaryn, en ramenas,
    Bospeper, velskoenblaar, en in die vlei
    Die maerman sonder blomme, en boesmangras.
    Nou punt op punt en streek op streek verloor
    Die veld sy grys; en waar die skadu was,
    Daar skyn die son, en deur sy glans gelok
    Kom koggelman en geitjie uit hul skeur
    Om op die goud-bestraalde klip te speel;
    En elke bos word lewendig met die lied
    Van duisend sangertjies wat tjilp en fluit
    ’n Welkom vir die dag wat hier begin.
    ’n Somer-daeraad! Waar die berge skerp
    Die lang gelykte van die ooste breek
    Met bult en kop en wind-gekerfde tand,
    Daar straal ’n gloed van grys en perlemoen,
    Met hiasintpunte en vlekke van vermiljoen,
    Wat lewe en bewe en skitter en skyn van kleur,
    En breek tot laaiende vlamme van rooi goud,
    Waarteen die donker purper van die rand
    In somber glorie-prag as skadu staan.
    En in die voorgrond, pêrelgrys en groen,
    Lê leegte en laagland, dou-benat en dof,
    Gesluier deur bewende môremis wat rys,
    Uit slaap gewek en vogtige drome-rus,
    Half sku die hemel in, om daar te kry
    Hulp van die wolke wat die klowe dek,
    En nuwe vog wat, vrugbaar vir die reën,
    Die laagland en die leegte later voed
    Met nuwe lewe vir ’n nuwe tyd.

      O swanger grond en moeder-liewe turf,
    Wat in jou skoot die tere kiem bewaar
    Met warme liefde, tot die wonderwerk
    Verrig is en die groen spriet son-toe worstel—
    O Moeder, oud en wys deur wat die tyd
    Vrygéwend gee in rykste owerskot
    Deur ondervinding eeue deur geleer
    En eeue deur herhaal, gee lig, en lag
    ’n Welkomsgroet wat hoop en sterkte bring,
    En tot geduld en nuwe werkkrag spoor!



I.


    Die môreson bestraal die plaas;
      In goue glans lê veld en tuin;
      Die leë kraaltjie op die kruin
    Glim silwer in die môrewaas.

    En op die stoep, en om die stoep,
      Daar draai ’n mensehoop omheen;
      En een staan op ’n stoel alleen,
    En algar hoor hom as hy roep:

    „Kom, kêrels, kom! ’n Kandelaar
      Van eerste-klas ou silwerwerk—
      ’n Ouderwetse sieraad, sterk
    En sierlik, van die beste waar!

    Hoeveel nou vir die sieraad? Kom,
      Gee my ’n bod! Die hoogste win.
      Ag dalers? Man, jy dink te min:
    Dis silwer dit—nie waboomgom!”

    Met mooipraat en met skerts vergaan
      Die treurig-lang vandiesiedag;
      En eind’lik daal die skemernag,
    En vredevol bestraal die maan

    Die half verkoopte plaas en dal,
      Die treurige uitverkoopte huis—
      En deur die ope vensters druis
    Die wind, wat sag oor alles val.

    Die wa staan klaar-gepak, gelaai;
      En twee span osse wag hul taak—
      En in die leë kamers waak
    ’n Huisgesin tot hanekraai,

    Om met die eerste môregrou
      Die vaderplaas vaarwel te wens,
      En voort te struikel oor die grens
    Tot waar die verte vryheid hou.



II.


          Ons vra geen klaaglied,
            Geen roubetoon nie;
    Geen meely-woord van afskeid gee vir ons
            Om ons te hoon nie!
    Ons het ons lot met albei hande beet,
          En gaan die wêreld in.
    Ondank en onreg—laat ons dit vergeet:
          Ons gaan ’n nuwe land win—
    Nie deur onreg nie, nie deur geweld—
          ’n Nuwe land, waar ons die son kan vat
    As in die vroeë môre op die veld
          Sy lig in spranke spat.
    „Goeiendag, en God sy met jou!” Dit is al
          Wat ons verwag.
    So gaan ons rustig in die donker dal,
          Tot in die nag—
    ’n Nag waarin gesternte helder fonkel,
          Elkeen omraam met fynste groen ferweel;
    Waarin die melkstraat kronkel
          En met planete speel;
    ’n Nag wat lei tot vlammende daeraad
          Om ons steeds voor te lig.
    Kom, vrind’lik handgegee—die laaste daad!
          En noord-toe ons gesig!



III.


    Die swart pondokke staan in kring;
      En om die vuur sit man en vrou
      Om ernstig same raad te hou
    Oor watter lot die môre bring.

    Weemoedig praat daar een en knik,
      En gee sy stem vir gaan of bly;
      Wat eenmaal slaaf was, is nou vry
    En kan na wens sy wandel skik.

    „Die Oubaas trek oormôre voort—
      Die hele huis met Oubaas mee—
      Die hele huis en al die vee,
    En alles wat aan Oubaas hoort.

    En ek wat slaaf van jongs-af was,
      Onthou oorlede Oubaas sê—
      Oorlede Oubaas, wat dáár lê,
    Dáár onder die begrafnis-gras:

    ‚Pas goed op kleinbaas Jan, en hou
      Jou eerlik, Malie, as jy kan;
      Jou tate was ’n goeie man:
    Hy was vir my en myne trou’.

    En ekke hier, wat kleinbaas Jan
      Geabba het en perdgery—
      Sal ek as vuilgoed agterbly,
    Om hier te lewe soos ek kan?

    Oorlede Oubaas het gegee
      Sy woord aan hier ou Malie: ‚Hou
      Jou soos jou pa-goed, eerlik, trou,
    En pas op kleinbaas.’—Ek trek mee!

    En hier’s Regina, wat kan staan
      Getuie van die waarheid! Sê
      Vir ons wat wil die Oubaas hê:
    Ons swartgoed—moet ons bly of gaan?”

    En ou Regina antwoord: „Nee,
      Wat Malie sê, is eerlik waar.
      Ek werk vir Ounooi twintig jaar—
    Ek bly nie agter: ek trek mee.”

    .  .  .  .  .  .  .  .  .  .  .

    Die pòndok-vuur is uitgebrand;
      En oud en jong lê vas aan slaap
      As teen die maan die honde gaap
    En duisendpote roer die sand.

    O Liefdetrou, wat stand nòg kleur
      Tot enge kleinheid wil beperk,
      Maar wat, deur weldaadsmag gesterk,
    In offerande plig bespeur,

    Nie minste teken van jou mag
      Is hierdie swartvolk wat jou eer,
      En, slawe vroeër, nou vry, begeer
    ’n Deel van wat die Trekkers wag.



IV.


    Die donker in!
        O het jy vrees om in die bange nag
        Die toekoms tegemoet te gaan? te wag
        Die lang smartvolle ure deur, tot lig,
        Die môreskyn, sy troos op jou gesig
        Laat val, Voortrekker? Sê my, is jy bang
        Om in die donker in te gaan? Verlang
        Jy om die lig wat sloer, terug te win?
    Die donker in!

    Die donker in!
        En vorentoe, wat lê daar? Smart en sorg,
        En kil berou en kommer! Wie’s jou borg
        Dat uit die blinde worstelstryd sal skiet
        Iets werd die helfte van verspilde verdriet,
        Van trane, sugte, weemoed, hoop’loosheid,
        Verpand vir niks in al die sware stryd
        En met die laaste oorwinning nog te win?
    Die donker in!

    Die donker in!
        Die langste nag moet eind’lik daeraad gee;
        Die swaarste onweer eind’lik rus en vree.
        Wie aanhou vol vertroue, hy moet win,
        Al gaan hy ook die diepste donker in.
        Die sterre lewe nog; die son sal skyn;
        Die maan se glans is nog nie dood verkwyn.
        Die lendene omgord, wie moed bemin!
    Die donker in!



V.


    O vaderland, verlate vaderland!
      O akkerboom en ranke wit pop’lier
      Wat my ou plaas versier,
    Daar deur die voorgeslag geplant,
      Nou lommerryk oor my vaderhuis—
      Koel skadu-takke oor die sluis,
      Waar ná die oes die meulstroom bruis—
    Vaarwel o akkerboom en wit pop’lier!
        Vaarwel, verlate vaderland!

    O blomtuin vol met tiemie en blou violet!
      O vrugboom-oord en stinkhoutpaal-priëel,
      Waarom die bye speel
    En heuning haal en brom uit blote pret,
      Waar druiwerank geklouter pryk,
      En boontoe teen die gewel reik,
      En tussen klimop-rose kyk—
    Vaarwel, o vrugboom-oord en ou priëel!
        Vaarwel, o tiemie en blou violet!

    O ouershuis met kafhok en met kraal!
      O platklip-stoep en gras-begroeide brug,
      Waar saans die paddas sug
    As in die skemerlig vuurvliegies dwaal,
      En die aandblomme oopgaan, en die nag
      Sy sluier werp oor hierdie plaas se prag,
      En oor die wêreld bo die sterre wag—
    Vaarwel, o platklip-stoep en biesiebrug!
        Vaarwel, o huis en kraal!

        Ons gaan die wêreld in
        Om ’n nuwe oord te win—
          Om ’n nuwe land te kry,
          Waar ons kan lewe vry.
    Vaarwel, vaarwel, al is geen weersien meer!
        Vaarwel, en nog ’n keer,
            Vaarwel!



VI.


    Die blou rook borrel uit die pyp,
      Die kostelike Kango smelt—
      Rookofferande vir die veld
    Wat wit lê onder môreryp.

    En oom en neef drink om die vuur
      Die môre-kommetjie koffie uit.
      Vóór nog die eerste bergswaal fluit,
    En vóór die son sy strale stuur.

    Die vierde skof lê agter ver—
      Ver agter lê die ouersplaas
      Versluier in ’n newelwaas
    En van die vryheid afgesper.

    Gedagte brug die ruimte oor
      En kruip eergister-toe terug,
      Toe in die môreskemer-lug
    Die daggroet van die vinkekoor

    Nog borrelend verkondig het
      Dat daar ’n huisplek was en plaas
      Nog half gehul in newelwaas
    En nog nie van sy troon ontset.

    Die ou, ou woonplaas met sy skuur,
      In huislike eenvoud, sedig, stil,
      Waaroor die leweriksdeuntjie tril,
    Waarop die glorie-veldson gluur;

    Met hier en daar ’n os wat wei,
      ’n Perd wat in die rondte kyk,
      Met weilandveld in weelde ryk,
    En klompies skape in die vlei.

    En stil, bedaard was alles daar;
      En rustig, vreedsaam elke nag,
      En sonder voorval was die dag,
    Om al die vrede op te spaar.

    En hier, wat bied die toekoms aan?
      Wat môre of oormôre? wat
      Die dag daarna? die dae sat
    Van droefnis tot die tyd vergaan?

    Wat lê daar vóór, waar teen die blou
      Die bulte hulle eind’loos strek?
      Wat verder as die laerplek
    Waar oom en neef vergadering hou?

    Wie kan dit sê? Wie weet hoe wyd
      Die Noodlot met sy vlerke klap,
      As teken van sy koningskap,
    Vir elke ding en daad bereid?



VII.


    Van die lotosland waar die lelies groei
    En die koningsblom op die boomstam bloei;
      Waar jare deur die somer woon
      En elke dag met glorie kroon;
    Waar sag die koel suidoostewind
    Die geil-groen veld begroet as vrind;
      En sagter teen die wit strand slaan
      Die branders van die oseaan—
          Daarvandaan, daarvandaan
          Kom ek wat Malie heet!

    Vry was ek waar die lotos groei—
    Vry waar die koningsblomme bloei;
      Waar elke middag sag die reën
      Sy gloed ontel’bre trane ween
    Oor atap-hut en silwerstrand,
    Oor fyn-bewerkte sawaland;
      Waar oor die statige vulkaan
      Die rookwolk in die môre staan—
          Daarvandaan, daarvandaan
          Kom ek wat Malie heet!



VIII.


    Dit is begin Septembermaand.
    Nog oor die bulte ruis die wind
    Wat met sy stof die land verblind
    Tot in die sagte skemeraand.

    En lang-gestrek lê kaal en hard
    Die afgebrande veld, soos lyk
    Waardeur die nuwe grassies pryk
    In geil-groen glorie teen die swart.

    En rondom word die voorjaar wees
    As winterse geroggel dreun;
    Die laaste windbui slaak sy kreun
    En gee in woede dan die gees.

    En warm en weeld’rig wek die son,
    Wat teen die veld sy kleure sprei,
    Weer lewe uit die dorre klei,
    Met bo ’n suiwer blou blafon.

    Die gompou stap in sedigheid,
    Die flap trek aan sy somerdrag
    En fladder rond in fiere prag,
    Vir wat die somer bring bereid.



IX.


    Die Toekoms werp sy skadu op die Hede
      Soos wolke van die hemel op die grond;
    Die vooruit-skitter van die skemer-vrede
      Maak sag die awendstond.
    Kan ons dit sien—die son wat diep hieronder
      Die anderkant verlig?
    Hierna sal ons sy heerlikheid bewonder
      Vol in ons aangesig.
    Profeet, wat fier die toekoms wil spioen
      En wil voorspel wat kan of sal gebeur,
    Tuur in die duister van die skemergroen,
      Die nag so bont-gekleur:
    Sê wat sal worde in die ver woestyn,
      Waar kommer lê, en sorg, en louter smart!
    Voorspel!—Soos wind-speel in die lug verdwyn
      Die vrede uit ons hart.

    Dood en berou en smarte lê hier voor,
      En magtelose moed wat net kan ly
    Om mart’laarskroon te kry.
      Bloed op die pad, en bloed-bevlek die spoor
    Wat lê die vlakte oor,
      Die bosse en die berge op, en deur
    Die onbewoonde, woeste, nuwe land,
      Waar nog geen mensehand
    Vir huis of herberg, klip op klipsteen bou;
      Waar net die gousblom-geur
    Jaar uit, jaar in, sy eerste rang behou.
      Maak dit ons bang, voorspelde rou en bloed
    En worst’ling wat die wins hierna vergoed?
      Ons wag die dood. Nou ja, ons wag hom lang.
    Verwelkom hom met vreugde en gesang!



