Home
  By Author [ A  B  C  D  E  F  G  H  I  J  K  L  M  N  O  P  Q  R  S  T  U  V  W  X  Y  Z |  Other Symbols ]
  By Title [ A  B  C  D  E  F  G  H  I  J  K  L  M  N  O  P  Q  R  S  T  U  V  W  X  Y  Z |  Other Symbols ]
  By Language
all Classics books content using ISYS

Download this book: [ ASCII ]

Look for this book on Amazon


We have new books nearly every day.
If you would like a news letter once a week or once a month
fill out this form and we will give you a summary of the books for that week or month by email.

Title: Gedigte
Author: Heever, François Petrus van den
Language: Afrikaans
As this book started as an ASCII text book there are no pictures available.


*** Start of this LibraryBlog Digital Book "Gedigte" ***


GEDIGTE.

[Illustration]



                                 GEDIGTE
                                  DEUR
                             F. V. D. HEEVER

                             [Illustration]

                             J. H. DE BUSSY,
                           PRETORIA—AMSTERDAM.
            HOLL. AFRIK. UITGEVERS-MIJ. v/h J. DUSSEAU & Co.,
                                KAAPSTAD.
                                  1919.



INHOUD.


                                              Bls.

    Aan „Madonna”                               1

    Sondag More                                 2

    Die beeld van Oom Paul                      3

    Twee en Een                                 4

    Ter gedagtenis van Immelmann                5

    Virgo Rustica                               6

    Madonna-diens                               7

    In die Park                                 9

    Uit Christina Rossetti                     15

    Rit-Rijmpie                                16

    Die Blomme                                 18

    Herdenking                                 19

    Haalwit gestapelde Wolke                   20

    Radbod                                     21

    En alles word jou toegeworpe?              24

    Die laatste Trekker                        25

    Uit Heine                                  28

    Arkadië                                    29

    Die skat van Petrossa                      30

    Die „Saunter”                              32

    Bieblebom se Berge                         33

    Die Possie                                 34

    Lacrimae Rerum                             36

    Wie in Glashuise woon                      37

    I. Mania Blasphematoria                    38

    II. Berusting                              40

    Die Afgrond roep uit tot die Afgrond       41

    ’n Speeltoneel                             42

    Die Kus                                    43

    In die Hoveld                              44

    In die Lig van die Maan                    45

    Die sleutel                                46

    Aan mij Moeder                             47

    Die Onfinalist                             48

    Die Verhuising van Cupido                  49

    Aan M—.                                    50

    Afrika                                     51



AAN „MADONNA”.


    Ek ken ’n woud waar orchidieë straal
      Soos sterre in ’n bij-besogte dal,
      En lisplend sing ’n lome waterval
    Tot slaap soos wierook op die bosse daal.

    Dan kom die Feeë-koningin, gedra
      Van droomgewiekte rosse, wit soos melk
      En swaar wieg elke orchidieëkelk,
    Belaai met elwe-klosse om haar wa.

    Daar dring ’n stoet van ridders om haar heen
      En bied in diamante bekers wijn,
      Wat in die halflig vonkel soos robijn,
    Bied op geboë knieë, een vir een.

    En deur die dromme van die dartel stoet
      Dring daar ’n beedlaar wat sij hoof laat hang,
      En bied haar in ’n bloemkelk opgevang,
    Diepbuigend, wat hij het—sij hartebloed.

    ’n Oomblik speel ’n glimlag, soos die maan
      Deur wolke skemer, oor haar rosemond
      Terwijl sij vreugde uitstort in die rond;
    Sij kon die dure gawe nie verstaan,

    Maar in die woud waar orchidieë straal
      Soos sterre, in die bij-gesuste dal,
      Ruis lispelend ’n lome waterval
    Tot slaap vir ewig op die bosse daal.



SONDAG MORE.


    Dit is stil in die voorhuis
    En stilte rus swaar op die bulte daarbuite,
    En stoffies hang blink in die lug, waar die venster
    ’n Gulde balk van louter luister inlaat.
            Daar word boeke gevat:
        Die psalm gaat statig opruis,
    Ruis weg oor die druipende wilkers,
        Waar die tortels selfs luister;
    ’n Hymne aan God, aan wie dit gerig is,
    ’n Statige hymne van rus en van vrede,
        ’n Wierook kolom.
            Dis weer stil.
        Luid kraai die haan in sij beurtsang—
    En nou word gepraat, eers saggies dan luider,
    Nou word selfs gelag ... die stemming verbroke—
        Die diens is virbij.



DIE BEELD VAN OOM PAUL.


    Grouw in die maanlig rijs die swaar kolos,
      Oorheers die jong geboomte aan sij voet,
      Waardeur die aandwind huiwrig klaënd spoed,
    En rustloos, als van geeste, sug die bos.

    Die maan maak daar ’n glimlig op sij wang,
      Wat in die skemer lijk als nat betraan;
      Hij peins oor jonggestorwe hoop, die waan
    Van volkwees, peins oor volkswee en oor dwang.

    Voor sij gesig daar strek die doderijk,
      Waar al sij tijd- en strijdgenote rus,
    En aandwind saggies oor die slapers strijk.

    Wit-deinsrig skijn die maan oor stene alom....
      En grillig die verlede wat daar kijk
    Op ’n gewese Afrikanerdom.

                (Met vergunning van „_De Burger_”).



TWEE EN EEN.


              Voor die „ek” nog bestaat
              Word gesug en gesorg,
    Verwagting met vreug word ontvange in wee;
              Wat al is, word vir hoop
              In die toekoms geborg,
    Want die lewe is een, en die wil is vir twee.

              Lippies so lokkend
              En blosse so sag,
    Verleilik die ogies nou, dan weer verlee;
              Dis nog skaars in die lewe,
              Nog skaars uit die nag—
    Maar die lewe is een, en die wil is vir twee.

              Naar die kerk gaat dit hijgend
              En wiegend en swaar,
    Teen die boesem verlep moet die bijbeltjie leen;
              Met vuur word gebid
              En gevlei—Ja dis waar,
    Die lus is vir meer, maar die lewe’s net een.



TER GEDAGTENIS VAN IMMELMANN.


    Is Icarus gevalle, waarom huil die wind so sag?
          Waarom strooi die meerminkore perels neer?
    Hoor jij nie daar’s geen gelispel, net ’n droewe golweslag
          En die nautilus pluik nou g’n purper meer.

