By Author | [ A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z | Other Symbols ] |
By Title | [ A B C D E F G H I J K L M N O P Q R S T U V W X Y Z | Other Symbols ] |
By Language |
Download this book: [ ASCII ] Look for this book on Amazon Tweet |
Title: Martjie Author: Celliers, Jan François Elias Language: Afrikaans As this book started as an ASCII text book there are no pictures available. *** Start of this LibraryBlog Digital Book "Martjie" *** MARTJIE MARTJIE DEUR JAN F. E. CELLIERS _Skrywer van Ons Leesboek, Die Vlakte en ander Gedigte, Die Revier, Liefde en Plig, Unie Kantate, Die Saaiër, Jopie Fourie._ _Goedgekeur deur die „Zuid Afrikaanse Akadémie voor Taal, Letteren en Kunst”._ MET VOORWOORD VAN DIE SKRYWER. VIERDE HERSIENE DRUK J. H. de BUSSY, PRETORIA, AMSTERDAM. HOLL.-AFRIK. UITGEVERS-MIJ. v/h. J. DUSSEAU & Co., KAAPSTAD. 1920. REGTE VAN HERDRUK EN VERTALING VOORBEHOU. VOORWOORD. Vir ’n skrywer, maar veral vir ’n Afrikaanse skrywer, in die tye wat ons belewe, is dit besonder aanmoedigend en verblydend as hy ondervind dat ’n nuwe druk van sy werk nodig is. Ek dank my landgenote vir die aanmoediging en ondersteuning, en hoop dat „Martjie” by toeneming sal bydra tot die doel wat ons beoog: opbou van taal, kuns, nasionaliteit. In hierdie twede uitgaaf het ek die spelreëls toegepas wat goedgekeur en vasgestel is by die jongste sitting van die „Zuid Afrikaanse Akadémie voor Taal, Letteren en Kunst”. Op ’n paar kleine wysiginge na, is die eintlike teks onveranderd gebly. Ter wille van maat en ritme, en alleen om die rede, het sommige woorde afwykende vorme gekry, b.v. „ower” in plaas van „oor”, „bowe” in plaas van „bo”, ens. Om dieselfde rede is die dubbele ontkenning hier en daar verwaarloos. Die woordjie „sig” het ek hier en daar nog behou. Ten slotte nog ’n enkel woordjie—van eie hand hierdie keer—oor die aard en vorm van my werkie: My bedoeling was ’n eenvoudige skildering te gee van ’n liefdesverhouding tussen ’n Afrikaanse meisie en jonkman in Afrikaanse omgewing, ’n algemeen-menselike tema op eie toneel opgevoer. Alle begeerte na avontuurlikheid of ingewikkeldheid in die verhaal was dus uitgesluit. Die inkleding, wat gebeurtenisse, natuurbeskrywing, ens. betref, moes net voldoende wees om, teen passende agtergrond, die hoofmotief duidelik te laat uitkom. Die vraag is alleen in hoever ek geslaag is om hierin harmonie en gesonde verhouding te bewaar. ’n Goeie roman huldig dieselfde beginsele, en werk dit alleen breër uit. Ek het ’n losse en onafhankelike vorm gekies, omdat daar baie dinge gesê moet word, wat eenvoudige mededelinge is, en net ondigterlike rymelary is as dit op strenge maat en rym gesê word, terwyl poësie in _elke_ vorm goed uitgedruk kan word waar dit in ’n werk voorkom. Hoewel die vorm los is, is dit darem nie ongebonde nie. Die goeie leser sal dit dadelik sien, en die sangerigheid en maatgang, wat ek bedoel het, tot hul reg laat kom. Die skrywer. PRETORIA, 20 Oktober 1915. * * * * * Na verskyning van die Derde druk, in Januarie 1919, laat ek bowestaande voorwoord ook vir hierdie vierde druk geld. Die laaste spellingreëling deur die Suidafrikaanse Akadémie goedgekeur in Januarie 1920, word hier toegepas. STELLENBOSCH, Junie 1920. [Illustration] I. Dis warm.... en stil. Stil ook in die grote boerehuis onder die eike; geslote ten halwe die luike —die groene luike van die rame— soos oë swaar van sluimering by middag-sonnestowe; mure en stoep hier en daar bestrooi met ligtende skyfies, waar die sonlig val deur die blare, deur die donkere loof van die eike. Hoog bowe voordeur en stoep, eerwaardig en stil die skaad’-wee verrys die ou-Hollandse géwel, gestreel deur die uitspreiend lower en bowe die voordeur as rustend op twee sware krulle in die muurwerk, waar die jaartal, gedruk in die witkalk, die ouderdom toon van die woning. Dis stil. So ’n stilte wat hang en wat draal, of hy weet dat die middag nog lang is en hy heerskappy sal behou daar in die ou bome se skaad’-wee. Onder die rusbank op stoep, sy lede rekkend van luiheid, lê Jafta die huishond te slaap, geterg deur die gonsende vlieë. Die tuinmuur langs, in die skaad’wee, daar skuil die hoenders byeen in klompies, swyend en gapend. Náby die klip oor die voortjie lê Adam, die otjie, in die water en dam dit op, teen sy sye, —stilbrommend van innig genot na rukkies van roereloos drome. Stil is die lange huisgang —die sware voordeur geslote— dofglimmend die donkere planke alleen waar dit lig deur die rete, wegduist’rend na agter in skeem’ring, in fluist’ring van vele geheime. Die tafel in die kombuis is blank geskuur vir die Sondag, en dáar staan, in eensaamheid singend, die ketel op die gele konfoortjie. Deur die half geópende luikie val skuins op die vloer, in die middel, ’n goudgerf van léwende sonlig, deurwemeld van drywende stoffies, deurflits van die dartele vlieë wat, gonsende ook op die ruite, die dreune-deuntjie stem van somer-námiddag-vrede. „Wouf”—dis ’n blaffie van Jafta, opskrikkend meteens uit sy sluimer, want dáar in die muur het die hekkie sy piepend geluidjie laat hoor, en ower die werf kom langsaam ’n wandelaar aan in die paadjie. Nie meer nie as één luie blaffie het Jafta gelos, die ou luiaard, en kom nou stêrtswaaiend nader tot aan die rand van die stoep om daar die besoeker te wagte; —vrind’lik, as oue bekende, streel Roelof die hond op sy hare. Nie wensend oom Koot en tant’ Mieta te steur in hul námiddag-slapie gaan Roelof maar sit op die rusbank en wag in die eike se skaad’wee. Lui-kronkelend, vèr en naby, styg hier en daar uit die bome ’n blou en gesellige rokie, van námiddag-koffie getuiend, van vrind’like buurskap en vrede. Aan die hek van die saailanderye, rus eensaam die dam in die skaad’wee, die hangende lower weerspieëlend van omstaande dromende wilge; eentonig en skel klink vandaar die geluid van die singende bésies in slepend en eindeloos skryne —soos lied van die warmte selwe. Te veel is die simfonie van die somernamiddag vir Roelof, te veel na ’n wand’ling veral uit die dorpie daar in die laagte; hy sien nog die dakke van ver deur die béwerige waas van die warmte en hy ruik die bedwelmende lug deur die son uit die blare gestowe; dit skemer en draai voor sy oë, sy hoof sink al laer en laer.... tot hy wegduik in rustige sluimer.... Agter sy rug gaan die vensterluik stádigies, stádigies ope, ’n handjie kom dáaruit te voorskyn en hou in die fynblanke vingers ’n koppie. Wat sou wel die plan wees? Kyk, dit kom nader en nader tot bowe sy halsboord van agter, hy sien nie en hoor nie, maar, au! daar voel hy ’n ys-koue straaltjie meteens in sy nek en sy rug en spring hy oorend van die rusbank! ’n halfgesmoorde laggie in die kamer en vensterluik haastig geslote— dit help hom nog meer uit die droom; ’n breë goedaardige glimlag verhelder meteens sy gelaat— en hy gaan maar weer sit op die rusbank. ’n Rukkie gaan so nog verby, en nou kom, met stadige stappies, om die verste hoek van die stoep, ’n mooi slanke meisies-gestalte in haelwit sondagse klere,— ’n handwerkie vlak voor haar oë, waar sy skynbaar geheel in verdiep is, singend, half-hoorbaar, ’n deuntjie, of sy dink dat sy heeltemal alleen is; maar nou en dan sweef om haar mondjie ’n skuldig-ondeuënde laggie wat moeilik die dwang kan verdra. Sy ’s nader en nader gekom en meteens kyk sy kastig verwonderd nou op in die jonkman se oë: „So, is jy daar, en hoe lank al sit jy hier te wag op die rusbank?” En Roelof hou kastig vir hom kwaad, en set so’n donker gesig op en roer so komieklik sy rug dat sy nou haar lag nie kan hou nie, en dit val soos musiek van haar mondjie, soos klippies wat ploems in die water. * * * * * Dis seker maar die skone kans vandag wat Martjie het verlei tot so’n grap, as dat sy lang genoeg vir Roelof ken om so iets te durf waag, want op haar wange is ’n blos wat sy probeer aan d’ aandag te onttrek deur praatjies, volgend haastig op mekaar, en grappies waar sy selwe baie om lag. Oom Kootjie en tant’ Mieta verskyn ook nou op stoep in sondags-klere. En nog ’n keer lag almal hart’lik saam oor daardie koppie water. Is Roelof onbeleef? Nee, maar onbedagsaam is hy wel as hy hom af en toe so heeltemal kan omdraai na oom Koot om dan met hom alleen te praat oor dit en dat, asof hy glad vergeet dat Martjie en tant’ Mieta ook nog daar is. En, kyk, dis dan dat Martjie, op haar stoel se rug geleun en met haar hofie op haar hand gestut, haar oog laat gaan na vèr, waar bloue lug die blonde velde raak, waar goudstof lê van ondergaande son, op gras gestrooi. En starend-ernstig bly dan daar haar oog gevestig, soos ene wat die wêreld het vergeet— geslote in haarself. En wie haar nog nie ken, haar vrolik sorgeloos bestaan in ryke ouerhuis, sou dink in daardie blik d’ ontdekking te gewaar van dreiend onheil, en ’n siel wat sig met huiw’ring tot ’n stryd berei. Maar hy dink daaraan wel die minste, hy wat, altyd nog geselsend met oom Koot, na haar nie omkyk nie. Meteens het nou oom Kootjie haar gewaar soos sy daar sit en droom. ’n Grappie is die ou se lus en lewe: hy stoot