X.


    Ek wag hom in my kamer waar ek woon
    Met smart, wat siekte seerder maak, as maat;
    Ek wag hom sonder haat,
    En sonder afguns, want ek weet my loon
    Sal hy betaal tot op die laaste toe;
    En hoe
    Sal loon my toekom—doodsloon wat ek win
    Deur harde lewenswerk, dag uit, dag in,
    En deur die bange nagte—as ek nie
    Vooruit akkoord gemaak het met sy mag
    Vir dit of dat?
    Is gans my siel van lig en lewe sat
    En smagtend na sy rus,
    Wat droomloos, ongestoor, my siel sal kus—
    Soos ’n groot, stil, swart seekoegat wat sag
    Die droë, dooie blare van die boom
    Wat oor die water droom,
    Op sy deur-wind-gerimpelde vlakte sus,
    Oneindig op en neer,
    Oneindig heen en weer,

    Totdat die droë, dooie blare sink,
    Verrot, vergaan, vermink,
    Weg in die water, wat hul krag sal los
    Om krag opnuut te skenk aan struik en bos
    Wat deur die water nuwe lewe kry?
    Ook so met my.
    Die dood sal my beloning gun. Sy krag
    Sal myne insluk om daarvan te gee
    Hernude krag en onbereikb’re vree,
    Waarteen die donker van die swartste nag,
    Die sterkste vyand, en die stoutste vrees,
    Nie meer kan seëvier nie; en my gees
    Sal amen sê as eind’lik ek moet hoor
    Die oproep: „Dit is tyd! Kom, eer jou siel versmoor!”

    Ek wag hom op die veld waar lente pryk
    In volle rykdom van verdubbelde groen;
    Waar koel die môre-wind die vlaktes soen,
    Voordat die blou bereik
    Sy dagtriomf van teerste malagiet,
    Waardeur die strale skiet
    Tot op die suiwer prag van blomme en gras.
    Dit was vir my—dit was
    ’n Koningsland belaai met koningsprag.
    Die blye sonskyn en die louter lig
    Wat vlam op my gesig;
    Die liewe, wilde, opgesnuifde krag
    Van geure-wierook oor die hele vlei;
    Die ruik van heuning orals uitgesprei;
    Die argloos-weeld’rig lewe-worst’ling hier
    Waar alles hoogty vier;
    Die bor’lend-propvol kleurgevlekte glans
    Teen elke bult en krans,
    Was myne, myne! Wat my siel kon hou,
    Was vir my! En ek wou
    Dit alles herberg gee hier in my hart,
    In kamers toe nog net bewoon deur smart.
    Ek wou dit burgerreg verleen—
    Òf alles òf maar een
    Daarvan, sover ek kon; en dan tevrede
    Was ek met gister en met hede—
    Tevrede om te wag totdat hy sê:
    „Jy het genoeg geniet. Wat hierso lê,
    Is maar die skadu van wat ginds verrys.
    Ek sal jou wondere wys
    Waarby jou hede niks is. Kom met my
    En proe die rykdom wat jou siel hiernamaals kry.”

      Ek wag hom waar nòg vrind nòg vyand vra
    My siel om liefde of liefdelose haat;
    Waar, wat ek ook moet dra—
    Òf haat òf liefde—, net maar woorde is
    Waarmee my hart nie twis
    Of oorlog maak nie, as van goed en kwaad
    Ek onbewus en onverskillig neem
    Wat ek as mens geregtig is te erf
    Van lewenslus voordat my siel versterf—
    Voordat, van vreug vervreem,
    Wat siel is in my sugtend, eensaam staan,
    En huiwerig vir ’n onheil onbekend
    Ver in ’n sterlose, onbegrensde nag,
    Waar kille koue slaan
    Teen my van elke kant waar ek my wend
    Om steun te vinde vir verstikte krag.
    Groet God, en gee die lewe wat verleng
    Word tot daar nie meer lewe is nie, prys
    Vir iets wat groter skyn—die gees wat meng
    Met elke gees, onskuldig, of bedek
    Met vuilnis wat die fierste roem bevlek,
    Tot liefde volle vergifnis eis.
    So wag ek hom totdat hy eenmaal wink
    En vrindelik, of met vyandskap, my hand
    In syne gryp, en, as my son versink,
    My wegruk na die veraf dodeland,
    En langs die pad my aflei waar voorheen
    Kind, koningskind, en koning, op sy tyd
    Gewandel het, en leen
    My sterkte as ek stap; en ek, gewy
    Aan hom, sal seën vinde as ek staan
    Omring deur algar wat voorheen gegaan,
    Voorheen geworstel het, en aan hom gee
    Alles wat hier op aard my siel ontroof van vree.

    Ek wag hom waar die vreedsame gesin
    Sy dagelikse gang geduldig gaan;
    Waar huiselike vlyt en deugde win
    ’n Vrede ruim genoeg vir een
    Wat wyer roem versmaad
    En bo oorwinning kies ’n vredeseën.
    En waar die liefde wat nòg woord nòg daad
    Verag om louter liefde te betoon
    Aan wat hy liefhet, woon.
    Hier voor die ope huisdeur, waar die wind
    Die vrolike weergalm bring
    Van veraf veldkanaries, bly-gesind,
    Wat met die klaaglied van die kwê-voël ming
    En met die dowwe gons wat brombye maak,
    Hier besig met hul taak
    Van blom tot blom, waar die seringboom strooi
    ’n Bont tapyt die grond oor, en die hooi
    Sy heuninggeur die wêreld vrylik skink—
    Hier waar die sonskyn blink
    Op wasige druiwe wat die ou priëel
    Se rankende wynstokstamme jaarliks teel—
    Hier wag ek hom, vergrys, miskien, en lam,
    My lewensvonk verdoof, om nooit tot vlam
    Weer op te vlieg nie; of nog sterk en fris,
    Met liggaam en gees wat niks nie mis,
    Met planne vir die toekoms, fondamente
    Waarop paleise nog gebou moet word,
    Met liefde en genot nog uit op rente,
    En meer daarby, ryk as ’n man kan wees,
    Strydlustig, met die lendene omgord.
    Weet ek hy kom, of weet ek nie—dis een.
    Vir kennis of geen kennis, sal ek vrees?
    Vir iets wat welkom is, en wat as seën
    My voorkop kus as in die skemerlig
    Die Dood my eind’lik groet, gesig teen my gesig?



XI.


    En sawends om die uitspan-vuur
      Ná al die dagwerk afgedaan
      En die seiltente opgeslaan,
    Sit oom en neef in babbeluur.

    Bo skyn die blink suidsterreskaar;
      En rondomheen is swart en sag
      Ons liewe Afrikanernag,
    Wat met die dag in pronk kan paar.

    Die vuurtjies flikker rook-bekroon,
      En vonkies fladder oor die rook;
      En in die lewende skadu’s spook
    Die honde wat die naglug hoon.

    En eensaam in sy wa apart
      Daar sit ’n man en droom en dink,
      Totdat gedagte in droom versink,
    En tot in pure vreugde-smart.

    Want in die flikker van die vuur
      Bespeur hy prentjies wat hom steun—
      Pilare waar hy teen kan leun—,
    Al dreig die Noodlot nog so suur.

    Profete-hande in sy droom
      Wys waar die toekoms weemoed paar
      Aan groot genot onrekenbaar,
    Wat Tyd, nog Tyd se terge, toom.

    Gun, droewige Snyers van die Draad
      Wat stel die voorgeskrewe uur—
      Gun hom sy drome by die vuur
    Waar ander droom en dink versmaad!



XII.


    Hy wat alléén ’n deurtog soek
      Waar nog geen mens se voetstap was,
      Voortsukkelend met sy eie las,
    Beroof van hulp, deur hoop gevloek;

    Wat skimp nòg swaar verdrukking my
      En werk nòg harte-smarte spaar
      Om in sy skure jaar ná jaar
    Die stadig-rypende oes te kry;

    Wat, waar die sterre oor hom skyn
      Snags in die stille duister-groen,
      Volhardingsvol sy arbeid doen
    As hoop op seë kleiner kwyn,

    En, met die sterre van die nag
      Getuie van sy lydenswee,
      Sy siel en wat hy liefhet, gee
    Vir alles wat hy heilig ag—

    Net soos in middeleeuse tyd
      Die kloostermonnik wank’lend staan,
      Nog onbeslis om voort te gaan
    Met smartvol, angstige sielestryd:

    Daar lok die wêreld met sy prag
      Wat hom wat seëvier, bekrans
      Met roem, met rykdom, en met glans
    En op die kloeke vegter wag,

    En daar hang Hy wat boontoe wys
      En bowe aardse rykdom troon,
      Die Heiland met die doringkroon,
    Wat driemaal heilig eerbied eis—

    Hy sal vergelding ryklik smaak
      In ruime mate in sy hart,
      Want lang-verduurde sielesmart
    Is wat die sielskrag sterker maak.



XIII.


    Worstel en wen as jy kan;
    Of stoei en verloor, as jy moet, soos ’n man—
    Soos ’n mens wat kan ly en verdra
    As met eeue-ou terge die droefnis pla—
    Soos ’n mens wat kan wen en geniet
    Wat die guns van die Lot in genade bied,
    Oorvloeiend vandag, in brokkies oormôre,
    Te min vir jaloersheid, te veel vir sôre.
    Worstel en wen as jy kan,
    Of stoei en verloor soos ’n man!

    Al trek oor die blou lug tesaam
    Wolke wat sterlig en sonlig beskaam—
    Skadu’s wat skadu’s baar,
    Donker, bedwelmend, swaar—
    Skadu’s wat statig kwyn
    En voor sterre en sonlig verdwyn—
    Skadu’s wat kom en gaan,
    Soos maand ná maand die maan—
    Al trek oor die blou lug tesaam
    Wolke wat lig beskaam,
    Weet as die skadu’s kom
    En die ligvolle wêreld lyk skeef en krom—
    Weet dat die skadu’s vergaan,
    Soos maand ná maand die maan;
    En niks bly oor vir ’n man
    As te dra en geniet wat hy kan—
    En die nag is swart ferweel,
    En die sterre soos goud so geel.



XIV.


    Nie vir die loon wat mense ag,
      En wat die veld en berg versmaad,
      Tevrede met hul groen gewaad,
    Wat loon genoeg is vir die dag;

    Nie vir die woord wat sê: „Dis reg
      Wat jy gedoen het in jou krag”,
      Maar, soos die wilde blomme, wag
    Sonder besef van goed of sleg;

    Nie vir toejuiging wat bely
      Die waarheid van wat ewig waar
      Sal wees, tot eens die laaste snaar
    Breek voor die lied sy einde kry:

    Net vir die lus en die genot
      Deur krag gegee om krag te win,
      Om van die stof wat is, te spin
    ’n Sieraad vir jouself en God.

    Vir Hom hierna om, as Hy wil,
      Te prys of laak: net doen vir jou,
      En dan die hande saamgevou,
    Ootmoedig as ’n kind en stil.

    Neem wat die lewe vir jou gee
      En vra nie wat hiernamaals kom;
      Wat Hy beskik, laat dit aan Hom;
    En vou jou hande saam in vree.

    Gedenk die dae van genot
      Van kindsgebeente af verloop;
      En kom daar donker tye, hoop
    Jy heers uiteind’lik oor jou lot.

    Sag bewe oor die bos die wind,
      En sagter roer die wilgerblaar
      Wat deur die lente word gespaar,
    En dan sy sagte einde vind.



XV.


    Teen die blou van die jakarandas is die blou van die lug maar bleek;
    Teen die rooi van kafferboom-blomme is bloed maar skyn van kleur;
    En die pyn van na-herinnering in ’n hart wat kraaken breek,
    Is seerder, harder, skerper as die smart wat senu’sskeur.



XVI.


    Die druppel reën wat neerval, versmelt in droogte weg;
    Die traan wat droefnis van ons eis, verwasem in die lug;
    Maar somerreën en droefnis-traan kry op hùl tyd hul reg,
    En uitgestorte seën en smart keer tot sy gewer t’rug.



XVII.


    Dis winter, en die boom verblaar;
      In bruin hou al die bulte rou;
      Die môremis lê vou op vou
    Oor pan en plat land opgegaar;

    En rustig waai die môrewind,
      Wat skaars die ruigte-halme roer
      En oor die kaal veldwêreld voer
    Sy groetnis aan sy berge-vrind.

    Die lewe wat die lente kroon,
      Lê slaperig in sy rougewaad,
      En in die harde sooi die saad
    Wat later hoog in groen sal troon;

    En wat nog, ná die stryd verduur,
      Ná smart-geworstel, roggelkreun,
      As pragpilaar die bou sal steun—
    Dit sluimer nog en wag sy uur.

    Gun ook ’n volk sy wintertyd
      Om rus te neem en krag te win,
      Voordat die somerson begin,
    Met groen en sap, sy somertyd.



XVIII.


    Ek stem nie saam met hom wat sê
      Op klaerige, half weemoedige toon,
      As wil hy wat hy sê, verskoon:
    „Ons volk mis wat ons volk moet hê;

    „Ons het te min; ons hou te min.
      Om reg te vorder wettige eis,
      Wie is daar wat die weg kan wys
    Waar ons kan haal wat ons moet win?

    „Ons het geen reg op selfbestaan
      Waar volle vryheid nog ontbreek,
      Waar nòg talent nòg ywer steek
    In burgers wat al slent’rend gaan.

    „Wys my, waar vryheid pronk met vlyt,
      Waar vlyt vanself sy wins behaal!
      Ons oes—as oes daar is—is skraal;
    En hy wat mors, is kragte kwyt.”