    Is Icarus gevalle in die vreemde, ver van huis,
          Waar ons eie bulte nooit sij graf sal merk,
    Maar in beddings van korale waar die skulpe ewig ruis,
          Sij hoof geskraag op ’n gewrakte vlerk?

    Is Icarus gevalle? Ja, hij kon ’n laë swerk
          Nooit vir sij hoë moed genoegsaam vind,
    En stijgend steeds van kreits tot kreits met kloek gespanne vlerk
          Trotseer hij altijd wakker weer en wind,

    Tot sfere waar die vrijheids son sij strale nijdig hef
          Met wimpers in die weste rooi omkrans,
    Toe word meteens sij wieke met Apol s’n pijl getref,
          Virseker was die val met sterreglans.

    Ja, Icarus gevalle! maar hij wou g’n slaaf meer leef,
          Net wie nooit wil stijg kan moeilik immer val,
    Strooi blomme oor die water, laat die maagde kransies weef,
          Wijl die water droewig weeklaag teen die wal.

    Ja, Icarus gevalle! Maar solang die winde suis,
          Solang die seeskulp fluister van die see,
    Sal vertel word van die ridder wat gevel is ver van huis,
          Vir vrijheid en vir glorie, lang gelee!



VIRGO RUSTICA.


    Twee oë vol lus vir die lewe,
        ’n Gesig wat van geesvlugheid spreek;
    Vol geesdrif en lig, wat daar bewe,
        Die bekoorlikste skaduwees week;
    ’n Lag soos die beek, wat daar kabbel,
        Soos klippies in diep kuile val,
    En ’n stem soos die watergemurmel,
        Soos golfies aan wal.

    Als die welle in sirkels uitrimpel,
        Geheimsinnig die kuile deurwaar,
    En die lelie al wiegend self dimpel,
        Met laggies haar weerskijn aanstaar;
    Waar die waterriet suiselend fluister,
        Haar geheim teen die nagwind belij;
    Soos ’n vreemde geluid in die duister
        Onverstaanbaar is sij.



MADONNA-DIENS.


    Dit is ’n nag, die opstandig van drome,
        En ons ontwaak uit slaap, wat ons rede noem,
    En agter uit die skemer, uit die some,
        Waar Digting Waarheid raak, kom opgedoem
            Diana van die jag; die Mingodin,
                Godinne vroeg aanbid;
        Want Liefd’ moes lewe gee, die jag dit win:
            Offers en kranse wit
    Het altijd die altare van die twee getooi,
        Geskenk van Jeugd wat sug naar roem,
                Of skugter nooi.

    Die vrouwlikheid trek ons virewig aan.—
        Die Dondergod en Mars moes altwee swig,
    Al het die Prins van Vrede vir ons voldaan,
                Te luister was sij lig:
        Madonna moes vereer word, Moedermaagd,
    Haar slape moes bekrans met die kleurkring van die maan,
            En deur die glorie van ’n grote God versaagd
    Soek mens wat menslik is en bid Haar aan,
        Bepeins haar pijn, haar wereldgrote smart
            En weedom vir haar wig,
                Haar moederhart.

    Die Eeuw is haastig, Liefste, maak gebaar
        En in ons tijd van rede en ongeloof,
    Verdeelde doele en twijfel, val ’n skaar
        Van vrae ons aan en wil ons rus beroof.

    Die lug is swoel daarbuite, swijgend swaar
        Van stroperige walm uit blommekelk,
    Die kriek sing lente en die padde-skaar
        Weergalm en swijg, die meibos, wit soos melk
    Skijn in die maanlig wat in strome rus
        Op die lente wat daar lok.
    Soos hare van ’n vrouw wat saggies sus
        En sing, haar kroos omkrans,
    So druip die wilkertakkies loom en slank en glans
            Soos silwergaas of elwerok
                En rus.



IN DIE PARK.


    Jij sê ek’s mal omdat ek dag na dag
    Hier in die park allenig sit. Ou maat,
    Strij help nou niks, ek sien dit in jouw oë,
    En in die oë van die kindertjies,
    Wat bang-meelijdend naar mij kijk en dan
    Weer agter rok van Ma of meid induik.
    Asjoublieftog, neef, wag net ’n beetjie, hoor.
    Vir daë sit ek hier alleen en lag,
    En tel die groewe wat al dieper snij
    In mij gesig, soos in ’n pad waar waans
    Met sware vragte spore agter laat;
    Nou moet ek praat en jij moet luister, neef,
    Moet help die vragte biekie ligter maak
    Of ek gaan vasval. Dis reg, luister nou.

    Kijk daardie grasvlek, waar die kinders speel
    En waar die gieter sprei; kijk die kwikkie daar,
    Kom nader tot die waterstroom hom rol
    Oor die kweek, dan kom hij weer, en nou
    Sit hij sij bors en krap. Uit die vijwerkom
    Spuit slank ’n waterstraal omhoog en sprei
    In duisend perelsnoere, soos ’n maagd
    Wat trag haar liggaam met haar haar te dek.
    Hoor hoe die water lag, net soos ’n vrouw
    Wat haar kindjie opgooi en weer veilig vang;
    Kijk die blommemure hier, en daar, en daar,
    Soos strome louter goud en westergloor
    Waaruit die bij-gesoem mij rede sus,
    (Jij lag om ek sê rede) en die heuningbek
    Bewegingloos al oor die blomme tril,
    (Selfstandig soos die hoogste Englekoor),
    Of blink en groen van bed tot bedding straal.
    Kijk die kinders, man, verstaan jij wat ek meen?
    Verstaan jij dat ons almaal, iedereen,
    ’n Engel het, moet hê, wat ons bewaar?
    Hoe sal ek jou tog maak verstaan? Let op!
    Saands in mij bed steek ek ’n sigaret
    Aan, elke nag, voor ek die lig uitdraai;
    En onder bij mij voete, teen die muur
    Hang daar ’n prent van Echo, dit wil sê
    ’n Prent van ’n beeld van Echo, slank en wit,
    Wat wag en wag en luister, ewig wag;
    Virewig en verniet. Dan glim die kool
    Van mij si’gret in die prent, en ek denk so:
    „Narcissus kom tog nooit, sal nimmer kom;
    „Maar al sal Echo nooit haar minnaar sien,
    „Haar tweeling suster Weerlig sal sij kus
    „En die refleksie van ’n vonk omhels;
    „Want Weerlig moet vir Weerklank troos, of ek
    „Word gek, die spanning is te groot, net soos
    „Die blomme teen die muur ’n siekmens pla.”
    Nou, so het ek en jij en iedereen
    ’n Engel wat ons wandel gadeslaan;
    Ek hoor sij wiekgeruis in kinderlag
    En sien sij vleu’els blits in manestraal,
    En in die lag van maagde, en sij stem
    In water wat so sag teen walle klots.