vir Roelof aan en wink na Martjie. Behoedsaam staan die jonkman op en, stadig naad’rend, klap hy meteens sy hande op mekaar net by haar hoof. Sy wip van skrik en vang haar asem met ’n diepe haal, en almal lag haar same uit, oom Koot, die ondeug, nie die minste nie. „So, nou het ek die skuld weer afbetaal,” sê Roelf, „vir daardie koppie water, „en jul kan my glo, oom Koot, „sy ’t net so hoog gespring soos ek.” Die meid, ou Rosie, bring op ou-nooi’s wink ’n tafeltjie op stoep, gedek met haelwit kleedjie, die koppies en die kan met koffie warm en geurend. „Maar Roelfie,” sê oom Koot, „vertel my nou „wanneer sal jy jou intrek eindlik neem?” „Oom Koot,” sê Roelf, „moet nou nie weer begin, „U weet dat my kantoor....” „Kyk Roelfie,”—en oom Kootjie lê sy hand op Roelf se skouer en skud hom— „daar ’s die dorp „en hier die plaas, „dit weet ek nou al goed; „jou ryperd staan al langtyd klaar, „kom, wanneer trek jy in, vertel my nou!” „Oom Koot, ek het ’n kamer mos gehuur.....” „En tot wanneer?” „’n Maand die minste....” „Nou goed, maar langer as ’n maand „het ek nie meer geduld, „hier op die plaas wil ek jou hê, „en nou wil ek geen woordjie verder hoor!” Daar ’s niks met ou oom Kootjie te begin, hy is lank al aan die gang daaroor, en Roelof moet die saak gewonne gee: glimlaggend stem hy toe. [Illustration] II. Roelof is ’n seun van Freed’rik Prins, Oom Kootjies boesemvrind,— skoolmaats was die twee gewees, en vrinde, tot die dood hul het geskei, vrinde aan mekaar geheg so onbaatsugtig trou as selde in die lewe word gesien. Freed’rik was dit ook wat hom met beurs en raad gehelp het toe tekort en skande gedreig het voor sy deur. Nadàt hul was getroud, het wêrelds loop die vrinde van mekaar geskei en vèr was hulle van mekaar gaan woon. Freed’riks dogters was al almal weg, getroud, verspreid; en Roelf, die een’ge seun, was weg op studie toe sy pa meteens gestorwe is. En nou, met hulp en invloed van oom Koot, is Roelof in die dorpie daar geplaas, waar Uitkyk, ou oom Koot se plaas, nie al te ver vandaan is. Begryp’lik dus dat hy die deur vir hom daar altyd ope vind en gou op Uitkyk hom moes tuis gevoel. En elke dag ook vind oom Koot dat Roelf sy hart al meer en meer gewonne het, veral dewyl hy in maniere en aard die ou-man so herinner aan sy vrind, aan Freek, sy boesemvrind, wat hy nooit sal vergeet. Sy kinders, boëndien, is almal uit die huis, net Martjie allénig het nog oorgebly. Dit alles, en begeerte nog daarby om aan die seun die liefde-skuld weer goed te maak, het d’ou-man tot besluit gebring dat Roelf by hom ’n nuwe tuis moes vinde. Oom Kootjie en tant’ Mieta het wel stil gedagtes by hulself gemaak dat wellig, as die jonkman daar sou kom, verhoudings tussen hom en Martjie kan ontstaan —in jonge harte maklik opgewek— maar vir hulle maak dit sorg nog vrees, soos hul hom nou al ken; ja, nou en dan, en sonder woord te praat, verwissel die twee oudjies ongemerk ’n laggie met mekaar, en albei dink daarby aan wat die toekoms sou kan bring. Maar dit is al, geen woord of teken meer wat aan hul teed’re wense uiting gee; want dis hul goed en lang genoeg bekend dat Martjie ’n wil, ’n koppie van haar eie het en haar gevoelens nie laat lei. * * * * * In buurte en dorp is Martjie baie gesien, in meisies-kringe ook gesog, hoewel sy in maniere en aard haar onderskei deur iets aparts— vir hoogmoed of verbeelding aangesien deur die wat haar nie ken. Maar duid’lik is ’t vir elkeen, van begin, dat agter daardie grys-blou oë-paar ’n siel woon wat sig op sy plek gevoel, vol erns en diepte, maar daarby ’n sonneskyntjie bêre, gemak’lik tot ’n tint’ling op te wek, wat baiemaal ondeuënd uit die raaksiende oë straal— tot wanhoop, ag, van menig jonkman wat alreeds om Uitkyks noointjie het gedraai: dis duid’lik, sy is almal skoon die baas, en lyk of sy aan trou nie dink. [Illustration] III. Dit was ’n aand gewees toe Roelof, ná sy vaders dood, op Uitkyk kom die eerste keer. By lamplig, in die huisgang, het hul hom die aand ontvang en welkom aangebode. En Martjie het hy ook die eerste keer toe daar ontmoet en hand gegee. Van bo het sy die lamplig neer sien val op voorhoof breed en welwend; en uit die winkbrou-skaad’wee had ’n oë-paar haar aangekyk so durwend en so reguit in haar eie, soos sy nog nooit by jonkmans het gewaar. Die handdruk, ook, was ferm daarby. En, net soos ene half verslae, het sy ’n stappie toe terug getree. En sittend by haar bed die aand het sy só lang met oë starend-wyd die kêrsvlam aangekyk, of sy ’t nog nooit tot nou toe het gesien; en het nou iemand haar gevra: hoekom? dan het sy ’t selwe nie geweet: Gemak’lik-ordeloos, van bande ontslae, kan ons gedagtes so aan dwale raak, in towerlande swaar te ontvlug. So was dit ook met haar die aand; maar elke keer het sy gemerk hoe steeds die beelde, vlottend om haar heen, om éne punt wou draai; en elke keer sien sy dan daar ’n voorhoof van ’n ronding hoog en edel en durwend daardie oë, op haar gerig. En ’t was of sy in daardie blik ’n aanval sien, of sy tot stryd word uitgedaag. Meteens opspringend van haar stoel, het sy haar hofie trots na bo gewip: „wat of hy hom wel sou verbeel, „die baas-skap sal sy hom wel gou ontleer....” en hard-op het sy toe gelag. * * * * * Twee maande is nou verby ná daardie aand van Roelofs koms, maar hy ’t vir haar dieselfde nog gebly: eerbied bowe mate, soos sy dit by ander jonkmans sien, betoon hy nooit aan haar; maar kyk, alreeds na d’eerste dag of drie kon sy haar daaroor nie meer erger nie. [Illustration] IV. Die Volkslied!? En so vroeg al in die môre? Ja, dit is die afgesproke teken, Martjie staan al lang daarop te wag. Nie nodig ook die sweep se klap, sy ’s lank al aangekleed en klaar. Gelag en sang kom van die hek se kant, ’n vrolik jongspan wag haar daar op bok-wa, vol gelaai. Twee jonkmans spring daar van die relings af en storrem op die hekkie toe in wedstryd, uitgelate, die voetpad op in ylend-snelle vaart— wie of die eerste daar sal wees! Martjie staan al by die voordeur klaar met kappie helderwit, en toegestrik teen môre-kou. Glimlaggend knik sy met haar hoof ’n groet terug, op daardie twee se môre-groet en buiing, speels-oordrewe. Sy wys hul daar ’n mandjie, by die deur, wat mee moet gaan. Gejuig begroet haar by die wa. Haar twee geleiers maak, aan d’agterkant, met hande saamgevoeg, ’n trappie waar sy op kan staan, en die wat op die wa is, neem haar hand; so word sy opgelig, en vooroor val sy byna in die wa, op die wat daar al sit! ’n Juigkreet is die laaste groet aan Uitkyks woning, half geborge nog in skaad’wees van die nag,— en verder gaan die piekniek-wa. Tweekeer word die volkslied nog gehoor, voor wonings wat nog slaap, om die te wek wat mee moet gaan. Die span is nou voltallig, en die trek is berge toe. Hul ’s op die bult, en plots’ling word hul oog getroffe deur die môre-son, oor verre vlakte-soom net opgeduik,— met drie hoera’s begroet; en kyk, dis net of hy vir hul ’n ogie knip en blye dag beloof. Die bok-wa gooi sy skaad’wee lang-gerek op harde pad. En lieflik lag die vlakte na omhoog, deur môre-dou se dampe —luierend hier en daar in leegtes— as gedra op weerklank van die verre hane-kraai. Uitgespan is reeds die wa as Martjie eers van Roelf ’n môre-groet en handdruk kry. Hy was nie een van daardie twee gewees wat haar kom haal het by die deur: bésig het sy hom gesien met diere en tuig, en toe hy op die wa sy sitplek neem was sy al daar; van ver, so tussen al die ander uit, het hy maar net na haar geknik; en heel-pad langs het hy genoeg’lik met die nooi gesels wat naas hom sit. In bonte ry sit almal op die gras, die maaltyd sal begin. Naas Roelof is ’n plekkie oop, maar Martjie loop verby of sy dit glad nie sien, en kies ’n plekkie aan die ander kant. Is ’t wraak, of moedwil, in die snelle blik wat sy hom werp vandaar? Hoe ’t ook mag wees, op hom is ’t glad verloor: hy ’s besig met ’n bottel oop te maak, die meisie naas hom te bedien; as Martjie nog bewys moet hê dat hy haar moedwil glad nie het gemerk, dan lewer hy dit self, want, kyk, daar spring hy op en wip die gras-perk oor na haar, en, op haar skouer tikkend, sê hy: „kom, ou sus, „laat ek jou glasie vir jou vul.” Sy blik is openhartig, reguit kyk sy oog in hare, en bruisend tintel net alleen die piekniekdag se vreug daarin as hy laat volg: „en netnou kom ek vir jou haal, ou sus, „ons twee is maters by die meule-spel.” Na so’n ontwaap’ning kan sy wel nie anders nie as met ’n glimlag toegee aan sy wens. Hy ’s weg alweer van haar, na oorkant van die kring, om nog ’n leë glasie vol te skink. „Stilte daar! ’n voordrag word gegee.” Die voordraer het al pos gevat in middel van die kring; maar almal lag en praat en hoor nie hoe hy reeds die naam van sy gediggie noem. Maar Martjie het die naam gevang, en weet dat daardie vers ’n spotgediggie is op een wat sig belaglik maak. Is ’t Martjie alleen wat merk hoe Roelof nou meteens verby die voordraer loop en snel ’n woordjie fluister in sy oor? Sarie Drost is iemand sonderling in alles wat sy doen, in elke trekkie kom sy haas ooreen met daardie noointjie in die vers beskrewe, en Sarie is vandag ook hier. Roelf, onseker of die voordraer wel sy wenk sal volg, die versie sal laat staan, is snel na Sarie toe gestap en vraag haar om met hom ’n wandeling te maak, soos ander reeds al doen— van ete opgestaan. Daar ’s stilte nou, en Roelof hoor van ver dat hy, wat voor sal dra, ’n ander versie noem as d’eerste keer; en, Sarie opmerksaam makend, stel hy voor aan haar om op die gras te sit en eers met hom die voordrag aan te hoor. Onafgebroke is Martjies oog op hom, in stilte, so van ver; bewond’ring lê daar in die blik, so groot asof sy daad —beleefdheids-diens aan Sarie Drost betoon, deur Sarie-self en deur die gaste ook nie opgemerk— ’n heldedaad van d’ allergrootste is. * * * * * Die dag is om en almal word weer tuis gebring. Met Martjie saam stap Roelf by Uitkyk van die wa. Ná ete sal hy dorp toe stap, alleen, van-aand die laaste keer, want môre, eind’lik, is die dag gekom dat hy op Uitkyk intrek neem, na sy belofte aan oom Koot gedaan.