    Ek stem nie saam—want ek besef
      Die land gesaai is weelde-grond,
      Wat ná die koue oggendstond
    Verryk word as die son hom tref.

    En ek weet ook benutte krag
      Word nêrens vrugteloos verspil:
      Nòg Toeval toor ons lot, nòg gril
    Van Iets wat in die duister lag.

    Wat om my omgaan, sê vir my
      Dat Wet ons groot heelal bestier,
      Meedoënloos vir mens en dier,
    Wat op sy tyd vergelding kry.



XIX.


    Wat vra ons vir ons kinders en onsselwe?
    Wat eis ons in die toekoms vir ons land?

    ’n Ongestoorde lewe, stil en rustig,
    In vrede, môre en aand, die jare deur;
    Om stil wat ons gegee word, aan te neem,
    En stil wat ons geweier word, te laat staan;
    Met innerlike ingebore vryheid
    Die wêreld rondom as ons vrind te hou;
    Nie vyand van ons buurman ooit te wees nie,
    Maar vrind sover ons moontlik vrind kan wees.

    Dìt is ons eis!—nie meer en ook nie minder—
    En hoog gegryp!—want hy wat hoog wil reik,
    Kan laer iets met albei hande vat.



XX.


        Elke nasie het sy martelare,
            Elke trots ’n traan.
    Voor jy goud kan kry uit klipsteen-are,
    Moet jy eers die steen tot gruis verslaan,
      Bange worst’ling in die droewe nagte
        Baar die sterkste krag,
    Wat kan stryd voer teen die wildste magte
        Misgebore uit die middernag.
    Gun die lang-verduurde skimp en skande,
        Gun die smart en wee:
    Land en volk neem aan die offerande,
        En die Toekoms bring waardering mee.



XXI.


    Agteros, beur teen die bulte op,
      Die droë sand deur en die holtes af!
      Draf oor die krom klein paadjies, draf,
    Vlaktes oor in jou gou galop!
      Agteros, beur dat die trektou kraak,
    Dat buikplank kreun en wa-rem sing,
    En elke boutjie en skroefie bring
      ’n Deel aan die koorgesang as taak—
    Drifte deur en vlaktes oor,
      Berge, bulte op en af,
    Waar die lang tamboekiegras versmoor
      Hoë land, lae land—agteros, draf!
    Voort op jou reis na die noorde—voort
    Na ’n betere tuiste, ’n mooiere oord!
      Draf deur die mollige, sagte sand,
      Die stowwerige dons van ’n nuwe land!
    Agteros, beur as die wiele raak
      Vas in die modder—’n martelwerk!
    Beur en trek dat die rieme kraak—
      Rieme en wiele is baie sterk;
    Vas en stewig en goed beproef
    Spyker en bout en gedraaide skroef;
      Beste hart van die beste hout,
      Sonder kraak en sonder fout,
    Sterk genoeg om deur te staan
      Knikspoor-skok en bulte-stamp,
      Somerbars en winterkramp,
    Wind se terge, hael se slaan—
      Beur maar, agteros, beur maar op,
    Die opdraand boontoe, die afdraand af!
    Draf waar daar glad nie ’n pad is nie, draf
      Die wêreld oor in jou gou galop,
    Noord-toe, oos-toe, na die blou
      Wat skitter en skyn nog myle ver,
      Waar wilde bosse die weg versper,
    En wilde gedierte die poorte hou!
      Draf deur die stowwerige, sagte sand
      Na ’n nuwe land, ’n vrye land!



XXII.


    Dis gevoed deur ’n gloed van sonneskyn,
      En verwarm deur die strale van goud;
      Dit was nimmer jonk, maar al oud en oud
      In sy dag van geboortepyn.

    Dit was sterk vir die werk, was daar werk voor die hand;
      Dit was stadig, bestendig en vas;
      Dit was dapper genoeg om die swaarste las
    Te dra met geduld en verstand.

    As die droefnis te straf was, die donker te swart,
      Was dit hoopvol, vertrouend en taai.
      Met die os ingespan en die voorkis gelaai,
    Was daar moed in die Voortrekker-hart.

    Die veld is oneindig, die vlakte só wyd,
      En die Toekoms lê duister daarvoor;
      Op die veld en die vlakte, daar gaan sy spoor
    Getrap in die dae van stryd.

    En die worstel en woel het hom taaier gemaak,
      Om te ly, om te beur en te dra,
      Om nimmer te huil nie, om nimmer te kla,
    Om hoopvol te werk en te waak.

    Maar die yster het diep in die hart ingeslaan
      En sy merke daar agtergelaat—
      En die diepste merk is ’n merk van haat
    Wat die Liefde alleen verstaan.



XXIII.


    In kring staan al die waens gelaer—
      ’n Kraalmuur teen die vuur se lig,
      Met elke tussen-opening dig
    Met doringboomtakke aan mekaar.

    En Ouma, wit gerimpel, gee
      ’n Knikkie teen die duister: „Kyk,
      Die maanlig op die wolke lyk
    Amper soos maanlig op die see.”

    Die kleinspan het vir Oupa beet
      En soebat: „Oupa, toe, vertel!”
      Maar Ouma: „Kinders, moet nie kwel
    Vir Oupa, want hy wil vergeet.”

    En hy, die langbaard halfpad wit,
      Sê: „Nee, vrou, ek sal nooit vergeet!
      Kom, kinders, julle wat wil weet
    Iets van die see, hier om my sit.”

    En klein en groot skuif nader voor
      Te luister na wat Oupa sê;
      En soos die osse en veetjies lê,
    Lê half die laer om aan te hoor,

    As af en toe die rooibos-hout
      Vooruitgestoot word dieper in,
      Om groter vuur en vlam te win,
    En boontoe skiet sy vonke goud.



XXIV.


    In die outyd vertel hul ’n storie
    Van Glaukus, die visserman,
    Wat eenmaal ’n vis gevang het
    In sy net tussen kurke gespan.
    Die vis was so groot soos ’n walvis,
    En die net het geskeur met die vang;
    Maar Glaukus het dapper geworstel
    Vir ure en ure lang
    En eind’lik die vis op die wit strand
    Gebring waar die bossies staan,
    Waar die glans van die skemer-sterre
    Meng met die skyn van die maan.
    En die vis, wat half dood en half flou was,
    Het vinnig ’n bossie gekou;
    En die bossie se krag het hom só versterk
    Dat niemand hom meer kon hou.
    ’n Klap met sy stert en ’n sy-spring,
    En weg was die vis in die see,
    En Glaukus staan vrywe sy oë,
    Jammerlik ontevree!
    Hy dink by homselwe: „Die bossie
    Moet wrintig die sterkste wees,
    Om somar ’n halfdooie haaivis
    Van bloedverlies te genees.
    Wat goed is vir visse, kan mense
    Miskien ook wel deeglik baat;
    Probeer maar ’n blaar van die bossie,
    En kyk hoe dit daarmee gaat.”
    Hy vat van die bossie se blare,
    En kou dit langsaam fyn;
    En toe hy dit kou, toe voel hy
    Sy moegheid en matheid verdwyn.
    Hy voel die trek van die branders,
    Die vleiende streel van die see;
    En die blou-swart water lok hom,
    En die visse roep: „Kom mee!
    Kom saam in die waterwêreld,
    Waar kraalgeraamtes staan,
    Verlig deur die glans van die ondergloed
    En die dowwe skyn van die maan,
    Waar die wrakke van ou skepe lê
    Met pêrelskulpe oorgroei,
    En die slingerende seegras bande maak
    Wat die dooie vissers boei,
    Waar die seevrou waak in groen gewaad,
    En die seeperd galoppeer,
    Waar die krap en kabeljou vergaar
    Om op ’n lyk te teer.
    Kom ondertoe! Kom ondertoe,
    Waar alles jou welkom heet,
    Jy wat vanaand van die wonderbos
    Jou eerste blaartjie eet.”

    En Glaukus voel sy lede word
    Gerek tot vinne, en voel
    Sy vel word skobberig as dié van ’n vis;
    En sy bloed word naar en koel.
    En hy spring met ’n wilde haaivis-spring
    Diep, onder die branders in,
    En swem na die silwer-ondergloed
    Om die visseryk te win.



XXV.


    ’n ander oom sê plegtig: „Nee!”
      En klop sy pyp uit teen die wiel;
      „Dis maar ’n fabel sonder siel:
    Ek kan jul iets veel beter gee.”

    En toe sy tabak plesierig brand
      En blou-grys kringe boontoe stoot,
      Toe hurk tesame klein en groot
    Om toe te luister op die sand—

    Want hy is uit die Boland; hy
      Het eenmaal daar ’n held aanskou
      In kinderjare en onthou
    Die storie wat ’n naam moet kry.



XXVI.

WOLRAAD WOLTEMADE.


      Nou ja, jul wil ’n storie hê!
      Wees stil dan, kinders—tjoepstil, hoor!
      Ek sal vir julle ’n storie sê—
      ’n Ware storie van ons land.
      Julle is al groot en het verstand
      En sal Oom nie met gekskeer stoor.

      Want luister! Wat ek nou vertel,
      Is iets wat ons geslag moet weet—
      Iets waarop nooit ’n mens kan skel,
      Wat julle kinders moet onthou—
      Veral in so’n tyd soos nou
      As alles somar word vergeet.

      Sy naam was Woltemade—ja,
      Onthou die man se naam maar goed!
      As iemand later vir jou vra:
      „Hoe heet dié kêrel weer, ou boet?”
      Sê: „Wolraad Woltemade, man,
      Het so sy lewe uitgespan.”

      Ek het op daardie strand gestaan
      Waarteen die see so gulsig stry;
      En bowe het die dowwe maan
      Sy half verstikte glans versprei
      Oor geel en goud en perlemoen—
      Daar het ’n held sy plig gedoen.

      Ons het so baie helde nie
      Dat ons daar een van op kan gee—
      Veral ’n man so groot as dié,
      Wat deur sy lewe daardie see
      Gekoop het en homself as pand
      Gegee het vir ons váderstrand.

      As oor jou kop die koeëls gons
      En om jou heen die slagveld kraak,
      En kruit en stof en rook ’n dons
      Oor jou en al jou maters maak,
      Dan kan jy lig die bobaas speel
      En jou ’n egte held verbeel.

      Wat dink jy aan die Toekoms dan?
      Wat steur jy jou aan Klaas of Piet?
      Jan Rap se maat staan selfs sy man
      As Kaffers blaas en Finghoes skiet.
      Met Kaffers, Finghoes, Makketees—
      Dis maklik om ’n held te wees.

      Maar as dit in jou rustyd kom,
      As oor die see ’n stormwind waai,
      As teen die strand die branders brom
      En selfs die vaste rotse swaai,
      ’n Pikswart nag die wêreld oor—
      Dan is die saak wat anders, hoor!

      Dan moet jy waarlik dapper wees,
      Tot in jou murg, tot in jou siel,
      Om sonder sidder, sonder vrees,
      Jou eie skouers teen die wiel
      Wat in die modder sit, te beur
      En sonder hulp te trek daardeur.

      Dan gaat dit amper net so hard,
      So opdraand as ’n mens dit kry
      Wat in die wêreld staan apart
      En moedersiel alleen opsy
      Die skorriemorrie teen hom het—
      Dan is om held te wees geen pret.

      Maar tog, ek stel die mens daarbo—
      Ja bo Jan Rap se maat of Piet
      Wat net aan heldedade glo
      As Kaffers blaas en Finghoes skiet;
      Hy is ’n egte held wat weet
      Gevare wat Jan Rap vergeet.

  Dis lankal gelede, al lank, en die jaar en die dag—nou ja
  Dis tog nie so veel van belang, die datum, die dag en die jaar—
  Maar goed, dit was voor jou geboorte, Jan Spens; en as jy my nou vra
  Hoe lank vóór, dan sê ek ek weet nie—jy moet my maar glo, want dis waar.
  Jan Kompanjie was toe ons bobaas; die Engelsman was nog nie hier;
  En Soutrivier—ag dis so lankal—was regtig ’n waterrivier.
  En bo in ou Papendorpstrate het deftige ooms geflankeer
  En sedig en statig gesanik oor handel, die huis, en die weer.
  Hoe bont was dit in die ou dae! Jou broek was van blougroen ferweel,
  Jou hoed was so groot soos ’n emmer; jou baadjie soos kerrie so geel;
  Die aias was algar uit Indië; die tee was ’n egte Sjinees;
  En Malie se volkies was algar, soos Malie, nog slafies gewees;
  En oor die ou driemaste-skepe het nog die ou driekleur gewaai.
  Net een is nou nog soos hy toe was—dit is die ou blouwaterbaai.
  Genoeg dat jul weet dit was anders.—Nou goed. Op ’n aand in die jaar
  Toe het dit geblits en gedonder—’n mens word daar amper van naar.
  En daar in die baai het die branders, so hoog soos ’n mied ná die oes,
  Die hele boel skepe en skuitjies getakel en byna verwoes.
  En vlak in die see was ’n seilskip—Jong Thomas, ek glo, was sy naam—
  Gestrand op ’n rots onder water, deur kranse van water omraam.
  Toe was daar ’n nare bohasie; die mense die maak ’n lawaai—
  En reg ook: die ou Jong Thomas was propvol met mense gelaai.
  En groot was die skeur in sy voorkant—so groot dat hy netnou moes sink;
  En kom daar geen hulp vir die mense, dan moet man en muis maar verdrink.