    Toe ek nog klein was het mij moeder steeds,
    Als sij mij naar mij bed bring en laat bid,
    Vertel van hierdie wagter, dus geen vrees.
    En deur mij jeugd in lig of duisternis
    Het ek geen trouwer metgesel gehad
    ’n Wese wat oor siel en liggaam heers,
    ’n Afgesant van God.

                    En toe een aand,
    Ek sien dit nog, die kerk was stapelvol,
    En hel het lugterkroon en lamp gestraal,
    En orgel-tone triomf uitbasuin.
    Die predikant was glad van wang en stem,
    —Ek sien die lig nog op sij voorhoof glim—
    En wijl toehoorders weeldrig sit en gril,
    Het hij van voorbestemming sag vertel,
    (Predestinasie, wat jij dit wil noem)
    In periode ruim en afgerond.

    Die wee, mij God, ek voel dit nog, die wee
    Waarmee ek daardie kerkgebouw verlaat het;
    Dit het soos vure oor mij siel geskroei,
    Soos wurme in mij murg geboor, mij brein
    Laat brand soos koors.
                    Waarom, dag ek, waarom
    Die mensdom selfbewus gemaak, gebied
    ’n Ewig voortbestaan, totdat hij lus
    En toe, net soos ’n kind ’n hondjie terg,
    Dit weggeruk? Die glorie, adel, prag,
    Die wilde skoonheid van ons groot heelal,
    Wat soos ’n riet mij hele siel laat tril,
    Als die grootse harmonie daaroor gaat ruis,
    Gaat alles swanger aan verderf en hel;
    Wijl Hij, die maker, homself Liefde noem!

    „En daar ek so ’n God nie kan bemin,
    „Is ek verdoemd,” hoor ek ingewing sê;
    Van toe af het ’k mij engel meer bemin
    Dan moeder ooit haar één gebreklik kind.
    Ek sien die weedom op sij voorhoof rus
    Soos donderwolke op die bergekam,
    Waaruit sij oog met dowwe meelij blits;
    Ek sien sij wieke druip soos ridderpluim
    Van slaë slap en hooploos strijë moeg.
    Verbeel jou, man, dis voorbestem en voor
    Die grondlegging der wereld al besluit
    Dat ek verdoemd is, hij oor mij moet waak;
    Wat hij ooit doen mog, of ek ooit verrig,
    Die skrif staat vas en pal.
                      Verstaan? Ek sien
    Die skaar van Engelwagters wat ons hoed,
    Ons, van wie die merendeel verdoemd is,
    Want sê die skrif nie so? Mij Engel nou
    Moet mij bemin, en altijd sien en sorg,
    Daar hij ’n ruimer siel het, dieper voel
    Die wanhoop van sij taak.
    Als storme dreig sien jij die vooltjies skuil
    En hoor hul swijg, die aandblom sluit homself
    En snare kan gelijke snare roer:
    Die weedom van mij Engel rus op mij
    En maak die groewe dieper; maar als ek weer
    Gaan denk aan sij meelije, trouwe sorg,
    Hoor ek sij vleuels ritsel in die gras,
    Sij wieke-slae pols dan in mij oor,
        Sij wondre liefde maak mij siel dan week.
    Dis dan wat ek hier sit en lag en sien
    Hoe dat die kinders stoei, die meide slaap
    En sonlig dartel met die druppels speel;
    Dis alles suiwer weelde, alles vol
    Met die liefde van mij Engel.
                      Die mense sê
    Ek’s gek, kranksinnig, of in kindertaal,
    Mij varkies uit die hok. Nog als student
    Het ek geleer van Plato en sij grot
    En hoe die skaduwlanders sieners terg;
    Nou, ek sien Engle, voel hul weedom, weet
    Dat dit om ons is wat hul treur. Weet jij
    Of wat jij sien die son is? Dankie neef,
    Die bitterheid des doods het nou gewijk,
    Ek sal weer kijk hoedat die kwikkies rol,
    En heuningbekkies blits van blom tot blom
    En bommelbije deur die beddings gons
    Totdat die nag dit alles immer dek.



UIT CHRISTINA ROSSETTI.


    En als ik kom te sterwe, Lief,
        Sing dan g’n klaaglied nie,
    Plant dan g’n rose op mij graf
        Of koel cypresse nie.

    Laat net die groen gras bô mij wees,
        Die reen en die moredouw,
    En als jij wil, vergeet mij
        En als jij wil, onthou.

    Want skaduws sal ’k nie sien of voel,
        Hoedat die water week,
    Nie hoor hoedat die vooltjies sing
        Alsof hul harte breek,

    Maar ik sal altijd drome droom
        In die skemer daar, wie weet,
    Misskien sal ik daar nog onthou,
        Misskien sal ik vergeet.



RIT-RIJMPIE.


    Die koeëls die blits, dat die klippe so brand—
          Hoera vir die reuk van ’n roer!—
    Maar die tien en Jan Pieterse hou daardie nek,
          Help bewaar ou Transvaal vir die Boer!

    „’n Uur nog, net ene”—’n uur van die hel!—
          „Als ons maar die nek kan hou,
    Dan is ons kommando die drif veilig deur!”
          En hij bid sonder handegevouw!

    Wild en wijd, wild en wijd,
          Gee die perde maar teuel en spoor;
    Jij hoor net daaronder die hoewegedonder,
          En hierbo fluit die koeëls langs jouw oor.

    Daar hinnik ’n liddiet, rijperd van die Dood
          Blits hemel en aarde dooreen;
    Die stof wijk—die mense ’s die drif veilig deur—
          Bij Jan Pieterse leef nog net een.

    „Ons trap!” kommandeer hij. Wild en wijd
          Gee hul perde maar teuel en spoor;
    Hij hoor net daaronder die hoewegedonder
          En ’n skreeuw—hij ’s allenig nou oor.

    Trug nou, trug deur die vlaag van lood,
          Sij maat kan hij daar niet laat blij!
    Al om hom daar gons dit die lied van die dood,
          Waar sij sikkel al snerpende snij.