— Sy buitekamer staan al klaar, met sorg vir hom berei. Dis stil op stoep, die nag hang swaar in digte eike-lower, breë stamme eenkant net verlig waar lamplig uit die rame stroom; en uit die ope voordeur gly oor stoep ’n baan van lig, vèr-strekkend oor die werf se gras, tot waar die swarte donker dit verswelg. Oom Kootjie sit voor ope raam te lees, die bybel-blaaie hel verlig, en volgend met sy vinger elke reël: met vrome aandag nog ’n keer die woord, die skone woord herhalend wat hom flus getref het toe hy vir almal saam, die aand-diens het gelei. En by die tafel ook, met hoof gebuie in stilte, oor die handwerk wat sy doen, hoor ou tant’ Mieta aan. Onvermoeid nog na die dag se tog in berge en veld, kuier Martjie en Roelf op stoep, in awendkoelte. Vertrouelik, asof hy nader sig aan haar wil voel het hy haar arm geneem; maar ná ’n rukkie, plots’ling, net of hy na iets wou buk, het hy haar weer gelos. En al te goed het sy gemerk dat hy die plan ekspres maar het bedag om van haar af te raak. In stilte vra sy aan haarselwe: wáarom tog? Elke keer gaan hul die ope raam verby en oor die ronding van die boom se stam gly stil hul skaad’wee. Fluist’rend praat die twee, om ou oom Koot sy stotend lese nie te steur. Dit word vir Roelof tyd,— verbygaand by die voordeur stap hy in om aan tant’ Mieta en oom Koot goeienag te sê. „Tot môre, Roelfie,” sê oom Koot, „dan is jy eind’lik onse huisgenoot.” Martjie stap met hom die treedjies af om mee te gaan tot aan die hekkie van die werf. Sy het van-aand maar min gepraat, werktuig’lik antwoord géwend as hy so, by kuier heen en weer op stoep, haar iets gesê het of gevra; en droomverlore stap sy nou ook nog so met hom saam. Hul ’s by die hekkie voor sy weet; en as hy haar ’n hand tot afskeid gee en sê: „die laaste keer,” dan hou sy in haar handjie nog sy vingers vas ’n oënblik.... Opskrikkend, plots’ling, los sy gou die jonkmans hand en sê gejaag, met laggie baie verleë: „maar kyk vir my, „is ek dan mal om so meteens te dink „dat jy vir altyd gaan, „en môre kom j’ eers regtig....” „Martjie, Martjie!” antwoord Roelf gemaak-bestraffend;—en dan is hy weg, verdwene in die nag, op ligte tred en snel, ’n vrolik deuntjie fluitend op sy gang. Glansend-wit, ’n oënblik, vertoon sig in die lamplig voor die deur die slanke beeld van Martjie, as sy snel die treedjies opstap en oor stoep na binne gaan, die voordeur sluitend vir die nag. In sware mantel duik die nag nog dieper weg, gewieg as op die naklank, sterwend-ver, van bybelwoorde flus gehoor, en op die koorgesang van kikkers in die slote al-omheen. En hoor, dis net of uit die sfere bo ’n fluist’ring van die sterre ruis, sig mengend met die koorgesang beneë, tot lied van vrede en rus.... Martjie is kwaad en met haarselwe ontevree; met hand-ruk driftig-snel het sy haar tjalie op ’n stoel gegooi en stap haar kamer op en neer: Wáarom het sy haar ge-èrg gevoel van-môre op die wa toe Roelf so min na haar het omgekyk; en watter reg had sy om te verwag dat hy nou juis naas haar ’n plekkie op die bok-wa in sou neem? Nee, had hy dit wèl gedaan dan was sy juis miskien ge-èrg om so ’n handeling, daar, voor oë van die hele piekniek-skaar, want maklik word so iets verkeerd bedui. En hoe verspot van haar, toe hy van-aand soos ander dae haar wou groet, te dink of droom dat hy vir altyd afskeid neem, en so sy hand in hare vas te hou! O, foei, en wat gedagte het hy wel van haar gekry? Sy, in die huishou so bekend, en oral, dat sy steeds in dink en doen so helder is en klaar! Vanwaar dan die vergissing so meteens? Martjie vind op al die vrae geen antwoord nie; en opgewonde van verwarring nog en ergernis lê sy haar eind’lik op haar bed te rus. Maar éen ding staan by haar nou vas: sy sal hom môre daad’lik goed laat merk dat daardie handdruk van van-aand maar net vergissing was en tog volstrek geen plan van haar kant nie om hom tot naad’ring te beweeg. [Illustration] V. Oom Kootjie, jeugdig nog van hart, en elke dag aan Roelof meer geheg, het lank al reeds gesê: „kyk Roelfie, op die dag, „as ek jou eind’lik hier op Uitkyk het, „haal ek ’n bottel ou-wyn uit „en drink ons jou gesondheid almal saam.” Oom Kootjie wil sy woord nou hou, en ’t tref ook net vandag dat ou neef Kasper en sy vrou op Uitkyk aan sal ry, —vir ou tant’ Mieta nog ’n rede meer die glans van hulle fesie te verhoog met tert en koeke vars en geurend uit die oond. ’n Tafeltjie staan buite reeds gedek, neef Kasper en sy vrou word daar ontvang. Wat sou ’t met Martjie wees? Sy staan gekleed en klaar om uit te gaan, en sal vandag nie daar wees by die klompie nie: Ja, gist’r-awend het sy nie in slaap geval eer sy ’n middel had bedag om haar besluit teen Roelf gevolg te gee: in plaas van ook sy welkoms-fees met vrolik-lief gesiggie by te woon, sal sy verklaar op boodskap te moet gaan wat nie meer uitgestel kan word. Maar nou sy reeds het opgemerk hoe hy vir haar dieselfde is as elke dag, en daardie handdruk van gist’r-aand vergete het of heelt’mal nie beskou as blyk van soet geheim wat sy aan hom in stilte het vertrou, nou voel sy grote lus, haar plan van uitgaan te laat vaar en daar te bly, by hom. Sou ’t blydskap wees omdat sy haar in hom vergis het; of sou dit wees dat sy maar net gevoel: natuurdrang van haar meisieshart gerus ’n vryer teuël te kan gee waar geen gevaar bestaan dat hy die hele hand sal neem as net ’n vinger hom word aangebied? Maar dis al tyd dat sy moet gaan, haar klein komedie moet sy nou ten einde speel. Dis ander dae nooit gebruik by haar ’n hand te gee, as sy so heen en weer op boodskap gaan, maar, vir ’n grap sou sy dit net vandag wil doen, ja, skynbaar vir ’n grap maar eintlik wel om Roelof ook ’n beurt te gee haar hand in syne vas te hou. Plots’ling kry hy nou gedagte weer aan Martjies groet gist’r-aand, en op sy beurt hou hy haar hand in syne nou gevang terwyl hy laggend sê: „Nee wag, jy ’s al te haastig, „laat ek hul nou eers vertel: „Tante, pas maar op vir Martjie, hoor, „wat sy makeer gaan bowe my verstand, „daar ’s muis-nes in haar kop....” En daar word die hele storie van gist’r-aand vertel. Sy ruk haar handjie los uit syne en haas haar stap om weg te kom. Ja, soet geheim, voorwaar! Hoe kon sy tog van hom ooit so iets dink? Dáar word dit aan die laglus prys gegee van almal saam! Sy voel dat haar gewete suiwer is, maar waarom dan voel sy soos een wat heelt’mal is verslae? „Dis duid’lik,” sê sy by haarselwe, „hier moet anders word te werk gegaan....” Te werk gegaan!? Hoe kom sy tog aan so’n gedagte; wat is dan haar doel waar sy na streef, of syne, wat sy moet verydel? Nee, sy vind op al die vrae geen antwoord nie; en elke dag word sy haarselwe nou tot raadsel, meer en meer. Hoe klugtig was haar swaar bewapening, waar nooit ’n aanval was te vrees .... en moontlik ook geen vrees sou wek! [Illustration] VI. Dis oggend, en die ete staan al klaar, —die aand tevore, laat, is Roelof ingetrek nadàt hy in die middag eers die welkomsfees had bygewoon.