      Die Jong Thomas was ’n skip
      Solied van bou, met elke rib
      Gespyker vas en dig geteer
      Om see se terge te trotseer,
      Wat sonder skroom van oos na wes,
      Van noord tot suid deur elke bres
      Van brander of van seegolf spring
      En al sy mense veilig bring
      Net na die plek waar hul moet wees—
      ’n Skip wat sonder sku of vrees
      Al baie male deur die see
      Geseil het met sy mense mee.
      ’n Skip is soos ’n mens: sy lewe
      Is hom vir ewig nie gegewe,
      En eenmaal kom ’n dag of nag
      Wanneer die dood sy aandeel wag.
      Ons is nie op die wêreld hier
      Net soos ’n muggie of ’n mier,
      Waarop geen mens ooit agting stel,
      Waaroor geen siel hom ooit sal kwel.
      Die mier of muggie is vir ons
      Net maar ’n goggatjie wat gons—

      ’n Korreltjie wat lewendig
      Rondspartel in die skemerlig
      En oorkruip oor die steilste rand—
      Die afgrond van ’n greintjie sand.
      En vir die see is elke skip
      ’n Kleinigheid; en elke klip—
      Die kleinste ook—kan in die see
      Vir elke skip ’n doodsteek gee.

    Hoor hoe die donder kraak
        En die weerklank dreun oor die see!
    Hoor, daar’s ’n stem tussen hael en reën!
        Hoor hoe die mense skree!
    Help! Daar is vyftig meer—
        Help! En ’n kind daarby!
    Is dit ’n vrou se stem wat klink,
    Of net die gekreun van die wind wat drink
    Water en hael as ’n blitsstraal blink
    As dit wolke en water sny?
    Hoor jy nie, man, hoe die mense kerm
    En hoe die arm goed gaan te keer?
    Wie van ons, wie, sal hul nou beskerm?

    Hier op die strand waar die see so stoom—
    Hier, wie is hier wat sy hand sal reik?
    Algar die mense die staan en kyk.
    Daardie een bidde, want hy is vroom;

    Hierdie een vloek, want hy weet nie raad.
    Wie sal gaan help? Daar’s kans vir jou—
    Jy wat so dapper is, jy wat hou
    So baie oordag van ’n heldedaad.

    Niemand.. Dit is mos die Heer se wil....
    Wat kan ons maak? Daar’s niemand klaar.
    Hoog slaat die see, en ons weet dis waar:
    Iemand wat waag, dié loop gevaar
    Nooit weer t’rug na die strand te kom
    Anders as lyk as die see weer stil
    Blou en groen en slaperig is.
    Nou is dit steeks, en dit gaap en gis.
    ’n Man is ’n mens en mos nie ’n vis—
    En ’n vis moet hy wees of ’n voël wat vlie,
    Om deur te kom na die mense daar.
    Wie sal dit waag? Kom sê dit, wie?
    Wie is vir doodgaan kant en klaar?
    Jy nie wat bidde, al is jy vroom;
    Jy nie wat vloek nie: jy is te laf.
    Ja, as dit mooi weer is, dan blaf
    Al die keffertjies rondom oom.
    Nou is dit storm, en ’n mens moet dink
    Nie aan homself, maar aan kind en vrou.
    Jy is nie klaar nie: dis niks vir jou
    As hier in die water ’n mens verdrink!
    Niemand sal gaan nie.. Maar wag, daar links
    Kom Wolraad aan op sy skimmelhings.

    Vorentoe, vorentoe, strand-toe, strand-toe,
      Bollemakiesie die branders oor!
    Vorentoe, vorentoe, land-toe, land-toe,
      Amper verdrink, en half versmoor!
    Die water suis, en gis en bruis,
      Die blits vlam oor die see,
    Die lang seebamboes buie en breek,
    Die wilde branders slaat en steek,
      Die woeste wind speel mee.
    Groen, donkergroen soos skemergroen
      Nog voor die sterre blink,
    Of soos die varkblomloof geboen
      Deur dou wat dagbreek skink—
    Blou donkerblou, soos wolke-blou
      Waarin die donder stoom,
    Of soos diep water in ’n kloof
      Waar nag nog altyd droom—
    Só is die see tot aan die lyn
      Waar see en lug kom trou,
    Hieronder donkerblou en groen,
      Daarbowe groen en blou.
    En as die wolke swig, dan breek
      Die slinger-bliksem los,
    En see en hemel word ineens
      In goud en glans gedos.
    En oor die kraak van branders knal
      Die donder oor die see,
    Tot Tafelberg se kranse dreun
      En Duiwelskop dreun mee.
    Die laaste af! Die mense roep:
      „Daar is nog ander daar!”
    Die water dreig, die skimmel hyg—
      Wie trots die doodsgevaar?
    Nie jy wat praat, nie jy wat bid,
      Nie jy wat staan en bewe!
    Dis Wolraad weer wat nog ’n keer
    Die Dood se woeste mag trotseer
      Met wat hy het—sy lewe.

    Kom op, ou skimmelhings, kom op!
      Nog eenmaal deur die see!
    Nog een gered, dan kan jy rus!
      Nog eenmaal deur die see!
    Die buikgord vaster vasgetrek—
      Dan weer die branders in,
    Die skuim en seegras deurgeswem
      Om vorentoe te win.
    Die hoë branders deur, ou maat,
      Swem skip-toe, skimmel, swem!
    Daar in die verte by die skip,
      Daar klink ’n vrou se stem.
    Dis pikswart donker oor die see;
      Die wind die gaan te keer;
    ’n Bliksemstraal maak silwer-blink
      Die bokant—daar ’s hy weer!—
    En dan weer in die donker weg.
      Ons hou ons asem; ag,
    Van hings en ruiter niks te sien,
      En orals net die nag!
    Maar weer ’n bliksemstraal se lig
      Wys Wolraad by die skip:
    Ons hoor hom roep: „Net een maar, een!”
      Nog voor die lig verglip.
    ’n Sarsie uit die wolke bars
      En dreun die wêreld deur;
    Die weerlig verf die hele baai
      Met goud- en silwerkleur.
    ’n Tikkie tyd wat ure skyn,
      Genoeg om te gewaar
    Hoe om die held die mense woel,
    Hoe oor die skip die branders spoel,
      Hoe ná die doodsgevaar.
    Maar ag, die dof lantêrenskyn
      Word deur die see geblus,
    En skip en skimmelhings verdwyn
      In duister nag gesus.
    ’n Nare tyd voor weer die blits
      Die oog ’n kans kan gee—
    En ag, dan wys dit net die skip
      En net die woeste see!
    Daar is geen spoor van held of hings:
      Die Dood het weer gewin,
    En lewe-gulsig oor die strand
      Bruis weer die branders in.



XXVII.


    Dis later, en die kruisster daal;
      Die maan sink oor die randjie neer;
      Die naggroen, helder sag en teer,
    Bly oor om oor die waens te straal.

    En oom en neef sit nog en praat
      En haal nog uit die ou doos uit
      Die beste wat geheue omsluit,
    Voordat die uur van rustyd slaat.

    Die een vertel van hoe ’n spook
      ’n Ou Franshoekse plaas kon terg;
      Die ander van ’n Boesman-dwerg
    Wat hout aan brand maak sonder rook.

    En een wat van die weste weet,
      Waar sout geraap word in die pan,
      Waar boer nog werk as visserman
    En met ’n lyn die water meet,

    Vertel, as deur die groen lug skiet
      So af en toe ’n ster wat val
      In goue strale lank en smal,
    Die storie van ou Koenraad Fiet.



XXVIII.


    Ver in die Troe-troe-vlakte, waar die skildpadbossies groei
    En heuningsoet die boesmangras laat in die voorjaar bloei;
    Waar, as die winter halfpad wild die wit-gerypte land
    Bedek het met ’n harde kors van half gevriesde sand,
    Die mistige môre, wasemryk, die son se glorie steel,
    En skemeraande, ster-gestrooi, die hemel bo ferweel;
    Op uitspanplekke langs die pad wat deur Jan-Dissels loop,
    Tot waar sy vuil-geel gruis-tapyt hom in diep water doop,
    As met die Olifantsrivier die blouberg-stroompie ming
    En waboombos en boegoebos tesaam hul geure bring;
    Op Sederberg se plase, waar die winter-koue skok
    Die kweperlanings by die huis belaai met wit kapok;
    Waar teen die purperswarte rots die sederreuse pryk,
    Die oerou konings van die berg en van sy sederryk;
    Waar tussen ruie slingergras die afrikaner strooi
    Sy wierookgeure oor die land en spog in helder rooi,
    En bontgeverfde klossies met die grys kalkoentjies paar
    In kleure-pronk en -skitter tussen donker groen geskaar;
    En in die dorpie op die vlak waarteen Karoberg lag,
    Waar glorie-groen met glorie-goud die skemeraande wag—
    Daar orals, as die mense praat op ouderwetse wys,
    Vertel hul nog die storie van Piet Ryneveld se reis—
    Piet Ryneveld die beeste-smous, wat, soos die mense sê,
    Vermoor deur ou Koen Fiet se mes daar in die duine lê.
    En in die aande as dit reën en winterbuie waai,
    As vir die blits daarbuite op die werf die hane kraai,
    Dan word die kinders bang gemaak met Eenoog, wat staan treur,
    En met die spook van Koenraad Fiet, wat dwaal die duine deur.

    „O, glinster-wit die bergkapok, nog gisternag geval,
    En silwer skitter op die gras die wit ryp teen die wal.
    O, goudgeel teen die donkergroen daar bokant op die bank
    Die ryp lemoene aan die boom waarteen die klimop rank.
    O, pragtig rooi die môrerooi eerdat die son verskyn,
    En rooier nog sonsondergang gekleur soos rooi robyn!
    O, woedend woes die oostewind wat deur die denne kreun
    As wild sy woeste weemoedslied deur al die takke dreun!

    Maar witter as die môreryp is Ryneveld se hand,
    En geler as die goudste goud die vuur wat voor my brand,
    En rooier as die môrerooi is Ryneveld se bloed,
    En baie woester as die wind die angs wat in my woed.
    Want as ek saans my oë sluit, dan sien ek voor my stryk
    ’n Lang lykstasie; elke man dra Ryneveld se lyk!
    Ek voel hy ’s hier: ek ruik sy bloed; dis op die misvloer dáár;
    Ek sien hom wink; ek hoor hom roep: ‚Kom same, moordenaar!’

    Koppel die perde aanmekaar en laat hul bokant wei:
    Niemand is baas van die weiveld hier, en niemand spook met my!
    En skeer jou weg, dooi Ryneveld, want wie is bang vir jou?
    Daar in jou rooi-geel duinegraf kan jy jou rus behou.”

    O, hard is die taak van die beeste-smous wat oos en wes moet reis,
    En oos en wes en noord en suid sy vee die pad moet wys—
    ’n Pad wat nog nie klaar is nie, ’n voetpad hard getrap,
    Waar vers en bul en os en koei moet struikel as hy stap,
    Die laagland in, die bergland op, die diepste drifte deur,
    Die vlaktes oor, die klowe af waar jy geen pad bespeur;
    Want hy moet waak, en hy moet werk van dagbreek tot die dag
    Uit puur vermoeienis vir die son „Tot siens” sê vir die nag;
    En harder nog die taak van hom wat met sy geldsak reis,
    En oos en wes en noord en suid sy rykdom algar wys—
    Want mens is mens, en gierigheid is iets wat algar byt,
    En vrind vandag is môreaand jou vyand tot jou spyt.
    O, oos en wes en noord en suid het Ryneveld gereis;
    En orals waar hy kom, het hy sy geldsakkie gewys.
    „Ek was begerig na die geld, en Ryneveld was ryk.
    Koddig hoe soms ’n mens se kanse met sy wense stryk!”

    Die nag was donker; donderweer was in die hemel swart;
    En Ryneveld was bang vir blits—’n bangkat in sy hart.
    ’n Kwaai ou oom was Koenraad Fiet, sy daad was op sy dreig,
    En dreig en daad was een by hom, want hy was kwaad-geneig;
    En nors en steeks was Koenraad Fiet net soos ’n perdeby,
    En gretig soos ’n wildekat na wat hy maar kon kry.
    Ja, mislik-gierig was ou Koen: sy huis was nooit gewit;
    Sy gewel vol met spinnerak waarin die duinsand sit—
    Inhalig soos ’n ystervark, vrygewig glad nie—nee.
    Oom Koen het nooit uit eie gier vir iemand iets gegee.
    En op ’n aand het Ryneveld by Koenraad aangeland
    Met al sy osse, en sy vee daar bo op Rodesand;
    En Koen was klaar vir Ryneveld—klaar om sy geld te steel;
    En Ryneveld was regtig bly om met ou Koen te speel.
    „Jy kan vannag nie verder nie, ou boet; jy moet maar bly,
    En neem verlief met wat ek het en wat jy hier kan kry.
    Ek is alleen: my vrou is weg; die sout kors in die pan,
    En al my mense raap nou hard die beste laag daarvan.
    Sê vir jou jong hy moet probeer vanaand Patrysvlei haal:
    Dit is die beste skuilte daar; die veld is hier maar skraal,
    Maar daar is weiveld groot genoeg vir amper dertig span.
    Bly jy maar hier vanaand by my, en speel kasino, man.”

    Dit donderweer verskriklik sterk; die blits was een aan een;
    En blits en donder by mekaar—daar waag geen mens hom teen—
    Veral as hy, soos Ryneveld, swaarweer ’n pes beskou,
    En liewers onder dak sy kop in sulke tye hou.
    Piet Ryneveld was kant en klaar om by ou Koen te bly,
    En kaart te speel en geld te wen as hy dit reg kon kry.
    Want in sy buurt—hy was voorheen ’n boer uit Bot’lary—
    Was hy geroem as slim neef Piet, na wie Fortuin kom vry;
    En hy kon speel—ja hy kon speel, selfs met die duiwel teen,
    En kaarte was sy lieflingspel, kasino hom ’n seën.
    Hy het sy jong bevel gegee die beeste saam te kraal,
    Daaronder by die Mieliedraai, waar osse nooit verdwaal;
    En by die warm kombuis se vuur het Koen en hy sit speel
    Tot middernag en later nog—jy kan jou hoe verbeel.
    Geluk was Piet se beste vrind, en Koen het geld verloor;
    En elke nuwe geldverlies het Koen weer aangespoor
    Vir groter geld om roekeloos nog groter geld te wa,
    En elke kans Geluk se kans om Koenraad weer te pla,
    Tot eind’lik nyd en gulsigheid hul toppunt het behaal—
    En Koenraad Fiet is woedend bleek, bankrot om te betaal.