    Met die wonde man dwars oor sij saalboom geleg
          Gaat hij stadig en stappende heen,
    Geen teken van haas, hij rij peinsende voort
          Op ’n stap deur die koeël-gereen.

    „Laat staan, hij’s ’n held—‚Three cheers’ vir die Boer!”
          Sê die Engelsman, hees in die keel.
    Die bulte weerklink met vier harde hoera’s,
          En die lug word met helmette geel!

    Jan Pieterse draai hom sij vijande toe
          En wuif hulle dank met sij hoed;
    Al stappend verdwijn hij op die horison daar
          In ’n raam van die westergloed.

    So hoera, vir die klank van stiebeuel en spoor
          En hoera, vir die reuk van ’n roer!
    God behoede ons veld van die vreemde geweld
          En bewaar ons ou land vir die Boer.



DIE BLOMME.


    Dis blomme langs die paadjies
    En blomme bij die wal,
    Dis blomme net waar ek kan kijk,
    Dis bontheid oweral.

    Die rooies wenk die luidste,
    Viooltjies knik gedwee,
    Die wind ontlok die soetste geur
    En wieg die blommesee.

    En waarom wenk die blomme so,
    En waarom sprei hul geure wijd?
    Die bij kom oor die tuin gesoem,
    Hij suig hul heuning uit.

    Dit ritsel langs die gange,
    Dit trippel oor die pad.
    Nou waarom was die sij gespin,
    Die kant en ’k weet nie wat?

    Die oë kijk brutaal uit
    En anders luik gedwee—
    Cupido sweef van blom tot blom
    En breng sij pijle mee.



HERDENKING.


                     (Net ’n pakkie briewe).

    Soos die geure van somernagte
    Mij laat denk aan ek weet nie wat,
    Lang gelee, in mij diepste gedagte
    Soos ’n mens in die donker vat;
    Soos ’n ou, ou lied vol verlange
        Naar iets vaag en ver;
    Soos die echo’s van sagte gesange
            Sweef omher;

    So stijg daar ’n geur uit die briewe,
    Laat mij denk aan ek weet nie wat,
    Hoe die ridders van ouds ongeriewe
    ’t Oorkom en deurstaan vir hul skat;
    Hulle’s weg.... maar ’n wilde verlange
        Naar iets vaag en ver
    Blijf bij ons, en die soetste gesange
            Sweef omher.

         (Met vergunning van „_De Burger_”).



HAALWIT GESTAPELDE WOLKE.


      Die haalwit gestapelde wolke,
        Paleis van die winde gebouw!
      Hoe sou ek hul heimnis vertolke
        En saggies dit fluister vir jou?
      Verguld steek die domme nog witter
        Af teen die velde van blouw
      Soos jouw oë, en perlemoer skitter
              Soos douw.

      Sal ek fluister? Ons rijk in die weste
        Word van sieraad ontbloot;
    Die winde verstrooi nou ons veste,
      Selfs wijsheid moet dood;
    Maar wijl lippe op lippe kan bewe,
      Bied mij jouw mond, Lief, bied nou,
    Eer ons gloed, eer ons hartstog begewe,
      Soos paleise van winde gebouw.



RADBOD.


    In noorderwoude, koel en stil,
      Op altare van mos gebouw
    Het die Sakse hul Dondergod gedien
    Met ander gode, ’n stuk of tien,
      En hul feeste daar gehou.

    Maar toe kom Gods Hamer; die woude dreun
      Soos hij preek met swaard en met vuur,
    En in naam van Christus die kinders vermoor
      En hele lande laat smeul en laat smoor
    Onder sang van Gods lof deur ’n monnikekoor,
      En verwoesting van skut en van skuur;

    Want die naam van die Koning van Vrede dien vaak
      Als ’n leuse vir die wat strij
    Vir eer, of vir goud en die lus om te buit,
    Of die mag van ’n grensende volk te stuit
      Of om rang in die volkere rij.

    Die Hamer moes stadig aan swig vir die kruis,
      Die grense van Rome word wijd,
    En Radbod, die dienaar van Wodin moes buig
    En sij hoof voor die God van die heerser neig
      Stil in deemoedigheid.

    Lugters skijn hel deur die wierook wat walm,
      Die bekken en water staan klaar;
    Woes klink die sang van die priester-skaar
    Benouwd is die saal en die rook wat waar,
      Dan stijg weer die jubelpsalm.

    Daar nader Radbod in witte gewaad,
      Sij oë blij strak op die grond.
    Die doopformulier is al afgedaan
    Een voet in die water reeds, blij hij staan
      En ’n glimlag speel om sij mond;

    „Priester, jij sê ’k sal die hemel beërf,
      Maar ver is die poorte en nouw:
    Waar is mij vaders dan, die oor die see
    Gevaar het, en alles daarvan gevee
    En kuste vervul het met wanhoop en wee,
      Waar rus mij vaadre nou?”

    „In die hel!” sis die priester. En Radbod trap trug
      Van die bekken en hef homself fier
    Omhoog met oë wat bliksem van trots
      Soos van arend of gier:

    „Priester, jouw hemel kan jij maar hou;
      Liefs daar dan met graamtes van christne daarbo,
    Te gierig te eet, net ruim om te glo.
    In Valhalla met Wodin en Thor,
    Tot Ragnarok die heelal soos ’n deken vouw,
    Sal ek fees—tot die seeë verdor.”

    In die saal van Wodin gloei dit,
    Uit die goue bekers vloei dit,
    En in vreugd en heildronk loei dit:

                                „Dondergod,
    Ons sal lij en strij met Wodin,
    Vir Valhalla en ons Godin,
    Wee die Vredekoning, snood in
                                Sij gebod!
    In die rook van slagting leef ons
    Vir die eer van oorlog streef ons
    En met jouw gedij of sneef ons,
                              Dondergod!”



EN ALLES WORD JOU TOEGEWORPE?


    Op sij troon sit die simpele koning van Frankrijk en lag
    Met wijdblouwe oë, so leeg soos die van ’n kind,
    Toe hoor hij iets dreun soos die see; en met skrik kom sij wag
    Vertel van ’n magtig gejubel, gedra op die wind:

                  „Hoër, hoër
                  Op jul skilde,
                  Hef Pepijn die Korte hoër,
                  Geef ’n held vir ons tot koning,
                  Die kan heers in fees of veld!

                  Luider, vrijer
                  Galm ons juigkreet,
                  Laat die heidenvorste sidder,
                  Nou het ons ’n held tot heerser:
                  Christus preek ons met geweld!”