— Oom Koot sien almal om die dis hul plekke neem en vryf sy hande op mekaar van skoon plesier: „Ja, Roelfie, so wou ek dit altyd hê, „en kyk, die plekkie wat jy daar „aan tafel het „is joue vir altyd nou.” En moederlik-geneë is die laggie wat daar straal van ou tant’ Mieta haar gelaat. En vrindlik ook knik Martjie met haar hofie. „Kom,” sê oom Koot, en buig sy hoof voor-ower op sy hand. Almal volg hom na daarin; en niks versteur die plegtig woord van d’ ou-man se gebed as net die vooltjies, kwett’rend voor die raam, en, by die eikeboom, die hoef-gestamp van Roelofs ryperd, opgesaal en klaar om hom na dorp te neem. ’n Oënblik van erns en stilte volg op d’ „amen” van oom Kootjie se gebed, want hy het daarin ook ’n woord gewy aan sy getroue vrind, en aan sy seun —hul huisgenoot van nou af aan. * * * * * Dis net of daar met Roelofs koms ’n windjie is ingewaai van nuut-fris lewe op die kleine kring aan tafel: Met kennis toegerus van veel wat vreemd is aan die lewe op die plaas is hy ’n bron van nuw’ gedagtes. Oom Koot is op sy stukke: ywerig deur Martjie bygestaan bespaar hy aan die jonkman nie sy kleine plaëry en strikvrae, fyn gespan. „Ag kom, wat sou die Johnnie daarvan weet?” dis baie maal oom Kootjies woord: en Roelof, ongewoon en links in plaasgebruike, bly die mikpunt so van hulle skerts. Maar ou tant’ Mieta is sy bondgenoot by die skermutselings; en baie maal steun sy hom fluks met woorde goed van pas, wat aan die teëparty ’n neerlaag kos. En raak hy hulle self, met voorslag goed gemik, dan knik sy hom goedkeurend toe. —So baie plesier het sy in jare nie gehad! „Maar wag maar, ons twee sal die Johnnie sout, „hoor Martjie!” dis dikwels dan oom Kootjies laaste skot. [Illustration] VII. Smôrens is oom Koot van almal in die huis die eerste op, gebruik sy koffie en sy brood en hou al vroeg die opsig by die werk. En met tant’ Mieta ook is ’t baie maal nie anders nie. En so is ’t al die reël elke dag dat Roelof aan die tafel smôrens net vir Martjie nog ontmoet, om hom by d’ete te bedien. Die plig laat sy haar welgeval as vir ’n broer, want as ’n kind van hul gesin word Roelf behandel. Bekoring het so’n broerskap wel vir haar, sy kan nie stry nie, nee, sy kan heelt’mal nie ontveins dat daardie klein kwartiertjie elke dag, aan d’oggend-dis met hom, die skoonste oënblik is van d’hele dag, verlangend sien sy daarna uit, te meer omdat sy nou genoeg besef dat nooit welvoeglikheid se heiligdom van hom gevaar te dugte het, as hul sig spelend op die rande waag van hartstog en gevoelens steeds aan jonge harte eie. Skud die Wysheid met sy hoof as hy so’n spel aanskou? Wel moontlik, ja, maar sonder ’n glimlag op sy lippe seker nooit. „Martjie, ’n stukkie brood,” vra Roelf Sy skuif die bakkie aan. Hy sê al dankie, want hy het gedink ’n snytjie te kan neem. Maar al-meteens trek sy dit weer terug, en gryp hy met sy hand die tafeldoek. En as die bakkie stadig nog ’n keer word aangeskuiwe gryp hy snel haar blanke pols, dat sy hom nie ’n twede keer kan fop, —sy vingers drukkend in haar weke vlees— maar plots’ling laat hy los, hoewel daar niemand is wat kyk en vestig op sy bord sy oë weer asof hy iets gedaan het wat hy nie mog doen nie. Haar môre-kleed is rose-rooi van kleur, nie knellend om haar lede nie, maar volgend tog die ronding—vol en buigsaam; mollig, en tot d’elleboog ontbloot, haar arme, in die moue wyd en oop. Op d’adem van die rose, fris bedoud, kom deur die ope venster uit die tuin die skone môre; maar dis net of slegs aan haar die môre sy aroma het ontleen wat d’hele kamer vul, en ná-geur nog as sy dit lank al het verlaat. [Illustration] VIII. Roelof, in ervaring reeds geryp en ouer in jare as Martjie, het van sy aankoms af die aansien en die agting reeds gewin van almal in die dorp. Maar Martjie moet sig wel beken dat nie juis daarin nie die rede lê dat sy in hom ’n ander en ’n meerder sien as in die ander jonkmans om haar heen. Onagsaam deur ’n jonge man te word verby gegaan, wat wêrd is dat sy hom haar agting of ten minst’ haar aandag gee, word deur geen jongnooi goedskiks ooit verdra. Wyl ’t haar gelyk het van begin of Roelf eenvoudig net vir haar beskou as een soos pa en ma, moes Martjie ondervind, nie weinig tot haar eie verbasing, dat sy haar oorstelp gevoel het deur ’n bang v’rontrusting, nee, deur wanhoop, sou sy byna sê. Die dwaasheid daarvan het sy toe haarself wel voor-geredeneer, sig vraend waaroor sy tog wel te wanhoop had; en kwaad, dat so’n beroering haar, so helder van verstand, so’n dwase kyk op mense en dinge gee. Maar nou dat alles weer verby is en dat Roelf, d’onskuldige oorsaak, daar nog altyd staan so vas en kalm-onwetend soos ’n rots wat bo die golwe ongedeer hom nog vertoon, nou moet sy nogmaals ondervind dat die verhouding nog maar nie vir haar bevredig nie. Dis swaar vir haar om hom met rus te laat, met moeite moet sy haar bewaak, bedwing, om in haar plaery nie al te ver te gaan; te meer omdat sy altyd merk hoe hy, in weerwraak op haar grappies, hom die selfdwang oplê, waar sy nie die rede van deurgrond nie, wat hom altyd noop om òm te draai as hom sy jonge bloed tot naad’ring wil beweë. Selde of ooit sal hy uit eie beweging ook met haar ’n plaery begin; en baie maal het sy reeds opgemerk hoe hy, as ma en pa teënwoordig is, hom meerder vryheid gun met haar dan as hy hom met haar alleen bevind. So bly nog hul verhouding steeds ’n bron van onrus en van twyfel, tot daar iets gebeur wat plots’ling nuwe lig ontsteek vir haar, en onmiskenbaar is: [Illustration] IX. Uitkyks naaste bure woon nie al te ver nie, ’n spruitjie is die grens; aan d’owerkant daar lê die woning. Die oudste dogter van die huis is Sannie, Martjies skoolkam’raad uit vroeër dae; baie maal kom sy ’n middag of ’n aand na Uitkyk oor en bly die nag dan daar. Sannie is al lang ’n goeie vriendin van Roelof ook. Menigmaal met Martjie saam, of ook allénig, het hy haar gaan haal of huistoe weer gebring. * * * * * Dis weer so’n Sondagmiddag op die plaas by Sannies ouers, Roelf en Martjie was die middag daar en staan nou op vertrek. Sannie is op Martjies wenk haar kamer ingegaan en kom terug, met kappie op haar hoof, om saam te wandel. Weldra is die drie op pad na d’oorkant toe, die ene agter d’ander in die paadjie deur die gras,— agterste is Roelf. Soos altyd as die twee mekaar ontmoet is Martjie en Sannie nou teen Roelf ’n bondgenootskap weer verbind van terge. Sprank’lend huppel, langs die ry, die plaag-skerts, heen en t’rug-gekaats van d’een na d’ander, stootlaggies sonnig-helder tussenin, —geming met woorde en grappies. So, mekander volgend, stap hul aan, die spruitjie naad’rend. Oor hul klere gly die sonne-kolle, wat die blare bo op hulle deur laat val. Roelof voel hom teen die twee nie opgewas nie; stingels pluk hy van die lange gras, asgaaie-worpe mikkend dan daarmee op rugge en arme—roserooi en sag deur witte somerkleedjies skeem’rend. „Sannie kyk,” sê Martjie, „hier het hy „die ander middag amper ingeval,”— en met haar handjie wys sy op ’n plek waar Roelf se voet het uitgegly, net bo die stroom: Die brug is net ’n boomstam oor die spruit, aan weersy in ’n mikhout vas-gelê, en raaklings oor die water gaande,— breed en ondiep is die spruitjie hier. „Nou kyk,” sê Martjie aan Sannie, „hier, waar hy nie reg-op kon bly staan, „sal ek, met oë toe, „my drie keer in die rondte draai.” En, met haar arme uitgesprei, voeg sy die daad ook by die woord.... ’n Roep van skrik! sy wankel, alkant grypend om haar heen, sy val! Maar Roelf is by en het haar om haar middel vas in sterke arm. Maar op die boomstam kan hy ook homself nie staande hou, hy gaan met Martjie val, hy voel dit, O! Eén plan is net nog oor met snel beraad gryp hy dit aan: hy spring!.... Daar staan hy in die water nou met haar, tot aan sy knieë in die stroom, maar sy daarbowe, droog, en veilig in sy arme nog —haar arme om sy skouer vasgeklem. En Sannie lag dat sy so kannie-meer tot sy ook amper van die steg af val! Stadig oor die klippe nou stap Roelf met Martjie kant toe, —sy van skrik bekome, nou sy voel dat niks te vrees is nie. En Sannetjies uitbundig-luid geskater werk op die twee aansteeklik sodat hul ook saam begin te lag. Die water stoot teën Roelofs bene op, versigtig oor die klippe set hy goed sy voete vas. Sou ’t wees dat nou die skrik begin op Martjie ná te werk? want gouer gaan haar asem, gouer steeds namate Roelf met haar al nader vorder na die kant; en aan sy bors kan hy ook voel hoe, altyd meer, haar laggie hygend word en stoterig. Sannie sit al oorkant op die gras en kan nie meer van die lag. Roelf is uit die water nou, en set vir Martjie op haar voete neer, by Sannie op die gras. Wat is hom tog oorkom? Sy lag is nie meer vrolik-ongedwonge en luid, soos elke dag. Meteens is tans die vrolikheid by Sannie, as by Roelf, verstom, want plots’ling eindig Martjies hik’rig laggie in ’n snik so luid en pynlik-skokkend asof selfs die vrolik sonnetjie daarvoor moet skrik! Maar gou-gou het sy haar herstel, nog voor die ander angstig haar kan vra wat sy makeer. En laggend, naas mekaar, stap hul na huis. Roelf is na sy kamer afgedraai om droë klere aan te trek. Deur Sannie word die voorval by die huis met geur en kleur vertel. Martjie het sig op ’n stoel laat val, gejaag gaan altyd nog haar bors; sou ’t wees van skrik of van vermoeienis? Haar wange gloei, en van haar ma af draai haar oë weg, en bo haar asem is haar stem, as sy verklaar: „O, ma, ek het tog so geskrik!” [Illustration] X. Lyk dit of die lot of noodlot soms nog dralend rond-tas na die plan van ons bestemming, is eenkeer d’eerste stoot gegee, dan volg die twede dikwels gou daarná: „Maar wat is dit met julle twee van-aand?” Dis ou tant’ Mieta wat dit vra want Martjie en Sannie is van-aand nie in te hou nie. Martjie voel ’n opgewondenheid wat prikk’lend haar van hoek tot kante jaag: opbruisend woel ’n lewe in haar bloed soos sy nog nooit geken het nie, asof sy ’n lus gevoel om alles met haar hande aan te gryp —te frommel deur mekaar, en roekeloos die bande af te gooi van selfbedwang. Hul fluister met mekaar ondeuënd, die twee, en nou en dan kom uit die ver kombuis ’n lagbui onbedaarlik; ja, dis