    „My mes was by die hand vir my—’n perdemes, half krom,
    Gepunt en skerp; ’n steek daarvan was steek genoeg vir hom.
    En op die mis-gesmeerde vloer het Ryneveld geland
    Met skaars ’n roggel in sy keel, en bloed was op my hand.
    Sy bloed was net soos ossebloed, blou-rooi soos donderweer,
    Rooi harte-aas was rooi daarteen, rooi ruite-aas nog meer.
    Die stroom het oor die stoel gespat, die kaarte vuil gevlek.
    Sy val het van die tafel af die tafelkleed getrek.

    O, langsaam rek die lewe uit, en jaar ná jaar vergaan,
    En blare val en bloeisels kom in boord en eikelaan;
    Die gloeiende somer spil sy krag in geilste groenste loof,
    En najaar kom met wind en stof wat somerglorie doof,
    En winter volg met kou kapok wat Sneeubergsrand bekroon,
    En voorjaar huppel vrolik in en eis sy weelde-loon.
    Jaar uit en in verandering, want lewe staan nie stil;
    En hy wat agtertoe wil kyk ’n uurtjie te verspil,
    Hy loop verdwaal en vind geen rus nòg wins in wat hy kry.
    En ek alleen bly stilstaan as die jare hol verby,
    Want as ek vorentoe wil trap, hou Ryneveld my vas—
    En struikel moet ek, want ek dra sy dooi lyk as ’n las.”



XXIX.


    As my asem uit is,
    En my oog soos glas,
    My gesig soos dooie skulpe op die strand,
    En my lyf so koud soos druppels winterdou,
    Lê my op die randjie
    Waar die son die aalwyn groet
    En goeienmôre vir die suurvyblomme sê.
    Dek my oor met klippe—
    Roes-rooi klippe van die randjie,
    Lang verskroei deur somerhitte,
    Skoon gewas deur somerreën,
    Weer vervuil deur winterstof
    Met ’n laag van vuil-geel gruis.
    Stapel klippe op my, oor my;
    Maak ’n vestingwerk daarvan,
    Waar die wapad-sand kan skuil kry
    As die warrelwind hom slaan;
    Waar die bossie-saad beskut word
    Tot die kiemtyd—as dit kom.



XXX.


    Nee huil maar, want die droefnis-traan
      Deur diepste, seerste smart gestort
      Raak nimmermeer verdwaal en word
    ’n Aalmoes wat die siel verstaan—

    ’n Aalmoes wat die liefde hou
      En wat die smartvol siel verryk—
      ’n Gulde God-geseënde blyk
    Van eerbied en van broedertrou.



XXXI.


    Waar die koorsboom sy geel aan die wêreld vertoon,
      O wyd is die vlakte, die vlakte!
    En geil is die groei van sy katdoring-kroon
      Wat groei op die vlakte, die vlakte.
    Dis wilde bos-lommer, berank en geboei,
    Met geilste klimop in geen jare gesnoei,
    Waaronder die blou-apies klouter en knoei—
      Die volk van die vlakte, die vlakte!

    Die rooi-geel suurknolle pryk somermaand daar—
      O mooi is die vlakte, die vlakte!
    Die trotse rooi aalwyne, deftig geblaar,
      Wat waak oor die vlakte, die vlakte!
    Die heuningsoet peuldoring, die varings so slank,
    Die bontblom wat orals die bosse oor rank,
    Die moepel waarin die vaal koringboer tjank—
      Hul waak oor die vlakte, die vlakte!

    O plat is die pad wat hier slinger en sluip,
      Dwarsdeur hierdie vlakte, die vlakte,
    En sag is die mos wat met reënwater druip
      Hier neer op die vlakte, die vlakte!
    O pragtig die kleur wat die skemeraand sprei
    Oor bosveld en grasveld, oor bulte en vlei,
    En pragtig die groen wat die wêreld hier kry
      By nag op die vlakte, die vlakte!

    Die klowe is steil, en die berg is hoog:
      O gee my die vlakte, die vlakte—
      Al is dit ook winter en alles is droog,
      En geel op die vlakte, die vlakte!
    O hier is dit vry, en die wêreld is stil,
    Met nêrens ’n weerklank, met nêrens ’n gil,
    En weelde van kleure so veel as jy wil—
      Hier op my ou vlakte, die vlakte!



XXXII.


    Lang braakland-arbeid, voor die grond kan teel
      Die weelde wat sy diepste heimlik hou;
    Lang smartvol werk, voordat die veld ontvou
      Sy groen en goud en geel;
    Eers doodgaan, voor die lewe wat besiel
      Die ongespruite saad,
    Ootmoedig in die sonskynstraal kan kniel
      In geilste groen gewaad;
    Eers sukkel deur die smart wat eind’lik baar
      Plesier en rein geluk;
    Eers ruwe trekke aan die teerste snaar;
      Eers sug en buk—
    En dan die diadeem, die vol koraal
      Wat weerklank gee tot in die sterreryk,
    Om nimmer tot ’n klaaglied weg te daal
      Voordat die siel beswyk!



XXXIII.


    Die Opperwese wat ons lot beskik
      En heel ons gang bestier,
    Sal krag gee sterk te maak en te verkwik
      Ook hier.

    Hy wat vir Isrel deur die dor woestyn
      Gelei het Kanaan in,
    Sal ons tot seë deur die droef en pyn
      Laat win.

    Hy wat die dooie mossie gadeslaan,
      Sal ons erbarmend lei
    En van die smarte wat ons teëstaan,
      Bevry.



XXXIV.


    Kyk t’rug in die verlede! Laat jou gewete kies
      Tussen wat oorlog aanbied, wat vrede kan behaal.
    Wat is die batig saldo? Wat wins en wat verlies?
      Wat is die skuld wat eind’lik die wêreld moet betaal

    Vir haat wat harder woeker hoe laer die mensdom sink,
      Vir kleinlike jaloersheid wat nyd en bangheid baar
    Waarin die mense-liefde meedoënloos verdrink
      In diere-hartstog duister aan diere-moed gepaar?

    Praat nie van patriotisme; tel nie jou helde oor;
      Sus nie jou siel met woorde wat waarheid net verbloem;
    Kyk raak, tot in sy hart toe, die onding wat versmoor
      Die beste wat die mensdom het om eer te gee of roem—

    Verdraagsaamheid en liefde, begrip van egte reg,
      En broedertrou en buurmansplig teen elkeen wat bestaan.
    Vra dan vir jou gewete waarom jou helde veg!
      Vir watter doel, uit watter plig, neem jy jou wapens aan?



XXXV.


    Raak nooit jou hoop op uitkoms kwyt,
      O broer en suster in jou wee,
      As skel die wilde branders skree
    En teen die smart jou weerstand slyt.

    Die wapens wat jou siel besit,
      Is sterk om droefnis af te weer;
      Die hefboom wat jou hart hanteer,
    Druk self die Noodlot half uit lit.

    Hy wat die helm van Liefde dra,
      Die harnas van Geloof behou,
      En met die skild van Broedertrou
    Die ongelykste worst’ling wae—

    Hy is gewapen kern en spits
      Teen wat ook al sy lot voorspel,
      Al is die donker rondom Hel,
    Waarin die veraf weerlig blits.



XXXVI.


    Die son spat splinters goud en louter lig,
    Die hemel pronk met kleureprag, en dig
    Lê weelde oor die wêreld in glans van goud en kleur;
    En orals in die rondte is rykdom te bespeur:
    Natuur se geil-gegewe buit;
    Die veld se bont-geverfde geruit;
    Die koor van voëls wat sing;
    Die blye pret van alles wat huppel, en juig, en spring;
    Van visse in die kuile wat bo die water stoot;
    Van spreeus wat hul neste bou daar in die droë sloot;
    Van bokke wat die gras verdeel
    In paaie wat die meerkat steel;
    Van loerie-voëls wat, pragtig blou,
    Met trots-gekuifde hoogmoed die laeveld aanskou.
    Dit is ’n nuwe wêreld hier,
    En anderste as tuis die veld die mooiste maande vier.
    Hier is nog net belofte van wat nog later kom:
    Groen grasskeutjies bo die grond; boom nog sonder blom;
    Vinkeneste, halfpad nat, nog maar halfpad klaar;
    Kafferboom al aan die bot, skoon nog sonder blaar—
    Groot belofte vir die Toekoms, wat so baie hou,
    Soos die wolke vol met reën drywend teen die blou;
    Groot belofte vir die Toekoms, wat so veel voorspel,
    Ryker oes wat later kom as die veld vervel.

    En hy staan teen sy perd geleun en kyk
    Noordooste-toe, waar hemel en veld as een
    Skyn in die middaglig—’n wêreldryk
    Met afdraand-vlaktes, opdraand-hellings, pryk
    Daar voor hom. Waar die son se strale teen
    Die Draak se kettings val, daar vlam die rooi
    Met lyne wit daartussen—stukkies goud
    Wat staan as eilande daar in die woud,
    En silwerdrade waar die laaste reën
    Die vlak riviere met hul waterprooi
    Belaai het. Waar die berg se skadu val
    Op kloof en sloot en dig-begroeide dal,
    Daar swewe donkerpurper, donkergroen,
    Die swart vernis van blare nuut-geboen,
    En skadu-kleure wat nog naam moet kry—
    So baie, so verskillend. Hier opsy
    Val weg die wêreld in ’n afgrond af,
    Om daar weer op te rys en hoog te styg
    Tot kranse, klip-gehak, wat rusplek skaf
    Vir aalwyn en vir naboom ingelyf
    Tussen die skeure waar daar skaars ’n steun
    Skyn vir die statige reuse wat daar leun.
    Lang doringtoue slinger daar, en vas
    Klou koningblomme op die varingbas,
    En rooi en blou klooflelies geur die lug,
    As van die see die seewind sukkel en sug
    Om deur die diep-gekloofde wêreld heen
    Te dring, en dal en vlakte met sy seën,
    Sy koel sag „Vrede bly met jou”, te sus
    Voor op die middag hier die wêreld rus.
    Dis weelde hier—’n wêreld stil met vree....
    En veraf lê die blou lyn van die see.



XXXVII.


    Die see! die see!
    Mens is hy nie wat op die strand kan staan,
    Onder die skyn van dagson of die maan,
    Sy voete deur die brander-water nat,
    Sy siel tot in sy diepste dieptes sat
    Van vrede en van vreugde, en nie gee
    Eerbied en eer en liefde aan die see.
    Die magtige, die woeste, wilde see,
    Die sagte, strelende, spelende moeder-see.
    Die see wat ongebore is,
    Die see wat onvergaanbaar is,
    Die see wat alles wen en hou,
    Die see wat met sy strande trou,
    En ewig, ewig, ewigdeur
    Die wêreld wat hy spoel, vergeur.

    O see, o trotse oseaan, wat woel
    Van Yslands ys-verdedigde berge af,
    Om met lou water oor die strand te spoel
    Waar silwerwit die skulpe-sand
    Die vloer maak vir die silwerstrand
    Waarteen die sagte branders bruis
    Eentonig op en af die rotse teen,
    Gelaai met bamboesgras
    Waaroor die seeskuim reën.
    O see, wat lok en trek
    En in jou kinders liefde wek—
    Hartstogtelike liefde, sterker in sy mag
    As liefde vir die roem, vir plig, vir eer—
    ’n Liefde groter, reiner, meer
    As die aantrekkingskrag
    Wat die Natuur aan al wat lewe hou,
    Gegee het, een vir een,
    Tot mense-vloek of -seën,
    Om jaar op jaar nuwe lewe te ontvou.
    O see, o moeder, teer en sterk en trou,
    Groet t’rug vir hom wat bring sy eerste groet aan jou!



XXXVIII.


    O prag-gebergte van die Draak,
      Diep kloof-gekerfde graat en rand,
      Wat skitter oor die nuwe land
    En Nátals kroon en sieraad maak!

    O keiserryk van blomtuingrond,
      Van weelde groen en lommerprag
      Wat in ’n gloed van sonskyn wag
    Sy sagte rus in awendstond!



XXXIX.


    Dit is die lang-beloofde land,
      Die Kanaan wat ons welkom heet.
    Kom laat ons same, hand aan hand
      ’n Eed sweer dat ons nooit vergeet
    Wat ons gebring het in die land—
      Die Kanaan wat ons welkom heet.

    Om vry te lewe is ons wens,
      Om vry te sterwe is ons hoop.
    Wat voor lê—daarvan kan geen mens
      Die swart skuil-sluierdoeke stroop.
    Om vry te lewe is ons wens,
      Om vry te sterwe is ons hoop.

    Gevare het ons deur gekom:
      Daar lê nog smart en droefnis voor.
    Vir ons is dit ’n heiligdom
      Wat tot hernude poging spoor.
    Gevare het ons deur gekom:
      Daar lê nog smart en droefnis voor.

    Hy het tot hiertoe ons gelei
      En sal nog verder uitkoms skenk.
    Dit is ons Kanaan, waar ons vry
      Kan lewe en Sy naam gedenk.
    Hy het tot hiertoe ons gelei
      En sal nog verder uitkoms skenk.

    Loof, loof Sy naam, verheerlik Hom,
      In ootmoed biddend voor Sy troon.
    Hier in die nuwe land gekom,
      Wil ons Hom prys en liefde toon.
    Loof, loof Sy naam, verheerlik Hom,
      In ootmoed biddend voor Sy troon!