    Maar in sij paleis sit ’n simpele koning en glimlag
    En sij oë was blouw en onskuldig, soos die van ’n kind;
    Hij sit daar en droom van Madonnas, en wat of die wag
    Kom vertel van ’n magtig gejubel gedra op die wind?



DIE LAATSTE TREKKER.


    Wat baat dit dat ek thuis blij sit en tel
    Hoe gouw die sonne weswaarts rol en sink,
    En hoe mij kuddes meer word, wijl mij hand
    Sij vasheid afleer en mij oog verdof?
    Die sonne sink daar deur ’n purper poort,
    Waaruit die onbekende lok: mij bloed
    Bruis harder; want dis eeuw wat roep tot eeuw,
    En vlaktes tot die spruit van trekker-vaders,
    Wat oorkant daardie blouw groot-water eers
    Die mag van Rome het geknak, hul naam
    ’n Bijwoord, waar die suider-moeders mee
    Hul kroos in slaap gesus het. Weer daarna,
    Toe daar die lug onrein word, alles mak,
    Net dwinglandij en onreg woes floreer,
    Toe het die vrijë borste met die swaals
    Die wieke suidwaarts uitgeslaan, geswerf,
    Geworstel deur die woesternij, gewin,
    En hier die trekker ras weer oorgeplant.

    Soos knapies eers die koring strooi, eers vrij
    Die vogele des hemels voer, dan gras
    Met voolint en met lijm bestrijk, en ruil
    Die vrijheid vir hul gawe: ons ou land
    Was rijk besaai met goud en eelgesteent.
    Vervloek sij goud! Die skepper het die res
    Van die metale blank en rein gemaak,
    En Hel het toe die geelste Nijd gebaar.

    Ek hoor die trekkerswelpe word nou mak,
    En praat die taal van die veroweraar,
    En groei in aansien en in rijkdom, eer;
    Maar of die hok verguld is, of te nie,
    En of die koring dik daarbinne lê,
    Die lied ween smagtend vir die ope lug,
    Waarin die bome wieg, die windjie ruis.
    Span in, ons laat die purper poorte links:
    Daar ruis die see, en woed, en skuim, en klink
    In ewig ketting-klank van slawernij;
    Laat staan die see, ons vloek. Ek hoor daar noord
    Is uitgestrekte vlaktes onbewoon,
    Waaroor die wind nog vrij waai, waar geen vlag,
    In bloed gedoop, ons vrije lug besmet.
    Daar brul die leeuw nog en die bulte beef,
    Die wildsbok stamp nog wolke stof omhoog
    En kwaggas hinnik week.
    Die dood woed daar ook wel, dis waar, maar vrij,
    En vat die slaap mij daar, slaap ek gerus,
    Tevrede voort. Mog ek dan lê
    Waar wije winde waai en vlaktes glooi,
    Waar donder-echo’s oor die vlaktes sweep,
    En eensaamheid mij laatste rus bewaak.
    Dan sal ek droom en sal ek weet hoe stil
    Die sonne sink daar deur die purper poort,
    Waaruit die onbekende lok—span in!
    Laat die geratel van ons busse weer
    Mij siel verkwik, die breë skowwe nog
    In slingerpas die vlaktes meet: ons trek
    Reg noord, aan linkerhand die see, en regs,—
    Maar voor die ope vlaktes onbeknel.

               (Met vergunning van „_De Burger_”).



UIT HEINE.


    Wie vir die eerste keer verlief is,
    Selfs sonder weermin, is ’n God,
    Maar hij, die weer ten tweedemale
    Onweerkerig min, is sot.

    Ek is so ’n gekke, min
    Weerom sonder guns te werwe;
    Son en sterre en die maan lag
    En ek glimlag mee—en sterwe.



ARKADIE.


    Soek die fontein van jeug, wat ewig duur,
        Nie oor die see, in lande onbesog,
        Daar waar natuur in klank en kleure spog;
    Selfs daar kom dood en storm en winde guur.
    Gewelwe anders nooit dan reinste asuur
        Oordek die ewig groen van Dramaland,
        En altijd frisse feeë, hand aan hand,
    Speel dartel rond—Dis kort van duur,

    Maar wat daarvan? Geen seepbal, kleuromvouw,
        Breek ligter dan die lewensideaal
    Met diepverbete sugte opgebouw.
    Soek hier waar liefde sonder nasmaak, vrij
        Van franke wroeging en gelag betaal,
    In lome prinse blaak wat kuddes wei.



DIE SKAT VAN PETROSSA.

    (In 1837 is te Petrossa ’n skat ontdek, bestaande uit
    gouë bekers, met edelgesteente beset. Die bekers moet uit
    verskillende lande afkomstig wees, blijkens die opskrifte. Die
    skat dateer uit die Europese volksverhuising, en bestaat uit
    die roof van Europa, die tribuut, wat een van ons Germaanse
    voorvadere die volkere afgedwing het.)


      Daar lê die skatte nou, hoop op hoop,
      Daarvoor, was lande in bloed gedoop,
      Geroof van die Sklaaf en swart Ethioop,
        Hier is dit alles vergaar.

    Die kampvuur vlam op, glim oor vate van goud
      En van silwer; karbonkels blits, ster aan ster,
      En die vuurlig weerskijn in die agtergrond, ver,
    Uit oë van gediertes wat staar uit die woud.

      Maar ek huiwer nog meer van die kil, kouë vuur,
      Wat die Griekse slavin deur haar kijkers laat gluur,
      Als sij sien, sij die kind van Athenes kultuur
        Op die blonde barbaar.

    En sij sak in die dekens van purper en blouw,
      Wat verward in die buit lê; die vuurlig bestraal
      Arme wat blink soos ivoor; maar van staal
    Is die oë, net so ferm, sonder vrees, sonder rouw.

      Die blonde veroweraar smeek en hij vlei,
      Ontmoet net oë wat soos ijsskerwe snij:
      Of hij bid, of hij dreig, moet die neerlaag maar lij,
        Gaat vertwijfeld van daar.

    Die rooidag glim oor vate van goud
      En silwer, karbonkels wat dof blink soos lood;
      Op die purpere dekens, haalwit, net so koud,
    Met haar dolk in haar hart lê die Griekse dood.

      Dit is sover als die storie lei;
      Dit heet daar’s ’n ou, ou skat ontdek
      In Petrossa, dateer uit die voorste trek;
      Wat volg weet ek nie, ek belij.