wel bewys dat iets gebrou word wat met sorg vir Roelf bedek word en hom nie veel goeds voorspel. Die awend-ete staan op tafel klaar en almal neem hul plaas. Martjie deel die pannekoeke uit en gee die borde rond aan tafel. Sy en Sannie kan met moeite hul lag bedwing —dis anders wel gewoonte, as die twee eers reg op stryk is. Roelof, nes die ander, het alreeds sy pankoek opgerol, ’n stukkie afgesny en opgehap; maar ’t lyk of hy nie vorder nie: hy kou en kou en skuif die happie met sy tong van links na regs en weer terug.... Hy buk sy hoof, om op sy bord sy pannekoek noukeurig te beskou. En, nes ’n stortvloed wat ’n dam verbreek, wat nie meer uit kan hou nie, bars nou Martjie en Sannie al-meteens in tomeloos geskater los: in Roelofs pannekoek het hul ’n ronde lap van linne ingebak! Hy lag met hulle hart’lik saam en moet beken dat hul hom goed het beet geneem. Oom Kootjie sê: „Maar hoor, „jul jonkmans van vandag is darem swak, „in my dae moes ’n nooi dit tog probeer „om my so’n streek te speel,— „so waar het sy ’n soen gekry!” Van menigeen, wat aars’lend nog ontbeer, maak so’n woord meteens ’n held: Gevaarlik is die lig wat plotseling aan Roelofs oog ontskiet, ’n oënblik weifel hy, maar voordat iemand regtig weet wat nou gebeur, is hy reeds agter Sannies stoel, sy arm geslae om haar hoof, en op haar wang gee hy ’n ferme soen! Martjie is opgespring, en na die deur slaan sy op vlug! Maar ou oom Koot is klaar, en met sy arm keer hy haar voor; ’n oënblik nog, en Roelf het haar gepak, haar arme in sy sterke greep geklem en magteloos, en op haar frisse lippe, rood en vol, druk hy ’n soen! Albei het die slagveld nou ontvlug en Roelf het baas gebly. Hy neem sy stoel weer in —oor eie kordaatheid baie verbaas, bedremmeld en terneergeslae nou dat hy bemerk hoe ver hy is gegaan. Goedkeurend klop oom Kootjie op sy skouer: „Roelfie, ’t het my altyd maar gelyk „of jy te stadig is, „maar nou het ek gesien dat jy „gesny is uit die ou soort hout— „dis reg so, man!” * * * * * As Martjie weer die ander môre vroeg die eetsaal binne kom vind sy vir Roelf reeds daar en yw’rig besig: naas sy bord het hy ’n stuk papier, en teken iets met potlood daarop aan, so besig dat hy selfs nie merk hoe sy die kamer binnekom, —of sou hy maar so maak? Dis net of sy ’n skok gevoel en op die drumpel moet bly staan: wat! is dan in hom, sinds wat daar gister het gebeur, so gansegaar en niks verander nie?! „Môre ou sus,” sê hy meteens, as sy reeds reg-oor hom haar stoel geneem het, maar van sy skrywe kyk hy nog nie op en bly nog so ’n rukkie spraak’loos sit. Met snelle handbeweging skuif hy nou papier en potlood weg en kyk haar in haar oë aan: „Ou sus, maar waarom kry ek dan „van-môre glad geen koppie koffie nie?” Martjie voel ’n rukkie in haar asem, snel-verleë is haar laggie as sy moet gewaar dat sy eers nou haar tafel-plig gedenk. Sy gryp die koffiekan en skink sy koppie vol; en dis vir haar ’n baie groot verligting as sy sien dat hy met brood en boter besig is en nie die blossie merk wat op haar wange vlugtig vlam;— maar half het sy ’n gedagte dat hy dit ekspres nie wil gewaar. * * * * * Hoewel hy openhartig is en vrolik bly hy maar vir haar ’n raadsel: hoofskuddend, by homselwe, of pratend, as daar niemand by is nie, en somtyds stil in diep gepeins. Maar gou is altyd weer die skaad’wee weg en is hy weer homselwe, meestetyds vóor iemand iets kan merk. * * * * * Martjie is haarself nie meer, sy voel haar op ’n weg gestoot waar sy nie meer op kan terugkeer nie. Vergeefs is elke dag haar moeite om, in praat en doen, vir Roelf dieselfde weer te wees soos vroeër. Ja, maar as sy aan haar selwe vra op watter tyd die „vroeër” terug moet sien dan weet sy nie, want duid’lik is dit tog vir haar dat reeds die eerste keer van hul ontmoeting sy al reeds nie meer haarselwe het gevoel. Maar nou moet sy daarby nog ondervind hoe sy ook tot haar ouers en haar vrinde en tot haar werk geworde is soos een wat vreemd is. Wonderlik is in ons lewe, ja, die kérings-punte, as ons moet gewaar dat so meteens ’n nuwe siel die leisels het geneem van al ons dinke en gevoel, en ons op duiselhoogte het geplaas van saligheid, vanwaar ons oog sig plots’ling kan verbeel in d’afgrond van die smart te kyk. [Illustration] XI. Nie elke awend, na die awendmaal, bly Roelof in die huiselike kring: hy trek hom baie-maal terug om rustig in sy kamer hom te wy aan skryfwerk, mee na huis gebring, of aan ’n boek; en nie beseffend, blykbaar, hoe hy dan ’n leegheid nalaat in die kleine kring om d’awendlamp. Dan kom die wens by Martjie somtyds op —sy weet nie waarom nie— dat hy tog maar vir altyd weg mag bly! * * * * * Die somer-aand is swoel; en ope, wyd, staan deure en rame, bundels lamplig strooiend buite-toe, tot diep in d’eike-blare. ’n Ligbaan val daar ook uit Roelofs venster, reguit oor die werfgras, op en oor die muurtjie van die tuin, die rose-struike treffend daar, en as gevange eind’gend in ’n rose-tros, ferwélig donker-rooi, bo almal, hoog, warmgloeiend teën die donker van die nag. In skaad’wee van die roseboompies, agter in die tuinpad, staan ’n bank; daar ’s iets daarop wat roer.... Dis Martjie: vroeg in d’awend reeds had sy haar kamer opgesoek. Maar swaar en stikkend was die lug, gevlug was sy na buite, asem soekend in die tuin. Màg sy, mag sy deur die struike heen haar oog laat gaan na Roelofs kamer, oor die werf? Ag, waarom nie? die raam en deur is wyd geopen vir die koelte, en sy hoor haar ma is daar, hoewel sy haar nie daarvandaan gewaar: iefd’ryk-sorgend bring tant’ Mieta so vir Roelof baie-maal ’n koppie melk, en bly ’n rukkie in sy kamer dan met hom gesels —’n moeder ook vir hom, nie minder as vir Martjie, haar eie kind. Die plaasvolk kom na huistoe uit die dorp, ’n deuntjie singend by die hees geluid van hulle konsertina, trappend op die maat; en as hul oor die baan van lamplig tree, wat val uit Roelofs kamer, draai die hoofde ’n oënblik om en word hul groet gehoor: „Naand basie!” Sonder op te kyk het Roelf die groet beantwoord; steunend op sy hand-palm rus sy hoof, sy oog gebonde in aandag op die vloer, wyl ou tant’ Mieta iets vertel.— Aan éen kant, op sy hoof en skouer, straal die lamplig helder. Martjie stoot die takkies van die rose eenkant toe, dat sy hom kan gewaar; en hongerig asof sy hom nie elke dag ontmoet, verslind sy hom in stilte met haar oog. Weeklaënd-hees „ha-ha” die konsertina nog van ver en begelei die krekie-sang —geluide wat nog meer aan Martjie laat gevoel dat sy alleen is, heeltemal, omslote in die donker, en vergeet—, O, heerlik met die saligheid alleen, wat opbruis in haar boesem, sterker golwend elke oënblik nou. Sy kan nie meer bly sit nie, spring meteens oorend en wandel snel die tuinpad op en neer tot bowe by die ou prieel, haar wange koelend teen die druiwe-loof, en drink, met lippe ope wyd, die koele naglug, teug op teug. Sy voel ’n drukking, pynlik, op haar bors; en op haar knieë sak sy neer meteens, haar hande op haar bors, haar oë na die sterre bo,— en magteloos, half biddend, half belydend, net soos een gevange in die krag-greep van ’n reus, ontbéwe aan haar lippe net die woorde: „God,.... ’k het lief!”.... ......................... Dis laat!.... Hoe lang sou ’t wel kan wees dat sy daar in die paadjie sit, alleen? Sy weet nie.... strykend met haar handjie oor haar voorhoof staan sy op, en voel so kalm en rustig as sinds maande nie.... Die ligte is oral uit, en alles slaap op Uitkyk reeds. Sy stap die paadjie af, die tuinhek uit, die sware skaad’wee van die eike deur, en loop die woning om na agter en bereik haar kamers buitedeur. [Illustration] XII. Sy voel haar weer vanmôre heeltemal haarself van vroeër dae lughartig, onbeswaard, en byna onverskillig teënoor Roelf. Sy kan haarselwe nie verstaan, gedenkend die beroering van gist’r-aand: Die weelde is dit, van selfgenoegsaamheid, versekerd van besitting groot en ryk —bo alle twyfel nou ge-openbaar— van liefde so oorstelpend dat daarnéwens alles is verkleind, selfs hy, vir-eers, die oorsaak van die vlam —onwetend van sy skuld. Te groot is in haar bors die skat, oormoedig gun sy sig die rykaards spel, wat speels sy rykdom van hom stoot in heerlik-onbestemd besef, dat hy in tydgenoegsaamheid kan wag op groter vreug, wat so gebêre bly vir dae wat kom. Dis waar en onmiskenbaar nog, helaas, dat Roelf geen roering voel soos sy. Maar magteloos had sy haar mee laat sleur in storremdraaiing van die skoon verrukking, wat meteens op haar was afgekom, en op sigselwe waar en salig was —die toekoms ongeag. * * * * * Eén vir ene kom en gaan die dae en laat die vuur bedaar van elke roering, selfs die edelste, van elke drif of hoë gevoel; en nugter loer die werk’likheid weer in en vra: of _dit_ waarskynlik is of _dat_ ten uitvoer is te bring. Dit kan nie anders nie: die koel gelykmatigheid van Roelofs daëliks doen, dieselfde nog soos altyd, moet vir haar weer elke keer terugvoer tot haar twyfel, tot die rand van wanhoops donker afgrond; huiwerend ontruk sy aan die aanblik telkens weer haar oog, en voel of in haar are al