XL.


    Soos ’n slang wat daar kronkel
      En gly en verdwyn
    As die son op hom fonkel
      En die goud oor hom skyn,
    So skitter en bewe die blits,
          en die donder gee luid ’n refrein.

    Almagtige winde
      Dwaal rond op die vlei—
    Hul vreet wat hul vinde
      En breek wat hul kry,
    Op wilde verwoesting gerig,
          van die skuld van vergelding bevry.

    Dof donkerblou bande
      Versluier die nag;
    Die berg se ver rande
      Is swart in hul prag,
    En swarter die stormswanger wolke
          belaai met die onweer se mag.

    Dit bars en dit kraak,
      En die hemel skiet vuur:
    Die wolke neem wraak
      Op die middernag-uur—
    En die wêreld is moeg van die worstel,
          en sat van die stryd die Natuur.



XLI.


    Swart, sonder ster, is die nag; gou goud waar die weerlig skiet;
    Bliksem blink soos die gloed wat die môreskemer oes;
    Rondom die kriekie-koor, en die groot bulpaddas blaf
    Bokant die slingerpad waar die veld die vlei begroet—
    Eentonige staatsie-sang geërwe die jare deur,
    Geleer van wind en reën, van die donder wat dreun en kraak,
    Gesing in die donker nag as die sterre slaap, versluier
    Deur die dik gordyn van wolke waaronder die weerlig skuil;
    Nog donkerder die berge en die klowe groen en swart,
    Met die digte groei van bosse, waaronder die mamba woon;
    En donker-swart die veld wat boontoe loop en af,
    Eentonig op en af, in sagte bult en kloof;
    En nêrens ’n ster wat glim, en nêrens die maan wat skyn!
    ’n Harde donkernag, ’n somernag vol reën,
    En swanger tot barensnood met die onweer wat moet kom,
    Met die blits wat breek en spat en skitter en skok en skuim,
    Van wolk tot wolk loop speel, en orals die wolke spoel
    Met ligtelaaie vlam en vonke van ligter goud.
    Die harde donder kraak met bulderende, bewende stoot,
    En rond omringende klank wat ver in die verte klink.
    En doodgaan soos ’n man wat hard sy dood beveg
    Met roggel en sug en klag wat eind’lik sag verkwyn,
    In swarte sagte vree wat die stilte stiller maak.



XLII.


    Lommeryk oor die watersloot hang die wilgertak;
      Waggelend op die watervlak dryf die lelieblaar;
    Donserig in die waenhuishoek hang die spinnerak;
      Vreedsaam oor die ruigte-vlei stap die ooievaar;

    Skommelend oor die seekoegat tjilp die vinkeheer:
      Louter vreug hou bidstond hier waar die nessies swaai;
    Sedig op die plaas se werf—sedig heen en weer—
      Kuier, kopknik-slenterwys, in sy skik, ’n kraai.



XLIII.


    Die osse loop die laagland plat,
      En uit en in die bossies deur—
    ’n Nuwe selfgemaakte pad
      Belaai met blom-vertrapte geur.

    In rye in, in rye uit
    As hier en daar ’n herder fluit,
    Soos geil, gevlegte berg-klimop
    Wat tussen trotse stamme pryk,
    So loop die osse kop aan kop
    Ry uit, ry in, totdat dit lyk
    Die hele wêreld het sy vee
    Hier vir die Soeloevolk gegee.
    Rooi beeste hier, wit beeste daar—
    Wit beeste, spierwit elke haar;
    Swart beeste en bont beeste hou
    Elk in sy eie klompie trou,
    Soos in die blomtuin elke bed
    Sy eie kleur-karakter het
    En nie met ander kleure ming
    Maar elk sy eie blomme bring,
    So staan hier elke klomp alleen
    In suiwer kleur die ander teen,
    En elke klomp ’n duisendtal,
    En vyftien klompe teen die wal—
    Soos resjimente wat daar staan
    Geduldig sonder oog te slaan
    Op wat hier omgaan rondomheen,
    En elke klomp apart alleen.
    Die trotse rykdom van die ryk
    Wat hierso voor die vreemd’ling pryk
    Om hom te toon—wat hy al gis—
    Hoe ryk die Soeloekoning is,
    Wat soveel osse eienaar noem,
    Wat soveel kleure-klompe roem.



XLIV.


    Die koning sit en kyk dit aan,
      Onstuimig, nydig in sy hart.
      Hy sit daar somber en apart—
    Daar waar hy alles gadeslaan.

    En niks toon onraad in sy siel;
      En niks die nyd wat ontrou baar
      Hier in sy swarte leërskaar—
    Hier waar sy mense rondom kniel.

    Hy klou sy kierie in sy nyd
      Krampagtig met sy vingers vas;
      Sy oog gewaar geen groen van gras—
    Want wat hy sien, is bloedrooi stryd.

    En in sy ore dreun sy haat
      Soos bier wat borrel in die vat,
      En om hom lê sy koningstad
    En al die rykdom van sy staat.

    En nyd en vrees bespeur net nood.
      Sy hand gryp aan sy prag-karos
      En plots’ling brul sy wreedheid los:
    „Slaan dood die towenaars, slaan dood!”



XLV.


    „Slaan dood die towernaars! Slaan algar dood,
    En trek hul buite, dat die koningstad
    Nie deur hul bloed bevuil word nie en skuld
    Van bloed hier op die Olifant se stad
    In later jare rus nie.” En die woord—
    Die vonnis oor wie gister vrinde was—
    Was skaars uit, of die moord’naars gryp hul prooi;
    En mes en vuis en hand teen assegaai
    En wrede kierie veg, soos wanhoop kan,
    Of heldemoed wat sonder houvas kamp.
    So moet hy voel wat in ’n see-spelonk
    Deur towersoete water wat hom streel
    In rimp’lende liefkosing om sy lyf,
    Genotvol swem, en plots’ling word omhels
    Deur slym-gesmeerde, klouende seekat-bande
    Wat bloed en krag met elke krimp verdruk
    En worsteling hoop’loos maak. So moet hy voel
    Wat wanhoopvol die sneeu-lawiene sien kom,
    En links nòg regs kan uitweg kry vir vlug.
    Verskeur, vermink, onmagtig meer te stry,
    Word een vir een die kraalstad uitgesleep
    En heuwel-toe geruk, om daar te smaak
    Die laaste teug wat wrede mart’ling bied—
    ’n Beker bitter soos die bitter gal
    En hiesop wat die Heiland in sy tyd
    Op Golgotha geproe het aan die kruis.

    Die heuwel toe, en op die heuweltop,
    As laaste snik gesnik is, laaste teug
    Van die blou suiwer lug is ingehaal,
    En laaste hartkrimp laaste polsslag baar,
    En die verminkte liggaam sonder voelte
    Genadeloos gemartel en ontsiel is,
    Die lyke neergelê as aasvoël-prooi
    En teken van die lang-oorpeinsde wraak—
    Soos Saul se lyk wat teen die hoë muur
    Gehang het vir die wraaksug van Beth-San.



XLVI.


    ’n stroompie bloed soek uitweg deur die gras
      Na laer lande, waar sy nattigheid
    Die tingerige halmpies lawend was
      Met lewensvog van fierste heldestryd—
    ’n Kronkelende stroompie, afdraand af,
      Wat oor die klippe stadig weg moet kruip
    Om by die aalwynblomme in ’n graf
      Van dorstig-droë veldsand te versuip.



XLVII.


    Bowe in die blou-gekleurde hemel
      Swewe statig rond ’n arendvoël.
    Met sy sterk verkyker-oog spioen hy
      Orals, as hy bowe statig dool.
    En hy sien die lyke op die koppie,
      Rustig, stil, en weet dis lyke daar—
    Dooie lyke wat sy vrind die aasvoël
      Vóór vanaand nog kom om te vergaar.



XLVIII.


    O Dodeland se koningin,
    Perséfone!
    Wat met blou-swarte oë uit die swartheid staar
    En „Welkom, welkom!” roep
    Aan elkeen wat die dodeland betree—
    O droewige koningin,
    O smart-gelouterde, geliefde vrou
    Strek uit jou arme, hou
    Vir algar hier ’n skuiloord uit en win
    Die edele geeste wat geskaar
    Tesame aankom om met jou gesin
    Van stille rustige dode saam te woon.
    Bekroon hul, koningin, bekroon
    Elkeen met rus, met vrede ongestoor!

    Smart en wat smart nog bitterder kan maak,
    Skimp en die skyn van skande was hul deel
    Hier op hul eie wêreld. Gee hul rus;
    Gun, onder dié wat, toe die tyd nog jonk was,
    Moeg van die stryd en radeloos jou ryk
    As nuwe dooie burgers, eerbaar, eerlik,
    Met roem wat dooie helde hou, bereik het—
    Gun onder dié ’n plaas vir hulle. Groet,
    Hul met ’n welkomsgroet, en reik die hand—
    Jou sagte hand, o koningin—aan elk
    Wat hier vanaand jou doderyk besoek.

    En jy, ou Charon, roeier van die boot
    Wat dooie siele afvoer oor die stroom,
    Wees vrindelik met hul en versag jou haat
    Teen alles wat ooit lewenslig gesien het.
    Dink aan die helde wat jy vroeër vervoer het,
    Aan martelare en aan wie vir plig
    Eie belang en lewe afgegee het,
    En groet hul vrind’lik—almal wat hier kom—
    En voer hul veilig oor jou donker stroom.



XLIX.


    Son, wat rooi die ooste welkom bied,
    Groet met laaiende strale wat jy sien—
    Pyn-gemartelde lyke bont bevlek
    Met ’n rooier kleur as môrerooi;
    Styf-wit hande met verrekte spiere,
    Glas-verstyfde oë ewig blind.
    Son, wat in ’n kermisgloed van kleure
    Heel die wêreld wek tot lewe hier,
    Groet met silwer, rooi en perlemoenskyn
    Elke mart’laar hier op Golgotha.
    Gee jou lig wat luisterryk eenmaal lyke,
    Helde-lyke, elders kon bestraal;
    Gee jou warmte, strelend soos die sagte
    Liefdevolle handdruk van ’n kind,
    Sag om hier die laaste plig van liefde
    Uit te voer voordat die duister kom.

    Sê vir die winde wat die wêreld plat waai,
    Sê vir die sterre wat die hemel steun,
    Sê vir die vaste rotse van die aarde
    Waar nag en dag die wêreld onder kreun,
    Sê vir die lug wat blou is,
    Die see wat groen en wit is,
    Die verste eilande wat palm-versier
    Oor stil en oor onstuimige waters pronk,
    Sê vir die noord- en suidpool met hul ys,
    Die oerwoud-bosse om die ewenaar—
    Sê vir hul algar dat hul weet die waarheid,
    En dat hul rou dra vir ons heldedood.



L.


    O ligkomeet wat links van Achernar
      Jou blink vuursabel swaai,
    En jarelang geduldig
      Rondom die son moet draai!

    O ster wat maan speel vir ou Jupiter,
      Geketting maar nog vry,
    En as trawant jou plig doen
      Om lig as loon te kry!

    O melkstraat saamgevleg uit silwerdraad
      Soos wit ryp nuut-gesaai,
    Wat deur die hemel kronkel
      Met stukkies ster belaai!

    O melkstraat, ligkomeet, en o trawant,
      Verkondig hemelrond
    Dit, wat die donker duister maak
      Op Golgotha se grond!



LI.


    Vinnige strale wat fonkel en skiet
      Deur ’n waas van pers en perlemoen
    As die môregoud sy glorie giet
      Oor ’n wêreld bont met dou geboen.

    Eerste straal van die grootste mag,
      Vonk van die vors wat oor alles regeer,
    Koning met meer as ’n wêreldgesag,
      Vader van alles, van algar Heer,

    Eerste oorsaak van ons bestaan,
      Bron van alles wat lewe en lig,
    Wat was, wat is, en wat nooit vergaan,
      Waarheen wat siel het, sy siel moet rig,

    Eerste God van ons mensdom, spaar
      Goud van jou glorie genoeg vandag
    Hier vir ’n kroon vir ’n martelaar—
      Pragtige gloed vir sy heldeprag.



LII.


    Maan, ou maan, wat jare deur
      Met jou lang-geleende lig,
      Met jou bleek gesig,
    In nagte deur blomme vergeur
      Oor die wêreld waak en wag,
    Baie het jy, ou maan, bespeur
      In die jare lankal afgeloop,
    Van mense-trots en van mense-hoop,
      Van bloed verspil en van twis gestry,
      Van dade wat nooit vergelding kry,
    Van moedeloosheid soos middernag.
      En jy merk, ou maan, wat die mensdom dra,
    Maan, ou maan, met jou bleek gesig,
      Met jou blink geleende sonnelig.
    Maan, ou maan, wat nooit nie treur
      Maar sedig orals rondom speur,
    Kyk hier neer op Golgotha
      En sê die son wat hier gebeur!



LIII.


    Wee wie sy hand bebloed
    Met lewensrooi van sy onskuldige broer,
    Wie haat met haat vergoed,
    En vrederus beroer
    Met wilde oorlogskreet en krygsgeskal!
    Hy wat die swaard uit die skede trek,
    Sal deur die swaard vergaan;
    Wie eers die skot in die lug laat knal
    En eerste oorlog wek,
    Wie eers die blinde woestheid sal laat slaan
    Op ’n onskuldige volk wat onbedek,
    Bloot voor die aanval staan—
    Hy sal vergelding vinde in sy skand’,
    In bitter jammer en gewetenssmart—
    Hy wat die eerste staan met bloed-bevlekte hand
    En broederhaat onstuimig in sy hart.



LIV.