    Tog ek sien vate, dekens van purper en blouw,
      Wat verward in die buit lê, die vuurlig straal
      Op arme wat skijn soos ivoor,—maar van staal
    Is die oë, net so koud, sonder skrik, sonder rouw.

                      (Met vergunning van „_De Burger_”).



DIE „SAUNTER”.


    Vorentoe skoorvoetend, ritmiese wagte,
      Wiegende tawwerts en enkels wat wenk,
    Sijwaartse swenking en oë vol smagte
      Wiege van heupe en armgelenk,

    Vorentoe, agtertoe, koortsige swewe;
      Skoentjies wat blits in hul hupplende tred,
    Weef hier die draad in die gaas van ons lewe
      Met ogies wat skitter en vonkel van pret.



BIEBLEBOM SE BERGE.


    „In Bieblebom se berge.....”
    Die trein ratel voort deur die nag.
    Die kindjie kijk uit, wat die trein tog so fluit,
    Sien die sterre so vriendelik lag
    Aan die voet van die troon, waar Moeder nou woon.
    Sal hij nou vir Vader ’ns terge?
    Want die tijd val so lang; dan troos Vaders gesang:
    „In Bieblebom se berge
    Woon Bieblebom se mense.....”

    „In Bieblebom se berge.....”
    Die gesiggie druk plat teen die ruit:
    Kijk hoe fraai die geflonker daar snij deur die donker
    En ligstrepe volg die gefluit!
    Hij kijk laggend omhoog, sien die traan in die oog
    Van Vader, die dit wil verberge;
    Val die tijd hom te lang, dan troos Vaders gesang:
    „Wei Bieblebom se skape,
    Woon Bieblebom se mense.....”



DIE POSSIE.


    Als die donker ’n reisiger mog bespring
    Daar waar die witpad mijl aan mijl,
    Virbij die Possie, die ou bouwval,
    Van die maan belig oor die vlakte peil;
    Dan sien hij deur vensters, wat dof staan en staar,
    Hoe die maanlig die balke laat rouwstrepe trek
    Oor die vloer, waar net distels en klitse verjaar;
    Net die uil word gehoor—so lang gerek.
    Die reisiger haas hom dan, knoop toe sij jas,
    Gee die perd fluks ’n raps, wip die driffie deur,
    En adem verlig—want die boere beweer
    Die Possie ’s nie pluis, en waens val vas
    In die droogste tijd, en die perde snork
    Als jij eensaam daar in die maanlig rij—
    En saands sien jij hierlangs ’n stofstreep staan
    Soos die bees- en die skaapwagters huistoe snij.

    Die oumense fluister van eg sonder liefde,
    (En knik naar die Possie), van min sonder trouw;
    Van die tragiese „driehoek”—dis lankal gebeur,
    Dis alles virbij, al die skrik, al die rouw.
    Hoor, als die biesies so knikkend, knikkend fluister
    En die vleiwind, bedwelm, van die aandblom swaar;
    Hoor jij dan niks als jij stil gaat staan en luister,
    Wat die lispel als beteken, al die vreemde gebaar?

          „Dis lewes en lewes gelede
            En jare van swerwe,
          Toe word dit daarbinne gebede
            Vir iemand wat sterwe.

          —‚Vra om genade, mij broeder,
            Die dood is nabij’—
          Bij die grote Alheerser, Alhoeder
            Gena nie vir mij!

          Sij ’t gevlij: Ag spaar net mij lewe,
            Ek sal weggaan van hier,
          In mij arme gesidder en bewe
            Daar bij die rivier.

          Wat skijn daar so wit op die water
            Daar onder die bome?
          Ek wens dis al oor! Is daar later nog
            Nog drome?”

    En daarom so stil bij die wilkerboom,
    Dit fluister so saggies, dit roer skaars die lug;
    Die water is stil daar ’n oomblik, en vlug
    Dan fluistrend en lispelend voort op die stroom.

                    (Met vergunning van „_De Burger_”).



LACRIMAE RERUM.


    Doop jij jouw pen net in westergloor,
    Verag jij die grond so met trane deurtrap?
    Jouw skrif sal vergaan soos die kleure daar smoor,
    Soos ’n lae gepeupel die hande klap.

    Doop jij jouw pen in ’n mensehart,
    Skrijf jij jouw skrif met ’n siel wat wroeg?
    Jouw woord sal bestaan wijl ’n menseoog
    Bij ’n mensesmart ’n traan kan voeg.



WIE IN GLASHUISE WOON.


    Bommelbij, bommelbij met jouw wit bandolier,
      Met jouw vlerke wat blits in die sonlig en gons
      En jouw swartpak, verguld met die blomme se dons,
    Wat beteken jouw singe en wat maak jij hier?

    Maar die bommelbij werk, of ek vra en of nie,
      Natuurlik, ek weet hij hoor nie naar mij
      En laat mij gevra en gepeuter opsij,
    Maar dis mos wat deurgaan vir poësie.

    Mij siel is so wijd als die oseaan,
      En grootse gedagtes die woel daarin om,
      Te groot vir woorde, mij Muse is stom,
    Want waar haal sij sulke woorde vandaan?

    Ja, modder kan jij met jouw vingers nie vat,
      Diamante is klein en gereëld van bouw
      Als jouw oë maar reg is—Ek vra vir jou,
    Hoe moet ek die ruim van ’n siel dan skat?

    Dis newels, net newels wat warrel en vlie,
      En ek is misskien nog agter die vlug
      Van ou Tijd, en ken die boom bij sij vrug—
    Maar dis wat nou deurgaan vir poësie.



I.

MANIA BLASPHEMATORIA.


    Daarbo sit die Gode en feesvier
        Met nektar en ambrosijn,
    En Zeus en Apol, met ’n hees lier,
        Stoot aan met die ou Juppijn:
    Verroes nou is Ceres haar sikkel
        Minerva die mijmer en gaap,
    In die arme van Venus gewikkel
        Lê Allah en slaap.

    Net Mars word vermis uit die howe,
        Waar vreugd word ontvang en gegee:
    Van die wereld stijg klanke naar bowe,
        Die geween van ’n mensdom in wee.
    Nou klink dit nog weeër, maar weker:
        „Geef redding, geef uitkoms o Here!”
    In antwoord klink beker aan beker:
        „Musiek van die sfere!”

    Soos ’n perkament rol skroei die hemel
        En die son word gedoof, en die maan
    Kijk siek op ’n magtig gewemel,
        Waar dit volke aan volke staan;
    Star en wijdogig van wonder
        En stil staan dit, skare aan skaar,
    En verbluf staan die Gode daaronder
        Op hul regters te staar.