haar bloed terugstroom na haar hart Met stil-weemoedig laggie dink sy nou terug aan d’eerste dae toe hul mekaar leer ken het, toe haar hart alreeds die soet geheim ontdek het en sig had verraai, in klein beroering eers van onrus, waarvan sy die grond nie wis nie. * * * * * Aldag in die sonnetjie te sit van ’n mooi paar oë, daarby nog die gunsteling van pa en „goeie kind” van ma —daar’s menig jonkman wat dit Roelf beny. En hy sou doof moet wees en blind om nie die praatjies te verstaan en nie die laggies raak te sien wat oweral, en min of meer bedek, ’n teer verhouding onderstel wat tussen hom en Martjie sou bestaan. Ja, baie minder sou voldoende wees bemoeisug te laat glo dat tussen hulle twee die sakie klaar beklonke is. Martjie is nie minder, in die kring van haar bekendes, ’n mikpunt reeds geword van kleine plaëry; en onoortuiënd is haar woord as sy, verleë, ontken. Geskok voel sy haar eers deur al die praatjies, onheilig rakend aan haar hartsgeheim, dog oorsaak dat haar oog allengs aan nugtre blik gewen, en sy die vraag haarselwe durf te stel, skoon huiwerend nog: „sal ooit my liefde word beantwoord, „word ek eens „die vrou van Roelf, of nooit?!” * * * * * Is ergens in die buurt of dorp ’n aandparty, waar elke jonkman word verwag ’n noointjie mee te bring, dan is daar nooit ’n ander een aan Roelofs arm as Martjie. Dikwels dink sy by haarself dat hy uit pligbesef vir haar maar altyd neem En welverstaanbaar is dit ook dat so’n gereëld samegaan met haar die mening sterk, dat hul verhouding so is as die wêreld dink, en tog, helaas, so ver van waarheid is. Pynlik is ’t vir haar, en hinderlik; en as hy, op ’n dag, haar weer kom vra om mee te gaan, verstout sy haar die wedervraag te doen, of hy nie ’n ander sou wil neem— hoewel sy lank al het gemerk dat hy, so min as aan haarself, gehegtheid het betoon aan een van al die nooiens wat hy ken. „Wat?” seg hy, „en dink jy dan dat ek „my noointjie somaar in die steek laat staan, „dat ’n ander een „haar weghaal voor my neus?” En so maak hy lughartig sig weer daarvan af, soos altyd sy manier maar is. Die woordjies so gedagteloos en lossies uitgebring deur hom: „my nooi”, vertoon die afstand juis aan haar, die peilloos diepe kloof wat hulle skei. [Illustration] XIII. Op Soetlands-vlei is bruilof. Stoffies trek omhoog in al die paaie, dis karre wat op weg is na die fees. Uitkyks kapkar is ook een daarvan. Die beste perde van die stal is ingespan vandag, en tuie blinkend in die son. Van ver alreeds word karre en perde oor en weer herken. En doeke by die raampies uitgewuif bring groete reeds vooruit van vrinde, aan vrinde langtyd nie gesien. En daar waar paaie uitloop in mekaar word stil gehou om soene met mekaar te wissel eers en hande-groet, dan gaan die reis weer verder aan. * * * * * Tafels staan gedek op Soetlands-vlei se werf, in koele skaad’wee, alles van die beste is daar op wat d’Afrikaanse huisvrou kan berei, gebakke, vrugte en blomme in bonte mengeling. Maar seker is die skoonste nog van al: die blosend-lief gesiggies, tawwertjies, soos blomme self met held’re somerkleure, ryklik rondgestrooi al tussen-deur die swarte drom van mense— laggies hupp’lend deur die praatgebrom, die grappies spattend hier en daar, en handjies blank en fyn wat help om rond te dien. Die vrolik-gulle lag van Roelf word nou en dan bo almal uit gehoor. Hy maak of hy die korswil nie verstaan wat doel op hom en Martjie. Wag, die ergste kry hy nog te hoor: In d’eetsaal is die gaste nou byeen, ’n glasie word getik en stilte aangevra vir iemand wat ’n woord wil praat. Die sprekers woorde is maar baie gewoon: hy wens die ouerpaar en bruid en bruidegom geluk, maar laat dan daarop volge: „vrinde, „dis wel waarlik te verstaan „dat so baie mooi gesiggies „as ons hier vandag „versameld sien „wel maklik menig jonkman kan beweeg „om ook ’n plan te maak.... „en ’k dink ek kan jul wel „verseek’ring gee „dat ons nie al te lang meer hoef te wag „om nogmaals so’n fees te vier”.... Gelag gaan op, en onderbreek die sprekers woord, wyl ieders oog op Roelof is gerig en hande-kloppies op sy skouer val. ’n Oënblik staan hy glad verbluf al-eer hy ’n laggie op kan wek om hom te red; maar klankloos is die laggie, kort en leeg. In ope-staande deur, net agter haar, is Martjie, op die sprekers woord, verdwene in ’n kamer, ongemerk en snel, vergeefs dat hoofde en oë sig nou beur om haar te soek. En in die kamer bly sy tot die uur van huistoe-gaan. * * * * * Op t’rugreis na die plaas, is ’t wel opmerklik stil van-aand in ou oom Koot se kar. En twee wat op die agterbankie sit is bly dat ’t reeds so laat is en hul nie mekaar kan sien. * * * * * Maar al te ongewoon is Roelofs swye vir oom Koot, hy draai hom om na agter toe: „maar wat is ’t dan met julle twee van-aand?” Roelf probeer aanhoudend sig te red met praatjie of grap, maar ’t wil van-aand nie vlot nie. Na ’n rukkie sê oom Kootjie weer: „my skepsels! maar het julle twee „dan rusie met mekaar gemaak?” En ’n eindjie verder: „Ma, so waar die kêrel sit ’n slaap, „hy het, so by-me-siel, „’n dop te veel gesteek! „Of sit hul in die donker stil te vry?” * * * * * Dis laat al as die kar op Uitkyk kom, Roelf is agter uit gespring en loop na vore om die hek te open, dat oom Koot daar deur kan ry. Hy sluit dit weer en roep van ver aan almal goeie nag terwyl hy na sy kamer stap. Die plaasvolk is geroep deur Jaftas blaf en kom reeds nader om die kar en perde te versorg. En nog een het haar kamer gou gesoek, maar nie om rus of slaap te vind, al het sy haar ook haastig uitgekleed, die kêrs geblus en op haar bed haar uitgestrek. O, ’t klop so in haar hoof en in haar bors!.... Met woeste ruk het sy meteens die dekens afgegooi, en sit oorend.... die blou-wit maanlig straal die venster in en val op haar. Sy’s op, en voor haai tafel nou; sy was haar hande en gesig. en kyk na buite. Haelwit oor die waenhuis-géwel gly die maanlig. Tuingereedskap staan in klompies teen die muur, as rustend na die arbeid van die dag. En op die hard gelykte, breed en leeg, van d’agterplaas twee jonge boompies naas mekaar, elk éne by sy ronde skaad’wee-kol, beweëloos.... In Martjies oë lyk dit alles tog so onverskillig-dom, verlate, en met niks of niemand mee-gevoelend. Saggies en werktuiglik open sy die binnedeur wat uit haar kamer lei, en sluip op blote voete in die gang, nie wetend waar sy heen wil gaan. Gevoelloos is ook alles daar en leeg, in skeem’ring stil-geheimsinnig. Dof-glimmend staar die deure-knoppe haar onvrindlik aan net of hul vra: „wat soek jy hier”. Sy’s in haar kamer weer, en op haar bed terug, die maanlig op haar witte nag-gewaad, haar hande om die katel-knop geklem, haar voorhoof op haar hande neergebuig. En fluist’rend in die stilte van die nag, ontval haar lippe ’n klag, verwytend half: „O, wáarom tog nie, Heer, O, wáarom nie?!” [Illustration] XIV. Die dag daarna as Roelf sy kamer uitstap en die woonhuis nader, om sy oggendmaal te gaan gebruik, staan voor die stoep die kapkar, ingespan en klaar om weg te gaan. Martjie kom die voordeur haastig uit en tref hom by die treedjies aan. Blykbaar het sy nie verwag hom nog te sien of spreek. Sy’s wrewelig, en voel dat op haar wang ’n kleurtjie haar verraai; terwyl sy moeite doen haar laggie tot ’n aldags-plooi te dwing. Sy groet hom, met ’n uitleg, haastig-weg dat sy gaan kuier by tant’ Hannie Ras. Sy was al op van-môre vroeg en het haar ma vertel hoe sy reeds lang tant’ Hannie ’n kuier het beloof, en gister by die bruilof het tant’ Hannie haar gevra tog nou nie langer uit te stel. So kom sy dan van-môre tot die plan om daad’lik maar te gaan; en om die perde nie te veel die warmte te laat voel, sou sy maar vroeg vertrek: Op Uitkyk is dit heeltemal die reël dat Martjie so die perde en die kar tot haar beskikking het. En Roelof voel net dankbaar dat hy haar van-môre nie aan tafel reg-oor hom sal sien soos elke dag. Martjie het die plan bedenk, om gras eers te laat groei oor daardie oom se aanspraak by die fees van gister. Roelof ken sy al genoeg om wel te weet dat dit nie al te lang sal hoef te duur, dewyl hy nie meer voel as dat onwaarheid is gevoed, waar tussen hom en haar tog niks bestaan. Maar hoe dit _haar_ getref het, nee, dit, voel sy, sal hy nooit besef of weet. * * * * * Veertien dae sou haar kuier duur, maar nou’liks is ’n week verby of Martjie is op Uitkyk weer terug. Tant’ Mieta vra haar, eers van al, of ou tant’ Hannie haar dan nooit te ete het gegee— so maer het sy geworre. Roelof druk haar handjie hartelik; „welkom tuis, ou sus, „maar, alla wêreld, ons het jou gemis!” Waar en gul en openhartig nog, soos altyd, is sy woorde en manier,— maar haat’lik byna tog vir haar: bewysend hoe sy, onbegrepe nog, ’n vreemd’ling in sy boesem bly. En tog, met vlugtig opslag, blits haar oog in syne, asof, teën alle hoop en wete in, ’n dieper sin sig daar sou laat gewaar van wat hy sê. Maar ag, ’n halwe oënblik is genoeg vir haar om te verstaan dat sy vir hom „ou sus” net is gebly, en niks as dit alleen. Martjie weet nie waarom sy ’n stil verwagting had dat daardie