    O Golgotha, in Godsnaam dek jou droef
    Met rou van winterse wind-verwoeste gras
    Waardeur die son-vergrysde bene was
    Tot wit ivoor wat skitter teen die grys—
    Dooi bene soos die ou profeet
    Bespeur het in die doodsvallei,
    Wat eens miskien weer lewe kry
    En krag om smarte te vergeet.
    Pronk nie daarmee, maar dek jou droef
    Teen daglig wat geheime wys,
    Teen sterreskyn wat moord ontdek,
    En teen die wind wat wraak kan wek—
    Teen lewendige oë wat bespeur,
    O Golgotha, bedek jou treur!



LV.


    O aandblom, aandblom, maak oop jou gesig.
        Voor nog die skemer kom!
    Die hele dag was jou ogies dig,
        En jou blaartjies krom:
    Nou is dit tyd om jou geur te sprei—
        ’n Wierook vir hom
    Wat as lyk daar lê op die rooi-geel klei,
        Vermink en stom.

    Waai na die koppie ’n wolk van geur,
        O liewe aandblom!
    Miskien sal sy veraf gees bespeur
        Van wie dit kom,
    En jou korte lewe sal lieflik wees,
        Aandblom, aandblom,
    As jy weet die geur van jou lewensgees
        Was geur vir hom.



LVI.


    Die koperkapel kom uit sy gat
      En sluip die randjie rond:
    „Dit het gereën; die veld is nat,
      En nat is die rooi-geel grond.”
    Die meerkat kom, en sy ogies blink,
      En hy staan orent en wag.
    En die stokou ystervark sê: „Ek dink
      Die reën kom weer vannag.”
    Maar die geitjie piep: „Dis glad nie reën!
      Dis klewerig, swart en rooi:
    Kom jy sulke reën in jou lewe teen—
      So glad, so styf, so mooi?”
    En die wyse steenuil waag sy woord:
      „Dis bloed, dis mensebloed!
    Dis lewensbloed wat hierdie oord
      Se bossie-wortels voed.”



LVII.


    Nie vir hom ’n graf te win,
      Nie vir hom ’n kis te kry!
    Spinnerak oor die grond gespin
      Waar die môreson na vry,
    Deur die oggenddou bemin,
      Met ys-pêrels aangery—
    Dis die lykkleed wat hy win,
      Hy wat nooit ’n kis sal kry.

    Soos ’n stokou steenbok sterwe,
      Eensaam op die veld alleen,
    As die son die vlakte verwe
      Ná die reine somerreën—
    Sal hy so sy dood beërwe
      As die laaste liefdeseën?
    Is sy lot so uitgekerwe
      Deur die Noodlot, lang voorheen?

    Of is syne harder einde,
      Blits-bestraal—met donderdreun?
    Ting’rig, brok’lig, smart-verfynde
      Lewe wat versink in kreun,
    Soos ’n warrelwind-gepynde
      Lelie wat sy kop moet leun,
    En sy alte lang verkwynde
      Mooiheid opgee sonder steun?

    Graf nòg kelder uitgekerwe
      Dek die helde waar hul slaap;
    Stofkleed van die wind geërwe
      Is hul lykkleed waar hul slaap—
    Stof van dit, hul eie wêreld,
      Kanaan waar hul nooit sal bly,
    Bloedstof wat hom in hul sluimer
      As ’n sluier oor hul sprei.



LVIII.


    Ek droom van ’n land waar die geeste woon
      In ’n skadu van donkergroen ferweel,
      Omraam met ’n glorie van goud en geel,
    En ’n boog diamant-kristal as kroon;

    Van ’n lang wit eensame kronkelpad,
      Wat slinger die klowe en kranse deur,
      Met die sikkeldoring se ruik vergeur,
    Na ’n seeskuim-wit mooi marmerstad—

    Na ’n koningstad waar gewels rys
      Deur suil en pragpilaar gesteun,
      Waaroor die veraf seegons dreun
    As teen die strand die branders slaan;

    Waar die hoë torings boontoe rys—
      Kristal wat skitter teen die maan,
      Te fyn gefonkel om stil te staan
    In die gloeiende glans van die goudpaleis.

    En ’n vywer is daar, met die water blou
      Met die skyn soos die skyn van ’n blou diamant,
      En die rooi, rooi lotos is daar geplant,
    Wat in die môre sy knop ontvou;

    En onder die blare swem daar vis,
      Seewater-groen met bloed bevlek,
      Deur die waaierpalm se blaar bedek,
    As die môreson met die koelte twis.

    En ’n koning is daar met ’n koningskroon,
      Smarag-, sardoniks-, robyn-bester.
      En die koning se oë die sien so ver,
    Tot diep in die duister waar spoke woon.

    Die dae wat nog sal kom, ken hy;
      Hy weet van die jare wat nog sal wees;
      En sy oë kyk vorentoe sonder vrees
    Om te sien of wat mooi is en waar is, bly!

    Die veraf jare die gaan verby;
      Die dae wat nog sal wees, sluip weg;
      En die koning bly stil, want hy weet dis reg
    Dat net wat mooi is en waar is, bly.

    En die koningstad is altyd daar,
      Met lotosvywer en goudpaleis,
      En hoë torings wat boontoe rys
    En die eerste skyn van die dag gewaar.



LIX.


        O glorie van die nag,
        O donker prag
        Van wat die dag
        Verskuil het vir ons aangesig,
        Wat eers ’n wolkgordyn
        Verhinder het te skyn—
        Ster met jou statige lig,
        Wat voor die swart moet swig
        Maar tog onsterflik wag
        Om weer te glim en lag
    As wolk en wind verwarrel sterwe
    Of doelloos oor die hemel swerwe.

        O ster en donker nag,
        Leen, as ons hier vandag
        Geduldig toef en wag
        Op nuwe lig, op nuwe krag
        Vir wat die Toekoms hou—
        Smart, kommer of berou,
        Eervolle worsteldood,
        Hoop in die grootste nood—
    Leen ons geduld om rond te swerwe
    Die moed om sonder wins te sterwe.



LX.


        As die skemer kwyn
        En die maanlig skyn
    Op die grastapyt om die klooffontein,
    Kom die klein kabouterjantjies saam,
    Soos dit klein kaboutertjies betaam.
        Hulle dans en spring,
        Hulle praat en sing,
    Tot die dagster dag in die ooste bring.

        Waar die water bruis
        Oor geslepe gruis
    En die koel aandwind deur die keurbos suis
    Met ’n sedige, slaperige, sag refrein,
    Is ’n gras-omgorde klooffontein,
        Wat slinger en daal
        Om die kloof te haal
    Eer sy water tussen die gras verdwaal.

        In ’n kermisdrag
        Met juwele-prag
    Is die skaar gedos, en die vliegies wag
    Om hul lig te gee vir die dansparty,
    Waar die mooiste dans in die voorste ry.
        En die sterre skyn,
        En die maan verfyn
    Met ’n silwer-skitter die klooffontein.



LXI.


    Nader die lig van die Dood, wat die oë laat fonkel
    In ’n laaste geglim eer die lig van die lewe verdwyn—
      Net soos die skyn
    Van die sinkende son op die see as sy goudstrale kronkel
    Oor rollende golwe en branders wat strand-toe lei,
    Oorskuimend om sag op die sand hulle lykbed te kry;
    Net soos die vuurstraal daarbo—waar die ster, as hy gly,
    Saggies verglip van sy hemelse anker, verdwaal
    Voordat hy aarde bereik as hy aarde-toe daal—
    Goudglans en skitter en weelde kry.



LXII.


    Stil lê die dooie moederlyk
      In sederkis met swart beslag,
      Geraam in blink groen mirteprag
    Waarteen die katjiepierings pryk.

    Die lig val saggies op die vloer—
      Lynregte strepe stof-belaai,
      Waarin die fyne donsies draai
    As iets in die doodskamer roer.

    Dis stil hier by die moederlyk,
      Hier om haar swart getooide kis,
      Hier waar dit alles rustig is
    En waar die katjiepierings pryk.

    En by die dodekamer staan
      Die rou-gedoste huisgesin,
      Wat steeds die moedergees bemin
    En smart sy reg gee op ’n traan.

    Dit was haar reg om so te wees
      Ná sag die Dood haar slaaptyd gee,
      Te win ’n rus, ’n stille vree,
    Hier vir haar liggaam sonder gees;

    Maar nie haar lot nie. Op die sooi,
      Vermink, vertrap, met bloed bevlek,
      Dáár lê haar lyk, en bo haar trek
    Die aasvoëls nader by hul prooi;

    En rondom is nòg rou nòg wee,
      Maar net die eensame, ewige veld,
      En niks vereer die moederheld—
    Net maar die milde middag-vree.



LXIII.


    Hulle het gespeel in die môreskyn
      Met die son se goud en die grond se groen;
    Hulle het gedrink van die wind se wyn,
      En die sagte dou het hul koel gesoen.
        Onder die bome, in die gras,
        Nat met môrevog gewas,
    Waar alles rondomheen hul wys
        Dit is ’n nuwe paradys,
    Het hulle gespeel in die môreskyn
    En die wierook geruik van die wind se wyn.

    Hulle lê nou stil in die skemergroen,
      So aaklig stil as die lig verdwyn.
    Die Dood, nie dou nie, het hulle gesoen,
      Om verlossing te gee van hul martelpyn.
        Tingerige lykies, ru vermink,
        Waaroor die nag se duister sink,
      Om in die donker die pad te wys
      Na ’n betere, nuwere paradys—
    Eensaam, stil in die skemergroen,
    Deur die barmhartige Dood gesoen.



LXIV.


    Die beste wat Natuur ons skink,
      Die grootste wat ’n mens verdien,
      Is dat sy oog die rykdom sien
    Van gras wat bloei, van son wat blink.

    Die swaarste wat die mens moet dra,
      Is dat sy oog sy werk vergeet,
      En hoe om reg te sien nie weet,
    En hulp van hand en harsings vra.

    Maar hy kan wens sy oog is blind
      Wat so ’n gruwel-ding moet skou—
      Die naarste wat die waarheid hou—
    Die lyk van ’n vermoorde kind.

    O slanke wese, rein as reën
      Wat van die winter-wolke stort,
      Onskuldig, vóór die wêreld word
    Jou bank waarvan jy skuld kan leen!

    O skitterende ogies lig geverf
      Met wat van siel ons oorhou van
      Gods groter siel, waarvan die man
    Maar min behou voordat hy sterf!

    Daarin was liefde, louter, rein,
      Omhelsend soos die moedersee,
      Of soos die engel Gabriël gee
    Aan sondaars wat voor hom verskyn.

    Daarin was lewe, laggende laai,
      Die perd se draf, die bok se spring,
      Die voël se vreug wat juigend sing,
    Die vis se duik, die slang se swaai.

    Die reinste onskuld, skaamteloos—
      As skaamte skuld is—was daarin;
      Die krag om skoonheid te bemin
    Sonder om vir dié krag te bloos.

    Daarin was wete onbewus
      Van wat nog vóór die lewe lê—
      Die kennis wat vir kinders sê
    Genoeg om twyfel-angs te sus.



LXV.


    O God der Leërskare help
          Ons volk in noute vasgeklem,
    Stroef deur die heidenmag oorstelp
          Hier in ons nood verhoor ons stem,
    O God der Leërskare help!

    O Abrams God, U sterke hand
          Het eenmaal Isrel uitgelei
    Na die beloofde Kanaanland:
          Help ons vandag as ons hier stry,
    O Abrams God met sterke hand!

    Verlosser, Vrind, hier in ons nood
          Verhoor, en help, en gee ons krag!
    Versag die droefnis van die dood,
          Verlig die duister van die nag,
    Verlosser, Vrind, hier in ons nood!



LXVI.


    In sy geel-gepleisterde koningspondok
      Lê die koning op sy karos;
    Sy oë is swaar met die las van slaap,
      En sy hand laat sy kierie los.

    En die vonke van die vuur verspring
      In die koel sag aandlug rond,
    En die flikkerende skadu’s van die vlam
      Dans voor hom op die grond.

    En onder sy slaap-swaar ooglid deur
      Gewaar hy die skadu’s dans—
    Net soos ’n verwilderde vlermuis klap
      In die skemer teen ’n krans.

    En hy sien hoe die skadu’s groter word
      En neem gedaantes aan—
    Net soos verstrooide wolke vorm
      Gestaltes teen die maan.

    En die koning skrik, en sy hande klem
      Om die kierie weer te gryp—
    Maar sy hand is styf, soos die môredou
      Verstywe deur die ryp.

    En die skadu’s fladder oor die grond,
      En stadig groei hul groot,
    En die swaarte druk op die koning se bors
      So swaar soos swaarste lood.

    En die koning wil roep, maar sy stem is stom,
      Sy verhemelte lam en droog—
    En hy lê daar roerloos soos ’n lyk
      Met wyd-geopende oog.

    Die skadu’s kom al naderby
      En neem gedaantes aan—
    Net soos die môremis eerdat
      Die son sy krag verslaan.

    Dis manne, vroues, kinders dié
      Wat uit die skadu’s tree—
    Dis spookgedaantes van die nag
      Wat om die koning skree.

    Met wolwekloue tas hul hom aan,
      En streel sy yskoue lyf—
    Met hande kouer as die ys
      En as die dou so styf.

    Hulle algar kom die pòndok in,
      Dosyne, een vir een;
    En oor hul flikker die vuur se vlam
      Sy skadu’s net soos reën.

    En die oudste skadu-gedaante strek
      Oor die koning sy dooie hand,
    En sy oë fonkel soos vonke vuur
      As die rooibos-hout verbrand.

    „Ek kom uit die nag en die duister uit
      Waar die geeste doelloos dwaal—
    Die vermoorde skaar wat op jou bevel
      In die duister neer moes daal.