    En nou word die boeke geopen,
        Wat getuie, hoe eeuw na eeuw
    Die aarde in bloed was gedoop en
        Verniet naar die Gode geskreeuw:
    Voorbestemming het almaal gebonde,
        Door omgewing was ieder vervoer—
    Dan verg dit nog lof uit die monde
        Van Belg of van Boer.

    Star, als wijdogig van wonder,
        Staan die regters daar, rij aan rij,
    En die heersers die sidder daaronder,
        Kan die blik van triljoene nie lij,
    Smeek beskerming van heuwels en storme,
        Van ’n wereld, wat weier te dra,
    En wroeg in die slijk soals worme
        En vlei om gena.



II.

BERUSTING.


               (Gods Orgel.)

    Waar newelstelsels wereld word,
    Waar keisers en kwepers rijp en val,
    Waar die voorhoof van kranse bepereld word
          Met valle en kleure, oweral,

    Selfs waar Armageddon sij kake rek
    En volkere weg uit die wereld spuw
    Is wet, en van uit sij druipende muil
          Klink ’n ijsere simfonie.

    En dood en lewe—dis alles reg,
    En liefde is wet: en ek voel tevree,
    Want wie sal ons twis met God besleg?
          En alles ruis in die ritme mee.

    Dit donder langs die sterrebaan
    En sonnestelsels antwoord weer,
    Dit ruis in die seepad van die maan
          En lispel oor die meer.



DIE AFGROND ROEP UIT TOT DIE AFGROND.


    Die afgrond roep uit tot die afgrond,
    Met geruis van Gods watergote;
    Als dit donder, dan dawer die bulte
    In hul beurtsang op reusenote;
    Na die reenvlaag dan sing triomferend
      Die moeras daaronder,
    Haar slijkrig gepeupel weerkerend,
      Bespottend die donder.

    Na die val van ons vege aartsvader,
    Hou ons, hoe aan weedom verknog,
    Van die vuur van die Gode een vonkie
    In ons are—die liefdestog.
    Kijk, die bij is die band van gemeenskap
      Tussen gaarde en gaarde:
    Selfs die blits voel alleen in die wolke
      En paar met die aarde.

    Die afgrond roep uit tot die afgrond,
    Met geruis van Gods watergote,
    En die wilker wat sug voor die reenstorm
    Sing saggies verlangende note:
    Die hede roep uit tot die hede
      In smagtende kore
    Uit die echo’s rijs blijste gebede
      Vir geslagte van more.

             (Met vergunning van „_De Burger_”).



„’N SPEELTONEEL”.


    Ag, moet hul nie stoor nie, laat jouw voetstap nie hoor nie,
      Kom ons hulle oor die laning beloer.
    Kan jij mooiers verlang dan die kindergesang
      En die geestige, malle rumoer?

    Met ’n blaar in sij hand staat die predikant,
      Lees daaruit die formulier voor
    Waarmee hij hul trouw, daar word huise gebouw,
      Die gelag onder werke gesmoor.

    Nou word daar gedoop, dan weer suiker verkoop
      Vir blikkies en skerfies en blare,
    ’n Flouwe gelawe, ’n kuiken begrawe
      Met luide en droewe gebare.

    Kon ons maar soos hulle die wereld verag
      En spot met sij wel of sij wee;
    Of die wereld al frons—daar klink hul gelag
      En die wereld lag hoofdskuddend mee!



DIE KUS.


    Die lag het in haar oë nog gedans
      En pêrelend geskemer oor haar mond,
      Toe ek iets leuks vertel het; maar terstond
    Verdwijn dit toe mij sinne, deur die glans
    Verblind, verbijsterd uitroep: God, jij ’s skoon!
      Sij staar mij ernstig sonder blose aan,
      En weer nie, daar ek arme om haar slaan;
    Maar wonder was die wee wat in haar oë woon:

    En gloeiend was die lippe, wat ek dring
      Aan lippe marmerkoud, so liefdeloos
    Die lied sterf uit mij hart..... Die bosse sing,
      Die awend ginds daar aan die kimme bloos,
    Bied warme liefd’ vir sonnekoestering
      En in heur hartstog juig sij wonderroos.



IN DIE HOVELD.


    In die Hoveld, waar dit oop is en die hemel wijd daarbo,
        Waar kuddes waaigras huppel oor die veld,
    Waar ’n mens nog vrij kan asemhaal en aan ’n God kan glo,
        Staat mij huisie, wat ek moes verlaat vir geld.
    En als ek in die gange van die mijn hier sit en droom
        Van die winde op die Hoveld, ruim en vrij,
    Dan hoor ek die geklinkel van mij spore saal en toom,
        Sawends als ek bees of skaap toe rij.

    Op die Hoveld, waar dit wijd is, waar jij baja ver kan sien,
        (Die eilblouw bring ’n knop dan in jouw keel)
    Staat mij huisie nog en wag vir mij, wag al ’n jaar of tien,
        Waar die bokkies op die lei grafstene speel.
    Maar als die tering kwaai word en ek hoor die laatste fluit,
        Dan sweef ek naar die Hoveld op die wind
    En soek dan in die maanlig al die mooiste plekkies uit
        Waar ’k kleiosse gemaak het als ’n kind.



IN DIE LIG VAN DIE MAAN.


    Dis alles weelde: die wereld swijg
    En baai in die aandlug en lig van die maan;
    Net die water beweeg, als die windjie neig
    En die skijn-sterre dans en lag mij aan
    En verbreek op die water en vonkel en staan.

    Dis pure weelde: die aandblom is swaar
    Op die oë van die nag; die hemel is blouw
    En die maan kus vonke van goud uit jouw haar,
    Wat saggies bewegende skouers omvouw,
    Terwijl ek betowerd, aanbiddend aanskouw.



DIE SLEUTEL.


    Hoe het ek al die jare van mij lewe
        So blindlings deur die wereld heengeloop!
        Soos alles was, was dit, en hoop
    Het nooit met vrees gemeng mij siel deurbewe.
    Van liefde in mij troon is daar verhewe
        ’n Leiddraad, wat deur al mij lewe loop,
        ’n IJwer, wat mij siel in vlamme doop
    En aan mij blootlê wette van bestaan en snewe.

    Uit die natuur se bors, so diep daarbinne,
        Die volgeheime voel ek nou, die spil
    Waarom die heelal sig draai, verruk mij sinne.