kuier by tant’ Hannie tog verligting of verandering aan sou bring. Maar alles is soos altyd nog: die vrae is nog daar, en knaend nog die ou verlange na ’n skoon besit wat hare nie mag wees. En tog kom af en toe ’n glimlag haar verras in weemoeds-uur, en vra sy aan haarself of pa en ma wel ooit die rykdom het geken wat haar besitting is. Dan weer, meteens, bevind sy haar op boodskap weg, na Roelf, maar keer terug op halfpad, omdat sy nie weet wat sy hom eintlik het te sê— en voel haar dan soos een verstote in haar armoed, en verlaat. Martjie het nog nooit haarself gevra of Roelofs aansien by die mense haar bewoge het om hom te eer en lief te hê. Dat hy die eer en aansien moet gewin en dat sy, baie-maal, nou hier dan daar, ’n woord van lof moet hoor op hom— sy voel maar net dat alles so moet wees, dat net so goed die son op middernag kan skyn as dat ’t anders is; en in haar oë lê ’n kalme blik wat sê: „Ek weet dit al; „is dit maar al wat julle het te sê „van hom? „O, myne is hy, „en meer as een van julle s’n, „hy’s myne alleen!” [Illustration] XV. Roelf gaan weg, op sake moet hy uit, vier dae deur die veld. Twee ander, van sy vrinde, gaan ook mee, hul gaan te perd; ’n jag-tog sal dit wees ter-selfder-tyd. Dae lang word reeds beskuit gebak, die saëlsakke vol gemaak, die streepsak ook wat op die handperd word gelaai. Roelf is opgewonde: een en al verwagting oor die reis. Net daaroor is die praat aan tafel ook. En as hy Martjie kastig, in die kombuis, kom help met koekbak en beskuit en, meer as ander dae, haar plaag en terg, dan voel sy dat dit net die bly verwagting is van hulle reis wat hom so buitensporig maak. En op die môre van vertrek as hy, en die ander twee wat same gaan, ’n stukkie eers nog eet aan tafel by oom Koot, as hy tot afskeid haar ’n handdruk gee, O, dan het Martjie hom nog nooit so mooi gesien, in veldpak, netjies passend aan sy lyf, en bree-rand hoed wat lyk of ’t niemands hoof so mooi kan pas as syne. En in sy oë vlam ’n gloed van hartstog.... ag, die hartstog net alleen vir veld en berge.... * * * * * Tant’ Mieta wil, vóor Roelof huistoe kom, sy kamer eers ’n goeie skoonmaak gee. Die werk van bed-opmaak en uitvee elke dag was altyd maar die werk van Rosie. Martjie het wel af en toe ook daar gekom, om Roelf ’n koppie koffie aan te bring, te waarsku dat die ete wag, en so nog meer. Maar nooit was sy alleen daarin, soos nou. Want alhoewel die werk ook nou aan Rosie weer was opgedra —’wyl sy sou toesig hou— so het sy tog ook self ’n voorskoot om; en ongeduldig het sy, na ’n ruk, ou Rosie weggestuur: sy sou wel alles self regeer en Rosie moet vir ounooi maar gaan help. As Rosie ’n rukkie weg is draai sy stil die sleutel in die deur, en sluit sig in. Hoe heerlik om haar daar alleen te voel! Alleen? O nee: sy wese is daar, die kamerlug hang vol daarvan, dit sweef haar teë uit die skaad’wee van die bed, dit fluister uit die lang gordyne-plooie en uit die sonligstraal wat deur die raam die tafelkleed beskyn. Omstrelend en omtastend sluit sy gees en wese haar van alkant in, bekorend soet soos iets wat sy in stilte steel, en tint’lend in haar bloed met so’n gevoel van saligheid dat sy —met hande op haar bors geklem— bly staan, onmagtig die betoow’ring haar te onttrek; ondeuend-bly geniet sy van verbode vrug uit jong verbeeldings ryke skat: ’n gode-drank, ’n drome-melodie, in liefdes skoon paleis. Daar staan die varing-plant waar hy sy sorg aan gee, sy metgesel, —bevoorreg bowe haar— sy streel die fyne blaartjies met haar hand, begiet die plantjie liefd’ryk uit die kruik, in onbestemd besef van medely met iets wat sorg en troos ontbeer. En voor die tafel staan sy stoel, daar sit hy elke dag. Sy gaan daar nou op sit en dink daarby: so sit hy op dieselfde plekkie, net waar ek hou sit! Opbruisend kom ’n blyheid haar oorstelp, haar arme slaan sy kruiselings om eie lyf en wieg haar heen en weer— ’n laggie om haar mond. Besitter voel sy haar van iets wat sy hou-vas, en niemand ooit haar kan ontroof: „Ja, net soos ek so sit hy hier, „sy hoof waar myne is, „sy hals....” ’n purper blos bedek meteens haar wange, uit die stoel spring sy oorend, verbergend in haar hande haar gelaat, haarselwe hatend.... Na ’n rukkie is nou weer die felle slae in haar bors bedaar. Sy sien ’n boeke-rakkie aan die muur; en neem ’n boek daaruit en slaan die blaaie om, verstrooid en sonder plan, en lees ’n reël hier en daar. Maar wat is dit? Sy lees aandagtig nou: „Ek mag jou nie lief hê en kan jou nie haat nie, „ek mag jou nie hou en ek kan jou nie laat nie. „O, leer my die bittere stryd te volstry. „En, ag, wat daarbinne my hart so deurknaë, „ek wil ’t nie mis nie al kan ek ’t nie draë, „die pyn wat genot is en mart’lend verlei. „Ek kan jou nie haat en mag liefde nie géwe, „so staan dit gemeld in die boek van ons lewe, „O, smart wat verdélend my hart so deursny. „Ek mag jou nie hou nie en kan ook nie skeië, „so wil ’t die sterre se wet van die tyë, „O, sê my, hoe sal ek die stryd ooit volstry. „O, eensaam herhaal ek deur nagte en daë, „vergeefs nog en ewig die swaarste van vraë, „en voed ek, genietend, die pyn wat ek ly. „Ek mag jou nie lief hê en kan jou nie haat nie, „ek mag jou nie hou en ek kan jou nie laat nie „O, leer my die bittere stryd te volstry.[1] Met aandag, meer en meer gewek, het sy die versie tot sy end gelees. Hoe treffend en hoe waar word daar die spieëlbeeld van eie siel haar voorgehou! Daar lê ’n stukkie potlood op die plank, sy neem dit in haar hand.... Sy kan ’t nie laat nie, O, sy sal, sy moet!: sy trek ’n potloodstrepie langs die vers! Sal hy dit sien! O, laat hy ’t sien! Sy is wanhopend al, sy gee nie om nie: Ja, as sy dan nie mag praat nie laat dan so sy oog geopen word; hy _moet_ dit sien, sy wil dit hê; maar, ag, hy dink miskien dat hy dit selwe eens het aangemerk.... Sy skryf die eerste letters van haar naam daarby! Met kloppend hart set sy die boekie op sy plank terug. ’t Sou wel kan wees dat hy die boekie nie meer in sal kyk,— wat help dit dan?! Die potlood in haar handjie het ’n geur, soos alles wat hy raak of syne is. Sy vra haarself of sy alleen die lug gewaar, dan of dit slegs verbeelding is van haar; lavendel-geur is ’t nie, maar wel ’n fyn aroma, soet en aangenaam, wat uit die wese straal van die wat ons bemin. Sy berg die stukkie potlood in haar bors, dis iets van hom, sy sal dit hou vir haar.... Héwig skrik sy op, want iemand het die deur se kruk gedraai. Dis Rosie, ou-nooi stuur haar weer, en vra waar nonnie bly. Haar soete droom is uit, sy gaan, en laat die werk aan Rosies sorg. [1] Vertaling van ’n gedig van Hamerling. [Illustration] XVI. Maande en maande was daar reeds gerug van oorlog. Almal was die praat daaroor gewend; en elke ene het sy weg gegaan soos voor die tyd. En altyd werd die vraag gewoë weer en weer: sou’t kom of nie? Die vrese en die hoop het beurt om beurt mekanders plek geneem,— en baie het sig reeds gerus gestel. Maar plots’ling is die kans ten slegste omgeslaan; die vyand soek die stryd, geen mense-hand kan nou nog keer. Bedrywigheid is oral en gewoel. Te wapen! is die kreet. Leeftog word versamel en verpak. Van mens en dier word diens geverg. Die treine is vol. Banier en sang gelei die jonge burgers uit. En snikke, uit die skare, onderbreek die afskeids vroom gebed, en seënwense. * * * * * Roelof kom nie uit nie. Wat sou’t wees? ’n Week gaan om, ’n twede, na die dag dat hy gesê het dat hy weer terug sou wees. ’n Briefie kom daar eind’lik met berig dat hy met d’eerste klomp was mee-gegaan, en op die grense hom bevind: Oënbliklik was hy met sy perd tot krygsdiens opgeroep, en baie werksaam sinds die eerste dag. Daar kon nie aan gedink word om nog eers na huis terug te kom. * * * * * Die huis is stil op Uitkyk, net asof daar ene uit begrawe is. Met ywer is tant’ Mieta weer aan werk gegaan, om oorvloed van gebak en alles wat maar lekker is gereed te maak en weg te stuur aan hom, „haar kind”. En klere moet hy hê en warme dek. Sy het nie rus nie, nag of dag. En as die grootste drukte nou bedaar, en sy weer tyd het om te dink, moet Martjie en oom Kootjie baie-maal gewaar hoe sy in stilte, as sy dink dat hul nie sien nie, ’n traan van kommer uit haar oë droog. As Martjie ’t merk, die eerste keer, dan tref ’t haar skokkend: wat! sou ma dan waarlik dink dat hul vir Roelf nie weer sal sien nie? Nee, aan so iets het sy self nog nooit durf dink. Sou ’t moontlik wees? Sy kan ’t nie glo nie, nee! Maar van die dag af is daar in haar bors ’n wurmpie wat daar vreet, en op haar jong gelaat ’n trek van sorg, en in haar oog ’n blik van onrus bring. Vlugtig was sy afskeid daardie dag, sy maters was daarby, van oog tot oog en siel tot siel het niks gepraat. ’t Was nie anders of hy toe maar net ’n groet tot weersiens had gegee. En ’t sou die laaste groet kan wees van hom? van hom, besitter van haar hart en wese! Nee!! Haar lewe was hy, elke dag, ten spyte van die kloof wat haar van hom moes skei, sy wese so met hare saamgeweef dat sy so min haar kan verbeel in eie bestaan haarselwe te verlies as hom. Sal