    Daar is baie van ons wat jou weer wil sien,
      Dingaan, eer die laaste dag;
    Daar is baie van ons wat vergelding eis
      En moeg is om langer te wag—

    Want die bloed wat swart in die son verdroog,
      Gekors soos die opstoot-klei
    Wat die spruit laat staan as hy vleiwaarts daal,
      Roep wraak om jou dwinglandy,

    En die wedevrou en die wewenaar
      En die weeskind sit en wag,
    En ’n opgevrete iempie-swerm
      Verlang na jou dag en nag.

    Ek kom om die koning bevel te gee
      Van ’n groter Koning as hy—
    Van ’n Koning wat diep in die duister wag
      Om Sy reg en Sy wraak te kry.

    Dingaan, eer die maan tot twaalfmaal groot
      Gegroei het en weer verklein,
    Eer die sikkeldoring tweemaal sy blom laat val
      En sy blare weer verdwyn,

    Daag dié Koning jou voor Sy koningstoel,
      In Sy donker, duister saal,
    Waar die lang-vermoorde mense dool
      En die vader-geeste dwaal;

    En Hy roep jou daar om reg te gee
      Vir alles hier gedaan,
    Waar ’n lange ry van klaers wag,
      En die ewige regters staan.”

    Die vonke fladder weer in die lug,
      En die skadu’s oor die grond,
    En die koning skrik, en hy rek hom uit
      En staar in die duister rond.

    En die vlammetjies flikker oor die vuur,
      Want die hout is half verbrand—
    En die skadu’s dans weer halfpad wit
      Oor die koue grysvaal sand.



LXVII.


    Dink, duiwelskind, wat mense noem Dingaan—
    Dink as die donker oor jou hoofstad daal—
    Dink as die sterreglans jou land bestraal
    En in die môreskemerskyn vergaan—
    Dink agtertoe en vorentoe as jy droom
    Van wat die Toekoms in vergelding hou,
    Van liefde wat tot haat ontaard, en trou
    Wat afdaal tot verraad wat sonder skroom
    Jou afgod-kapiteinskap inmekaar
    Tot duisend flenters in ’n oomblik slaan
    As in die duister van die nag vergaan
    Jou land, jou troon, en hier jou heidenskaar
    Van krygsgeoefende manskap ring-bekroon,
    Van veelgekleurde, uitgesoekte vee,
    Van roof en buit wat elke krygstog gee,
    Van al wat in jou heiden-hoofstad woon!
    Dink agtertoe, waar in die newelgrys,
    Nòg ster-verlig nòg maan-bestraal, maar grou
    En barensswanger met die môredou,
    Die stemme van vermoorde mense rys—
    Elkeen om aanklag teen jou aard te maak—
    Elkeen om teen jou siel te protesteer,
    Met duisend tonge wat jy nie kan keer—
    Elkeen om skuld te eis, geregte wraak!

    En, duiwelskind, wat mense noem Dingaan,
    Bewe as jy dink, en sidder in jou hart,
    En klem jou kierie vaster in jou smart,
    En smeek genade van die blinde maan—
    Die maan wat neergesien het op jou spel
    Met mense-hartstog en met mense-pyn,
    Blind en genadeloos met silwerskyn—
    ’n Blinde, blink lantêren in jou hel!



LXVIII.


    Wraak—wat is wraak?
    As die goue basuine blaas
    En die lang, lang dooie lyke met nuwe lewe raas,
    En vyand staan naas vrind
    In die laaste glorie, blind,
    Sonder herinnering of onthou
    Van haat en smart wat die dood verflou,
    Met net die oë stram gerek
    Op wat die dooie lyke wek
    Uit hul eeue-oue dodesluimer
    Tot ’n nuwe lewe, groter, ruimer
    As ooit gelewe was op aarde—
    Wat is die waarde
    Van lang-gebergde wraak?

    Wraak—wat is wraak?
    Is dit wraak wat t’rug vir die mensdom gee
    Plesier en genot en rus en vree,
    Soos die koel sag wind aan die worstelende see?
    Is dit wraak wat die moeder se trane droog?
    Wraak wat blind maak die vader se oog?
    Wraak wat vertroos as geen trooster is?
    Wraak wat weet hoe om uit te wis
    Alles gely en alles gedra?
    Wraak wat nooit vergelding vra?

    Wraak—wat is wraak?
    In die lange nagte, stil alleen,
    As jy nie meer ’n traan het om uit te ween,
    Nie meer ’n sug het om uit te sug,
    As jy staan in jou droef tot sout versteen—
    Soos Lot se vrou in Sodoms lug—,
    Met nêrens ’n pad om mee uit te vlug,
    Stok-alleen,
    Jou tong verstom, jou oë blind,
    In jou ore die suis van die skemerwind,
    Onmagtig, lam—soos ’n klein, klein kind
    Wat, weg van sy moeder se skoot verdwaal,
    Uit angs vergeet het sy eie taal—,
    Jou hande styf gekrom met pyn,
    Jou haat gestil as jou hoop verkwyn,
    En in jou ore die dof refrein
    Van die skemerwind wat sing en skree:
    „Jy het alles vir niks en niks gegee—
    Afgegee en opgegee
    Vir niks en weer niks! Laat maar bly:
    Die dood sal alles wat doodgaan, kry!”
    As jy nié meer vertroue het om te vertrou,
    Wat is jou wraak dan werd vir jou?



LXIX.


    Die vlag wat eenmaal oor ons was,
      Is nou nie meer ons vlag:
    Verskroei verlede maand se gras—
      Daar ’s nuwe groen wat wag.

    Die Spinnekop se wimpels stroom
      Daar waar die seewind waai;
    Die ou nag met sy donker droom
      Het tot die lig gedraai.

    Rooi, wit en blou en kruise drie—
      Dis niks vir ons vandag!
    Net maar herinnering wat ons nie
      Wil ruil vir wat ons wag.

    Sint-Joors, Sint-Andries en die Ier
      Is niks vir my en jou!
    Kom saam ’n nuwe feesdag vier,
      ’n Nuwe vlag ontvou.

    Die groen van wat God om ons rond
      Gesaai het wêreldwyd,
    Die tint wat hier tapyt die grond
      Deur al die somertyd—

    Laat dit ons eerste vlagkleur wees:
      Die groen wat Hoop voorspel,
    Wat voorbeeld is van al die gees
      Wat nimmer tart nòg kwel.

    En rooi, die kleur van lewensbloed—
      Laat dit as twede pryk,
    Herinnering aan die Heldemoed
      Wat land en volk verryk.

    Die derde blou, die donkerblou
      Wat berg en laagland verf,
    Tot teken ons geslag bly Trou
      Aan wat ons eind’lik erf.

    As laaste kies die witste wit—
      Die kleur van Reinste goed—,
    En vleg dit same in gelid
      Met groen en blou en bloed.

    Die kleur van Hoop, die kleur van Trou,
      Die kleur van lewensbloed,
    Die spierwit Reinheid wat behou
      Die krag van Heldemoed—

    Meng al dié vier en maak vandag
      ’n Vierkleur-vlag daarmee—
    ’n Nuwe vlag, ’n reine vlag,
      Vir vryheid en vir vree!



LXX.


    Ek kyk deur skadu-lane na die dae wat nog sal wees,
    En my oë is vol met trane, en my siel is siek van vrees.
    Ek sien ’n veld vol lyke; ek hoor ’n donder dreun—
    Die arme teen die ryke, wat worstel, stoei en steun.
    Die goud wink oor die velde, die sonskyn laat hom glim;
    Wat afstam van die helde, verdwaal en volg ’n skim.
    Die wit-gevlerkte engel soek angstig na ’n skuil
    Deur swarte rawe omsingel, wat tier en kraai en huil;
    Die reuse van die aarde met salwende woord bedrieg;
    En waarheid ken geen waarde waar elkeen veins en lieg;
    Geregtigheid belaster en onreg opgekraam,
    En ridderplig verbaster onder ’n nuwe naam.
    Ek sien in broedertwiste ’n trotse huis verdeel,
    En snode heidenliste waarmee die mensdom speel;
    Verraad en ontrou wemel, en mense-trou is weg,
    En elkeen roep die hemel getuie dat hy veg
    Vir reinste, skoonste doele, vir vryheid, God en land,
    As in die modderpoele hy worstel met verstand.
    Die sterre skyn in vrede en kyk op aarde neer,
    Die woelige ou Verlede sien laggend alles weer—
    Sy skande en sy smarte, sy haat van mens teen mens,
    Sy boos-besielde harte vol wreedheid onbegrens.
    Ek sien die land in puine, die volk van vreug gespeen,
    Lang grafte op die duine waar sag die seewind ween,
    Die koningvelde gragte, die veld ’n Golgotha,
    Onmenselike kragte wat offerande vra.



LXXI.


    Kom dra wat oorbly van die man,
      En lê dit in sy graf alleen—
    En gee jou rustyd as jy kan,
      Totdat die tyd van droefnis speen.

    Sê: „Hy het mart’laar hier gespeel;
      As held sy land en volk geëer—
    En ek, en wat ek het, kan deel
      In roem waarop die toekoms teer.”

    Maar weet: Herinnering stok-alleen
      Doen land nòg nasie blywend goed!
    Oorerfde roem is regtig seën,
      En ryke skat is heldebloed:

    Navolging van die voorbeeld wag
      Op louter eer en lofgeskal;
    Bid om dieselfde mart’laarskrag
      In tyd van struikel en verval.

    Roem, soos jy moet, die marteldaad;
      Eer, soos jy moet, die heldedood—
    Maar sorge dat jy nooit versmaad
      Die voorbeeld in die dag van nood.



LXXII.


    O Leier en Held, wat jou lewe gegee het om hierdie land wat ons hou,
      Ons syn te maak deur werk en daad, en as voorbeeld te staan vir jou
        stam,
    Wat is jou wens vandag, as jy magtig is neer te skou
      Hier op ’n land verenig—hier op ’n grond nog klam
    Met broederbloed verspil deur vyandige broederhand—
      Hier op ’n volk verdeel deur meer as misverstand?

    Sê, o dooie Held, is jou lewe gegee verniet?
      Is jou voorbeeld niks vandag, jou naam maar net ’n naam?
    Jou geloof in land en volk, jou smart en jou verdriet,
      Niks om ons hoop te gee nie, niks om ons trots te skaam?

    O jy was leier en held—laaste en eerste jy—,
      Wys in die mensekennis wat weet waar die gespe hou,
    Al lyk die gordel los en die bande deurgesny
      Deur broedertwis wat breek maar nimmer op kan bou.

    Leen vir ons volk en land, o dooie Leier—leen
      ’n Greintjie van jou kennis, ’n handvol van jou hoop,
    Om wat verenig was, weer op te bou tot een,
      Om weer die broederbande vir altyd vas te knoop.

    Roep tot jou volk, o Held—roep tot jou stem weerklink,
      Van ou wit Kaapstad onder, tot waar die ewenaar
    Onsigbaar loop oor berge waarop die sneeu-skyn blink—
      Roep met jou volle heldekrag, jou roem as martelaar:

    „Verbreek die swaarste kettings van wreedste dwinglandy!
    Maak, waar jy kan, die wêreld en al sy kinders vry!
    Stik heidendom wat hinder, dood in sy eie slyk!
    Stoei, tot die kroon van vryheid oor al die berge pryk!

    Gee vir die nuwe Kanaan, die duurgekogte land,
    Die vrede van genade, die vryheid van verstand,
    Die lig van nuwe kennis, die wins van beter wet—
    Die leidraad van geregtigheid, wat mens en mensdom red!
    Maak pad deur wildernisse; brug diep riviere oor;
    Laat vir die nageslagte ’n rein-getrapte spoor;
    Bou en beplant die velde; bewerk met mannemoed
    Die duurgekogte Kanaan besproei met heldebloed!
    Wees broeder met jou broeder; sien af van skimp; versmoor
    Wat haat of nyd kan uitlok, wat rus en vrede stoor;
    Gaan hand aan hand tesame! Die toekoms staan en wag
    Geduldig, tot die tyd hom wink met onweerstaanb’re krag.
    Wees eensgesind in alles! In eendragsryk alleen
    Heers skeppingskrag en nuttige mag en hoop op volle seën.
    Niks bly deur stilstand lewe: wat is, beweeg en woel;
    Die see spoor aan tot strewe wat al ons strande spoel—
    Die see wat ewig bewe, wat ewig wyk en vloei
    As winde oor hom swewe en met sy branders stoei.
    Vooruit, vooruit, vooruit,
    Tot waar die reënboog spruit—
    Tot waar die eerste sonstraal sy barensnood verwag
    Welaan, welaan, welaan,
    Tot sterre, son en maan
    Verdowe in die duister van God se laaste nag!”



LXXIII.


    Wees vrinde en bou op
    Wat lank verwoes lê, uit die puin.
    Die daglig glinster god’lik op die kruin
    Van elke berg en kloofrand; op die top,
    Daar groet die rots die eerste lewensstraal,
    Wat lewe bring en haal;
    En elke wind basuin
    Die nuwe leus: „Bou op, maak reg, en win
    Uit afgebreekte puinehope weer
    Wat half verloor was; en vereer
    Wat klein is van begin
    Maar groot sal worde as met werk en vlyt
    Eenparig algar, elkeen van sy taak
    Hom naarstig, ernstig kwyt,
    Om eind’lik in ’n nuwe, beter dag
    Voldoening vol te smaak,
    As om hom wêreld-rond die weelde-prag
    Van nuut-gesaaide winste pryk,
    En land en nasie trots die hoof kan hou,
    Sonder verdriet of berou,
    En fier kan voorgee: Ons is ryk—
    Ryk in herinnering van deurstane smarte,
    Ryk in besit van droef-gelouterde harte,
    In moed, in trou, in werk,
    In deug wat aangroei en versterk,
    Totdat die jare ophou, en tyd vergaan—
    Totdat die son geen lig meer leen nie aan die ou afgeleefde maan!”



*** End of this LibraryBlog Digital Book "Dingaansdag" ***


Copyright 2023 LibraryBlog. All rights reserved.



Home