    Dit sweef deur die natuur, moet overwinne,
        Verdring all’ boosheid naar die verste kil:
    Want liefdes loon is net die vreug van minne.



AAN MIJ MOEDER.


    Als ek die seeskulp vashou teen mij oor
      Ver van die kus, hier op ons wijë land
      Dan kan ek gruis en golwe op die sand
    En al die onrus van die winde hoor.
    Maar al die woeste onrus is gesmoor
      En suisend tril dit ritmies oor die band
      Wat kroos en moeder bind, net soos ’n hand,
      Wat saggies langgeruste snare stoor:

    So doem daar uit mij vage dromerijk
      Die wese van mij moeder, reeds oorlee,
    Voor dat haar beeltnis in mij hart kon prijk.

    Al naar die oggenddroom mij siel ontwijk
      Oorstelp mij gees ’n wrede, wilde see
    Van ideale, dood, oordek met slijk.



DIE ONFINALIST.


    Nou is dit ek wat haar aandag boei,
    Haar gedagtes toets, haar denkbeelde snoei,
    Dis ek, om wie sij haar nou bemoei;
        Wat die toekoms bring, weet g’neen.

    ’n Ander, misskien, sal mij liefde deel,
    Mij gedagtes neem, mij denkbeelde steel,
    Met die denkbeeld, misskien, van mij liefde speel:
        Nou is dit mij alles een.

    In die hede leef en beweeg ek mij;
    Laat die toekoms slegs wees waarin ek lij,
    Als Jouw toekoms maar altijd toekomstig blij,
        Hou die toekoms ook alle geween.



DIE VERHUISING VAN CUPIDO.


    Cupido het eers vrij rondgedwaal
      Met sij boog en sij skigtebos,
    Behoudens ’n lintjie, wat krul, maar skraal
      In ’n Adamspak gedos.

    Maar die Cherubijne mis hom nou;
      Ag, die sede vervel met die tijd!
    In die kas lê sij vleugeltjies opgevouw,
      En nijwer regeer nou en nijd.

    Sij guitige streke het hij laat staan,
      Laat met rus nou die pare in die park;
    ’n Hardedop kijl en manel het hij aan—
      Hij ’t verhuis naar die aandeelmark!



AAN M—.


    Hier in ’n wereld waar dit jaag en stoei
        En waar dit strijd is vir ’n bloot bestaan,
        Is dit net jij, van alle sorg ontdaan,
    Wat kalm voortleef, soos ’n broeiplant groei.

    Die trotse orchidie, één blommevonk
        Straal louter lig en ken tog geen gebruik,
        Net soos ’n pouw sij strome kleur ontpluik
    En sidderend van weelde statig pronk.

    Die aarde vate wat ons almaal weet
        Het hul gebruik, maar nie die diamant
        Wat doelloos, dartel skitter aan jouw hand
    En net soos jij, wat droewig is vergeet.



AFRIKA.


  Gevleugelde Telg van ou Tijd en jouw moeder, die mistiese ruimte,
  Wijk uit mij verse, O spoed, en gun mij in rustige maat
  Te sing van die lot van ons land, die wieg van die vroegste beskawing,
  Vandaag nog die land van misterie en tog ook die land van die son;
  Van die golwende vlakte, ons see, met sij deining en verblouw verskiet,
  Met sij ewig diepsinnige lag soos die mond van ’n oosterse god.

  Lang voor die geboorte van Mimer het Osiris, die Wijse, gelewe;
  Toe Wodin, bekroon met orkane en bliksems, wat lik langs sij slape,
  Eteries gedagtes bedenk, op die fluister van rawe gegrondves,
  Het al die Songod sij pijle laat klink oor die snare van Memnon
  En rustige wete geheers in die land van kolos en van sfinx.
  Langs jouw kus het die skepe van Hiram geswalk, beskilder met oë,
  Belaai met die skatte van Ofir, met wierook en elpebeen,
  En houte, welriekend en keurig, geskenke vir Salomo’s Tempel,
  Duisend-potig gevaartes met hulle rieme in ritmiese tred.

  Soos die woedende golwe opbruis teen ’n rots dat dit beef in die diepte
  En die sonlig ’n reenboog ontlok als dit skijn op die mistige skuim,
  Net so het Barca, die trotse, verveel met haar skatte en vrede,
  Soos ’n wolkbreuk Europa oorstelp en Rome geskud tot haar grond:
  Die tijd het geknaag: Karthago en Rome is dinge van gister,
  Maar die damp van die wrak en die botsing het luister versprei oor die
      aarde.

  Land van ewige weedom, Moeder van slawernij,
  Wie sal beskrijf wat jij tors en die nood van jouw magtige bare!
  Soos dit roer op die vlak van ’n vijwer dat golfies naar buite uitdije,
  So het dit altijd beweeg in jouw donker, vernagte bestaan,
  En volkere-golwe het een na die ander gedij en verpletter,
  Daar blij van al die vergane beweging net bouwvalle oor
  En die leeuwe vervul met geratel die saal van ’n naamlose god.

  Maar wie kijk als die wolke-galleie gaan vaar oor die blouw van die
      hemel,
  Met haalwitte seile gebol, soos swane wat pronk in hul prag,
  —Dan wei in velde van goud die Gode hul vee oor die vlaktes—
  Voel hij dan nie hoe die Vrijheid gaat bruis in sij bloed, en sij senuws
  Gaan tril, als hij denk met trots aan die wieg van die trekker-geslagte,
  Waar die soekers naar ruimte die lug kon adem met tintlende bors?

  Maar die droom is virbij en die hoop, O Afrika, moeder van smarte,
  Wanneer is jouw beker geledig, of kom aan jouw weedom geen end?
  Lij jij nog steeds aan die vloek wat Cham sij nakroos verwerf het,
  Moet jij vir ewig die land van dienaars en houthakkers blij?
  Gevleugelde telg van ou Tijd en jouw moeder, die mistiese ruimte,
  Haas nog jouw vaart en verskeur die gordijn, wat die toekoms bewaar,
  Verlaat die kaalhoofdige denkers, wat jouw afkoms bepeins en jouw
      oorsprong,
  Tot jij hul saam met die jare veeg in jouw vaderlik graf;
  Toon ons die lig en die hoop met die rustige wete van more.



*** End of this LibraryBlog Digital Book "Gedigte" ***

Copyright 2023 LibraryBlog. All rights reserved.



Home