hy verdwyn in eew’gheids duisternis so sonder woord of teken eers aan haar? Sal sy hom eendag soek—sy weet nie waar— en sal hy as ’n vreemde wees wat haar nie ken; sal sy hom soek en nie kan vinde? O! Dan sal sy selfs te midde van ’n skaar van hemellinge eensaam voel, soos ene in die eew’ge kou alleen, van d’hemelruim. * * * * * Die eerste offers is geval in vryheidskamp; die droewe mare hang op straat en plein. In klompies staan die mense, hier en daar en fluist’rend word gepraat van die, wat almal het geken en nooit die strate van hul dorpie weer sal mag betree. En ’t lyk of elk een aan die ander vra: O, wat het ons begin, en waar sal d’einde wees?! * * * * * Op Uitkyk kom berig dat Roelf verwond is in die slag....! Daar’s stilte in die kleine kring; in drie paar oë wel die trane op van dank, dat wreder slag hul is gespaar. Maar deur die trane breek ’n glimlag heen van trots! Die wond is nie van veel beduidenis en Roelf laat weet dat hy in weinig weke weer hersteld sal wees. * * * * * Die weke kom en gaan, die lange maande, een vir een. En soos ’n blits uit wolke, onweer-swaar, kom senuwee-skokkend keer op keer berig, van stryd en dood. Op Uitkyk is die rus verdwyn, oom Kootjie, ook, verdrietig nog daarby dat ouderdom hom bind aan huis en haard. * * * * * Dis sondagmôre en gure winterweer, maar vroeg is reeds tant’ Mieta en oom Koot na dorp gery, deur niks was hul te keer nie want daar is ’n diens vandag vir die wat staan, en sterwe op die veld van eer. Martjie is allénig tuis gebly. Sy’s voor die venster, buitetoe haar oog gerig. En grys en driestig is die winterdag: in lange rye lê die wolke, swaar gebank, eenselwig-vaal en roerloos, of hul so nog honderd jaar kan draal in trage rus —die folterpyne onge-ag van harte wat daar kwyn, van harte wat daar ween en bid om sonneskyn. Die wind wil maar gaan lê, want moeg gesug is reeds die oue eike voor die deur. Net nou en dan kom nog ’n snikkie ná, as teën die ruit ’n dooie blaartjie tik. Starend-wyd is Martjies oog in vèr gedagtes heeltemal verloor: sy dink aan hom. En onverklaarbaar is die raadsel nog vir haar hoekom hy tog haar liefde het versmaad, sy dink daar elke dag nog aan. Sy dink daaraan hoe sy gesien het soms dat hy ’n stryd te strye had, asof hy in ’n weif’ling staan. En eendag, by ’n wending van haar hoof, so onverwags, het sy sy oog gevang, op haar gerig, vol trane en medely!.... Dis net of in haar oog meteens ’n flikkering is ontwaak, sy’s opgestaan en kuier snel die kamer op en neer, soos iemand met ’n plan wat nie kan wag nie: „wáarom had hy trane in sy oog „vir my? „wáarom, wáarom het hy my verstoot? „Ek sal, ek mag, „ek moet dit weet! „O, dat ek sou kan dink dat ek „te laat kan wees „om dit van hom te hoor! „Wat is dit wat my sê „dat ek geen dag verlore moet laat gaan „maar spoed moet maak? „Hoe het ek tog so lang nog hier kan bly!” By tuiskoms van tant’ Mieta en oom Koot is Martjie besig, by haar kas, haar klere uit te soek. Haar plan is gou vertel: sy sluit haar aan by die ambulans, die eerste wat weer gaan; verpleegsters word gevra, sy kan nie meer op haar laat wag, haar diens, as dogter van haar land, word ook geverg. Tant’ Mieta is bly, dat sy na Roelfie gaan, haar „kind”. Die moeder-oog het lang gewaar hoe Martjies hart aan hom gegéwe was. En welgetroos dat eenmaal sou gebeur wat ook haar moederhart verlang, het sy maar stil gewag, vertrouend op die tyd. Sy weet ook wel wat jonge harte is; en wat sou dan kan hinder dat die twee mekander vind? [Illustration] XVII. Die trek was lang en swaar, die hele nag, deur reën en wind —die swarte donker elke keer herskep in helder dag deur flikker-blitse, ligtend op die lange ry van waens en diere, steunend in die tuig en juk— hul pligte nooit versakend. En, as onwillend-traag, was skaars die lang verbeide dag ontwaak, of plotseling het knetterend kleingeweer die aanvang aangekondig van ’n stryd. En heeldag het dit aangehou nou digter by, en dan weer ver, by-wyle heeltemal bedaard, tot net ’n skot of drie nog word gehoor, meteens dan wakk’rend weer tot woedend-fel gekraak aaneen.... Gewonde meer en meer word aangedra na die ambulans, en dokter en verpleegsters het hul hande vol —en Martjie ook daarby. Sy béwe elke keer as een word aangebring, nie wetend of sy dalk, in smartverwronge trekke, nie ook hom sal moet herken. Sy wens dit byna, hatend dan haarself om so’n wens. Die angs is nie te hou nie, want daar’s iets wat haar ’n ongeluk voorspel, die slag moet val, sy weet nie waar of hoe. O, was ’t maar gou! Sy weet hy ’s daar: die môre vroeg het sy hom weer die eerste keer gesien. Dat sy ook daar is weet hy nie: te perd het hy die wa verby geja, van agter op, met burgers na die front. Sy het hom by sy naam wil roep, maar in haar boesem het ontroering so haar stem gevang dat oor haar lippe net ’n fluist’ring kom. Tevrede moes sy wees hom so nog agterna te kyk —so fier en kloek te perd, sy hoof omhoog, as dorstend vir die stryd. * * * * * Burgers kom in klompies aangery en gaan verby: die orders is om t’rug te val, die oormag van die vyand is te groot, hul trek van ver die stelling om. Die ambulans, met rooikruis vlag omhoog, moet daar bly staan —verplegend swaar gewonde, in groot getal. Martjie het moeite om haar aandag aan haar werk te wy, onrustig blik haar oog na buite, elke maal, of sy hom by die ander nie gewaar, hoewel sy weet—sy kan nie sê waaróm— dat hy nie met die ander daar verby sal gaan. * * * * * Die laaste burger is al lang verby as by die rooikruis-wa die vyand sy verskyning maak, en groter word hul aantal steeds. Die dag se stryd en woeling word bepraat en Martjie hoor vertel hoe ’n klompie burgers dáár, op daardie voorste punt, was afgesny, en almal doodgeskiet of swaar gewond, behalwe éen: en aangehou het hy alleen, totdat sy laaste skot was weggeskiet, en menigeen deur hom sy dood moes vinde; in hande is hy nou en sal, nog voor vanaand, met eie lewe moet betaal die lewens wat hy so genome het terwyl die stelling reeds verlore was, die stryd alreeds beslis.... Martjie het genoeg gehoor. Sy weet, sy voel wie daardie burger is al het haar niemand dit vertel. Sy’s weg, te voet, meteens, geen sterw’ling kan haar keer.... Die pad verlatend pyl sy reg, deur veld en bossies op haar doel. Dis ver, en opdraend, maar sy stap, sy stap, en kyk net vóor haar. O, sy kan nie meer— ’n uur, gewis, sal sy moet stap! Sy struikel, nee, sy’s weer oorend,— sy stap! Die dorings pluk en skeur, sy struikel nogmaals.... Op! Maar nee, op hande en knieë kom sy neer: sy moet, sy moet by asem kom.... Bedaarder nou en stadig aan —so kom ’n mens die verste.... Wat! bedaard en stadig aan!? terwyl hy reeds word uitgelei, miskien.... die roers al aangelê....! ’n Roep van angs ontsnap haar bors, aan elke oor het sy ’n vingertop gedruk.... sy draf, sy draf! ......................... Hoe lang het sy al so in onmag daar gelê? Hoe kom sy daar? Verwonderd kyk sy om haar heen.... O, ja, sy weet, sy weet meteens.... O, waarom was sy tog so swak om daar haar kragte te verlies: die laaste bultjie lê net voor, sy kan al stemme hoor.... Sy’s op, sy stap, oor klippe groot en klein na bowe! Wie het haar so reguit op haar doel gelei? Bo die laaste klippe kom meteens ’n hoof en skouers uit —dis hy! Sy arme het hy op sy bors gekruis, sy hoof omhoog, sy oë fier gevestig, of hy iets verwag wat hy nie vrees nie.... „Roelf!” Hy hoor haar stem en maak meteens ’n snelle wending met sy lyf en hoof, die selfde oënblik kraak ’n sarsie kleingeweer en stort hy agteroor,— met dowwe smak, en weerslag, raak sy hoof die harde grond, dan lê hy stil! Sy’s daar, by hom.— Eerbiedig op ’n afstand bly die ander staan.... Sy hoof het sy gelig, met oë geslote rus dit op haar arm, ’n kol van donker-rood is op sy bors— dit dy en dy al groter uit.... Hy slaan sy oë op, met glimlag van herkenning sien hy haar. En sonder woord van haar het hy verstaan dat sy ’n boodskap nog van hom kom vra eer-dat hy gaan....: „Martjie.... „ek het eenkeer lief gehad.... „die dood het haar „van my af weggeneem. „Jy wis dit nie.... „Ek het jou hart verstaan, „maar wou nie praat, „ek het gemaak of ek dit nie kon sien, „en vrolik het ek my „maar nog gehou.... „al het ek smart gevoel „vir jou.... „Vergéwe my.... „Ek dag om so te wag, totdat die tyd „my dalk sou leer.... „om jou ook lief te kry, „soos haar,.... wat ek.... verlore het.... „dit mog nie wees nie, Martjie.... „en.... ek het gevoel.... „dat ek aan jou, en niemand, „minder ooit mog gee „dan ’k eenkeer.... had gegee.... „aan haar....” Spraak’loos het sy aangehoor; ontroering hou haar stem in boeie vas, ook nou dat hy, met oë wyd-onrustig starend, lê te wag dat sy moet praat. Sy buig haar hoof en fluister in sy oor: „jy ’t goed gedaan!” ’n Handdruk, lang en innig, is haar loon. Dan val die grote oë stadig toe, tevrede.... Sy vingers lê nou magt’loos in haar hand.... En op die gras-saad van die vlakte sterf die dag se laaste sonnestraal. *** End of this LibraryBlog Digital Book "Martjie" *** Copyright 2023 LibraryBlog. All rights reserved.